DIE MESSIAS IS GEBORE, SÊ SKAAPWAGTERS

Van ons Nuwe Testament redaksie

BETLEHEM. – Skaapwagters van die omgewing het teoloë hier verstom met bewerings dat die Messias gebore is. Engele het dit glo laasnag aan hulle vertel. Daarna het hulle self gaan kyk, en die Kindjie in ’n stal gekry.

Volgens die skaapwagters was hulle in die veld besig om hulle skape op te pas, toe hulle die ongelooflike tyding gekry het. Eers was daar net een engel wat die aankondiging gemaak het, maar kort daarna het ’n hele magtige koor van engele by hom aangesluit met ’n loflied tot Gods eer. “Dit was die mooiste musiek wat ek nog ooit gehoor het,” het een van die herders gesê terwyl die ander instemmend knik.

Teoloë met wie Die Bybelkoerant gesels het, is baie skepties oor dié vertelling. “Ek vind dit baie vreemd dat skaapwagters van alle mense die boodskap dat die Messias gekom het, gehoor het,” het rabbi Ariël gesê. “’n Mens sou verwag dat ons teoloë darem seker eerste daarvan sou weet. Buitendien, ons weet almal dat die skaapwagters goed weglê aan die voggies om die nagkoue weg te keer. G’ n wonder hulle sien naderhand engele nie!” ‘n Ander skrifgeleerde, rabbi Johanan, het bygevoeg: “Ons weet almal skaapwagters is onbetroubare getuies. Dis dié dat hulle woord nie in ‘n hof aanvaar word nie. So jammer, maar hierdie storie is darem net te dik vir ‘n daalder.”

Of die herders se verhaal werklikheid of verbeelding is, sal net die tyd leer. Dat die nag hulle lewe verander het, is egter onteenseglik. Bybelkoerant wonder of enige iemand só verwonderd kan wees oor hallusinasies uit ’n bottel.

 

GEBOORTES

BEN JAKOB. Vir Josef, seun van Jakob, en sy vrou, Maria, is die allerfraaiste klein babaseuntjie Jesus in Betlehem gebore. Ons staan in verwondering voor u groot almag, o Heer!

 


Om oor na te dink

Ek ontdek al hoe meer hoeveel anders God as ons is, en hoe anders Hy oor dinge dink as ek.

Die menswording van die Seun van God ís die grootste gebeurtenis in die bestaan van die mensdom. Daaroor is die Bybel baie duidelik. As God die grootste gebeurtenis in mensegeskiedenis laat gebeur, is dit nogal opmerklik dat die hoofkarakters in hierdie ongelooflike drama gewone mense was. Nie die politieke leiers nie, nie groot geleerdes nie, en selfs nie eers die godsdienstige leiers van destyds nie. Nee. Ons lees van Maria, ’n eenvoudige meisie uit Nasaret. Ons lees van haar verloofde, Josef. Hy was ’n doodgewone skrynwerker. En ons lees van skaapwagters. Ruwe, geharde manne. Gewone mense. Eenvoudige mense.

Dit sê vir my iets van die mense onder wie God tuis voel. En dit sê iets van die manier waarop God wil dat ons moet lewe. Prag en praal en luuksheid beïndruk Hom nie juis nie. God voel eerder tuis dáár waar mense in eenvoud en opregtheid lewe.

Mag jy en jou mense ‘n baie geseënde Kersfees beleef. En mag jy, in die gees van Kersfees, in eenvoud en opregtheid die Kind van Betlehem volg, die nuwe jaar in!




Herodes ontvang hooggeplaastes uit die Ooste

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Koning Herodes se perssekretaris het bekend gemaak dat daar vanaand ’n groot onthaal in die koninklike paleis gehou sal word ter ere van die hooggeplaaste besoekers uit die Ooste wat onverwags gister hier aangekom het.

Intussen het dit onder ons aandag gekom dat die besoekers navraag kom doen het oor ’n seuntjie wat volgens hulle as die koning van die Jode gebore is. Hulle het dit glo in die sterre gesien. Bronne na aan Herodes sê die koning is hewig ontsteld oor hierdie verwikkeling, aangesien dit ’n bedreiging vir sy koningskap inhou. Die koninkie waarvan die besoekers praat, kan nie Herodes se eie kind wees nie. Daar is naamlik geen seuntjie vir hom in die afgelope paar jaar gebore nie.

