NUWE NAAM VIR LUS?

Van ons Ou Testament redaksie
LUS. – ’n Reisiger wat hier oorgeslaap het, ene Jakob seun van Isak, het in die nag só ’n verruklike visioen gesien dat hy ’n ernstige pleidooi tot die stadsvaders gerig het om die stad se naam te verander na Bet-El, wat “huis van God” beteken.

Volgens Jakob het hy in die visioen ’n leer op die aarde sien staan. Die punt van die leer het tot in die hemel gereik, en engele van God het op en af met die leer geklim. Hy beweer dat God self toe aan hom verskyn het, vandaar die naam Bet-El. Jakob het ook vanoggend ’n gedenksteen hier opgerig om die gebeurtenis in herinnering te hou.

Inwoners van die stad met wie ons gepraat het, is nogal nie ongeneë vir die nuwe naam nie. Hulle wag egter om te kyk wat die stadsvaders gaan besluit. ’n Raadsvergadering om die voorgestelde naamsverandering te bespreek, is vir volgende Dinsdag belê.

 

Profeet oorleef drie dae in vis se maag

Die profeet Jona, veilig op land

JOPPE. – ’n Man het gister in ’n gehawende toestand hier aangekom nadat hy na bewering drie dae en drie nagte lank in ’n vis se maag was.

Die man wat hierdie ongelooflike ervaring gehad het, is Jona seun van Amittai, ’n hofprofeet van Israel. Hy was op pad na Tarsis, ook bekend as Spanje, toe ’n geweldige storm die skip waarin hy gereis het, oorval het. Hy het oorboord geval en sou waarskynlik verdrink het as die vis hom nie ingesluk het nie.

Die vissers wat hom op die strand gekry het, het sy storie bevestig. Hulle sê hulle het gisteroggend ’n reusagtige vis naby die strand opgemerk, maar hy is weer weg voordat hulle naby hom kon kom. Kort daarna het hulle die man op die strand sien lê.

Die Bybelkoerant het verneem dat Jona van God af wou wegvlug toe die storm op see hom oorval het. Jona wou egter nie enige kommentaar lewer oor die berigte nie.

 

Koning onthaal vyand in paleis

SAMARIA. – Koning Joram het gister sy politieke raadgewers die harnas ingejaag toe hy ’n gulde kans om die Arameërs ’n gevoelige knou toe te dien, deur sy vingers laat glip het. ’n Sterk Aramese mag het in ’n lokval beland toe hulle niksvermoedend Samaria binnegekom het. Die koning het hulle gevang, maar in plaas daarvan dat hy dié elite-troepe laat doodmaak het, het hy hulle in die paleis onthaal voordat hy hulle na hulle koning teruggestuur het.

Die man wat vir die lokval én die ongewone behandeling van die vyand verantwoordelik is, is Elisa, die man van God. Elisa het die afgelope tyd die Arameërs se planne herhaaldelik gefnuik deurdat hy telkens koning Joram vooraf ingelig het oor waar die koning van Aram die volgende aanval sou loods. Die Arameërs het dit uitgevind en het Elisa in Dotan vasgekeer. Op die Godsman se gebed is hulle egter met blindheid geslaan. Elisa het toe aangebied om hulle die pad te wys, en het hulle ewe niksvermoedend tot binne-in Samaria gelei!

Ons korrespondent berig dat die koning van Aram laat gistermiddag aangekondig het dat hy alle vyandelikhede teen Israel staak. Sy leërs het ook sedertdien uit die land padgegee.

 


Om oor na te dink

Baie jare ná die gebeurtenisse waarvan op hierdie bladsy berig word, het die apostel Paulus gejubel: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom. 8:38,39). Dit het Jakob ook daardie nag by Bet-El ontdek en verruk uitgeroep: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” En op die gebed van die vrome Godsman Elisa het sy slaaf raak gesien wat Elisa geweet het: dat God sy kinders met ’n hele leërmag omring en beskerm. In die woorde van Elia (2 Kon. 6:16): “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”

God is oral. Ons kan nooit aan sy aandag ontglip nie, al probeer ons ook, soos Jona probeer het. Gelukkig kan ons nie. Gelukkig dat Hy Jona nie los om in sy dwaasheid weg te vlug nie. Gelukkig dat Hy ons nie toelaat om ons eie gang te gaan nie. Die Heidelbergse Kategismus noem dit ons “enigste troos in lewe en sterwe”.

Hoe vreeslik sou dit nie wees as ons moontlik per ongeluk – of aspris – onder God se liefdevolle sorg kon uitval nie! Hoe maklik sou ons nie dan in Satan se kloue kon beland nie!

“U omsluit my van alle kante,” sê Dawid in Ps. 139:5. Ook vir jou omring God vandag met sy goedheid en liefde (Ps. 23:6). Dit is die evangelie. Prys God vandag daarvoor. Halleluja!




