HUWELIKSKLOKKE VIR BOAS EN RUT

BETLEHEM. – Boas, ’n gesiene boer van die stad, het gister in die stadspoort bekend gemaak dat hy en Rut, ’n jong weduwee en skoondogter van Naomi en wyle Elimelek, eersdaags in die huwelik gaan tree.

Rut het inwoners se verbeelding aangegryp deur die liefdevolle wyse waarop sy haar skoonma bygestaan het ná die tragiese heengaan van hulle albei se mans. Dit is ook hoe haar en Boas se paaie gekruis het. Sy het as armlastige gars gaan optel om haar en haar skoonma aan die lewe te hou, en toevallig by Boas se lande uitgekom. Boas het haar opgemerk, en toe hy verneem wie dit is, sy snyers opdrag gegee om ekstra are te laat val sodat sy genoeg kan hê. Daarby het hy ook nog vir haar gevra om vir die duur van die oes by sy werksters te bly, sodat sy nie dalk op ’n vreemde se land gemolesteer sal word nie.

Die een ding het tot die ander gelei, en vandag is die hele stad saam met Rut bly oor die goeie nuus. Rut was nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar Naomi is oorstelp van vreugde. “Ek het gedink die Here het ons vergeet, en kyk nou net hoe wonderlik sorg Hy vir ons,” het sy gesê.

Boas wou nie veel oor die hele aangeleentheid sê nie, behalwe dat hy van die begin af met geen bybedoeling vir Rut gehelp het nie. “Ek het gehoor van alles wat sy vir haar skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat sy haar ouers en haar geboorteland verlaat het om haar skoonma by te staan. Daarom wou ek haar help, want ek het sommer geweet sy moet iemand besonders wees. En ek was nie verkeerd nie.”

 

Vrou kom tot haar man se redding

KARMEL. – Die flinke optrede van ’n vrou, Abigajil vrou van Nabal die Kalebiet, het gister hier ’n bloedbad voorkom toe sy haar oor die krygsheer Dawid en sy manne ontferm het.

Nabal, ’n skatryk boer van Maon, het vroeër Dawid grof beledig toe hy by hom gaan aanklop het vir kos. Dit ondanks die feit dat Dawid en sy manne ’n geruime tyd lank Nabal se veewagters en vee beskerm het. Dawid was woedend en het met 400 gewapende manne opgeruk om wraak te neem. Sy oogmerk was om elke manlike lid van Nabal se huis te dood. Abigajil het daarvan te hore gekom en sonder haar man se medewete Dawid voorgekeer voordat hy haar man kon bereik. Sy het namens Nabal, wat sy as ’n dwaas bestempel het, vir Dawid om verskoning gevra en aan hulle kos voorgesit. Dawid het daarop van sy plan afgesien en hulle in vrede gelaat.

Nabal het vanoggend eers van haar optrede gehoor. Hy was só ontsteld dat hy ’n beroerteaanval gekry het. Sy toestand is bedenklik.

  • Lees alles hiervan, en ook die interessante uiteinde van die verhaal, in 1 Sam. 25.

 

PERSOONLIK

Abraham en Sara het gistermiddag onverwags drie onbekende besoekers ontvang. Vir die geleentheid het hy ’n kalf laat slag, terwyl sy 16 kg meel ingesuur het vir roosterkoeke. Die gaste is eers laat die middag verder.

Rabbi Jesus en sy vriende gaan môreaand by die Fariseër Simon, ’n bekende in tempelkringe, eet. Ons korrespondent verwag dat dit ’n uithanggeleentheid sal wees.

 


Om oor na te dink

Die eerste ding wat in ’n mens se gedagtes opkom wanneer jy aan die geloofslewe dink, is die groot geloofsake: ons persoonlike verhouding met die Here Jesus, ons getuienis teenoor ander, ons standvastigheid in versoeking. En dit is natuurlik uiters belangrike bestanddele in ’n gesonde geloofslewe.