Priesterhoofde en skrifgeleerdes sê egter dat die Skrifte daarop dui dat so ’n kindjie in Betlehem gebore sal word as die Messias. Die besoekers sal na verwagting ná die onthaal hulle soektog in Betlehem voortsit.

 

Sensus kom op dreef

BETLEHEM. – Die massiewe sensus wat keiser Augustus in die Romeinse Ryk afgekondig het, het baie mense ernstig verontrief. Wat veral pla, is die verordening dat elkeen hom moet laat inskryf in sy plek van herkoms. Dit veroorsaak baie ontwrigting vir mense wat nie meer woon op die plek waarvandaan hulle kom nie. Tog is daar ander, veral sakemanne en diegene in die toerismebedryf, wat breed glimlag. In geen jare het hulle so goed sake gedoen soos die afgelope paar maande nie.

In Betlehem is daar tans nie eers plek vir die spreekwoordelike muis nie. Alle beskikbare akkommodasie is deur die honderde besoekers opgeraap. Mense is selfs bereid om in die stalle te slaap, net om darem ’n dak oor die kop te kan hê. Oral het eetplekke soos paddastoele verrys om aan al die ekstra monde kos te kan voorsien.

Inwoners met wie Die Bybelkoerant gesels het, het gemengde gevoelens oor hierdie “inval” in hulle dorp. “Ons ken nie meer ons eie dorp nie,” het een gesê. “Hier was in my sestig jaar nog nooit so baie mense nie. Maar as ek sien hoeveel geld hulle na ons dorp gebring het, moet ek seker nie so hard kla nie.”

 


Om oor na te dink

’n Mens kan jou maklik verbeel dat Jesus se geboorte met ’n groot stralekrans omgewe was. Dis ook hoe ons daaroor sing: Stille nag, heilige nag …

Die werklikheid lyk egter anders. Jesus se geboorte was nie anders as die geboortes van sovele ander babas van daardie tyd nie. Vir Hom was daar nie ’n spesiale plekkie oopgehou in die propvol Betlehem nie. Kennisgewings is nie vooraf aan al die hoëlui gestuur nie.

Maar dit is die hele punt: As God na hierdie aarde kom om ons te kom verlos, word Hy werklik méns, soos ek en jy. Want Hy kom vir jou en my. En daarom kom Hy langs ons staan, word Hy een van ons. “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Fil. 2:6,7).

Só lief het God vir ons! Sal ons Hom nie vandag daarvoor prys nie?




Keiser Augustus kondig sensus af

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Keiser Augustus het in ’n proklamasie sy ganse ryk beveel om deel te neem aan ’n sensus in die komende jaar. Kragtens die proklamasie is elke burger van die Romeinse Ryk verplig om hom te laat registreer.

Die Joodse Raad het sy misnoeë met die sensus in geen onduidelike taal laat blyk nie. ’n Woordvoerder van die Raad het gesê die sensus is net nóg ’n manier van die keiser om sy belastinggaarders te help om elke beskikbare oortjie uit die arme burgers uit te wurg. ’n Ander ewe bedenklike rede vir die sensus is om jong manne op te spoor sodat hulle opgeroep kan word vir diensplig. Talle Joodse seuns sal waarskynlik kort na die sensus oproepinstruksies kry vir Augustus se weermag.

PRIESTER STOM; VOLK WAG VERGEEFS

JERUSALEM. – ’n Priester met die naam Sagaria uit die diensgroep van Abia het verlede week na bewering ’n rare ondervinding gehad toe die engel Gabriël glo aan hom verskyn het.

Volgens Sagaria was hy besig om in die tempel wierook op die altaar te brand toe die engel aan hom verskyn het met die goeie nuus gebring dat sy vrou Elisabet ’n seun gaan hê. Aangesien hy en Elisabet albei al oud is, was dié nuus te goed om waar te wees, en hy het ’n bewys van die engel gevra vir die egtheid van die boodskap. Daarop het die engel Sagaria stom laat word.

Intussen het die volk vergeefs buite gestaan en wag dat Sagaria hulle moes kom seën. Toe hy uiteindelik buitentoe kom, kon hy nie met hulle praat of hulle seën nie.

