HOOF VAN GVE MET FAMILIE HERENIG

AVANIS. – Daar was groot vreugde in die paleis van Safenat-Paneag toe hy gister met sy familie ná ’n skeiding van twintig jaar herenig is.

’n Woordvoerder van sy kantoor het bekend gemaak dat die sogenaamde. “spioene” wat al ’n paar keer met die gereg gebots het, al die tyd Safenat-Paneag se broers is. Die misverstand kan maklik verklaar word as ’n mens in ag neem dat Safenat-Paneag maar net sewentien jaar oud was toe hy na Egipte gekom het. Die woordvoerder het ook gesê die farao het Safenat-Paneag se vader en sy hele familie genooi om in Egipte te kom bly, aangesien die hongersnood in Kanaän hierdie gesiene veeboere swaar getref het. Die farao het waens tot hulle beskikking gestel om hulle met die trek te help. Na verwagting sal die familie hulle in die Gosen-provinsie vestig.

 

Patriarg hoor na twintig jaar sy lieflingseun is nie dood

BERSEBA. – Jakob seun van Isak het die grootste verrassing van sy lewe gekry toe hy vanoggend gehoor het sy lieflingseun Josef lewe nog. Hy het twintig jaar gelede aanvaar dat Josef dood is toe sy bediendes sy bebloede, verskeurde klere uit die veld vir hom gebring het.

Wat die verrassing soveel groter maak, is dat Josef intussen die onderkoning van Egipte geword het. Hy is die hoof van die graanopbergingsprojek in Egipte. Dit blyk nou dat Josef destyds deur sy broers as slaaf verkoop is aan Midianitiese handelaars, en so het hy in Egipte beland. Daar was in daardie dae groot ongelukkigheid onder Jakob se ander seuns omdat hulle pa Josef voorgetrek het.

Al dié onmin is blykbaar nou iets van die verlede, want Josef het sy broers vergewe. “Dit laat my nogal ver terugdink aan my eie jongmansdae,” het Jakob gesê. “Ek het destyds my broer Esau net so gruwelik veronreg, maar toe ek na twintig jaar se ballingskap in vrees en bewing na my geboorteland terugkeer om Esau vir die eerste keer in die oë te kyk, was daar geen wrok by hom nie. Hy het my vergewe, net soos Josef nou met sy broers gedoen het.”

 

Moenie tel as jy vergewe nie, sê rabbi

KAPERNAUM. – Die rabbi Jesus van Nasaret het hom weer eens teen die gangbare lering uitgespreek toe hy sy dissipels beveel het om nooit op te hou met vergewe nie.

Een van sy dissipels, Simon, het hom naamlik gevra hoeveel keer hy sy broer moet vergewe as hy iets verkeerds teen hom doen. Simon het gemeen dit sal sy leermeester tevrede stel as hy sewe maal vergewe. Waarop Jesus geantwoord het: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”

Die Bybelkoerant het ander rabbi’s se mening hieroor ingewin, en hulle het almal dieselfde antwoord gegee. Die oorgelewerde tradisie vereis van jou om iemand tot drie keer toe te vergewe. Alles wat jy meer as dit doen, is oortollige goeie werke. “Moet jou tog nie aan Jesus steur nie,” het een rabbi ons aangeraai, en bygevoeg: “Hy kom tog net van Nasaret. Wat verwag jy?”

 


Vergifnis is ’n moet, sê Jesus

Wanneer Jesus vir sy dissipels leer hoe belangrik dit is om te vergewe, vertel Hy hulle die gelykenis van die ondankbare amptenaar wat self soveel vergifnis ontvang het, maar dit nie verder deurgegee het aan sy mede-amptenaar nie. Op die ou end beland hierdie man in die tronk ‘om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het’ (Matt. 18:34). En dan sluit Jesus af met hierdie woorde: “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (vers 35).

Helmut Thielicke, ’n bekende teoloog, sê na aanleiding hiervan dat genade soos ’n aflosstokkie is. ’n Mens deel net in die oorwinning as jy die stokkie aangee. As jy daaraan vasklou en alleen enduit hardloop, word jy gediskwalifiseer, selfs al kom jy eerste, want dis teen die reëls. Iets hiervan het Josef verstaan. Maar Josef het ook iets anders ontdek wat hom gehelp het om te kan vergewe. Hy het raak gesien dat God met hom en sy broers besig is. “God het my voor julle uitgestuur om lewens te red,” sê hy in Gen. 45:5. Later sou hy dit nog duideliker vir sy broers uitspel: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het” (50:20).

