Valentynsdag

Ek verstaan Valentynsdag is vernoem na ’n priester uit die derde eeu, ene Valentinius, wat die keiser se dekreet dat jongmense nie getrou mag word nie, verontagsaam het. Die jongmanne moes eerder in die keiser se leër dien as om te trou, was glo die rede. Die stomme Valentinius het met sy lewe geboet omdat hy voortgegaan het om jong paartjies te trou. Daarom is die dag waarop die liefde gevier word, na hom vernoem.

As ek die storie so bekyk, lyk dit mos vir my Valentynsdag se oorsprong lê by die viering van liefde wat tot die huwelik lei. Vandag nog vier huweliksmaats, verloofdes en verliefdes die liefde op Valentynsdag. Ongelukkig het die moderne kultuur sodanig verword dat liefde en die huwelik nie noodwendig meer iets met mekaar te doen het nie. Daar is selfs teoloë wat dit bepleit dat ons ruimer oor seksuele verhoudings moet dink en nie moet vassteek by die idee dat ’n liefdesband noodwendig in ’n huwelik uitgeleef moet word nie. Daar is ook ander legitieme gestaltes van liefdesverhoudings waarby die seksuele ingesluit is, sê hulle. Saamwoonverhoudings is een daarvan. Dit het so algemeen geword dat die stigma daaromheen lankal weg is, en die kerk moet bykom, is die redenasie.

Ek weet daar is situasies wat só ’n saamwoonverhouding, kom ek sê maar, regverdig. Ek het ’n lidmaat gehad wat die weduwee van ’n Italianer was. Laat in haar lewe het sy weer ’n liefde gekry, maar hy was arm, en hulle kon nie trou nie, want dan sou sy haar Italiaanse pensioen verbeur. Toe woon hulle saam. Ek het simpatie met hulle gehad, hoewel ek ander keuses as sy sou maak. Sy wou nie eers hê dat ek hulle stilletjies trou sonder om die huwelik by Binnelandse Sake te registreer nie. Sy was net te bang dit stel haar pensioen in gevaar.

’n Mens sou baie ander verskonings ook kon uitdink om ware liefde en die huwelik van mekaar los te maak, maar, om Jesus se woorde in Matteus 19:8 aan te haal, “van die begin af was dit nie so nie.” God het vir ons die gawe van die liefde, die seksuele liefde, gegee om binne die veilige ruimte van die huwelik te geniet. Lees gerus Jesus se standpunt oor die huwelik in Matteus 19:1-9.

So vandag is dit Valentynsdag, en ons as gelowiges vier dit ook. Ons vier dit wel anders as die wêreld.Dis ook reg so. Ons lewe tog volgens ander norme as die kultuur van ons dag. Ons vier die liefde wat onlosmaaklik deel is van huweliksliefde. Getroudes vier die dag met verrukking en dankbaarheid omdat hulle geseën is met ’n huweliksmaat wat langs hulle staan. Verloofdes vier dit terwyl hulle uitsien na die dag wanneer hulle kan trou en hulle liefde oorgaan na ’n nuwe fase. En verliefdes vier dit met hoop, dat die kiem van ware liefde uit hulle verhouding sal ontwikkel.

Ek dink dit is tyd dat ons as gelowiges ware liefde terugsit waar dit hoort: binne die huwelik. En dat ons alles in die stryd werp om ons en ander se huwelike in stand te hou. Dit is nie net die ware Valentyns-idee nie. Dit is hoe God dit van die begin af bedoel het.

Gelukkige Valentynsdag! Geniet die lewe met die man of vrou wat jy liefhet, soos die Prediker ons in Prediker 9:9 aanraai. God gun dit vir jou.




Waar lê die waarheid?

Ek sit anderdag en blaai deur ’n Christelike glanstydskrif. Dis nie iets wat ek normaalweg doen nie. Dalk is dít die rede hoekom dit my so opval: al die glimlaggende gesigte en opskrifte met uitroeptekens. Toe ek die tydskrif ná ’n paar minute neersit, voel ek lus om te skree. Soos die onderwyseres wat nie ’n vrolike bytjie op die personeel kon hanteer nie. Toe brom sy: “For heaven’s sake, stop being so merry!”

Ek sit die tydskrif met ’n sug neer, bo-op die koerant, en daarin is presies die teenoorgestelde aan die orde. Die een berig ná die ander basuin dit uit: rampe en ellende, moord en korrupsie en wanbestuur. Later is ek lus om my kop iewers in ’n gat te druk en te skree: “Los my net uit!”

Terug voor my rekenaar maak ek facebook oop, net om te lees hoe ateïste en Christene mekaar aanvat oor wie nou kwansuis die waarheid perfek beet het. Dié debat gaan al vir jare aan, en die hartseer is dat niemand juis tot ander insigte gebring word deur die debat nie. Al wat uiteindelik gebeur, is dat dit in ’n moddergooiery en slegsêery ontaard.