Adonia smee komplot

Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Dit was ’n dag van hoogspanning, verwarring en drama gister in die hoofstad toe prins Adonia homself tot koning uitgeroep het. Uiteindelik is dit egter Salomo wat koning Dawid opvolg.

Adonia is die tweede seun van koning Dawid se vrou Gaggit wat homself koning maak. Enkele jare gelede was sy ouer broer, Absalom, in die nuus toe hy óók sy pa van die troon probeer stoot het. Lesers sal onthou dat Absalom destyds in die daaropvolgende gevegte gesneuwel het.

Adonia het die steun van die hoof van die leër, genl. Joab seun van Seruja, en die priester Abjatar, vir sy plan gekry. Hy het ’n groot feesmaal by Sogeletrots langs Rogelfontein gehou en behalwe Joab en Abjatar ook al die ander prinse daarheen uitgenooi, asook al die generaals en ander manne van aansien in Juda. Tydens die fees het Adonia homself tot koning verklaar.

Die priester Sadok en die hoof van die koninklike lyfwag, kapt. Benaja seun van Jojada, asook die profeet Natan en ander hoë amptenare wat na aan koning Dawid is, is egter nie na die feesmaal genooi nie. Toe hulle van die komplot verneem en dit aan die bejaarde koning meedeel, het hy blitsvinnig opgetree. Hy het opdrag gegee dat die priester Sadok en die profeet Natan vir Salomo, sy seun by koningin Batseba, tot koning salf en hom op sy troon laat sit. Voor Adonia sy oë kon uitvee, was Salomo met die volle seën van koning Dawid die nuwe koning.

Toe Adonia se handlangers van Salomo se kroning hoor, het hulle almal die hasepad gekies en hulle “koning” Adonia aan sy eie lot oorgelaat.


Om oor na te dink

Op die eerste bladsye van sy Evangelie beskryf Lukas vir ons hoe God soos ’n meesterskaakspeler die bord regkry vir die grootste skuif in die geskiedenis van die wêreld: die koms van sy Seun na hierdie aarde. Ons lees van die geboorteaankondiging van Johannes die Doper – die Elia wat sou kom (Mal. 4:5) om die pad vir die Messias voor te berei (Jes. 40:3-5).

Ons lees ook van ’n sensus wat keiser Augustus uitskryf. Sonder dat hy dit besef, is hy daardeur besig om die wiele aan die rol te sit om Josef en Maria in Betlehem te kry, want dis dáár, in die geboortestad van Dawid, waar die Lig vir die wêreld gebore moes word. Die Kind wat na hierdie wêreld kom, kom immers om die troon van sy voorvader Dawid te bestyg, kragtens die belofte van God eeue tevore (1 Kon. 2:4; vgl. 2 Sam. 7:16). Hierdie belofte het met Salomo se kroning gedeeltelik in vervulling gegaan, maar dit was eers met Christus se koms dat die belofte in sy volle reikwydte vervul is.

As die Seun van God na hierdie wêreld kom, is dit nie sommer ’n sakie waaroor God vinnig ’n besluit geneem het, of ’n noodmaatreël om te probeer red wat daar te redde is op aarde nie. Nee, Christus kom ooreenkomstig die eeue oue Raadsplan van God, kragtens beloftes wat Hy van die begin af aan sy volk gemaak het. Want God het van die begin af besluit om nie toe te laat dat hierdie wêreld uit sy hande glip nie: “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie,” het Jesus immers self gesê (Joh. 10:29).




Seun bedrieg sy pa met sy ma se hulp; vlug

Van ons Ou Testament redaksie

BERSEBA. – Die eersgeboorteseën, ter wille waarvan ’n seun sy eie pa bedrieg het, het ’n holle nagalm gehad toe die einste seun kort daarna vir sy lewe die land uit moes vlug. Dit is maar een in ’n hele reeks voorvalle waarin die tweelingseuns van Isak, Esau en Jakob, betrokke was.

Hoewel Esau die oudste seun is, en dus die eersgeborene van Isak en Rebekka, het Jakob en sy ma dit nooit aanvaar nie. Toe Isak dus vir Esau vra om ’n wildsbokkie te gaan skiet en dit vir hom voor te berei omdat hy die eersgeboorteseën aan hom wil gee voordat hy sterf, het Rebekka vinnig vir Jakob gehelp om hom te vermom soos sy broer. Met vleis wat sy gaargemaak het, het sy vir Jakob na haar man gestuur. Isak se oë was al so sleg dat hy nie besef het dis die verkeerde seun wat voor hom staan nie. So het Jakob die seën ontvang wat vir Esau bedoel was.