Abraham en Sara was in Gen. 18 by ’n laagtepunt in hulle geloof. Té lank al moes hulle leef van beloftes van ’n groot nageslag. Nou was hulle te oud daarvoor: hy 99, sy 89. G’n wonder nie dat Sara uitbars van die lag toe God sy belofte van ’n seun herhaal. Iets wat egter opval in hierdie gebeurtenis is dat, al was hulle op ’n geestelike laagtepunt, hulle tog nie in die klein dingetjies hulle geloof prysgee nie. Let tog op met hoeveel oorgawe en oordadigheid ontvang hulle die vreemdelinge! Hierin leer hulle vir ons ’n baie groot les: Geloof word nie net in die groot dinge uitgeleef nie. In die alledaagse omgang met ander kry ons geloof sin en inhoud.

Dit was ook die geval met Boas in sy optrede teenoor Rut, en Abigajil.

So anders is Simon die Fariseër. Jesus huiwer nie om die vinger op die wond te lê nie: wanneer die ootmoed en dankbaarheid teenoor God uitbly, ly die verhouding met die medemens ook.




MIDIANIETE VERDRYF!

Van ons Ou Testament redaksie

OFRA. – ’n Jong man van Ofra, Gideon seun van Joas die Abiësriet, het oornag ’n volksheld geword toe hy met slegs 300 man die magtige leër van die Midianiete verpletter het in die vlakte by Waarsêershoogte.

In ’n goed beplande verrassingsaanval op die Midianitiese leër het ’n ongelooflike 120 000 Midianiete gesneuwel. Gideon het ook die Midianitiese konings Sebag en Salmunna na ’n agtervolging van etlike ure gevang en tereggestel.

Dié oorwinning bring ’n einde aan sewe jaar van ellende vir die Israeliete. In herhaalde strooptogte die afgelope sewe jaar het die Midianitiese kameelruiters die land letterlik kaalgestroop, sodat die inwoners erg verarm het.

Gideon, wat ook Jerubbaäl genoem word na aanleiding van sy veldtog teen die Baäldiens, het verlede week die volk opgeroep om saam met hom die Midianiete die stryd aan te sê. Altesaam 32 000 manskappe het hulle aangemeld. Gideon het egter verkies om met slegs ’n klein, beweeglike groep van 300 uitgesoekte vegters die vyand aan te durf. Die ander het hy huis toe gestuur. Met sy klein aanvalsmag het hy in die nag die laer van die vyand omsingel, en op ’n teken van hom het hulle almal gelyk op hulle ramshorings geblaas, fakkels rondgeswaai, kruike stukkend geslaan en geskreeu: “Die swaard van die Here en Gideon!” Paniek het onder die slapende Midianiete uitgebreek, en hulle het met mekaar begin veg.

In ’n eksklusiewe onderhoud met Die Bybelkoerant wou die dapper held niks van die eer vir homself hê nie. “Ek het bloot in opdrag van die Here opgetree. Dit was van begin tot end die Here se oorwinning. Ek sou dit nooit op eie inisiatief gedoen het nie, maar nadat die Here my herhaaldelik met tekens verseker het dat Hy by my is, het ek gegaan,” het hy gesê.

  • Lees die ongelooflike verhaal in Rig. 6, 7 en 8.

 

Hebreërs vier verbondsfees

HEBRON. – ’n Groot verbondsfees is die afgelope week hier by die groot bome van Mamre gehou om die verbond wat God met Abram gesluit het, te vier.

Die verbond beteken dat God Hom daartoe verbind om hulle God te wees en vir hulle te sorg, het Abram gesê. “Hy het ook belowe dat ek ’n groot nageslag sal hê. Daarom het Hy my naam verander na Abraham. Sarai se naam is ook verander na Sara, en God het aan my gesê sy gaan binnekort ’n seun hê,” het hy trots bygevoeg.

’n Voorwaarde van die verbondsooreenkoms is dat al die manlike lede van sy huishouding besny moet word om hulle daaraan te herinner dat hulle op ’n besondere manier aan God behoort.

Dit is duidelik dat Abraham oortuig is dat hy en Sara binnekort ’n seun ryker gaan word. Of dit so sal wees, sal net die tyd leer. Hy is immers al 99 jaar oud, en sy 89!

