Lev 16 Versoening is duur

Jesus se kruisdood op Golgota is vir Christene oor al die eeue heen dié groot saak waaroor dit in die geloof gaan. Daarom is die kruis die belangrikste Christelike simbool in die kerk. Dis ook waar van hierdie kerkgebou. Die groot kruis hier agter kan ’n mens nie miskyk nie.

Die meeste Christene sal ook vir jou sê, as jy vra wat die kruis beteken, dat dit vertel dat Jesus vir ons sondes gesterf het. Ons weet dit almal. Ons weet dit so goed dat ons al aan die gedagte gewoond geraak het; dat ons gevaar loop om dit so half skouerophalend te sê, asof dit ’n vanselfsprekende feit is. Daarom is ons dikwels verleë oor sondebelydenis in die erediens, want ons weet nie eintlik wat om daarmee te maak nie. Ons is tog almal fatsoenlik en ordentlik. Ja, ons het ons foutjies en glipsies, maar dis tog maar net menslik.

Dit is ’n houding so oud soos die mensdom self. Dít is waaroor die hele instelling van die Groot Versoendag in Israel gegaan het: om die Israeliete gedurig daaraan te herinner dat hulle in ootmoed voor God moet leef, dat hulle nie sonder sy vergifnis en genade kan bestaan nie.

Net ter wille van die kinders: wat beteken “versoen”?

Ons gaan nie vanoggend stilstaan by alles wat op die Groot Versoendag gebeur nie, maar dit is ook nie nodig nie. Want bloot net by die lees van wat die Here hier beveel, is dit al glashelder duidelik: Sonde is ’n verskriklike ernstige saak, en iets waaraan almal skuldig is, van die hoëpriester en die ander priesters af, tot by die jongste kind. Ons het almal sonde, en kan daarom nie voor Hom bly leef solank ons sonde het nie, want God haat sonde. Iemand wat dit durf waag om ten spyte van sy sonde ongestoord voor die Here te bly leef, speel met vuur en leef onder sy oordeel. Aäron se twee priester-seuns, Nadab en Abihu, het dit probeer, en op die plek gesterwe (Lev 16:1; vgl Lev 10).

Sondevergifnis en versoening met God is nie ’n maklike, eenvoudige en goedkoop sakie wat sommer so vinnig afgehandel kan word nie. Dit is duur. Bitter duur, en baie ernstig. Geen Israeliet wat teenwoordig was terwyl al die rituele handelinge verrig word, sou daaraan kon twyfel nie. Eers moes die hoëpriester vir sy eie sondes versoening doen, en daarna vir die priesters, en laastens ook vir die hele volk.

Terloops, dis nogal merkwaardig dat die hoëpriester ’n bul moes vat vir hom en sy kollegas, terwyl ’n bok genoeg was vir die hele volk! Julle moet tog bid vir ons, die geestelike leiers van die kerk, liewe gemeente. Ons sondes dra ’n swaar gewig voor God.

Nadat die hoëpriester die volk van hulle sondes gereinig het, is die lewende bok, die bok vir Asasel, nader gebring. Die hoëpriester het dan sy twee hande op die kop van die bok geplaas, en al die oortredings en opstand, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. So het hy op simboliese wyse die sonde van die volk op die kop van die bok oorgedra. Daarna is dié sondebok die woestyn ingejaag, en saam met hom het hy al die sondes van die volk weggedra die woestyn in.

Julle sien, vergifnis is nie ’n outomatiese proses nie. Versoening vereis ’n erkenning van skuld. Daarom moes die hoëpriester sy twee hande op die lewendige bok, die een vir Asasel, sit, en daar bo-oor die bok “ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete” bely (vs 21).

Ek onthou, toe ons klein was, het my pa-hulle die gebruik gehad om, as ons stout was en hulle moes ons straf, hulle vir ons gevra het waarom ons gestraf word. En hulle was nie tevrede met ’n verduideliking soos “Ek was stout” nie. Ons moes presies sê hoekom ons stout was, en wat ons verkeerd gedoen het. Ek onthou nog goed dat die straf self vir ons baie minder van ’n probleem was as om te sê: ek was lelik met Ma, of: ek het nie geluister wat Pa gesê het nie. Want dit het beteken ek moes erken dat ek verkeerd was en verkeerd gedoen het, en dít is bitter moeilik.

Liewe gemeente, met ’n vae skulderkenning kan ons nooit volstaan nie. ’n Mens moenie dink jy kan maar net bid “en vergewe genadiglik al my sonde” en daarmee is die saak afgehandel nie. Die pyn wat óns sonde en skuld in God se hart bring, word nie so ligtelik weggevee nie. Lev 16 sê: daar kan eers versoening met God, en vergifnis, plaasvind as daar belydenis van eie skuld is. As ek ophou om te sê: dis nie my skuld nie. As ek voor God erken: Ek is skuldig. Ek het gesondig. Ek is jammer.