As jy ’n oog daarvoor het dat God sy plan met jou lewe sal bereik, ondanks die kwaad jou aangedoen, raak dit makliker om van harte te vergewe, soos Hy ons vergewe het. Bid om dié insig. Dan sal jy ophou boekhou van die kwaad.




DIE MESSIAS IS GEBORE, SÊ SKAAPWAGTERS

Van ons Nuwe Testament redaksie

BETLEHEM. – Skaapwagters van die omgewing het teoloë hier verstom met bewerings dat die Messias gebore is. Engele het dit glo laasnag aan hulle vertel. Daarna het hulle self gaan kyk, en die Kindjie in ’n stal gekry.

Volgens die skaapwagters was hulle in die veld besig om hulle skape op te pas, toe hulle die ongelooflike tyding gekry het. Eers was daar net een engel wat die aankondiging gemaak het, maar kort daarna het ’n hele magtige koor van engele by hom aangesluit met ’n loflied tot Gods eer. “Dit was die mooiste musiek wat ek nog ooit gehoor het,” het een van die herders gesê terwyl die ander instemmend knik.

Teoloë met wie Die Bybelkoerant gesels het, is baie skepties oor dié vertelling. “Ek vind dit baie vreemd dat skaapwagters van alle mense die boodskap dat die Messias gekom het, gehoor het,” het rabbi Ariël gesê. “’n Mens sou verwag dat ons teoloë darem seker eerste daarvan sou weet. Buitendien, ons weet almal dat die skaapwagters goed weglê aan die voggies om die nagkoue weg te keer. G’ n wonder hulle sien naderhand engele nie!” ‘n Ander skrifgeleerde, rabbi Johanan, het bygevoeg: “Ons weet almal skaapwagters is onbetroubare getuies. Dis dié dat hulle woord nie in ‘n hof aanvaar word nie. So jammer, maar hierdie storie is darem net te dik vir ‘n daalder.”

Of die herders se verhaal werklikheid of verbeelding is, sal net die tyd leer. Dat die nag hulle lewe verander het, is egter onteenseglik. Bybelkoerant wonder of enige iemand só verwonderd kan wees oor hallusinasies uit ’n bottel.

 

GEBOORTES

BEN JAKOB. Vir Josef, seun van Jakob, en sy vrou, Maria, is die allerfraaiste klein babaseuntjie Jesus in Betlehem gebore. Ons staan in verwondering voor u groot almag, o Heer!

 


Om oor na te dink

Ek ontdek al hoe meer hoeveel anders God as ons is, en hoe anders Hy oor dinge dink as ek.

Die menswording van die Seun van God ís die grootste gebeurtenis in die bestaan van die mensdom. Daaroor is die Bybel baie duidelik. As God die grootste gebeurtenis in mensegeskiedenis laat gebeur, is dit nogal opmerklik dat die hoofkarakters in hierdie ongelooflike drama gewone mense was. Nie die politieke leiers nie, nie groot geleerdes nie, en selfs nie eers die godsdienstige leiers van destyds nie. Nee. Ons lees van Maria, ’n eenvoudige meisie uit Nasaret. Ons lees van haar verloofde, Josef. Hy was ’n doodgewone skrynwerker. En ons lees van skaapwagters. Ruwe, geharde manne. Gewone mense. Eenvoudige mense.

Dit sê vir my iets van die mense onder wie God tuis voel. En dit sê iets van die manier waarop God wil dat ons moet lewe. Prag en praal en luuksheid beïndruk Hom nie juis nie. God voel eerder tuis dáár waar mense in eenvoud en opregtheid lewe.

Mag jy en jou mense ‘n baie geseënde Kersfees beleef. En mag jy, in die gees van Kersfees, in eenvoud en opregtheid die Kind van Betlehem volg, die nuwe jaar in!




Herodes ontvang hooggeplaastes uit die Ooste

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Koning Herodes se perssekretaris het bekend gemaak dat daar vanaand ’n groot onthaal in die koninklike paleis gehou sal word ter ere van die hooggeplaaste besoekers uit die Ooste wat onverwags gister hier aangekom het.