Na berigte het Esau wraak gesweer, en was Jakob verplig om te vlug. Of die eersgeboorteseën nou vir hom iets werd sal wees, sal net die tyd leer.

 

Bringer van goeie boodskap tereggestel

SIKLAG. – ’n Jong Amalekiet is gisteraand hier tereggestel nadat hy aan Dawid die goeie nuus gebring het dat sy grootste vyand, koning Saul, op die slagveld gesneuwel het.

Volgens sy eie getuienis was die man ’n ooggetuie van die Israeliete se verpletterende neerlaag. Hy het gesien hoedat kroonprins Jonatan omkom, en het op koning Saul afgekom waar hy dodelik gewond op Gilboaberg lê nadat hy klaarblyklik in sy eie spies geval het. Op die koning se versoek het die Amalekiet hom doodgemaak en sy kroon en armband gevat en vir Dawid gebring, onder die indruk dat dit goeie nuus sal wees vir die man wie se lewe so lank deur Saul bedreig is.

Dawid was egter so ontsteld dat hy sy klere geskeur en tot die aand toe gerou en getreur en gevas het. Daarna het hy beveel dat die jong man summier tereggestel moet word. Toe hy die vonnis uitspreek, het Dawid gesê, en ons haal aan: “Jy het jou dood gesóék, want jy het jouself veroordeel toe jy gesê het: Dit is ek wat die gesalfde van die Here doodgemaak het!”

 

MAN SE AFGEKAPTE OOR AANGEHEG

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die omstrede rabbi Jesus van Nasaret het lede van die tempelwag laasnag hier verstom toe hy ’n oor wat met ’n swaard afgekap is, weer vasgesit het.

Dié uitsonderlike gebeurtenis het plaasgevind toe die tempelwag Jesus in die Tuin van Getsemane in hegtenis geneem het op ’n aanklag van godslastering. Een van Jesus se dissipels, Simon bar Jona, het ’n swaard uitgepluk om sy rabbi te verdedig, en die hoëpriester se slaaf Malgus se oor afgekap. Jesus het Simon skerp tereggewys omdat hy hom teen die inhegtenisname verset het, en daarna Malgus se oor genees.

In ’n onderhoud ná die voorval het Malgus gesê dit was ’n ongelooflike ervaring. “Die pyn was onmiddellik weg toe hy aan my geraak het, en ek verbeel my boonop ek hoor nou beter as voorheen!” het hy met ’n glimlag bygevoeg.

 


Om oor na te dink

Sedert Petrus Malgus se oor afgekap het, moes Jesus al talle en talle wonde genees wat deur sy eie dissipels veroorsaak is – dikwels in hulle oorywerigheid om aan God se plan gestalte te gee in hul lewe of in die wêreld. Petrus het immers nie sy swaard getrek ter wille van homself nie, maar ter verdediging van sy Meester. En Rebekka en Jakob was ook nie heeltemal uit die koers toe hulle die eersgeboorteseën van Esau wou wegneem nie – hy het immers sy reg aan Jakob verkwansel vir ’n pot lensiesop. En het God nie self aan Rebekka gesê nie – reeds vóór die tweeling se geboorte – “die oudste sal die jongste dien” (Gen. 25:19-34)?

Die probleem is net: hulle het nie ’n oog daarvoor gehad dat God op ’n ánder manier sy Koninkryk wil laat kom in hulle lewe nie. Hulle het nie vir God die kans gegee om die heil op sy manier uit te werk in hulle wêreld nie.

In dié opsig het Dawid besondere genade ontvang om te wag totdat God self sy beloftes aan hom waar maak. Hoewel hy dikwels in ’n posisie was om Saul te dood en só die troon te gryp wat hom as God se gesalfde toegekom het, het hy konsekwent geweier, omdat hy iets daarvan verstaan het wat die Here baie jare later by monde van sy profeet Sagaria vir ons leer: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” (Sag. 4:6).

Bid dat God deur sy Gees ook aan jou dié besondere genade sal gee. Net só kan sy Koninkryk kom, ook in jou lewe.