Opregte skuldbelydenis vra baie meer as dat ek net sê: “En vergewe genadiglik al my sonde”. Iemand wat met berou oor sy sonde voor God staan, bid: Here, ek het my vrou te na gekom. Ek het ’n leuen vertel. Ek was vandag oneerlik. Ek het nie my kant gebring nie. Ek is jammer. Vergewe my asseblief.

’n Mens wat dít nie goed verstaan nie, moet miskien weer ’n keer die reëlings vir die Groot Versoendag in Lev 16 lees, en dan verder blaai, en van die eintlike Groot Versoendag in die Nuwe Testament gaan lees: van Goeie Vrydag, toe die Sondebok wat God Self voorsien het, die Lam van God, buitekant die stad op Golgota die sonde van die wêreld weggedra het. Dáár, waar Hy tussen hemel en aarde gehang het, het ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die ganse wêreld, ook van jou en my, op sý hoof afgekom, en het Hy dit uitgehyg: “Dit is volbring!”

Só duur is betaal dat jy en ek voor God kan leef.

Amen.




Luk 19:28-40 Wat maak jy met Jesus?

Kyk, alles wat Jesus gedoen het, het Hy met ’n doel gedoen. So, toe Jesus daardie dag vir twee van sy dissipels stuur om vir Hom ’n donkie te gaan haal waarop Hy die stad kon inry, was dit ook nie sommer net nie. Dit was nie omdat Hy skielik te moeg was om self die stad in te stap nie. Nee, dit was om daarmee iets te sê van wie Hy is.

Terloops, Jesus ry op ’n jong donkie wat nog nooit iemand op sy rug gedra het nie, net soos Hy later dié week in ’n nuwe, ongebruikte graf neergelê is. Lukas gee vir ons dié besonderhede, want Hy wil hê ons moet raaksien dat ons hier met ’n koning te make het. ’n Koning gebruik nie tweedehandse ware nie; ander se oorskiet nie. Daarom ry Jesus op ’n jong donkie die stad in, om iets te sê van wie Hy is.

Jesus se volgelinge het dit goed verstaan. Daarom stap hulle nie maar net met Hom saam die stad in nie. Hulle trek hulle klere uit en gooi dit op die donkie vir ’n saal, en gooi dit voor Hom op die pad om te sê dat hulle hulleself voor Hom neerlê. Hulle begin lofliedere sing om Hom te prys, met woorde wat dit duidelik maak dat hulle verstaan dat Hy die Koning is, die beloofde Messias: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom!” sing hulle jubelend, en swaai palmtakke rond.

Die toneel van ’n belangrike persoon wat die stad met ’n prosessie ingery kom, was vir die mense van destyds natuurlik nie vreemd nie, soos ook nie vir ons vandag nie. Nou die dag nog kon ons vir pres Ramaphosa in daardie snaakse voertuig van hom sien, met die opening van die parlement. En koningin Elizabeth ry gereeld in haar koets. Konings en generaals het dit destyds ook gedoen, dikwels met ’n klomp van hulle onderworpe onderdane en slawe agter hulle aan, om te wys hoe belangrik hulle is. Net: ’n koning of ’n groot generaal sou nie op ’n donkie gery het nie. Hulle sou op die blinkste strydros gesit het, spoggerig getooi vir die okkasie.

Die kontras met Jesus se rydier is daarom baie opmerklik. Hy sit op ’n donkie. Matteus het die verband met Sagaria 9:9 vir ons uitgelig: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie …”

Nie op ’n oorlogsperd nie, maar op ’n donkie. Want Jesus kom nie Jerusalem binne as krygsheer nie. Hy kom as die lydende kneg van die Here, die Een wat minder as ’n week later wéér op ’n heuwel buite die stad sou wees, maar hierdie keer nie op ’n donkie se rug nie. Hierdie keer aan ’n kruis vasgespyker. En voor hom uit sou daar dan nie ’n jubelende skare volgelinge wees nie, maar ’n uitjouende skare vervolgers.

Lukas teken hier vir ons ’n prentjie van wat gebeur het met Jesus se intog in die stad, want hy wil hê ons moet onsself ook daar na die Olyfberg verplaas. Hy vra as ’t ware vandag vir ons: by watter groep mense skaar jy jou? Waar lê jou hart? Watter soort volgeling van Jesus is jy? Is jy een van dié wat jou klere voor Jesus neersit? Wat jubelend saam met Hom op pad is?

Daar is nog mense, behalwe Jesus en sy volgelinge, in die toneel wat Lukas vir ons teken. Dis die eienaars van die donkie, wat hulle eiendom gewillig en met vreugde tot Jesus se beskikking stel.