Intussen het dit onder ons aandag gekom dat die besoekers navraag kom doen het oor ’n seuntjie wat volgens hulle as die koning van die Jode gebore is. Hulle het dit glo in die sterre gesien. Bronne na aan Herodes sê die koning is hewig ontsteld oor hierdie verwikkeling, aangesien dit ’n bedreiging vir sy koningskap inhou. Die koninkie waarvan die besoekers praat, kan nie Herodes se eie kind wees nie. Daar is naamlik geen seuntjie vir hom in die afgelope paar jaar gebore nie.

Priesterhoofde en skrifgeleerdes sê egter dat die Skrifte daarop dui dat so ’n kindjie in Betlehem gebore sal word as die Messias. Die besoekers sal na verwagting ná die onthaal hulle soektog in Betlehem voortsit.

 

Sensus kom op dreef

BETLEHEM. – Die massiewe sensus wat keiser Augustus in die Romeinse Ryk afgekondig het, het baie mense ernstig verontrief. Wat veral pla, is die verordening dat elkeen hom moet laat inskryf in sy plek van herkoms. Dit veroorsaak baie ontwrigting vir mense wat nie meer woon op die plek waarvandaan hulle kom nie. Tog is daar ander, veral sakemanne en diegene in die toerismebedryf, wat breed glimlag. In geen jare het hulle so goed sake gedoen soos die afgelope paar maande nie.

In Betlehem is daar tans nie eers plek vir die spreekwoordelike muis nie. Alle beskikbare akkommodasie is deur die honderde besoekers opgeraap. Mense is selfs bereid om in die stalle te slaap, net om darem ’n dak oor die kop te kan hê. Oral het eetplekke soos paddastoele verrys om aan al die ekstra monde kos te kan voorsien.

Inwoners met wie Die Bybelkoerant gesels het, het gemengde gevoelens oor hierdie “inval” in hulle dorp. “Ons ken nie meer ons eie dorp nie,” het een gesê. “Hier was in my sestig jaar nog nooit so baie mense nie. Maar as ek sien hoeveel geld hulle na ons dorp gebring het, moet ek seker nie so hard kla nie.”

 


Om oor na te dink

’n Mens kan jou maklik verbeel dat Jesus se geboorte met ’n groot stralekrans omgewe was. Dis ook hoe ons daaroor sing: Stille nag, heilige nag …

Die werklikheid lyk egter anders. Jesus se geboorte was nie anders as die geboortes van sovele ander babas van daardie tyd nie. Vir Hom was daar nie ’n spesiale plekkie oopgehou in die propvol Betlehem nie. Kennisgewings is nie vooraf aan al die hoëlui gestuur nie.

Maar dit is die hele punt: As God na hierdie aarde kom om ons te kom verlos, word Hy werklik méns, soos ek en jy. Want Hy kom vir jou en my. En daarom kom Hy langs ons staan, word Hy een van ons. “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Fil. 2:6,7).

Só lief het God vir ons! Sal ons Hom nie vandag daarvoor prys nie?




Studie van geslagsregisters vol verrassings

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Kenner van die oud-Joodse gebruik van geslagsregisters, prof. Genea Loog, het vandeesweek hier gesê familiestambome is nie, soos algemeen geglo word, ’n saai besigheid nie; inteendeel, dit is hoogs interessante leesstof en “beslis die moeite werd” om te bestudeer.

Prof. Loog, ’n hoogleraar in Oud-Israelse Kultuur aan die Universiteit van Jerusalem, is een van die sprekers by die jaarkongres van die Werkgemeenskap vir Antieke Studies (WAS) wat vandeesweek by die universiteit hier gehou word. Sy onderwerp was: “Die geslagsregister van Jesus in die Matteus-Evangelie in vergelyking met ander Bybelse en ook buite-Bybelse bronne.”

In sy referaat het hy ’n hele aantal “vreemdhede”, soos hy dit noem, in die geslagsregister van Jesus in Matteus 1 uitgewys. Dié vreemdhede is volgens hom doelbewus deur Matteus in die geslagsregister ingevoeg. “Matteus het die geslagsregister nie bloot ter wille van volledigheid in sy verhaal opgeneem nie. Hy het die “stokperdjie” van die Jode van sy tyd, naamlik om hulle geslagslyn tot by Abraham terug te voer, gebruik en ingespan om dit ’n magtige verkondigingsinstrument te maak.

