Die lsraeliete berei voor vir ’n verbond met God

Van ons Ou Testament redaksie

SINAIBERG. – In ’n dramatiese skouspel van kosmiese kragte het die Israeliete se God gister hier by die berg aan dié woestynvolk verskyn. Die verskyning kom op die vooraand van ’n historiese verbondsluiting tussen die volk en hulle God.

Die volk het hulle in opdrag van hulle leier Moses twee dae lank vir die ontmoeting voorberei deur te vas en hulle te reinig. As verdere voorsorgmaatreël is almal, mens en dier, verbied om dit naby die berg te waag.

Niks kon hulle egter voorberei op die ontsagwekkende gebeure wat hulle gister beleef het nie. Met dagbreek gisteroggend was daar donderslae, weerligte en ’n donker wolk op Sinaiberg. Die sterk, helder klank van ’n ramshoring het onophoudelik weerklink. Rook het uit die berg getrek sodat dit gelyk het of die hele berg aan die brand geslaan het. ’n Hewige aardbewing is ook waargeneem.

Só ontsettend was die skouspel dat die lsraeliete vir hulle lewe gevrees het. Hulle het Moses versoek om liewer namens hulle verder met God te onderhandel.

Moses het toe die berg uitgeklim om die Wet van God, wat die inhoud van hulle verbondsooreenkoms met Hom is, in ontvangs te neem.

Ondertussen heers daar ontsteltenis onder die volksleiers omdat Moses nog nie weer van die berg af teruggekeer het nie. Hy is laas opgemerk toe hy die donker wolk wat oor die berg hang, ingestap het. Hy is sedertdien nog nie weer gesien nie. Een van die leiers het opgemerk: “Dis waarvoor ons bang was. ’n Gewone sondige mens kan mos nie voor die lewende God verskyn nie! Sy heiligheid sal jou eenvoudig verteer. Ek dink nie ons sal vir Moses weer sien nie.”

 

RABBI MAAK OFFERDIENS ONMOONTLIK, SÊ LJR

Van ons verteenwoordiger in die Joodse Raad

JERUSALEM. – Die rabbi Jesus van Nasaret maak dit vir gewone mense bitter moeilik om hulle godsdienstige verpligtinge na te kom.

Só sê ’n vooraanstaande priester en lid van die gesaghebbende Joodse Raad. Hy is om kommentaar genader oor uitsprake wat rabbi Jesus sou gemaak het in ’n onlangse preekrede op ’n heuwel in Galilea. Jesus het glo gesê ’n mens moet jou offer laat staan as jy weet dat iemand iets teen jou het. “Wie van ons het nie êrens iemand wat vir hom kwaad is nie?” het die priester, wat nie sy naam gepubliseer wil hê nie, gevra.

Hy het bygevoeg dat hierdie soort uitsprake uiters onverantwoordelik is, want dit ontmoedig die gewone mense om aan die offers deel te neem. Daarmee neem hy eintlik die priesters se brood uit hul mond, want hulle deel van die offervleis is ’n belangrike inkomstebron vir die priestergemeenskap.

Simon bar Jona, een van Jesus se dissipels, sê egter dat Jesus uit konteks aangehaal is. Hy het wel gesê jy moet jou gawe los as jy weet iemand het iets teen jou. Maar dit was nie al wat hy gesê het nie. Hy het voorts gesê dat jy dan met jou broer moet gaan vrede maak, sodat, wanneer jy daarna jou offer bring, jy dit ongehinderd kan doen.

  • Lees van Jesus se uitsprake oor die bring van offers in Matt. 5:23-24.

 


Sondaar en regverdig tegelyk

’n Saak wat jou opval as jy van die gebeure daar by Sinaiberg lees, is die uitvoerige voorbereidings wat die lsraeliete moes tref alvorens hulle vir God kon ontmoet: twee dae lank moes hulle hulle liggaamlik en geestelik reinig. Die boodskap aan die lsraeliete is duidelik: om die lewende God te ontmoet, is nie ’n gebeurtenis wat jy sommer so in jou gewone alledaagse gang indruk nie. God is immers heilig, en wie voor Hom verskyn, moet daarom ook heilig wees, anders wees, afgesonder vir diens aan Hom. Dit was ook Jesus se boodskap aan sy dissipels: berei jou voor wanneer jy God tegemoet tree.