En dan is daar ook ’n aantal Fariseërs. Hulle jubel nie saam nie. Hulle is bekommerd oor wat hulle sien. Die Skrifverklaarders sê dit is moontlik dat hierdie Fariseërs nie teen Jesus gekant was nie. Hulle was ook volgelinge, maar hulle is bang vir die reaksie van die owerhede op die skare se gejubel. Netnou hoor die Romeinse owerhede dit, en dan vertolk hulle dit as ’n opstand. So, maak liewer die mense stil, Jesus, voor daar moeilikheid kom. Ons wil nie probleme hê nie. Bly uit die moeilikheid, ter wille van die vrede. Dis mense wat aan Jesus wou voorskryf wat en hoe Hy behoort op te tree, en wat aanvaarbaar is en wat nie.

Vandag hoor ’n mens nog sulke stemme. Ons moet onthou dat ons nie die enigste mense in die land is nie, sê hulle. Daar is ook Moslems, en Hindoes, en ateïste en so, en ons moenie iets doen wat hulle dalk kan aanstoot gee nie. Daarom, los liewer die godsdiensoefening by die saalbyeenkomste, of die Bybelklasse op skool. En moenie aandring op Christelike feesdae op die nasionale kalender nie. Moenie ’n vergadering met gebed open nie, want nie almal glo soos jy nie.

Dan is daar nog die omstanders ook. Hulle neem nie deel aan die optog nie. Hulle maak nie beswaar nie. Hulle doen niks. Hulle kyk net, asof Jesus en sy saak nie juis belangrik is nie. Of miskien moet hulle nog besluit hoe hulle oor Hom voel.

Ek het ’n idee dít is die mense wat ’n paar dae later saam geskreeu het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Want Jesus se aansprake het hulle ongemaklik gemaak. Jesus se woorde en dade het hulle gedwing om te kies waar hulle met Hom staan, en hulle wou nie kies nie. Dit was makliker om Hom uit die weg te ruim, dan is hulle probleem opgelos.

Waar staan jy vandag? Dís die vraag wat ons in die Lydenstyd opnuut vir onsself, en teenoor die Here, moet antwoord. My eerste reaksie op dié vraag was: Maar natuurlik is ek deel van die volgelinge van Jesus, wat met opgewondenheid juigend agter Hom aanstap. En ek glo dit is julle reaksie ook vanoggend. Natuurlik is Jesus ons Koning. Natuurlik volg ons Hom juigend, jubelend.

Maar wag net gou. Was Petrus nie een van dié wat Jesus met oorgawe gevolg het nie? Wat op ’n keer voortvarend gesê het hy sal by Jesus staan, al verlaat álmal Hom? En Judas Iskariot was óók daar om takke te swaai!

Jy sien, dis maklik om hier in die kerk te sê: “Ja, Here, ek volg U!” Maar Jesus se pad loop soms anders as wat óns sou kies. Hy lei nie altyd soos ons dink reg is nie. Hy maak nie noodwendig soos ons wil hê Hy moet nie. Dis die moeilikheid met Jesus, as julle my sal verskoon dat ek dit so stel: Hy is sy eie baas. Hy volg sy eie kop. Ons het Hom net nooit in die sakkie nie. Daarom maak Hy nie die skare stil ter wille van die vrede nie. Daarom gaan Hy die stad in en dop die tempelplein om. En stap Hy ses dae later met ’n kruis op sy rug uit die stad uit.

As ons Hóm wil volg, het dit implikasies vir ons hele lewe. Het dit implikasies vir die manier waarop ons in ons huise met ons dierbares saamleef. Het dit implikasies vir die manier waarop ek my werk doen, my sake doen, my werknemers behandel, en my kollegas en my seniors. Dit het implikasies vir hoe ek betrokke is in die koninkryk. Dit vra dat ek die stang vasbyt en nie wegskram van die eise van die evangelie nie, dat ek offers moet bring, offers van tyd en moeite en energie en geld. As ons Hom wil volg, gaan dit ons kos.

Lydenstyd keer ons voor, want dit gaan oor lyding: Jesus se lyding vir ons, maar ook ons navolging op sý pad. Ons staan vandag aan die vooraand van Groot Lydensweek. Gaan ons opnuut kies om Hom te volg, al weet ons dit gaan ons kos? Dís die vraag wat ek en jy in die komende week voor Goeie Vrydag moet antwoord.




Josua 5:2-12: Eerste dinge eerste

Ek wonder darem wat in die Israeliete se koppe aangegaan het toe hulle droogvoets deur die Jordaan gestap het. Onthou, hulle het 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf omdat hulle ouers, toe hulle die eerste keer, kort nadat hulle uit Egipte weg is en óók by Kanaän aangekom het, nie kans gesien het vir die taak om die beloofde land in besit te neem nie. Hulle het destyds viervoet vasgesteek en omgesit, terug na Egipte.

