JUDA WORD TWEELING RYKER

Van ons Ou Testament redaksie

ADULLAM. – Tamar, die vrou van Juda seun van Jakob, het vandeesweek die lewe geskenk aan tweelingseuns. Dié twee, Peres en Serag, sal ’n groot troos vir Juda wees. Hy het deur die jare deur diep waters gegaan toe hy eers sy eersgeborene, Er, aan die dood afgestaan het, en kort daarna ook sy tweede seun, Onan. Verlede jaar het hy weer eens by die oop graf gestaan toe hy sy vrou, Bat-Sua dogter van Gira, begrawe het.

Juda is onlangs eers met Tamar getroud. Sy was vroeër met sy oudste seun, Er, getroud, en toe hy sterf het sy Onan se vrou geword. Sy het egter nie kinders uit dié huwelike gehad nie. Ná Onan se dood het sy as weduwee by haar ouerhuis in Timna gebly tot sy verlede jaar met Juda in die eg verbind is.

Juda het nog een seun, Sela, uit sy eerste huwelik.

  • Lees hierdie hartverskeurende verhaal in Gen. 38.

 

Potifar se vrou aangerand; slaaf in tronk

AVANIS (EGIPTE). – Die hoof van die koninklike lyfwag, Potifar, se vrou is gister in ’n geskokte toestand deur haar bediendes gevind nadat Potifar se hoofslaaf, ’n jong Hebreër genaamd Josef, haar probeer verkrag het.

Gelukkig vir haar het die ander slawe haar hulpkrete gehoor en kon hulle hulle meesteres betyds te hulp snel. Josef het op die vlug geslaan. ’n Stuk van sy klere is later deur die polisie op die misdaadtoneel gevind. Hy is kort daarna in hegtenis geneem en in die tronk gegooi.

Potifar het Josef enkele jare gelede by Midianitiese slawehandelaars gekoop. Hy was in daardie stadium nog baie rou, aangesien hy toe maar onlangs eers in slawerny verval het. Hy het byvoorbeeld niks van die Egiptiese kultuur en tradisies geweet nie. Letterlik alles wat hy van slawewerk en slaweverantwoordelikhede weet, het hy by Potifar geleer.

’n Sigbaar ontstelde Potifar het aan ons gesê hy is diep teleurgesteld in die slaaf. Hy was werklik ’n skrander jong man wat dit nog ver sou bring. “Wat vir my die ergste is, is dat my vrou so baie van hom gehou het en gedurig allerhande take in die huis aan hom gegee het om te doen, omdat sy veilig gevoel het in sy teenwoordigheid. Ek het werklik nie verwag dat hy die vertroue wat ons in hom gestel het, só lelik sou misbruik nie,” het hy gesê.

Die slaaf sal nie gou dié misstap vergeet nie. Daarvoor sal die tronk sorg. Daar is egter mense wat sê Josef kan van geluk spreek dat hy met net tronkstraf daarvan afgekom het. Die meeste base sou op ’n summiere teregstelling aangedring het.

 

Jong rabbi spreek hom uit teen korban-gebruik

Nuwe Testament Godsdiensverslaggewer

GENNESARET. – Die omstrede rabbi Jesus van Nasaret het hom weer eens die gramskap van die Fariseërs en skrifgeleerdes op die hals gehaal toe hy hulle gekritiseer het oor die oorgelewerde gebruike en leerstellings waaraan hulle vashou. In ’n skerp bewoorde aanval het hy sover gegaan om hulle “skynheiliges” te noem. Hy het hulle verder daarvan beskuldig dat hulle die gebod van God opsy skuiwe ter wille van oorgelewerde gebruike. As voorbeeld het hy verwys na die korban wat, sê hy, misbruik word om jou plig teenoor jou ouers te ontduik. Op hierdie manier leer die Fariseërs en skrifgeleerdes in die naam van vroomheid eintlik die mense om die vyfde gebod, naamlik dat jy jou vader en moeder moet eer, te oortree.

 


Om oor na te dink

In die twee uiteenlopende verhale wat naas mekaar in Gen. 38 en 39 opgeteken is, lees ons van twee broers. Die spil waarom albei verhale wentel, is die broers se optrede teenoor twee vrouens aan wie hulle teen wil en dank verbind is: Juda en sy skoondogter-weduwee, Tamar, en Josef en die vrou van sy eienaar, Potifar. Maar daar hou die ooreenkoms op, want Josef se optrede word bepaal deur sy verantwoordelikheid teenoor sy baas; Juda kom juis weer nie sy verantwoordelikheid teenoor Tamar na nie. Dit sien hy uiteindelik in as hy verleë uitroep: “Sy is onskuldig, ek nie!” (38:26).

Ons kan ons op geen manier eenvoudig losmaak van ons verantwoordelikhede teenoor dié mense aan wie ons verbind is nie. Daarom trek Jesus so skerp te velde teen die geestelike leiers van sy tyd, omdat hulle maniere uitgedink het waarop mense hulle plig teenoor hulle bejaarde ouers kan ontduik, en dit nogal onder die dekmantel van vroomheid!

Ons het almal verhoudinge en posisies wat verpligtinge op ons laai, en ook vandag weer sal dit tyd en opoffering van jou verg. Doen dit met oorgawe terwyl jy Spr. 21:3 onthou: “Die Here verkies dat ’n mens doen wat regverdig en reg is eerder as dat jy offers bring.”