Ten spyte van hulle uitvoerige voorbereidings het die lsraeliete egter ongemaklik en bang gebly. Daarom versoek hulle Moses om as tussenganger vir hulle in te tree. En hierin sou Moses die voorloper word vir ’n ander Tussenganger, ons Middelaar, Jesus Christus. Hy het sonde geword, onrein, vervloek en verwerp op Golgota, sodat ons geheilig en rein voor die lewende God kan staan, sonder vrees. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Kor. 5:21).

Vrygespreek – en tog! Maarten Luther sê ons is simil iustus et peccator, tegelyk regverdig én sondaar. Laat ons dit onthou as ons voor God verskyn. Sonder voorbereiding kon Israel nie voor God gaan staan nie. En behoort ons ook nie.




Nuwe regeringstelsel vir die Israeliete aangekondig

Van ons Ou Testament redaksie

REFIDIM. – Die Israelitiese leier Moses het op ’n volksvergadering hier bekend gemaak dat hy die hele regeringstelsel gaan hervorm.

Dié aankondiging kom ná indringende samesprekings wat Moses met sy skoonpa, die priester Jetro van Midian, gevoer het. Jetro het hom onlangs by die Israelitiese laer aangesluit vir ’n kort besoek. Hy het ook Moses se vrou, Sippora, en hulle twee seuns Gersom en Eliëser saamgebring uit Midian, waar hulle agtergebly het toe Moses destyds na Egipte terug is om die volk uit slawerny te verlos.

Moses het gesê hy beoog om bekwame manne uit Israel te kies as hoofde oor die volk. Hy het gesê hy gaan leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien aanstel om die huishoudelike sake van die volk te reël. Hierdie sake is tot dusver deur hom alleen behartig. Dit was nie ’n baie bevredigende situasie nie en het dikwels tot vertragings gelei. Hy het egter benadruk dat hy hom nie van die regering onttrek nie. Die belangrikste sake sal steeds deur hom behartig word.

Moses se aankondiging het oral byval gevind, te oordeel na die entoesiasme waarmee die volk op sy toespraak gereageer het. Dit behoort ook die onmenslike las wat op Moses se skouers gerus het sedert die uittog uit Egipte, te verlig.

 

HISTORIESE OORWINNING VIR JONG VOLK

REFIDIM. – In die eerste geveg waarin die Israeliete betrokke geraak het sedert hulle wonderbaarlike ontkoming van die Egiptenare by die Rietsee, het hulle gister die Amalekiete heeltemal verslaan. Die Israelitiese magte is aangevoer deur Josua seun van Nun. Die geveg het die hele dag lank wipplank gery. Eers teen sononder het Josua daarin geslaag om die oorhand te kry.

 

Paulus neem afskeid van sy geliefde gemeente

Van ons Nuwe Testament redaksie

MILETE. – Die bekende evangelis en sendeling Paulus van Tarsus het gister hier onder trane afskeid geneem van die ouderlinge van Efese, een van sy geliefde gemeentes in Klein-Asië.

Paulus, wat die hawe hier onderweg na Jerusalem aangedoen het, het die ouderlinge ontbied sodat hy hulle vir oulaas kan sien. Hy het gesê hy verwag om in Jerusalem, waar hy die pinksterfees gaan bywoon, deur die Jode gevange geneem te word. Hy sal hulle daarom waarskynlik nie weer sien nie.

In sy afskeidsrede het hy hulle dringend vermaan om hulleself en die hele gemeente wat die Heilige Gees onder hulle sorg gestel het op te pas. Hy het die gemeente met ’n kudde vergelyk, en gesê die ouderlinge is soos herders wat die kudde moet versorg. Soos daar in ’n gewone kudde voortdurend die gevaar bestaan dat wolwe die kudde kan verskeur, só moet die ouderlinge waak teen mense wat met leuens die gemeente sal probeer verlei.

Die gemeente in Efese het onder Paulus se arbeid tot stand gekom. Hy is onlangs, na ’n verblyf van meer as drie jaar, daar weg toe die silwersmede onder aanvoering van Demetrius die stad teen hom opgesweep het.

  • Lees hiervan in Hand. 20:16-38, asook oor die ontstaan van die gemeente in Hand. 19.