En nou is die Israeliete weer by die beloofde land. Om die waarheid te sê, hulle is nou ín die beloofde land. Uiteindelik het hulle aangekom by hulle bestemming. Ek veronderstel hulle het half ’n sug van verligting gesmaak, omdat hulle nie ook, soos hulle ouers voor hulle, koue voete gekry het op die rand van beloofde land nie. Dalk was daar van hulle wat ook maar bekommerd was, want harde werk het nog vir hulle gewag. Daar was oorloë wat geveg moes word, stede wat ingeneem moes word.

Maar ten minste is die wagtyd nou verby. Hulle was nou haastig om die land in te neem en hulle te vestig. Ek skat die manne het seker op dié stadium hulle wapens begin regkry vir die stryd en hulle gevegskuns opgeskerp vir die oorloë wat voorlê. Binnekort sal Josua seker aankondig dat hulle Jerigo gaan aanval, en dan sal hulle reg wees vir die geveg.

En toe roep Josua hulle ook bymekaar – maar nie vir ’n krygsberaad nie. Hy roep hulle bymekaar om aan te kondig dat al die mans besny moet word. In plaas van veg, moet hulle verwond word! En seer en weerloos word (lees gerus Gen 34, die verhaal oor Dina, in hierdie verband!).

Is dít wat nou met hulle moet gebeur? Dat hulle, skaars ’n klipgooi van Jerigo af (omtrent 2 km!) almal op een slag besny moet word, weerloos moet word? As die mense van Jerigo dit uitvind, is hulle almal dood!

Hoekom beveel die Here dat hulle besny word?

  • Die besnydenis was die teken dat hulle die Here se volk is. Voor hulle die beloofde land van God kon ontvang, moes hulle eers opnuut hulle verbondenheid aan Hom bevestig; en moes hulle eers weer onmisverstaanbaar weet: ons behoort aan die Here. Hý regeer oor ons lewens.
  • Dit was ’n daad van gehoorsaamheid. ’n Mens wonder hoekom Moses in al die jare in die woestyn toegelaat het dat die besnydenis in onbruik verval – maar dis ’n ander dag se boodskap. Maar dié stuk ontrou aan die Here se bevel moes reggestel word voordat hulle die beloofde land kon ontvang. Jy kan nie eiesinnig lewe en dan dink die Here gaan jou seën nie.
  • Dit was ook ’n geloofsdaad. Al die weerbare mans was gelyk buite aksie terwyl hulle binne-in die gevaarsone was. Net God kon hulle bewaar in dié tyd, en deur die besnydenis het hulle hulle vertroue in God opnuut bely.

Net ná die besnydenis vier hulle saam die paasfees – waarin hulle die wonderlike verlossing uit Egipte gedenk het, en so nóg ’n keer daaraan herinner is dat die Here vir sy mense sorg; vir dié mense wat aan Hom getrou bly.

Israel kon nie die beloofde land ontvang voordat hulle hulle nie opnuut aan die Here toegewy het nie.

Dis eers in ’n innige, lewende verhouding met die Here dat hulle sy gawes kon geniet.

Daarom slyp hulle nie hulle wapens op die vooraand van die groot oorlog om besit van die land Kanaän nie (daarvoor sou daar later wel tyd wees). Nee, die eerste ding wat hulle doen, is om hulle toe te wy aan die Here deur die besnydenis en die paasfees.

Ek het ’n idee dis ’n les wat ons ook maar telkens weer moet leer: dat ons nie die gawes van die Here kan ontvang as ons nie aan Hom toegewy lewe nie. Jy spartel en spook om jou huwelik aanmekaar te hou, om jou geldsake te laat vlot, om jou kinders ordentlik groot te maak, om in vrede met jou kollegas of klasmaats of koshuismaats of bure te leef … En hoe harder jy probeer, hoe minder slaag jy; dit wil maar net nie regkom nie, en jy raak moedeloos.

Die Here se oplossing lyk vir ons dalk agterstevoor, maar dit is hoe dit in God se wêreld werk: begin met jou verhouding met Hom. Wy jou aan Hom toe, dan kom die ander dinge ook reg. Dit het Hy vir Josua geleer, en dit staan soos ’n refrein reg deur die Bybel:

  • Ps 127:1,2 As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.
  • Spr 10:22 Dit is die seën van die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie.
  • Matt 6:31-33 Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
  • 2 Kor 8:4-5 Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea. Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.

Dalk is daar in jou lewe ook groot uitdagings, en voel jy nie opgewasse vir alles wat op jou wag nie. Dalk het jy ook vanoggend behoefte aan die Here se sorg en seën; dat Hy opnuut sy Vaderhande om jou vou en jou lewe vir jou reël. Lydenstyd is juis die tyd in die jaar dat ons aan die voet van die kruis opnuut onsself aan die Here kan wy.