Die opvallendste vreemdheid in Jesus se geslagsregister is die feit dat daar, naas sy moeder Maria, ook nog vier ander vroue pertinent genoem word: Tamar, Ragab, Rut en Batseba, die vrou van Urija. Die name van vroue as sodanig is al klaar buitengewoon, maar veral opmerklik is dit dat die name van Sara, Rebekka en Lea verswyg word, terwyl hierdie vroue, van wie party van twyfelagtige herkoms en reputasie was, ingesluit is. Volgens prof. Loog dui dit minstens op ’n nuwe waardering wat Jesus vir die vrou in die samelewing gebring het.

Die WAS-kongres duur nog tot môre.

  • Jy kan hierdie geslagsregister in Matt. 1:1-17 te lese kry.

 

JOODSE PREDIKERS HET STAD IN BEROERING

ANTIOGIË (PISIDIË). – Twee Jode wat die stad tans besoek, het verlede Saterdag in die sinagoge hier ’n nuwe leer aan die Jode bekend gestel, en sedertdien is die hele stad op loop oor wat die twee te sê gehad het.

’n Groot saamtrek word eerskomende Saterdag verwag wanneer die twee weer in die sinagoge gehoor sal kan word. Die sinagogeraad het reeds reëlings getref om die verwagte toeloop van mense te akkommodeer.

Die twee predikers is Paulus en Barnabas. Hulle is albei verbonde aan ’n godsdienstige groep in Antiogië in Sirië. Hulle reis tans deur die hele Klein-Asië om die nuwe leer aan die mense bekend te stel.

Sover vasgestel kan word, glo hulle dat die Jode se lank verwagte Messias reeds gekom het. Hy het glo sy eie lewe opgeoffer om die mensdom van hulle sondeskuld los te koop. Drie dae na sy kruisdood het hy na bewering uit die dood opgestaan.

 

Safenat-Paneag se vader sterwend

Van ons Ou Testament redaksie

AVANIS. – Die eerste minister van Egipte, Safenat-Paneag, het gister inderhaas na die Gosenstreek vertrek om sy vader, Jakob seun van Isak, by te staan nadat sy toestand onlangs skielik verswak het. Jakob is honderd sewe en veertig jaar oud.

Die eerste minister het ook sy twee seuns, Manasse en Efraim, met hom saamgeneem sodat hulle oupa hulle kan seën. Ons korrespondent in Gosen berig dat die eerste minister se elf broers ook na hulle vader se bed ontbied is sodat hy van hulle afskeid kan neem.

Jakob en sy seuns het hulle sewentien jaar gelede uit Kanaän hier kom vestig om nader aan Safenat-Paneag te wees, maar ook om te ontkom aan die ongekende droogte wat destyds wêreldwyd geheers het. Hy het egter die begeerte uitgespreek om in sy geboorteland Kanaän begrawe te word.

  • Lees meer oor Jakob se profetiese, maar ook verrassende, afskeidswoorde in Gen. 48 en 49.

 


Om oor na te dink

Die wonder van die Kersevangelie wat Matteus sommer reg aan die begin van sy verhaal wil onderstreep, is: Jesus het vir ménse gekom. Mense met name, mense van vleis en bloed, soos Abraham en Boas en Dawid. En ook nie net vir mans nie. Vir álmal; vir Tamar wat haar soos ’n straatvrou gedra het, en Ragab wat eers ’n prostituut was, en Rut uit Moab, en Batseba …

Ons speel nie almal ’n ewe groot rol in God se wêreld nie, soos Jakob se laaste woorde aan sy kinders en kleinkinders ons herinner. Maar vir elkeen van ons is daar plek. Daarom vier ons Kersfees: die fees van God se onblusbare liefde vir mense (Joh. 3:16), die fees van die koms van die Lig vir die nasies na almal wat vir die ewige lewe bestem is (Hand. 13:47-48).

Jy is nie maar net nog ’n nommer in ’n magtige rekenaar êrens in die hemel nie. God ken ook vir jou op jou naam. Kersfees is vir ménse, nie nommers nie. Vir jóú!




Seun red Israel se eer

Van ons Ou Testament redaksie

SOKO (JUDA). – ’n Jong man met die naam Dawid, seun van Isai, het vandag hier die eer van die ganse volk gered toe hy die Filistynse baasvegter, Goliat, in ‘n tweegeveg verslaan het. Toe die Filistyne sien hulle held is dood, het hulle op die vlug geslaan. Talle is in die agtervolging gedood in een van die grootste oorwinnings nog vir Saul.