 

Reënboog word teken

ARARAT. – ’n Reënboog is nie meer bloot ’n reënboog nie. Voortaan is dit die teken dat die wêreld nooit weer in ’n watervloed sal vergaan nie.

Só het Noag gister gesê na afloop van die dankseggingsdiens wat hy gehou het om die redding uit die vloed te vier. God het aan hom verskyn en ’n verbond met hom aangegaan waarin Hy belowe het om nooit weer die aarde deur vloedwaters te vernietig nie. “Die reënboog is die teken wat ons – en God – aan hierdie belofte sal herinner,” het hy gesê.

 

3 000 gedoop!

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Simon bar Jona, ook bekend as Petrus, en tien ander het vanoggend hier ’n nuwe sekte gestig. Hulle noem hulleself die “Volgelinge van Jesus”. Omtrent drie duisend mense het hulle by die groep aangesluit nadat hulle gedoop is.

 


Om verder oor na te dink

Ons verhouding tot God is ’n geloofsverhouding, ’n saak van die geloof, nie van aanskoue nie. Dit sê ook die Hebreërskrywer in sy hoofstuk oor die geloof (11:1): “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Dit maak geloof so moeilik. Maar gelukkig verstaan God ons behoefte om iets tasbaars te hê om aan vas te hou. Daarom hang ons geloof nie in die lug nie, want God gee vir ons sigbare dinge om ons te verseker dat ons nie besig is om ydele drome na te jaag nie. Die Bybel is vol daarvan – die reënboog as teken aan Noag, die besnydenis as teken van die verbond met Abraham en sy nageslag, die doop as verbondsteken vir die kerk van die Here Jesus – en toe God Gideon roep, gee Hy hom verskeie tekens om hom te verseker dat hy nie droom nie.

Twyfel jy soms? Hou dan vas aan jou doop. God verseker jou daarmee: Hy het jou régtig lief!




SAUL MAGTELOOS TEEN FILISTYNE

Van ons Ou Testament redaksie

GIBEA. – Koning Saul moes die afgelope tyd magteloos toekyk hoe roofbendes van die Filistyne die land plunder.

Dié haglike situasie volg maar enkele maande ná die klinkende oorwinning wat die nuwe koning by Jabes oor die Ammoniete behaal het. ’n Woordvoerder van die koninklike wag het vanoggend aan ons bevestig een van hulle groot kopsere is die feit dat daar geen wapens vir die soldate beskikbaar is nie, omdat die Filistyne ’n monopolie op ystersmeewerk het. Net die koning en prins Jonatan het wapens van yster.

Om alles te vererger, het die profeet Samuel hom ook van die stryd teen die Filistyne gedistansieer. Die probleem het glo ontstaan omdat Saul op die vooraand van die geveg teen die Filistyne by Gilgal self die brandoffer gebring het toe Samuel nie betyds vir die offer opgedaag het nie.

Dit lyk asof die Israeliete maar nog ’n tyd lank in die spelonke en droë putte sal moet wegkruip …

 

’N SEUN VIR ABRAM

HEBRON. – Abram het gister vir die eerste keer pa geword toe sy slavin, Hagar, vir hom ’n fris seun in die wêreld gebring het. Die oorstelpte ma het hom die naam Ismael gegee.

Abram, ’n man van ses en tagtig, woon nou al vir meer as tien jaar in Kanaän, en die groot hartseer in sy en sy vrou Sarai se lewe is dat hulle kinderloos is. Daarom het hy onlangs Sarai se slavin Hagar as byvrou geneem, om op hierdie manier ’n erfgenaam te kry.

Die trotse vader kon vanoggend nie ophou praat oor die groot gebeurtenis in sy lewe nie. Dis duidelik dat hy groot planne het vir sy seun. Ongelukkig was Sarai nie beskikbaar toe ons haar om kommentaar wou nader nie.

 

Koperslang bring redding

OBOT (Sinaiwoestyn). – Baie Israeliete het gesterf toe ’n plaag giftige slange onder hulle ingevaar het. Ironies genoeg was dit nóg ’n slang – een van koper – wat hulle gered het.