Ons staan in Petrusburg ook voor ’n nuwe hoofstuk, en ek glo ons almal koester groot verwagtings oor wat vorentoe kan gebeur. Maar dalk voel julle ook, soos ek, klein voor die uitdagings wat wag. Daarom, glo ek, is dit gepas dat ons ons in hierdie dae opnuut na die Here draai; dat ons onsself volledig afhanklik van Hom maak. Want Petrusburg-gemeente se toekoms lê nie in ons eie hande nie, en allermins in my hande. Dit is God wat seën bring en groei gee.




Matt 1:18-25 HULLE SAL HOM IMMANUEL NOEM

Kyk, dis vir Matteus baie belangrik dat ons dit van die begin af moet verstaan: Jesus is God wat onder ons mense kom woon het. Daarom begin hy sy Evangelie met die geslagsregister van Jesus (Matt 1:1-17), waarmee hy ons herinner het dat Jesus een van ons geword het; dat sy voorsate nie net uit helde en onbesproke karakters bestaan het nie, maar uit gewone mense, soos ons, wat ook geraamtes in die kas gehad het en dinge waaroor hulle sekerlik skaam was. Hy het regtig onder ons kom woon, soos Johannes in Joh 1:14 skryf.

Dís waaroor hierdie gedeelte wat ons saam gelees het, ook gaan – God word mens. Op ’n manier wat heeltemal buite ons verwysingsveld val, kom Jesus in hierdie wêreld in, word Hy God by ons. Die stomme Josef het dit ook nie verstaan nie – hoe kan ’n mens God in sy grootsheid en sy weë selfs probeer verstaan? Daarom is Josef oortuig daarvan dat Maria ontrou aan hom was en nou ’n storie uitgedink het om haar ontrouheid weg te steek. En, vroom man wat hy was, kon hy nie daarmee saamleef nie, en wou hy van haar skei. Die ander opsie was natuurlik dat sy met klippe doodgegooi word. Te vreeslik om selfs aan te dink, nie waar nie?

Maar dan kom die engel en oorreed hom om tóg met Maria te trou, want, sê die engel, haar swangerskap kom van die Heilige Gees. God is aan die werk, Josef. Die Seuntjie se naam moet Jesus wees – dit beteken “Die Here is Verlossing” of “Die Here bring redding”. En dan voeg Matteus by in vs 22,23: Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Dít is Wie Jesus is, wil Matteus ons in sy Evangelie goed laat verstaan: Hy is Immanuel. Hy is God self wat mens geword het. Daarom begin hy sy boek met hierdie tema, en later, min of meer in die middel van die Evangelie (18:20) , sê Jesus dit self: … waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle. Immanuel. God is by ons. Dis ook die belofte, die heel laaste woorde waarmee Jesus sy dissipels groet aan die einde van die Matteus-evangelie (28:20): En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Jesus is Immanuel, God by ons.

Met Jesus se koms na die wêreld, so wil Matteus ons goed laat verstaan, het God deel van ons wêreld geword. Daarom begin hy sy Evangelie, sy verhaal oor Jesus, met hierdie versekering. Jesus is God in ons midde. Hy het gekom sodat ons nie aan onsself oorgelaat sal wees nie, verlate hoef te wees nie.

Ek kry ’n tyd gelede ’n epos met ’n opstel wat ’n 8-jarige seun geskryf het oor God. Onder andere skryf hy: “As jy nie in God glo nie, sal jy baie eensaam wees, want jou ouers kan nie oral met jou saamgaan nie, soos wanneer jy op ’n kamp moet gaan nie. Maar God kan. Dit is goed om te weet Hy is by jou wanneer jy bang is, in die donker, of as jy nie kan swem nie en die groot kinders gooi jou by die diep kant in.”

Ek dink hierdie kind het verstaan wat Matteus vir ons wou sê: In Jesus is God by ons. Wanneer ons die geboorte van Jesus vier, herdenk ons nie net ’n gebeurtenis wat iewers lank gelede gebeur het nie, want Jesus is nie net ’n figuur uit die verre verlede nie. Ons vier daarmee Jesus se koms na ons, sy blywende teenwoordigheid by ons elke dag.

Jesus is God by ons. Soos die seuntjie geskryf het: dis goed om te weet Hy is by jou as jy bang is … Dis goed om te weet Hy is by jou as jy eksamen skryf. Dis goed om te weet Hy is by jou as jy as jy raadop is, as jy eensaam voel, as jy siek is, as jy ’n krisis beleef, as jy hartseer is, of as jy bly is en dankbaar is en sommer net jou hande in die lug wil gooi en Halleluja! wil skree.

Dit is wat die doop vanoggend vir klein Elmientjie ook kom verseker – God is ook by haar, as haar Vader, haar Verlosser, haar Voorspraak. Daarom, in die woorde van die seuntjie, sal sy nooit eensaam wees nie, want God is by haar.