Dié dramatiese gebeure bring ’n einde aan ’n vernederende hoofstuk in Israel se krygsgeskiedenis. Goliat het naamlik sewe weke lank elke dag die Israelitiese leër getart en verkleineer. Hy wou ’n tweegeveg afdwing om só die uitslag van die oorlog te bepaal. Niemand het egter kans gesien om teen dié reus van drie meter te veg nie. Dawid, wat ’n skaapwagter van beroep is, het daarvan te hore gekom toe hy voorrade vir sy drie oudste broers weggebring het. Hy het onmiddellik die uitdaging aanvaar.

Koning Saul het sy eie gevegsuitrusting vir Dawid laat aantrek, maar Dawid het dit van die hand gewys omdat dit hom ongemaklik laat voel het. Gewapen met slegs ’n slingervel en ’n herderstaf het hy Goliat tegemoetgegaan. Met die eerste gooi het hy die reus tussen die oë getref, sodat hy op die grond neergeslaan het. Dawid het daarna die reus met sy eie swaard onthoof.

Dié beskeie jong man wou nie eintlik oor sy oorwinning praat nie. Sy enigste kommentaar was: “Dit was vandag ’n oorwinning vir die Here. Hy laat nie met Hom spot nie. Dit was in sy Naam dat ek die reus aangedurf het.”

 

Abram verslaan invalsmag

DAMASKUS. – Abram het gister by Dan in ’n verrassingsaanval die gesamentlike magte van “Die Groot Vier” van Mesopotamië, konings Amrafel van Sinar, Arjok van Ellasar, Kedorlaomer van Elam en Tidal van Gojim, verslaan. Wat die oorwinning so merkwaardig maak, is dat hy dié gedugte bondgenootskap met slegs 318 man aangedurf het.

Dié veldslag maak ’n einde aan Kedorlaomer se houvas van twaalf jaar op die Koningsweg-handelsroete. Sy jongste veldtog in Kanaän was juis ’n strafekspedisie om sy gesag oor die roete te herbevestig nadat ’n aantal kleiner konings in die Siddimvlakte teen sy gesag gerebelleer het. Hy het gou met hulle klaargespeel en baie mense en besittings buitgemaak.

Met Abram se skitterende oorwinning het hy al die mense en ander buit teruggekry, onder andere ook sy nefie Lot.

 

Twee loop op see; een verdrink byna

Van ons Nuwe Testament redaksie

GENNESARET. – ’n Klein groepie geharde vissers het laasnag ’n ongelooflike ervaring gehad toe hulle rabbi, Jesus van Nasaret, tydens ’n storm op die see na hulle skuit geloop het.

Om homself te oortuig dat hy nie ’n spook sien nie, het een van die vissers, Simon bar Jona, uit die skuit geklim en ook op die water na sy rabbi geloop. Halfpad het sy moed hom egter begeef, en hy sou sekerlik verdrink het as dit nie vir die flinke optrede van die rabbi was nie.

Na bewering het die storm bedaar die oomblik toe Jesus in die skuit geklim het.

 


 

Om oor na te dink

Wanneer jy op God vertrou, raak die onmoontlike moontlik. Daarom kon Petrus op die water loop. Daarom kon Abram ’n oorweldigende oormag aandurf met net 318 man, en oorwin. Daarom kon Dawid die reus Goliat tegemoetstap sonder ’n helm, borsharnas en swaard. Want Dawid was bewapen soos Goliat nooit kon wees nie: “Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel” (1 Sam. 17:45). Later sing hy in ’n lied: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Ps. 18:30).

Dis wanneer ons ophou om op God te vertrou, wanneer die realiteite van die wêreld om ons vir ons meer begin tel as die realiteit van God se beskikking, dis dán dat ons geloofslewe kragteloos raak, dat ons begin sink. Daarom roep die Hebreërskrywer sy lesers op: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Heb. 12:3)

Die God van Abram en Dawid en Petrus is ook óns God. Ook op hierdie dag. Ook vir jou hoef daar geen stadsmure te hoog te wees nie!




BEKENDE GESIN VERTREK

Van ous Ou Testament redaksie

UR. – Die stad het vanoggend vroeg hier afskeid geneem van Tera seun van Nahor en sy hele familie, wat sak en pak vertrek het na Kanaän.