Die leier van die volk, Moses, het die koperslang laat maak en op ’n paal gesit met die opdrag dat enige iemand wat gepik is, na die koperslang moes opkyk sodat hy kon bly lewe.

Sover vasgestel kan word, was die slangplaag ’n strafmaatreël van God omdat hulle teen Hom in opstand gekom het.

 


Om oor na te dink

Ongeduld is ’n versoeking wat baie al laat struikel het. Want ons wil so graag hê dat daar vinnig in ons behoeftes voorsien moet word, dat die Here gou moet antwoord wanneer ons oor ’n saak bid, veral wanneer dié saak vir ons gevoel nogal meriete het.

In God se leerskool moes baie mense al op die swaar manier leer dat ongeduld jou niks help nie; trouens, dikwels bring dit op die lange duur vir jou groot probleme. Ongeduld het Abram immers byna sy huwelik gekos, en Ismael, sy eersgeborene, moes van hom af padgee toe hy skaars 17 jaar oud was. Die Israeliete se ongeduld met God se leiding in die woestyn het baie se dood veroorsaak. Saul se koningskap is van hom weggeneem omdat hy nie kon wag dat God se profeet vir hulle bid voor die stryd nie.

Waarom oordeel God dan so kras oor hierdie alte menslike swakheid? Omdat die hart van die ongeduld eiesinnigheid en beterweterigheid is: ek weet beter as God hoe om my sake te reël.

Ons hoef nie verder as die Skrifgedeeltes op hierdie bladsy te gaan soek om te sien wat die “beter” is wat ’n mens kry as jy ’n kortpad deur God se raadsplan vir jou lewe soek nie. Dis om dié rede dat Psalm 130:5-8 ons oproep om op die Here te wag: “Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.”

In Lied 579:3 sing ons ook daarvan:

God ken alleen die regte pad
wat uitloop op die hemelstad;
Hý weet of voor- of teëspoed
die beste is vir ons gemoed.

Kom ons volg Hom vandag in die vertroue dat Hy weet wat vir ons goed is.




Seun red Israel se eer

Van ons Ou Testament redaksie

SOKO (JUDA). – ’n Jong man met die naam Dawid, seun van Isai, het vandag hier die eer van die ganse volk gered toe hy die Filistynse baasvegter, Goliat, in ‘n tweegeveg verslaan het. Toe die Filistyne sien hulle held is dood, het hulle op die vlug geslaan. Talle is in die agtervolging gedood in een van die grootste oorwinnings nog vir Saul.

Dié dramatiese gebeure bring ’n einde aan ’n vernederende hoofstuk in Israel se krygsgeskiedenis. Goliat het naamlik sewe weke lank elke dag die Israelitiese leër getart en verkleineer. Hy wou ’n tweegeveg afdwing om só die uitslag van die oorlog te bepaal. Niemand het egter kans gesien om teen dié reus van drie meter te veg nie. Dawid, wat ’n skaapwagter van beroep is, het daarvan te hore gekom toe hy voorrade vir sy drie oudste broers weggebring het. Hy het onmiddellik die uitdaging aanvaar.

Koning Saul het sy eie gevegsuitrusting vir Dawid laat aantrek, maar Dawid het dit van die hand gewys omdat dit hom ongemaklik laat voel het. Gewapen met slegs ’n slingervel en ’n herderstaf het hy Goliat tegemoetgegaan. Met die eerste gooi het hy die reus tussen die oë getref, sodat hy op die grond neergeslaan het. Dawid het daarna die reus met sy eie swaard onthoof.

Dié beskeie jong man wou nie eintlik oor sy oorwinning praat nie. Sy enigste kommentaar was: “Dit was vandag ’n oorwinning vir die Here. Hy laat nie met Hom spot nie. Dit was in sy Naam dat ek die reus aangedurf het.”