Maar Matteus wil nie net vir ons vertel dat Jesus Immanuel, God by ons, is nie. Hy wil ons ook laat verstaan wie die “ons” is by wie God is. Dis hoekom hy vir ons iets meer oor Josef vertel. Hy het klaar in die geslagsregister gesê Jesus word mens onder gewone mense, nie supermense nie. Maar ons sal die verkeerde indruk kry as ons dink dit beteken dat almal kwalifiseer. Asof God tevrede is met enige iemand, maak nie saak nie. Soos mense graag sê om hulle ongepoetsgeid te vergoelik: Ek is nou eenmaal so gemaak en so gelaat staan. En daarom moet dit goed genoeg wees. Dís nie die soort houding wat pas by mense by wie God kom woon nie. Ons sien hier vir Josef, ’n eenvoudige timmerman, maar – en dis baie belangrik – ’n Godvresende man, ’n man wat aan die wet van Moses getrou was. Dís die soort mens by wie God kom woon. En later in die gedeelte staan dat Josef gemaak het soos die engel van die Here hom beveel het.

Kom ek sê dit reguit: Jesus word mens, Immanuel, by mense wat naby God leef en aan Hom en sy Woord gehoorsaam is. Almal kan Kersfees vier en geskenke uitdeel en ’n Kersboom met liggies in hulle huis hê en Kersliedere sing, maar dit beteken nie outomaties dat God ook in almal se lewens is nie. Dit vra gehoorsaamheid en toewyding aan God, ’n daaglikse lewe met die oog op Hom gevestig. Dís waaraan die Adventstyd ons herinner.

Maar – en hiermee sluit ek af – wat beteken dit as God by ons is? Wat kan ons verwag as God by ons is? Ek dink Josef en Maria sal vir ons baie daarvan kan vertel, want hulle het in hulle eie lewens beleef wat die praktiese implikasies is as God by ons is. Hulle moes hulle eie beplanning eenkant laat en toelaat dat Gód hulle lewe beplan en reël. Hulle huwelik het totaal anders begin as dit waarvan hulle gedroom het. Nie ’n groot troue met al die bure en vriende saam nie, maar stil-stil, want Maria is swanger. Maar – God was by hulle en het na hulle gekyk. Toe Herodes se moordbendes in Betlehem aankom was Josef en Maria en Jesus reeds weg, want God het hulle betyds gewaarsku. En hulle kon in Egipte gaan bly, want die goud wat die sterrekykers vir Jesus gebring het, was daar sodat hulle kon leef.

Dís die evangelie, die goeie nuus van Kersfees: God se teenwoordigheid en voorsiening en sorg in Jesus, ons Here. Hy is waarlik Immanuel.




Mat 1:1-17 Jesus word regtig mens

Dit is baie opvallend dat daar, behalwe Maria, die ma van die Here Jesus, nog 4 ander vroue ook in die geslagsregister van Jesus Christus genoem word:
∙ Tamar (vs 3); Ragab (vs 5); Rut (vs 5) en Batseba (vs 6)

Hierdie feit is totaal vreemd en ongehoord as ons na die Joodse tradisies van destyds kyk. Slegs mans is destyds in geslagsregisters genoem. Maar wat verder opval, is dat dit nie die vroue is wat ons in die geslagsregister sou verwag nie.

  • Tamar – van haar lees ons in Gen 38; ’n smartlike verhaal van hoe sy as skoondogter van Juda verontreg is, en hoedat sy uiteindelik vir haar skoonpa Juda verlei het en swanger geraak het;
  • Ragab, die prostituut van Jerigo (Jos 2) – julle onthou mos hoe sy die twee Israelse spioene weggesteek het en met ’n tou teen die muur af laat ontsnap het;
  • Rut, die Moabitiese vrou wat saam met haar skoonma Naomi uit Moab na Betlehem terugkeer en uiteindelik Boas se vrou word;
  • Batseba, die vrou van Uria die Hetiet (2 Sam 11) – dit was sy wat vlak onder Dawid se neus in haar agterplaas gebad het en só ’n tragiese verloop van gebeure aan die gang gesit het wat op owerspel en uiteindelik moord op haar man uitgeloop het.

Waarom word hierdie vroue genoem?