Stede vergaan in rook en as

Van ons Ou Testamen redaksie

SOAR. – In ’n ramp van ongekende omvang is die twee stede Sodom en Gomorra gister geheel en al verwoes.

Volgens ooggetuies het dit gelyk of vuur en swael uit die hemel op die stede gereën het. Dit het oor die hele gebied gerook asof dit ’n steenoond is. Die aarde het oopgeskeur en die stede eenvoudig ingesluk, sodat die water van die nabygeleë Dooie See die hele gebied in die omgewing van die stede oordek het. Vanoggend is die enigste teken dat daar eergister nog ’n uiters welvarende gemeenskap gewoon het, die verkoolde lyke van mense en diere wat hier en daar in die water dryf.

Dit is onwaarskynlik dat iemand die ramp oorleef het, hoewel mense in die nabygeleë dorpie Soar, wat op ’n onverklaarbare wyse behoue gebly het, beweer dat ’n man en sy twee dogters gisteroggend vroeg daar aangekom het. Hulle het blykbaar net betyds uit Sodom gevlug.

 

Stad kom tot inkeer

NINEVE. – Dié groot stad is tot stilstand geruk toe die koning in ’n proklamasie al die inwoners tot berou opgeroep het.

Die oproep volg op die prediking van ’n Israelitiese profeet Jona, seun van Amittai, waarin hy onlangs aangekondig het dat die stad Nineve oor net veertig dae verwoes sal word. Die inwoners van die stad het hierop spontaan ’n dag van vas aangekondig en rouklere aangetrek. Die berig het die koning bereik, en na beraadslaging het hy en sy raadgewers beveel dat die hele stad hieraan moet meedoen. Die koning vra onder andere “die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het”.

Ondertussen berig ons verslaggewer dat die profeet wat vir al die drama verantwoordelik is, onder ’n sonskerm buite die stad sit en weier om die koning te woord te staan. Hy wou ook nie met die pers praat nie.

 

GENL. NAÄMAN GESOND

ARAM. – Die hoof van die Aramitiese leër, genl. Naäman, het vanoggend as ’n gesonde man uit Israel teruggekeer. Hy het ’n paar weke gelede daarheen gereis nadat hy verneem het dat daar iemand is wat hom moontlik van sy melaatsheid kan genees.

Die generaal, wat al ’n geruime tyd siek is en al elke denkbare raad probeer het om gesond te word, het van die man gehoor by sy vrou se slavin, ’n jong dogtertjie uit Israel. Sy het vertel van ’n profeet in Samaria wat haar meneer sal kan genees.

Genl. Naäman vertel ’n ongelooflike verhaal. Die profeet Elisa het hom nie eens ontmoet nie en slegs ’n boodskapper gestuur met die raad dat hy hom sewe keer in die Jordaanrivier moes gaan was. “Ek was so kwaad dat ek net daar omgedraai het om terug te kom,” erken die generaal. “Gelukkig het my amptenare my omgepraat om dit tog maar te probeer, en nou’s ek gesond. Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel.”

 

Nuwe sekte groei bestendig

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die nuwe sekte, die Volgelinge van Jesus, waaroor ons vroeër berig het, groei nog steeds. Na die aanvanklike groot getal bekeerdes op Pinksterdag word daar nog elke dag nuwe lede by die groep gevoeg. Hoewel die Joodse Raad geen goeie woord vir die nuwe godsdienstige rigting het nie, geniet hulle groot aansien onder die inwoners van die stad.

 


Om oor na te dink

Van die begin af is dit duidelik dat God in sy handelinge met ons méér van ons verwag as om net maar in Hom te glo. Hy verwag ook van ons om sy getuies in hierdie wêreld te wees. Wanneer Hy vir Abraham uit Ur roep om die vader van ’n nuwe volk te word, is deel van sy roeping: “… jy moet tot ’n seën wees” (Gen. 12:2b). Het Lot, wat beslis ook van hierdie opdrag bewus moes wees, dit maar as sy verantwoordelikheid ook beskou! Dan wás daar moontlik tien regverdiges in Sodom en het die stad behoue gebly, soos die heidense stad Nineve baie later. Ongelooflik hoe hard God moes spook om Jona sover te bring dat hy – weliswaar uiters onwillig – sy roeping uitleef.

God vra nie van ons almal om soos Abraham of Jona ver weg te gaan om ’n opdrag uit te voer nie. Ons kan dit meestal in ons eie omgewing doen, soos die eerste gelowiges in Jerusalem, en soos Naäman se slavinnetjie. God vra net gewilligheid, omdat ons omgee vir die mense om ons.

Gee jy om? Is jy gewillig?