 


Nie op jou eie nie

Die Bybel is vol daarvan dat God soms baie groot dinge van enkelinge verwag: Abram moet van sy mense wegtrek om ’n nuwe volk tot stand te bring; Moses moet sy volk lei na die beloofde land; Paulus dra die evangelie uit tot aan die uithoeke van die destydse wêreld.

Tog, as ons hierdie mense se lewe volg, sien ons dat God nie verwag dat hulle hierdie groot dinge man-alleen moet uitvoer nie. Dit was die rede vir Jetro se besoek aan Moses, want Moses het probeer om alles self te doen, en dit het op chaos afgestuur. Jetro het Moses se oë daarvoor oopgemaak dat God ook ander bekwame mense voorsien wat sy vrag ligter maak – Aäron en Hur wat sy arms omhoog hou, en ander leiers wat saam met hom die volk kan bestuur. “Dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra. (Dan) sal jy met die werk kan aanhou,” is Jetro se wyse raad (Eks. 18:22,23).

Paulus het dít goed begryp. Daarom het hy nooit ’n “dominee-kerk” gestig wat na sy pype moes dans nie. Hy het van die begin af mense in die gemeentes gehad om saam met hom die versorging van die gemeente te behartig. Daarom kon die gemeentes later ook sonder hom die mas opkom. Dit was immers nie sy kerk nie, maar Christus s’n.

Die Here het ook vir jou ’n taak in sy koninkryk. Nie op jou eie nie, maar saam met ander. Wat ’n voorreg!




HEILIGDOM IN GEBRUIK GENEEM

Van ons Ou Testament redaksie

SINAIBERG. – Die Israeliete het gister, ’n jaar nadat hulle uit Egipte weggetrek het, hulle heiligdom met gewyde plegtigheid in gebruik geneem.
Pas nadat die Israelitiese leier, Moses seun van Amram, ’n kort wydingsrede gelewer het, het ’n wolk die heiligdom oordek. Die magtige teenwoordigheid van die Here, die God van Israel, het toe die heiligdom gevul.

Die uitdagende taak om die heiligdom te maak, is enkele maande gelede begin deur ’n hele span spesialisvakmanne onder die bekwame leiding van Besaleël seun van Uri en Oholiab seun van Agisamak. Hulle het die opdrag gehad om, aan die hand van enkele riglyne wat die Here aan Moses gegee het, die hele heiligdom te ontwerp en te maak: die verbondsark met sy versoendeksel, die voorhangsel, die tafel vir die offerbrood, die wierookaltaar en brandofferaltaar, die bronswaskom, talle heilige voorwerpe, die tent van ontmoeting waarin die heilige voorwerpe gehuisves word, en selfs die klere van die priesters.

In sy wydingsrede het Moses gesê hy het enkele dae gelede, toe die werk voltooi is, alles geïnspekteer, en hy is hoogs beïndruk met die puik vakmanskap en klem op detail. Hy het die vakmanne bedank vir hulle toegewyde werk, en ook ’n besondere dankwoord teenoor die volk uitgespreek vir hulle ruim bydraes, sodat die ganse heiligdom sonder ’n sent skuld voltooi kon word.

Moses het gesê dit is vir hom ondenkbaar dat hulle sonder God se teenwoordigheid en leiding selfs daaraan kan dínk om voort te gaan. Juis daarom is die inwyding van die tabernakel vir hom van besondere betekenis.

  • Jy kan meer van hierdie inwyding lees in Eks. 40.

 

Evangelis het nou sy oog op Europa

Van ons Nuwe Testament redaksie

TROAS. – Die bekende sendeling en evangelis Paulus van Tarsus het gistermiddag op ’n nuuskonferensie hier aangekondig dat hy voornemens is om hom voortaan in sy sendingwerk op Europa toe te spits.

Paulus het gesê sy plan was eintlik om ’n sendingreis deur Asië te onderneem. “Ons was oorgehaal om eers Misië en dan Bitinië te besoek, maar die Heilige Gees het anders besluit. Ek het baie duidelike leiding van die Gees gekry om dit nie in hierdie stadium te doen nie, en ons was verplig om op die grens van Misië om te draai,” het Paulus gesê.

Volgens Paulus het hy ’n baie sterk roeping ontvang om die evangelie in Masedonië te gaan verkondig. Hoewel dit nie heeltemal sy beplanning is nie, sien hy nou baie daarna uit om die boodskap van Jesus Christus in Griekeland te verkondig. “Ek wil veral baie graag met die wysgere in Atene gesels,” het hy gesê. “En dan, eendag, hoop ek om ook nog by Rome uit te kom met die goeie nuus, mits God dit natuurlik in sy wysheid so beskik.”