 

Abram verslaan invalsmag

DAMASKUS. – Abram het gister by Dan in ’n verrassingsaanval die gesamentlike magte van “Die Groot Vier” van Mesopotamië, konings Amrafel van Sinar, Arjok van Ellasar, Kedorlaomer van Elam en Tidal van Gojim, verslaan. Wat die oorwinning so merkwaardig maak, is dat hy dié gedugte bondgenootskap met slegs 318 man aangedurf het.

Dié veldslag maak ’n einde aan Kedorlaomer se houvas van twaalf jaar op die Koningsweg-handelsroete. Sy jongste veldtog in Kanaän was juis ’n strafekspedisie om sy gesag oor die roete te herbevestig nadat ’n aantal kleiner konings in die Siddimvlakte teen sy gesag gerebelleer het. Hy het gou met hulle klaargespeel en baie mense en besittings buitgemaak.

Met Abram se skitterende oorwinning het hy al die mense en ander buit teruggekry, onder andere ook sy nefie Lot.

 

Twee loop op see; een verdrink byna

Van ons Nuwe Testament redaksie

GENNESARET. – ’n Klein groepie geharde vissers het laasnag ’n ongelooflike ervaring gehad toe hulle rabbi, Jesus van Nasaret, tydens ’n storm op die see na hulle skuit geloop het.

Om homself te oortuig dat hy nie ’n spook sien nie, het een van die vissers, Simon bar Jona, uit die skuit geklim en ook op die water na sy rabbi geloop. Halfpad het sy moed hom egter begeef, en hy sou sekerlik verdrink het as dit nie vir die flinke optrede van die rabbi was nie.

Na bewering het die storm bedaar die oomblik toe Jesus in die skuit geklim het.

 


 

Om oor na te dink

Wanneer jy op God vertrou, raak die onmoontlike moontlik. Daarom kon Petrus op die water loop. Daarom kon Abram ’n oorweldigende oormag aandurf met net 318 man, en oorwin. Daarom kon Dawid die reus Goliat tegemoetstap sonder ’n helm, borsharnas en swaard. Want Dawid was bewapen soos Goliat nooit kon wees nie: “Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel” (1 Sam. 17:45). Later sing hy in ’n lied: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Ps. 18:30).

Dis wanneer ons ophou om op God te vertrou, wanneer die realiteite van die wêreld om ons vir ons meer begin tel as die realiteit van God se beskikking, dis dán dat ons geloofslewe kragteloos raak, dat ons begin sink. Daarom roep die Hebreërskrywer sy lesers op: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Heb. 12:3)

Die God van Abram en Dawid en Petrus is ook óns God. Ook op hierdie dag. Ook vir jou hoef daar geen stadsmure te hoog te wees nie!




Abram en Lot se paaie skei

Van ons Ou Testament redaksie

BET-EL. – Die bekende grootboer Abram en sy broerskind Lot se paaie het vandeesweek hier geskei.

Die twee het sedert hulle hulle etlike jare gelede uit Mesopotamië in Kanaän tuisgemaak het, bymekaar gebly, maar daar het in die laaste tyd skynbaar onoorbrugbare probleme tussen die twee ontstaan. Die hele aangeleentheid is op die spits gedryf toe daar ’n onverkwiklike rusie tussen Abram en Lot se veewagters ontstaan het oor weiding en waterputte. Harde woorde het geval voordat hulle ooreengekom het om elkeen sy eie gang te gaan.

Stadsvaders hier is verbaas dat Abram toegelaat het dat sy nefie Lot, wat baie jare sy junior is en tot nog toe onder sy sorg was, verreweg die beste daarvan afgekom het deurdat hy hom in die vrugbare Jordaanvallei tuisgemaak het. ’n Bron na aan die familie wys egter daarop dat Abram ’n man van vrede is wat tot elke prys spanning wil vermy, selfs ten koste van homself.

In ’n kort persverklaring het Abram gesê dat hy as nuweling in Kanaän nie probleme in die land wil veroorsaak nie. “Die prys wat ek moes betaal vir vrede, is eintlik klein,” het hy gesê.

 

Talle volgelinge keer rabbi Jesus die rug toe

Van ons Nuwe Testament redaksie

KAPERNAUM. – Op ’n dag van hoogdrama het talle volgelinge van die bekende rabbi Jesus hom verlaat. Hulle sê sy uitsprake is verregaande en onaanvaarbaar.