HUWELIKSKLOKKE VIR BOAS EN RUT

BETLEHEM. – Boas, ’n gesiene boer van die stad, het gister in die stadspoort bekend gemaak dat hy en Rut, ’n jong weduwee en skoondogter van Naomi en wyle Elimelek, eersdaags in die huwelik gaan tree.

Rut het inwoners se verbeelding aangegryp deur die liefdevolle wyse waarop sy haar skoonma bygestaan het ná die tragiese heengaan van hulle albei se mans. Dit is ook hoe haar en Boas se paaie gekruis het. Sy het as armlastige gars gaan optel om haar en haar skoonma aan die lewe te hou, en toevallig by Boas se lande uitgekom. Boas het haar opgemerk, en toe hy verneem wie dit is, sy snyers opdrag gegee om ekstra are te laat val sodat sy genoeg kan hê. Daarby het hy ook nog vir haar gevra om vir die duur van die oes by sy werksters te bly, sodat sy nie dalk op ’n vreemde se land gemolesteer sal word nie.

Die een ding het tot die ander gelei, en vandag is die hele stad saam met Rut bly oor die goeie nuus. Rut was nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar Naomi is oorstelp van vreugde. “Ek het gedink die Here het ons vergeet, en kyk nou net hoe wonderlik sorg Hy vir ons,” het sy gesê.

Boas wou nie veel oor die hele aangeleentheid sê nie, behalwe dat hy van die begin af met geen bybedoeling vir Rut gehelp het nie. “Ek het gehoor van alles wat sy vir haar skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat sy haar ouers en haar geboorteland verlaat het om haar skoonma by te staan. Daarom wou ek haar help, want ek het sommer geweet sy moet iemand besonders wees. En ek was nie verkeerd nie.”

 

Vrou kom tot haar man se redding

KARMEL. – Die flinke optrede van ’n vrou, Abigajil vrou van Nabal die Kalebiet, het gister hier ’n bloedbad voorkom toe sy haar oor die krygsheer Dawid en sy manne ontferm het.

Nabal, ’n skatryk boer van Maon, het vroeër Dawid grof beledig toe hy by hom gaan aanklop het vir kos. Dit ondanks die feit dat Dawid en sy manne ’n geruime tyd lank Nabal se veewagters en vee beskerm het. Dawid was woedend en het met 400 gewapende manne opgeruk om wraak te neem. Sy oogmerk was om elke manlike lid van Nabal se huis te dood. Abigajil het daarvan te hore gekom en sonder haar man se medewete Dawid voorgekeer voordat hy haar man kon bereik. Sy het namens Nabal, wat sy as ’n dwaas bestempel het, vir Dawid om verskoning gevra en aan hulle kos voorgesit. Dawid het daarop van sy plan afgesien en hulle in vrede gelaat.

Nabal het vanoggend eers van haar optrede gehoor. Hy was só ontsteld dat hy ’n beroerteaanval gekry het. Sy toestand is bedenklik.

  • Lees alles hiervan, en ook die interessante uiteinde van die verhaal, in 1 Sam. 25.

 

PERSOONLIK

Abraham en Sara het gistermiddag onverwags drie onbekende besoekers ontvang. Vir die geleentheid het hy ’n kalf laat slag, terwyl sy 16 kg meel ingesuur het vir roosterkoeke. Die gaste is eers laat die middag verder.

Rabbi Jesus en sy vriende gaan môreaand by die Fariseër Simon, ’n bekende in tempelkringe, eet. Ons korrespondent verwag dat dit ’n uithanggeleentheid sal wees.

 


Om oor na te dink

Die eerste ding wat in ’n mens se gedagtes opkom wanneer jy aan die geloofslewe dink, is die groot geloofsake: ons persoonlike verhouding met die Here Jesus, ons getuienis teenoor ander, ons standvastigheid in versoeking. En dit is natuurlik uiters belangrike bestanddele in ’n gesonde geloofslewe.