Paulus word op sy sending-uitreiking vergesel deur twee medewerkers, Silas en Timoteus. Hulle beoog om hulle eerste uitreik op Europese bodem in die stad Filippi te doen.

  • Lees hoedat die Heilige Gees Paulus na Europa gelei het in Hand. 16:6-15.

 


Die Gees se werk

Sonder die wedergeboorte en die oortuigingswerk van die Heilige Gees in ons harte sou ons nooit Christus se verlossingswerk aanvaar en geglo het nie. En sonder sy leiding sou ons, koersloos en blind, vergeefs die pad agter die Here Jesus aan gesoek het. Hy het immers gekom om ons in die hele waarheid te lei, soos die Here beloof het in Joh. 16:13.

In die woestyn het die Gees van God deur ’n wolkkolom die volk gelei. Sedert Pinkster woon Hy in elke gelowige. Ons liggame is nou die tabernakel van die Heilige Gees (1 Kor. 6:19,20).

Paulus het uitgevind dat die Gees soms anders lei as wat ons beplan. En daarmee moet elke gelowige deeglik rekening hou. Dit sal eers werklik Pinkster in jou lewe word as jy jou fyn instel, nie net om Hom te hoor nie, maar veral om Hom te gehoorsaam.




Jesus se dissipels na Galilea ontbied

— verwarring en onsekerheid duur voort

JERUSALEM. – Die elf oorblywende dissipels van Jesus van Nasaret het gister na Galilea vertrek “om van rabbi Jesus afskeid te neem,” soos hulle dit gestel het.

Die twaalfde dissipel, Judas Iskariot, het kort na Jesus se kruisiging ses weke gelede homself opgehang nadat hy en die Joodse Raad ’n ernstige woordewisseling gehad het. Dit is bekend dat Judas destyds ’n leidende rol gespeel het in Jesus se gevangeneming.

Sedert Jesus van Nasaret gekruisig is, het gerugte hardnekkig die ronde bly doen dat die rabbi uit die dood opgewek is. Dié bewerings is egter van meet af aan met groot beslistheid deur die Joodse Raad verwerp. Ook het geeneen buite die dissipelkring die rabbi gesien om hulle bewerings te staaf nie.

Intussen bly selfs die dissipels verdeeld oor die vraag of hulle rabbi werklik uit die dood opgestaan het. Party van hulle is baie skepties, en het aan Bybelkoerant gesê hulle gaan maar saam na Galilea om te sien wat gebeur.

Simon Petrus, die leier van die dissipels, is egter vol vertroue dat dié ontmoeting die begin van groot dinge kan beteken. “Ons is maar eenvoudige manne en verstaan nog nie mooi wat aan die gebeur is nie, maar dat ons Meester groot dinge op sy agenda het, is seker. Ons rol as dissipels in sy toekomsplanne is ook nog nie heeltemal duidelik nie, maar ek glo ons sal in Galilea hoor wat ons moet doen,” het hy gesê.

  • Lees van hierdie afskeidsgesprek, en party dissipels se onsekerheid, in Matt. 28:16-20.

 

Gemeente ontvang jong leraar

EFESE. – Daar was die afgelope naweek groot opgewondenheid en dankbaarheid toe ds. Timoteus in die Christelike gemeente hier as leraar ontvang is.

Ds. Timoteus is Sondagoggend deur die bekende sendeling en stigter van die gemeente hier, Paulus van Tarsus, as leraar bevestig. Sy teks was Ps. 100:2: “Dien die Here met blydskap!” In sy bevestigingsrede het Paulus dit by die jong leraar ingeskerp dat hy ’n dienaar van Jesus Christus is, en dat hy nie moet toelaat dat enigiets of iemand hom keer om sy roeping uit te leef nie, of op hom neersien omdat hy jonk is nie.

In ’n aandoenlike seremonie het al die ouderlinge ná die preek na vore gekom en die jong leraar die hande opgelê. Elkeen het ook die geleentheid gekry om ’n woord van aanmoediging aan ds. Timoteus te gee. Die gemeente kon daarna hulle nuwe leraar van nader leer ken toe almal gesellig saam geëet het.