Die gesin was ’n tyd gelede ook in die nuus vanweë een van die seuns, Abram, se aanspraak dat hy die enigste ware God ontmoet het, en dat die ander gode niks anders as “menslike uitdinksels” is nie. Volgens Abram is sy besluit om te trek ’n direkte gevolg van die ontmoeting met sy God. God sou glo vir hom die opdrag daartoe gegee het. “Ek is hartseer om my geliefde geboortestad vaarwel toe te roep, maar as God roep, kan ek nie eintlik anders as om te gehoorsaam nie,” het hy opgemerk.

Hy is nog nie seker waarheen sy reis hom sal neem nie, het hy gesê, en bygevoeg dat God vir hom na sy bestemming sal lei.

 

Jesus wys ryke weg

Van ons Nuwe Testament redaksie

JORDAANVALLEI. – Die omstrede rabbi Jesus van Nasaret het sy volgelinge vandag hewig ontstel toe hy ’n baie belowende jongman ontmoedig het om hom te volg.

Anders as die meeste ander volgelinge van Jesus het hierdie jong man hom uit sy eie by Jesus kom aanmeld. Jesus het gesê dat hy hom alleenlik kan volg as hy eers al sy besittings verkoop en die geld vir die armes gegee het. Soos te verwagte, het die jongman nie vir dié eis kans gesien nie en teleurgesteld omgedraai.

Judas Iskariot, die dissipel wat vir hulle geldsake verantwoordelik is, het agterna vir ons verteenwoordiger gesê hy meen dit is baie onverantwoordelik van Jesus om die man op hierdie manier te behandel. “Dit was ’n baie ryk man. Dink net wat kon hy vir ons vorentoe beteken het. Ons sukkel juis so om kop bo water te hou,” het hy gesê.

 

Christenleier in hof

ROME. – ’n Bekende leier van die godsdienssekte wat hulleself “Christene” noem, verskyn môre hier in die keiserlike hooggeregshof op aanklag van insurgensie en hoogverraad.

Die beskuldigde is ’n Jood genaamd Saul van Tarsus, ook bekend as Paulus. Hy het etlike jare lank die Romeinse Ryk deurkruis en sover hy kom, mense tot die Christendom probeer bekeer. Sy veldtogte het hom egter dikwels in botsing gebring met ortodokse Jode en selfs ook aanhangers van ander godsdienste. Die onrus wat hy veroorsaak het, het uiteindelik tot sy inhegtenisneming gelei.

In ’n verrassende aankondiging vanoggend het Paulus bekend gemaak dat hy nie meer in die saak bygestaan sal word deur sy volgeling en medewerker van baie jare, Demas, nie. Hy sal nou sy verdediging alleen behartig.

 


Om oor na te dink

Om die Here te volg, het veel meer implikasies as wat ons graag wil weet. Dit vra ons hele lewe. Dit vra dat jy jouself sal prysgee; jou eie drome en ideale en gemak; soms selfs jou tuiste en jou mense, soos Abraham en Sara uitgevind het.

Daarom is dit goed, nee, noodsaaklik, om die prys te bereken voordat jy op sy roepstem antwoord. Jesus het ons immers in Luk. 9:62 gewaarsku: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” So dink mooi, want Hy roep jou om Hom te volg, nie om in ’n luilekkerland te bly nie. En die prys om Hom te volg, ís hoog. Ons het in die Bybel talle voorbeelde van mense wat nie daarvoor kans gesien het nie, soos die ryk jongman, en Demas.

Die bekende Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer het gesê, as Christus jou roep om Hom te volg, roep Hy jou om te sterf. Dit kan letterlik waar word, soos in Bonhoeffer se geval, of Paulus en al die ander martelare. Gelukkig is dit nie vir ons almal so nie. Maar wat van ons almal waar is, is dat ons moet sterf aan ons eiebelang, ons selfsug en selfgerigtheid. Want as Jesus jou Here en Koning is, kan jy nie meer jou eie baas wees en jou eie lewe reël nie. Johannes die Doper het dit goed raakgevat in Joh. 3:30 toe hy gesê het: “Hy moet meer word en ek minder.”

Jesus het dit natuurlik self ook gesê (Matt. 16:24): “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg …”

Jy het geen waarborge van ’n gemaklike lewe as jy besluit om Jesus te volg nie, behalwe dat God by jou is, ook in die donker dieptes (Psalm 23:4), of, in Paulus se woorde, dat Hy naby jou is (Fil. 4:5). Vir dié wat besluit het om tóg die Here te volg, ontdek weldra dat dit meer as genoeg is.