Die lewe is nie eenvoudig nie

Ons lewe nou eenmaal in ’n wêreld van kontraste. In dié wêreld moet ons ons weg vind, ook wat geloof betref. En dis nie so eenvoudig soos party hipervroom facebookers dit wil voorstel nie. Jy kry mos die mense vir wie alles glashelder duidelik is, en dit gaan hulle verstand te bowe dat enige iemand van hom of haar kan verskil of enigsins anders na ’n saak kan kyk.

Die lewe is helaas nié so eenvoudig nie. Geloof is nie so eenvoudig nie. Geloof is per slot van rekening ’n saak van … gelóóf, nie aanskoue nie. Dit moet gegló word, nie bewys word nie. Om te stry oor wie reg is en wie verkeerd is, is werklik sinloos. Dis ’n vervlakking van ’n baie persoonlike en intieme proses waarmee elke gelowige van tyd tot tyd worstel. As jy nog nooit gewonder het oor God en of daar régtig ’n lewe na die dood is nie, is jy gelukkig, maar dit beteken ongelukkig dat jy waarskynlik nog nooit baie eerlik en diep oor dié dinge gedink het nie.

Ek weet nie of ek glo nie, maar ek weet in Wie ek glo, en Hy sal my nie los nie.

Ek sê nie ons kan nie met sekerhede leef nie. Natúúrlik het ons sekerhede. Ons leef immers met die Bybel en die troos van die Heilige Gees, wat ons telkens verras met nuwe beloftes, nuwe hoop, nuwe insig. Maar dis ’n ander soort sekerheid as dit wat die wetenskap jou bied. Dit bly gelóófsekerheid, waarop jy vertrou, maar wat jy nie kan bewys nie. Jy kan ook nie iemand anders tot insig dwing daarmee nie. Dis ’n sekerheid wat geanker is in ’n Persoon. Paul Althaus het hieroor gesê: “Ek weet nie of ek glo nie, maar ek weet in Wie ek glo, en Hy sal my nie los nie.” Dis ’n sekerheid wat berus op vertroue, op ’n verhouding. Dit werk nie met bewyse nie.

Beskeie

Daarom pas dit ons nie om vol bravade en meerderwaardigheid neer te sien op almal wat anders as ons dink en glo nie. Dit pas ons eerder om beskeie te wees, en diep dankbaar dat ons begenadig is om te kan glo, nie omdat ons sulke wonderlike mense is nie, maar omdat God in sy groot liefde ons voorgekeer het.

Die laaste twee aspekte van die vrug van die Gees wat Paulus in Galasiërs 5:22-23 beskryf, is nederigheid en selfbeheersing. In ’n wêreld vol kontraste en waar te veel mense daarop aanspraak maak dat húlle kwansuis presies die waarheid beet het, sal hierdie twee aspekte van Geesvervuldheid ons help om met minsaamheid getuies te wees van die hoop wat in ons leef (vgl 1 Petrus 3:15-16).

Mag jy daagliks jou weg agter die Waarheid aan vind, al is dit soms strompelend (hoe dan ook anders?). En steeds bly glo dat dit – Hý – die enigste Weg is.




Versoekings

Dis mos iets waaraan ons almal blootgestel is: versoekings. As die duiwel kans gesien het om Jesus te versoek (Matteus 4:1-11) moet ons weet ons gaan ook deurloop. Dis nou as jy dit nog nie talle kere aan jou eie bas gevoel het nie. Die ding is net, die versoekings is nie altyd so maklik herkenbaar nie. Dikwels is dit so subtiel dat jy dit glad nie herken as ’n versoeking nie. Want Satan kom nie altyd na ons in die gedaante van ’n brullende leeu nie (vgl. 1 Petrus 5:8), want dan was dit makliker om die gevaar te sien. Soms verskyn hy subtiel, soos ’n engel van die lig, skryf Paulus in 2 Korintiërs 11:14, en kan jy jou selfs verbeel hy is jou vriend wat jou belange op die hart dra.

Dis wat hy met Jesus gedoen het in die woestyn. Jesus is honger ná veertig dae se vas, en Satan kom ewe besorg na Hom en stel voor dat Hy vir Hom brood uit die klippe moet maak. “Jy kan nie so honger aangaan nie, man. Jy het jou kragte nodig. Jou liggaam het kos nodig. Jy het nou lank genoeg jouself gepynig; dink vir ’n slaggie aan jouself ook!” Só fluister Satan in Jesus se oor. En: “Jy moet jou nie so bekommer oor dinge soos seerkry nie, wat. God sal jou bewaar. Dit staan dan as ’n belofte in die Bybel.”