In sy intreerede Sondagmiddag het ds. Timoteus gesê hy wil graag ’n beeld gebruik wat die groot prediker Johannes die Doper ook van sy eie bediening gebruik het. Hy het gesê hy sien homself as die strooijonker, en sy plig is om die gemeente van Efese, wat die bruid van Christus is, op te pas en te versorg totdat die Bruidegom, Jesus Christus, kom. “Hy moet meer word, en ek minder.”

Ds. Timoteus is ’n boorling van Derbe. Na sy skoolopleiding het hy by Paulus se sendingaksie aangesluit, en sedertdien is hy intensief deur Paulus vir die bediening geskool. Hy het ook al in verskeie gemeentes in Klein-Asië en veral Masedonië afgelos. Efese is egter die eerste gemeente waar hy hom sal vestig.

  • Jy kan meer oor Paulus se raad aan die jong Timoteus lees in sy twee briewe aan Timoteus. Kyk veral na 1 Tim. 4:6-16. Kyk ook na Joh. 3:27-30.

 


Wie die Here gebruik

Ek verwonder my elke keer weer aan die woorde in Matt. 28:17: “Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.” Aan hierdie onseker, twyfelende groepie volgelinge vertrou die Here Jesus die toekoms van sy kerk toe! Want na hierdie ontmoeting is Hy hemel toe, en moes die dissipels sy lewenstaak voortsit.

Hoe kon Hy in hierdie omstandighede selfs net daaraan dink om sy dissipels agter te laat en hemel toe te gaan?

Daar is twee redes: Hy móés gaan om sy regmatige plek as Koning van die konings op die hemeltroon te gaan inneem, sodat Hy kan heers, óók oor die kerk. Maar Hy kon ook gaan omdat Hy sy dissipels nie aan hulle eie lot oorgelaat het nie. Sy slotwoorde is immers: “Ek is by julle al die dae …” (Matt. 28:20).

Sy hemelvaart het nie beteken dat Hy sy kerk verlaat nie. Deur sy Gees is Hy steeds teenwoordig, en juis dít is die geheim van die “sukses” van die kerk, ten spyte van twyfelaars, en onervare werkkragte soos Timoteus.

Hemelvaart is ’n mosie van vertroue wat Jesus Christus in sy dissipels – in óns – stel, dat ons onder leiding van sy Gees sal voortbou aan sy koninkryk.

Het jý al aangemeld vir diens?




Israelitiese leier stel nuwe “wonderkos” bekend

SINWOESTYN. – Die leier van die Israelitiese trekgeselskap, Moses, het vandeesweek ’n veldkos bekend gestel wat as stapelvoedsel in die behoeftes van sy mense sal voorsien terwyl hulle in die woestyn vertoef.

Dié kos, wat die volk “manna” gedoop het (letterlik vertaal beteken dit “wat is dit dié?”), het ’n heerlike soet heuningsmaak. Dit lyk op die oog af baie soos vlokkies ryp of balsemgom, en word vroeg soggens in die veld “geoes”, voordat die son dit kan wegsmelt. Dit kan rou geëet word, of gemaal of gestamp word om meel te kry waarmee gekook en gebak kan word.

Voedingskundiges is gaande oor dié wonderkos. Die manna is ’n volledig gebalanseerde en uiters veelsydige produk. Twee liter manna is genoeg om in ’n volwassene se voedselbehoefte vir ’n dag te voorsien. Die aangename heuningkoeksmaak van die rou manna behoort selfs die suikertande tevrede te stel, en as dit gaargemaak is, smaak dit weer soos oliekoeke.

Die enigste groot nadeel is dat die manna ’n baie kort raklewe het – dit hou net ’n dag, of as dit gaar is, twee dae op die meeste. Daarna kry dit miet in en ruik baie sleg. Voedseltoksikoloë het gewaarsku dat die manna liefs nie te lank gehou moet word nie, want dit kan voedselvergiftiging veroorsaak.

Ondertussen het die Israeliete ook ’n ander verrassing gekry: ’n groot swerm kwartels het gister vlak by die kamp verbygetrek. Talle van die voëls het sommer tussen die tente gaan sit. Die mense het hierdie kans met mening aangegryp en soveel kwartels gevang as wat hulle maar kon. Teen die aand het die heerlike geur van gebraaide kwartels oor die hele kamp gehang.