Blykbaar het die ongelukkigheid ’n lang aanloop. Jesus het glo aan die oorkant van die See van Galilea vir duisende mense kos gegee deur ’n seuntjie se padkos van vyf garsbroodjies en twee vissies te vermeerder sodat daar meer as genoeg vir almal was. Daarop wou die mense hom met geweld koning maak, maar hy het hulle ontglip en die berge in gevlug.

Die opgewonde skare het egter bly soek, en toe hulle Jesus in Kapernaum kry, was hulle vol verwagting dat daar nog wonderwerke sal volg. Jesus was nie beïndruk nie, en het gesê die mense volg hom vir al die verkeerde redes. In die daaropvolgende gesprek het Jesus blykbaar gesê hulle soek die verkeerde soort brood by hom. Hyself is die brood wat lewe gee. Dit het die mense klaar omgekrap, en toe hy boonop homself met die manna van ouds gelykstel, was die gort gaan. Hy het ook gesê die brood waarvan hy praat, is sy liggaam. “As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie,” het gesê en bygevoeg: “My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.”

Dit was die laaste strooi. “Wat hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?” het een opgemerk en geloop. Sy twaalf dissipels het egter aan hulle rabbi getrou gebly. “Hy het die woorde van die ewige lewe, en ons bly by hom,” het Simon seun van Johannes beslis gesê.

  • Jy kan meer hiervan lees in Joh. 6.

 


Om oor na te dink

Ons doen almal elke dag keuses. Sommige keuses is nietig. Ander, egter, het verreikende gevolge. Want dikwels plaas ’n keuse wat ons doen, ons op ’n pad waarop daar weinig kans vir omdraai is. Lot se gulsige keuse om in die Jordaanvallei te gaan woon, het hom uiteindelik baie duur te staan gekom. ’n Mens hoef net Gen. 19 te lees om die tragedie wat sy lewe geword het, te sien. En dan is daar natuurlik die volgelinge van Jesus wat hulle geërg het aan sy woorde (Joh. 6:66).

Dit is uiteindelik die groot keuse wat ek en jy moet maak: vir of teen Jesus. Daar is nie ’n middeweg nie. Die vraag is die motief. Lot se keuse is deur sy gierigheid bepaal; Abram se keuse word deur sy getrouheid aan sy roeping teenoor God bepaal. Die Jode verwerp Jesus omdat Hy hulle nie na die mond praat en aan hulle verwagtings voldoen nie. Petrus-hulle besef egter dat Hy hulle toekoms is. Soos Petrus namens die twaalf vir Jesus in Joh. 6:68 sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.”

Mag Hy jou oë oopmaak vir die keuses wat jy vandag gaan doen, sodat jy duidelik sal kan onderskei dié dinge waarop dit aankom (Fil. 1:10; vgl ook Rom. 12:2). Mag jy vandag onder die leiding van die Heilige Gees reg kies!




Sakeman uit Egipte geskop

Van ons Ou Testament redaksie

MEMPHIS. – ’n Skatryk Semitiese donkiehandelaar, Abram seun van Tera, is gister met vrou en besittings en al gedeporteer. Die uitsettingsbevel is deur die farao self uitgereik nadat daar ’n ernstige vertrouensbreuk tussen Abram en die farao ontstaan het.

Abram se beeldskone vrou, Sarai, was volgens ingeligte bronne in die paleis die oorsaak van die breekspul. Na wat verneem word, was die farao, wat alom bekend daarvoor is dat hy ’n oog vir mooi vroue het, onder die indruk dat Sarai Abram se suster is, en hy was van voorneme om met haar te trou. Nadat sy egter in sy harem opgeneem is, het die een ramp na die ander die paleis getref. Die farao het onraad vermoed en Abram gekonfronteer. Dit kom toe uit dat Abram self die storie versprei het dat Sarai sy suster is, omdat hy vir sy lewe gevrees het. Hy was glo bang iemand vermoor hom om sy vrou in die hande te kan kry!

