Rykmanskind keer terug ná 20 jaar in Haran

Van ons Ou Testament redaksie

MISPA. – Jakob seun van Isak en kleinseun van Abraham, het bekend gemaak dat hy voornemens is om ná ’n ballingskap van 20 jaar na sy geboorteland Kanaän terug te keer.

Jakob is destyds te midde van groot spanning tussen hom en sy tweelingbroer Esau uit Kanaän weg, en het hom in Haran by sy oom Laban gevestig. Daar is hy eers met Laban se oudste dogter, Lea, en slegs ’n week later ook met sy ander dogter, Ragel, getroud. In ruil hiervoor moes hy veertien jaar lank vir sy oom werk. Daarna het hy vir ’n verdere ses jaar teen vergoeding by Laban gewerk.

Die verhouding tussen Jakob en Laban het egter in die laaste tyd baie gespanne geraak. Bewerings van bedrog is glo oor en weer gemaak, maar geeneen wou dit aan ons bevestig nie. Die saak is op die spits gedryf toe Jakob na Kanaän vertrek het sonder om sy skoonpa te groet. Laban het Jakob agterna gesit en hom hier by Mispa ingehaal. Harde woorde het glo geval voordat die twee besluit het om die strydbyl te begrawe. Hulle het gister hier ’n nie-aanvalsverdrag met mekaar gesluit.

  • Lees van hierdie onstuimige tyd in Jakob se lewe in Gen. 29, 30 en 31.

 

Tempel stort ineen; duisende sterf

Dagon se tempel voor dit verwoes is

GASA. – In ’n tragiese ongeluk gistermiddag het bykans drie duisend mense, insluitende feitlik al die Filistynse leiers, omgekom toe die tempel van Dagon, waar hulle vir ’n fees byeen was, sonder waarskuwing ineengestort het.

Die oorsaak van die ramp is nog onbekend. ’n Voorlopige ondersoek het ’n strukturele fout in die ontwerp van die tempel uitgesluit. Gerugte doen die ronde dat die Israelitiese kragman Simson, wat kort voor die ongeluk na die tempel gebring is om die skare te vermaak, die tempelpilare omgeruk het en só die tempel laat instort het. ’n Woordvoerder van die tempelbestuur het bevestig dat Simson wel tydens die ramp in die tempel was en dat hy saam met die Filistyne omgekom het. Hy het egter enige verband tussen Simson en die ramp as onsin afgemaak. “Ons weet almal dat Simson sy krag verloor het toe Delila sy haarlokke afgesny het. Buitendien is sy oë uitgesteek toe ons hom destyds gevang het. Hoe sal hy nou die tempel kon laat instort?” het hy verontwaardig gevra.

Ondanks die ramp slaak die Filistyne ’n sug van verligting omdat Simson dood is. Sy dood bring ’n einde aan ’n skrikbewind wat twintig jaar gelede begin het op sy huwelik met ’n meisie van Timna. Hy het in dié tyd dikwels die Filistyne aangeval, en by een geleentheid ’n duisend man in Legi doodgeslaan met ’n eselskakebeen. Dit was ook hy wat destyds hier in Gasa vir pandemonium gesorg het toe hy die stadspoort se deure met hulle kosyne en al uit die stadsmuur geruk en dit weggedra het.

Simson het die afgelope paar maande in die tronk die meul gedraai nadat die leiers daarin geslaag het om met die hulp van sy vriendin Delila van die Sorekvallei die geheim van sy ongekende krag uit te vind. Sy het sy haarlokke, waarin sy krag opgesluit was, afgesny. Daarna was hy magteloos teen die Filistynse soldate. Hulle het hom gevang en sy oë uitgesteek voordat hulle hom hierheen gebring en in die tronk gegooi het.

 


Om oor na te dink

Die Bybelse karakters was nie almal engeltjies nie. Trouens, party van hulle was nogal heelwat ruwer as waarmee ons vandag gemaklik sou voel.

Nou praat ek nie van hulle gewelddadige neigings nie – hulle het immers in ’n gewelddadige tyd geleef. Ek praat van sondes wat hulle gedoen het: owerspel, soos Simson, en bedrog, soos Jakob. Dinge wat eenvoudig nie in ordentlike geselskap tuishoort nie, nie vandag nie, en ook nie destyds nie.

En tog het God hierdie einste mense gekies om die draers van sy belofte te wees, en het Hy hulle ondanks hulle sonde bly bystaan nadat ons lankal met hulle sou breek.

Hoekom doen God dit? Hoekom hou Hy aan met mense wat beslis nie sy liefde en genade werd is nie? Die antwoord lê nie in die mense self nie. Dit sê Moses al vir die lsraeliete in Deut. 7:7,8: “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom … het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry …”

Die Here het hulle lief eenvoudig omdat Hy dit so besluit het, en daarom loop Hy met hulle die hele pad, los Hy hulle nooit, al laat hulle Hom in die steek.

Ons is ook ontvangers van God se liefde om geen enkele ander rede nie as dat Gód so besluit het. Hy sal ook met óns die pad end-uit loop. Dié wete gee ons nie die reg om te sondig nie. Maar ás ons sondig, kan ons weet God sal ons nie verwerp nie. Dít is die evangelie. Ongelooflik.