Na die manna en kwartels sal die woestynlewe nooit weer dieselfde wees nie …

Lees hieroor in Eks. 16 en Num. 11:4-35.

 

KONING SAUL SE NAGESLAG IN ERE HERSTEL

JERUSALEM. – Koning Dawid het vanoggend hier ’n bevel uitgevaardig waarvolgens die familiegrond van sy voorganger, Saul, aan dié se kleinseun Mefiboset teruggegee is.

Mefiboset het sedert die dood van sy oom, Saul se vierde seun Es-Baäl, geskuil in die huis van Makir seun van Ammiël in Lo-Dabar. Koning Dawid het egter nou dié nasaat van sy eertydse vervolger onder sy sorg geneem. Hy het al die grond in Gibea wat aan Mefiboset se oupa Saul behoort het, aan hom teruggegee en hom boonop genooi om as howeling voortaan by die paleis te eet. Die koning het ook Saul se eertydse amptenaar Siba opdrag gegee om die grond vir Mefiboset te bestuur.

Mefiboset, wat sedert sy vyfde jaar kreupel is aan albei sy voete, is die seun van Jonatan, Saul se eersgeborene. Dit is bekend dat daar destyds, toe koning Dawid nog ’n kaptein in Saul se leër was, ’n besondere band tussen hom en Jonatan was, en dat hulle by meer as een geleentheid aan mekaar trou beloof het. Selfs nie eens koning Dawid se ernstige afkeer van gebreklike mense kon verhoed dat hy sy belofte aan sy eertydse boesemvriend nakom nie.

Lees hiervan in 2 Sam. 9 en 4:4.

 

Ek het net my plig gedoen, sê koningin

SUSAN. – In ’n eksklusiewe onderhoud met Die Bybelkoerant het koningin Ester ontken dat sy ’n heldin is.

Sy het ons te woord gestaan toe dit aan die lig gekom het dat sy die banket waarop Haman in hegtenis geneem is, spesiaal gereël het. Daar het sy sy plan om die Joodse volk uit te wis aan haar man, koning Ahasveros, onthul.

Dit is bekend dat die koning enige iemand wat ongenooid in sy teenwoordigheid verskyn, sonder meer kan laat doodmaak. Tog het die dapper koningin dit gewaag om ongenooid na hom te gaan en hom na die banket genooi. Die voortbestaan van haar volk was immers op die spel. Die beeldskone koningin het net skaam geglimlag toe ons haar vertel dat sy oornag ’n volksheldin geword het. “Ek het net my plig gedoen,” was haar reaksie.

Lees hiervan in Ester 4.

 


Gawes verg verantwoordelikheid

Gawes en voorregte – en hoe oorlaai ons hemelse Vader ons nie daarmee nie! – mag maar, nee móét geniet word, maar dan altyd met die nodige verantwoordelikheid. Dít was die boodskap van Mordegai aan sy niggie Ester. Dit was ook die beweegrede agter Dawid se herstel van Saul se nageslag.

Dit was egter iets wat die jong Israelitiese nasie nog moes leer. In plaas daarvan dat hulle die gawes van kwartels en manna met blye vreugde geniet, vergryp hulle hulle daaraan. Elkeen het minstens ’n ton vleis bymekaargemaak (Num. 11:32)! En aan God se voorskrifte rondom die gebruik van die manna steur hulle hulle min. Geen wonder nie dat God hulle aan hulle eie gulsigheid oorgee en talle daardeur omkom nie.

God se gawes vereis verantwoordelikheid. Kom ons eer Hom vandag deur sy gawes só met vreugde te geniet.




Egipte se elite-soldate sterf in natuurfrats

Militêre verslaggewer

PI-HAGIROT. – Die Egiptiese veiligheidsmagte het gister hier een van die ernstigste terugslae nog beleef toe ’n reusagtige fratsgolf die ganse elite-korps van die farao ingesluk het. Nie een van die soldate het dié watergraf vrygespring nie.

Farao Merneptah was met die room van sy leër op ’n krygstog om die vlugtende Hebreeuse slawe te gaan vang toe die ramp hulle tref. Hulle het die slawe gou ingehaal en teen die Rietsee vasgekeer. Die farao het op ’n hoogte stelling ingeneem om sy leër se vordering te volg. Dié besluit het hom van ’n gewisse dood gered.