1. Nuwe waarde en plek van die vrou

Sommer reg aan die begin van Jesus se geskiedenis in hierdie wêreld wil die Bybel dit duidelik maak dat sy koms die plek van die vrou in die samelewing drasties sal verander. Vir die destydse mense het die vrou nie getel nie. Die Jode het bv gebid: Dankie dat ek nie ’n heiden is nie, of ’n hond nie, en ook nie ’n vrou nie. Sowaar. Maar die Here Jesus kom gee nuwe status aan die vrou. Hy sê: In God se oë is vrouens ook belangrik. Daarom sien ons Hom later bv by die put van Sigar waar Hy met ’n vrou sit en gesels; maak Hy tyd om die vrou wat in owerspel betrap is, te help, en is van sy prominentste dissipels vroue, soos Maria Magdalena, of Maria en Marta, die susters van Lasarus …

2. In God se hart is daar ook plek vir nie-Israeliete

Dis nogal merkwaardig dat drie van hierdie vroue uit heidense volke kom. Tamar was ’n Filistyn, Ragab ’n Kanaäniet, Rut ’n Moabiet. En Batseba was met ’n Hetiet getroud. En tog word hulle voorouers van ons Here Jesus. Jesus se koms was nie net vir Israel nie, maar vir die hele wêreld. Alle volke, ook ons, deel in die seën van Christus se koms. Van belang vir die Here is nie wat jou agtergrond, jou herkoms is nie, maar wat jou verhouding met die Here is. ’n Treffende voorbeeld hiervan is Rut, wat vir Naomi gesê het: “Waar u gaan, sal ek gaan … U God is my God.”)

3. God oordeel anders as ons

As ék nou ’n paar vroue in die geslagsregister moes invoeg, sou ek ’n bietjie anders gekies het. Ek dink ek sou iemand soos Sara, Abraham se vrou, genoem het, wat saam met haar man uit Ur weggetrek het na die beloofde land. Of dalk Rebekka, wat haar mense gelos het om Isak se vrou te word, of Lea met die sagte oë. Maar nie een van hulle name staan hier nie, want God se oordeel oor ’n mens se lewe is nie noodwendig soos ons oordeel nie. Nie hulle wat in óns oë belangrik is, is by God belangrik nie. Hy kies dikwels die eenvoudiges en die geringes. En van eenvoudiges en geringes gepraat: Josef en Maria was nie van die ryk maghebbers van destyds nie, en nog minder die eerste mense wat die boodskap hoor dat Jesus gebore is, nl. die skaapwagters. En boonop die Jesus in ’n stal gebore!

Paulus skryf hieroor in 1 Kor 1:26-30:

Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.

4. Sonde is magtig, maar God is groter as die sonde

Die sonde breek menselewens stukkend. Al vier vroue in hierdie geslagsregister sal vir ons ’n eie verhaal van smart en seer kan vertel. Maar God kan ook sondige en verkeerde dinge ombuig om uiteindelik sy doel te bereik. Dink maar aan die tragiese verhaal van Tamar en hoe sy by haar skoonpa swanger geword het, of Batseba en hoe sy Dawid se vrou geword het. Dis erger as wat enige sepie kan uitdink. En tog, in God se hande draai hierdie hartseer om en kry dit ’n eie plekkie in sy verlossingsplan met die wêreld. Dit gee ons natuurlik nie die reg om maar te sondig, want God sal tog ons brouwerk regmaak nie! Maar as ek sondig en stukkend voor God staan, kan dit my troos: God is groter as my sonde. Die sonde kan my nie van Hom wegneem nie.

5. Jesus word regtig mens

As Jesus mens word, staan Hy nie verhewe bo ander mense, so asof Hy in sý geslagsregister net vlekkeloses het nie. Nee, daar is maar die swartskape ook, want Hy het regtig mens geword, een van ons geword. Jesus is regtig God wat tot by ons gekom het, Immanuel, God met ons.

Afsluiting

So kom ek vat gou saam: Die feit dat daar in Jesus se geslagsregister ook vroue se name voorkom, wil o.a. vir ons verkondig:

  • Jesus bring nuwe waarde en plek van die vrou;
  • In God se hart is daar ook plek vir mense wat nie uit Israel is nie. Nie jou herkoms nie, maar jou geloof maak die verskil;
  • God oordeel anders as ons. Hy kies dikwels die geringes en eenvoudiges;
  • Die sonde is magtig, maar God is magtiger;
  • Jesus is waarlik Immanuel, God met ons!

Dít is die vreugdesboodskap, die goeie nuus, die evangelie van Kersfees.
Amen.




Luk 21:28 KYK, HY KOM . . .

Lukas 21:25-28

Verbeel jou jy is nog ’n kind in die huis, en julle ry vir die vakansie na familie in Gauteng. En êrens op pad gaan julle motor staan sonder petrol. Dis in die middel van die nag, en dis pikdonker. Jou pa sê hy sal moet gaan petrol soek, maar hy wil nie hê julle moet daar op die vlak in die motor bly sit nie; dis te gevaarlik. So gaan julle so ’n entjie van die pad af in ’n verlate ou bouval wag, terwyl jou pa na die naaste dorp ryloop om petrol te gaan haal.