MIDIANIETE VERDRYF!

Van ons Ou Testament redaksie

OFRA. – ’n Jong man van Ofra, Gideon seun van Joas die Abiësriet, het oornag ’n volksheld geword toe hy met slegs 300 man die magtige leër van die Midianiete verpletter het in die vlakte by Waarsêershoogte.

In ’n goed beplande verrassingsaanval op die Midianitiese leër het ’n ongelooflike 120 000 Midianiete gesneuwel. Gideon het ook die Midianitiese konings Sebag en Salmunna na ’n agtervolging van etlike ure gevang en tereggestel.

Dié oorwinning bring ’n einde aan sewe jaar van ellende vir die Israeliete. In herhaalde strooptogte die afgelope sewe jaar het die Midianitiese kameelruiters die land letterlik kaalgestroop, sodat die inwoners erg verarm het.

Gideon, wat ook Jerubbaäl genoem word na aanleiding van sy veldtog teen die Baäldiens, het verlede week die volk opgeroep om saam met hom die Midianiete die stryd aan te sê. Altesaam 32 000 manskappe het hulle aangemeld. Gideon het egter verkies om met slegs ’n klein, beweeglike groep van 300 uitgesoekte vegters die vyand aan te durf. Die ander het hy huis toe gestuur. Met sy klein aanvalsmag het hy in die nag die laer van die vyand omsingel, en op ’n teken van hom het hulle almal gelyk op hulle ramshorings geblaas, fakkels rondgeswaai, kruike stukkend geslaan en geskreeu: “Die swaard van die Here en Gideon!” Paniek het onder die slapende Midianiete uitgebreek, en hulle het met mekaar begin veg.

In ’n eksklusiewe onderhoud met Die Bybelkoerant wou die dapper held niks van die eer vir homself hê nie. “Ek het bloot in opdrag van die Here opgetree. Dit was van begin tot end die Here se oorwinning. Ek sou dit nooit op eie inisiatief gedoen het nie, maar nadat die Here my herhaaldelik met tekens verseker het dat Hy by my is, het ek gegaan,” het hy gesê.

  • Lees die ongelooflike verhaal in Rig. 6, 7 en 8.

 

Hebreërs vier verbondsfees

HEBRON. – ’n Groot verbondsfees is die afgelope week hier by die groot bome van Mamre gehou om die verbond wat God met Abram gesluit het, te vier.

Die verbond beteken dat God Hom daartoe verbind om hulle God te wees en vir hulle te sorg, het Abram gesê. “Hy het ook belowe dat ek ’n groot nageslag sal hê. Daarom het Hy my naam verander na Abraham. Sarai se naam is ook verander na Sara, en God het aan my gesê sy gaan binnekort ’n seun hê,” het hy trots bygevoeg.

’n Voorwaarde van die verbondsooreenkoms is dat al die manlike lede van sy huishouding besny moet word om hulle daaraan te herinner dat hulle op ’n besondere manier aan God behoort.

Dit is duidelik dat Abraham oortuig is dat hy en Sara binnekort ’n seun ryker gaan word. Of dit so sal wees, sal net die tyd leer. Hy is immers al 99 jaar oud, en sy 89!

 

Reënboog word teken

ARARAT. – ’n Reënboog is nie meer bloot ’n reënboog nie. Voortaan is dit die teken dat die wêreld nooit weer in ’n watervloed sal vergaan nie.

Só het Noag gister gesê na afloop van die dankseggingsdiens wat hy gehou het om die redding uit die vloed te vier. God het aan hom verskyn en ’n verbond met hom aangegaan waarin Hy belowe het om nooit weer die aarde deur vloedwaters te vernietig nie. “Die reënboog is die teken wat ons – en God – aan hierdie belofte sal herinner,” het hy gesê.

 

3 000 gedoop!

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Simon bar Jona, ook bekend as Petrus, en tien ander het vanoggend hier ’n nuwe sekte gestig. Hulle noem hulleself die “Volgelinge van Jesus”. Omtrent drie duisend mense het hulle by die groep aangesluit nadat hulle gedoop is.

 


Om verder oor na te dink

Ons verhouding tot God is ’n geloofsverhouding, ’n saak van die geloof, nie van aanskoue nie. Dit sê ook die Hebreërskrywer in sy hoofstuk oor die geloof (11:1): “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Dit maak geloof so moeilik. Maar gelukkig verstaan God ons behoefte om iets tasbaars te hê om aan vas te hou. Daarom hang ons geloof nie in die lug nie, want God gee vir ons sigbare dinge om ons te verseker dat ons nie besig is om ydele drome na te jaag nie. Die Bybel is vol daarvan – die reënboog as teken aan Noag, die besnydenis as teken van die verbond met Abraham en sy nageslag, die doop as verbondsteken vir die kerk van die Here Jesus – en toe God Gideon roep, gee Hy hom verskeie tekens om hom te verseker dat hy nie droom nie.

Twyfel jy soms? Hou dan vas aan jou doop. God verseker jou daarmee: Hy het jou régtig lief!