Kenners het hulle verbasing uitgespreek oor die feit dat Abram toegelaat is om sy besittings saam te neem. ’n Aansienlike deel daarvan is naamlik geskenke wat die farao nog vir hom gegee het toe hy Sarai die hof gemaak het. “Dit moet ’n merkwaardige vrou wees dat die farao haar én haar man se lewe gespaar het ten spyte van die vernederende ervaring,” het een van die paleisamptenare gesê.

 

Stad ontkom wonderbaarlik

SAMARIA. – In wat deur politieke kenners as “niks anders nie as ’n wonderwerk van Bo” bestempel is, het Samaria, die hoofstad van Israel, gisteraand aan die dodelike wurggreep van Ben-Hadad van Aram se beleëring ontkom.

Gisteroggend was daar nog geen teken dat die einde van die stryd in sig is nie, maar teen skemer gisteraand het die hele leër van Ben-Hadad sonder enige duidelike rede inderhaas onttrek. Dit wil lyk asof die Arameërs op die vlug geslaan het, want hulle het die hele kamp net so gelos met tente, kos, perde en donkies. Die hele pad na die Jordaan het ook vol klere en artikels gelê wat die Arameërs weggegooi het in hulle haas om weg te kom.

Die onttrekking het aan die lig gekom toe vier melaatses wat buite die stadspoort gebly het, besluit het om kos by die Arameërs se kamp te gaan bedel. Toe hulle daar ontdek dat alles verlate is, het hulle na die stad teruggekeer met die blye nuus.

Die hongersnood in die stad as gevolg van die beleëring was eergister nog só fel dat ’n donkiekop teen net onder ’n kilogram silwer op die mark verhandel is, en ’n klein skeppie duiwemis teen 57 gram. Desperate inwoners het selfs begin om hulle eie kinders te slag en te eet. Vandag is daar egter oorvloed, danksy die kos wat die Arameërs agtergelaat het. Markpryse het teruggesak tot wat dit voor die beleg was. Vyf kilogram meel of nege kilogram gars kos nou weer net elf gram silwer!

 

Offisier in stormloop doodgetrap

SAMARIA. – Die beëindiging van die beleg van die stad het ’n tragiese nadraai gehad toe ’n senior offisier en vertroueling van koning Joahas in ’n stormloop in die stadspoort doodgetrap is.

 


Om oor na te dink

Glo jy in God? Glo jy in sy wondermag? Natuurlik! Dis mos waarom jy met die Bybel besig is.

Maar glo jy régtig in sy wondermag, ook in jóú lewe? Die gebeurtenis in Egipte toon vir ons baie duidelik hoe maklik dit kan gebeur dat iemand wat glo, selfs iemand soos Abram, in die strik van kleingeloof kan trap. Abram het in sy krisis in Egipte begin twyfel aan God en God se vermoë om teen alle waarskynlikheid in sy belofte aan hom dat Hy hom sal seën en tot seën sal maak, in vervulling te laat gaan. Daarom begin hy halwe waarhede (leuens?) vertel om sy bas te red.

Koning Joahas se adjudant het ook nie in God se wondermag geglo nie. Daarom antwoord hy die Godsman Elisa, toe dié uitkoms vir Samaria voorspel: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën” (2 Kon. 7:2). Want hy redeneer soos ’n mens.

Gelukkig is God nie ’n mens nie. Hy kan sake wat vir ons totaal onoplosbaar lyk, in ’n oogwink handomkeer verander. Hy bewaar op die ou end Abram en Sarai se huwelik; Hy bewerk ’n ongelooflike uitkoms vir Samaria. Hy is ook in jou lewe besig! Hy kan ook vir jou uitkoms bring in ’n saak waarvoor jy lankal die handdoek ingegooi het, ’n saak waarvoor jy miskien nie eens meer bid nie omdat jy opgehou het om te glo dat dit nog kan regkom.

Glo dit vandag! Dit is die evangelie, die goeie boodskap dat ons ’n God aanbid wat magtig is om deur sy krag oneindig meer te doen as wat ons ooit kan bid of dink (Ef. 3:20-21).