Dis donker, en jy is baie skrikkerig in die verlate huis. As die wind waai, kraak die dak en die vensters klap. Toe julle al lank gewag het, hoor jy ’n hiëna blaf-lag hier langs die venster, en jy maak jou lyf nog ’n bietjie kleiner, want jy is so ’n bietjie bang vir dié gedierte. Jou ma fluister saggies in jou oor: sit net tjoep-stil, miskien gaan hy weg. Maar hy gaan nie weg nie, en hy begin te krap-krap hier aan die agterdeur, en jy weet: hier is moeilikheid.

Dan hoor jy voetstappe aankom, en jou hart klop woes. Sê nou net dis ’n booswig wat julle kom aanval? Al nader en nader kom die voetstappe, en jy trek jou kop al dieper in jou skouers in. Jou sussie begin saggies te snik, want sy is baie bang. Jy stamp aan jou boetie hier langs jou, maar hy lê en slaap! Maar dan, terwyl jy nog so benoud daar sit, hoor jy die persoon wat nader stap, fluit so saggies die wysie wat jou pa altyd fluit terwyl hy die kar was – en skielik weet jy: dis Pa wat daar aankom!

Wat sal jy doen as jy besef dis jou pa? Natuurlik! Opspring en na hom hardloop!

Ja, en dis presies wat die Here Jesus hier in die Skrifgedeelte ook vir ons sê. “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”

“Hierdie dinge” waarvan die Here hier praat, is die wêreld wat op sy kop gaan staan, en alles is deurmekaar. Die klimaat sal skielik net nie meer dieselfde wees nie: “die kragte van die hemelruim sal ontwrig word”, staan in vs 26. Dit laat ’n mens nogal aan aardverwarming dink, met sy ontwrigtende effek op die weerpatrone. Vroeër in die hoofstuk praat die Here van vals leiers (vs 8), van oorloë (10), aardbewings, hongersnode en epidemies (11), vervolging (12). Hierdie dinge is om ons aan die gebeur: dink maar aan die oorlog in die Midde-Ooste, aan die VIGS-epidemie, aan hongersnood op talle plekke, aan die wêreldwye volksverskuiwings! Dink maar aan die deurmekaarspul in ons eie land: die weghol-misdaad, die ineenstorting van gesondheidsdienste, die haglike posisie van onderwys, werkloosheid … Iemand sê anderdag vir my: dit lyk regtig of die duiwel los is! ’n Mens word sommer benoud as jy daaraan dink.

Die Here Jesus het ons lank terug reeds gewaarsku dat hierdie dinge gaan gebeur, en nou is dit so. Die vraag is: wat maak ons daarmee. Want ’n mens kan op meer as een manier reageer op al die dinge wat om ons gebeur:

  • Jy kan paniekerig word, soos Jesus voorspel in vs 26: “Die mense sal beswyk van vrees en spanning . . .”
  • Jy kan só in die wêreld ingesuig word, dat jy as ’t ware aan die slaap raak. Só waarsku die Here ons in vs 34: “Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds oorval nie.” En dit gebeur in ons tyd. Ons sien dit om ons, dat mense hulle eenvoudig net nie meer steur aan God en sy gebod en sy kerk nie. Mense gaan op in die genietinge van die wêreld. Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons …
  • ’n Mens kan ook bly wag, biddend bly wag, met jou ore gespits, omdat jy luister of dit nie dalk ons Here se voetstappe is wat jy hoor nie. In vs 36 roep die Here ons op: “Wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

Die manier waarop baie lidmate in hierdie dae die veranderinge in ons land beleef, strek ons darem regtig nie tot eer nie. Mense loop met krom rûe en geboë skouers deur die lewe, asof die wêreld hulle wil platdruk. Ons sug en skud moedeloos die kop.

Hoor die Woord van die Here: “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.” Dis asof die Here vir ons wil sê: Moenie julle blind staar teen die dinge wat om julle gebeur, asof dit die einde van die wêreld is nie! Sien en hoor in dié dinge dat Ek aan die kom is! Dat die einde naby is! Dat julle op pad is na die ewige heerlikheid! Lig op julle koppe en julle oë, kyk na die wolke van die hemel, want daarvandaan gaan Ek weer kom in heerlikheid!

Advent is dié tyd elke jaar waarin die Here ons weer kom herinner dat Hy aan die kom is. Hy het destyds, lank gelede, in Betlehem die eerste keer na hierdie wêreld gekom, en Hy gaan eendag weer kom op die wolke van die hemel. Hierdie wêreld gaan verby, die Here is op pad. En daarom, as julle in dié dae julle Kersboom uithaal en versier, as julle in die winkels die Kersmusiek hoor, as julle beplan waar en hoe julle Kersdag gaan deurbring, onthou dan om te luister of julle nie in dít wat om ons gebeur en met ons gebeur, die voetstappe van ons Meester hoor nie!

Kom ons bid in hierdie dae: Kom, Here Jesus, ja, kom haastig!

Amen.