Die vreesbevange slawe het die Rietsee ingevlug. In daardie stadium was die gety besonder laag, vermoedelik as gevolg van ’n sterk oostewind wat die gety teruggehou het. Die farao se dapper krygers het op hulle strydwaens agter die slawe aan die see ingejaag, en was op die punt om hulle vlug te stuit, toe die wind onverwags draai en die gety inkom. Die troepe het geen kans gehad om terug te val voor die aanstormende branders nie, het ’n sigbaar aangedane farao gesê. Dit is bekend dat ’n paar van sy seuns aanvoerders is in die koninklike strydwakorps.

Oor die lot van die slawe wou hy hom nie uitlaat nie. Hy het net skouerophalend gesê: “My mense het dit nie een oorleef nie. Dink jy daardie honde sou beter gevaar het?”

 

VISSERS ONTKOM WONDERBAARLIK

GERASA. – ’n Klompie vissers het laasnag op wonderbaarlike wyse ’n groot storm op die See van Galilea oorleef. Toe die uitgeputte, maar baie verligte vissers het vroeg vanoggend hier aangekom het, was die tekens van die nag se ontbering nog duidelik op hulle gesig.

Hulle vertel dat hulle laat gistermiddag in betreklik goeie weer van Kapernaum af uitgevaar het. Die weer het egter gaandeweg versleg, en kort voor lank het hulle hulle in ’n volskaalse storm bevind. Die reusagtige golwe het eenvoudig bo-oor die skuite gespoel, sodat hulle in ’n ommesientjie in groot moeilikheid was.

Die ongelooflike is dat die groep se leier, die rabbi Jesus van Nasaret, skynbaar onbewus van die storm was en rustig gelê en slaap het op die bank in die agterstewe van die skuit. In hulle paniek het sy volgelinge hom wakker gemaak. Volgens sy dissipels het hy toe met die wind en die see gepraat, en die storm het net daar bedaar!

Daarna – so vertel een van die dissipels, Simon bar Jona – het hy met hulle geraas omdat hulle bang was. “Ek sê vir jou, hy kan nie ’n gewone mens wees nie. Ek wonder of hy nie dalk die Messias is nie? Waar het jy al ooit gehoor dat die wind en die see na ’n mens luister?” het Simon gevra.

Die Bybelkoerant kan natuurlik nie hierop antwoord nie. Net die tyd sal leer wie en wat hierdie Jesus werklik is. Dat hy iemand besonders is, is egter seker. Die skares stroom agter hom aan, sodat hy by geleentheid selfs vanuit ’n skuitjie sy leringe moes verkondig. Dit is bekend dat mense van selfs so ver as Jerusalem af en uit Tirus en Sidon kom om hom te sien en na sy lering te luister.

 


Toe die Egiptiese strydwaens op hulle afstorm, raak die lsraeliete paniekbevange: Hier sterf hulle vandag nog in die woestyn, het hulle geglo. In skerp teenstelling is Moses die kalmte self. “Moenie bang wees nie,” antwoord hy die volk. “Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red … Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” (Eks. 14:13-14).

Die rede vir die verskil in reaksie? Moses het iets raakgesien wat die lsraeliete gemis het. Hy het gesien dat God by hulle is; dat Hy die stryd vir hulle voer. Daarom raak hy nie bang en benoud nie. Baie jare later sou Dawid hierdie waarheid in sy trefferpsalm só verwoord: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps. 23:4).

En dié Goeie Herder (Joh. 10) van wie Dawid in Ps. 23 gesing het, was juis by toe die storm op die see die dissipels oorval. Hy is nie paniekbevange soos hulle nie. Hy slaap in die rustige wete dat hulle veilig is in Gods hand. Daarom bestraf Hy sy dissipels oor hulle gebrek aan geloof, want sy goddelike teenwoordigheid het nie ’n verskil gemaak in hulle nood nie.

Maak jou geloof ’n verskil aan die manier waarop jy elke dag beleef? Bring God se teenwoordigheid kalmte in jou gemoed as ander begin om hande in die lug te gooi? Dawid sê (Ps. 27:1): “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”

Die reddende Here waak ook vandag oor jou. As Hy die Rietsee in twee kon kloof en die stormsee kon laat bedaar, is die probleme wat jy vandag sal teëkom, nie vir Hom te groot nie.