Abraham en Sara was in Gen. 18 by ’n laagtepunt in hulle geloof. Té lank al moes hulle leef van beloftes van ’n groot nageslag. Nou was hulle te oud daarvoor: hy 99, sy 89. G’n wonder nie dat Sara uitbars van die lag toe God sy belofte van ’n seun herhaal. Iets wat egter opval in hierdie gebeurtenis is dat, al was hulle op ’n geestelike laagtepunt, hulle tog nie in die klein dingetjies hulle geloof prysgee nie. Let tog op met hoeveel oorgawe en oordadigheid ontvang hulle die vreemdelinge! Hierin leer hulle vir ons ’n baie groot les: Geloof word nie net in die groot dinge uitgeleef nie. In die alledaagse omgang met ander kry ons geloof sin en inhoud.

Dit was ook die geval met Boas in sy optrede teenoor Rut, en Abigajil.

So anders is Simon die Fariseër. Jesus huiwer nie om die vinger op die wond te lê nie: wanneer die ootmoed en dankbaarheid teenoor God uitbly, ly die verhouding met die medemens ook.




Rabbi Jesus glo op ’n wolk weg hemel toe

Godsdiensverslaggewer

JERUSALEM. – Dissipels van die oorlede rabbi Jesus beweer dat hulle meester gister opgevaar het na die hemel nadat hy van hulle afskeid geneem het.

Rabbi Jesus is sowat ses weke gelede tereggestel, maar sedertdien het daar hardnekkig gerugte die ronde gedoen dat hy nie dood is nie en aan sy dissipels verskyn het. Gister het hy hulle glo vir oulaas uit die stad uitgelei en by Betanië hier naby gegroet. Toe het hy die lug in opgestyg, totdat ’n wolk hom uit die gesig laat verdwyn het.

Godgeleerdes in Jerusalem het hulle skok en verontwaardiging oor die jongste berigte uitgespreek. Hoëpriester Kajafas het gesê dit is louter onsin. “Dis eintlik ’n dubbele leuen: eerstens is Jesus lankal dood en begrawe; en tweedens gaan mense nie lewend hemel toe nie. Ons weet net van twee persone met wie dit gebeur het: Henog, en die profeet Elia. En hulle was albei bekend daarvoor dat hulle baie naby God geleef het. Selfs vir Moses was dié eer nie beskore nie. Dat nou beweer word dat so iets met ’n gewone sterfling gebeur het, is eintlik heiligskennis. Maar in elk geval kan ’n spook seker enige iets regkry?”

Bybelkoerant is huiwerig om van ’n vermaarde Godsman soos ons geëerde hoëpriester te verskil, en daar is uiteraard geen bewyse om die dissipels se bewerings te staaf nie. As die “hemelvaart”, soos Jesus se dissipels dit noem, egter uit hulle duim gesuig is, is dit moeilik om hulle byna uitbundige blydskap te verstaan. Dit is immers slegs ses weke sedert hulle geliefde meester dood is.


Om oor na te dink

Dat ’n gewone mens van vlees en bloed, soos Elia (2 Kon. 2; en ook Henog in die oertyd, Gen. 5:21-24), lewend die hemel kon invaar, laat ’n mens half jaloers.

Moenie jaloers wees nie. Ons gaan immers ook daar uitkom! Want of ons “poort” na die hemel nou ’n stormwind is, en of dit die dood is, maak nie ’n verskil aan die feit dat ons ook daar gaan woon nie. Dít is immers Jesus se boodskap aan sy dissipels in Joh. 14:1-3: Hy is hemel toe om vir ons plek te maak. En op sy tyd kom Hy ons haal, sodat ons by Hom in die Vaderhuis kan wees.

Dit is natuurlik nie al wat Jesus in die hemel gaan maak het nie. Hy het ook gegaan om vir ons as Voorspraak in te tree by die Vader. Rom. 8:34 sê: “Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.”

Die wonderlikste is egter dat Hy aan die regterhand van die Vader sit, sodat Hy vanuit die hemel kan regeer! Jesus se hemelvaart was niks anders nie as sy troonsbestyging. Ons het ’n Koning in die hemel wat oor ons regeer, wat jaloers oor sy kerk en sy volgelinge – oor jou! – waak.

Die duiwel wil graag die indruk skep dat hierdie wêreld syne is, dat hy hier die hef in die hand het. Wie in Christus glo, weet egter van beter. Daar is net één ware Koning, Hy wat die Naam ontvang het wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11). Hy het reeds die duiwel oorwin op Golgota. Hy swaai die septer. Ook oor jou lewe.