Satan gebruik ook die Bybel

Ja, die duiwel ken ook die Bybel, en gebruik dit baie subtiel om ons van God af weg te kry en met onsself te laat besig hou. Want solank ons met onsself besig is, is ons vir God en sy wêreld niks werd nie. Dít was sy strategie met Jesus – laat Jesus op Homself fokus: sý honger, sý beskerming, sý aansien onder mense. Solank Hy daarmee besig is, is Hy skadeloos.

Satan doen dit vandag nog met ons. Hy gebruik selfs die Bybel, soos hy dit teenoor Jesus gebruik het. Hy fluister in ons oor, en gaandeweg word die Bybel ’n beloftekissie vol teksverse wat vertel hoe God vir ons sorg en bewaar, wat God vir ons kan en wil beteken. En die hele tyd bly ons met onsself besig, vra ons wat die Bybel ons bied om ons te troos en te bemoedig en te versterk.

Darrell Guder skryf hieroor: “It is possible to hear the gospel primarily in terms of what God’s grace does for me, or for you. It is possible to take the Bible seriously, persuaded that it is primarily about one’s personal salvation. It is possible to preach the Bible in such a way that the needs of persons are met but the formation of the whole community for its witness in the world is not emphasized.”

Jy kan Bybel lees sonder om ooit by die vraag uit te kom: “Wat verwag God van my?”, omdat jy te besig is met die vraag: “Wat kan ek van God verwag?”

Dít, dink ek, is vir ons as gelowiges ’n wesenlike versoeking. Want dan dink ons in ons Christenskap oor die hemel en geloofsekerheid (wat natuurlik belangrik is), maar ons kom nie by die belangriker vraag uit nie, naamlik: Hoe volg ek Jesus na in die wêreld? Dalk is dit ’n vraag wat ek en jy behoort te oordink?




Om rus in God te vind

As ons aan die drie-enige God dink, dink ons aan die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die eerste Persoon in die Drie-eenheid is die Vader. Ons noem God ons Vader, veral omdat die Here Jesus ons geleer het om só aan God te dink. Hy het ons immers in sy groot gebed geleer om te bid tot ons Vader wat in die hemel is. En dit is ook reg so. God ís ons hemelse Vader, die sterk God wat ons bewaar en beskerm van dag tot dag.

Maar as ons nét in manlike terme oor God dink, verskraal ons ons verstaan van wie God is. Want God is nie net ons Vader nie. God is ook ons Moeder, die sagte God, wat met liefdevolle deernis na ons omsien, ons in moederarms wil toevou en troos in tye van angs en nood. Dis hoe Dawid in Psalm 131 aan God dink: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind,” sê hy in vers 2. Jesus het by geleentheid ook hierdie moederlikheid van God geopenbaar, toe Hy oor Jerusalem geween het (Lukas 13:34): “Jerusalem, Jerusalem! … hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke …”

Dawid help ons in Psalm 131 nie net om nuut oor God te dink, ook as ons hemelse Moeder, nie. Hy gee ook vir ons leiding oor hoe ons dit kan regkry om in God as ons hemelse Moeder rus te vind, só rus te vind dat ons in God se arms tot bedaring kan kom. In vers 3 skryf hy: “Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.” Wag op die Here. Wat Dawid hier sê, is dat dit nie is asof ’n mens sommer vanself jou rus in God kan vind nie; jy moet op die Here wag – jy moet jou verwagting op God stel; jy moet ingestel, gefokus wees op God en God se sorg en ontferming en deernis vir jou.

In Psalm 16:8 sê Dawid dit op ’n ander manier: “Ek hou die HERE altyd voor oë …” (BDV). Die NAV het ons darem nie ‘n guns bewys om dié vers te vertaal met: “Ek het die Here altyd by my” nie; so asof ons dit eenvoudig passief kan beleef. Nee! Jy moet jou aktief instel op die HERE se teenwoordigheid, jou daarop toelê om van God bewus te bly. Jy moet God in die oog hou. Anders gaan jy sukkel om in jou hemelse Moeder tot bedaring te kom en te rus, sodat sy jou kan troos.

Hier in die tyd van Epifanie is ons juis besig om te dink daaraan dat God in Jesus tussen ons verskyn het; dat God Immanuel is, God by ons. Dit is die grondhouding van gelowiges: om bewus te wees van God se teenwoordigheid onder ons; ons fokus (weer) op God in te stel, om God voor oë te hou, op God te wag. As jy dit doen, sal jy weldra ondervind dat ons Moeder se arms sag om jou vou om jou rus te gee.

Mag jy getroos in die arms van ons hemelse Moeder lewe!




As jy dit nie doen nie, sal dit nie gedoen kom nie

Ek wéét ek moet elke oggend my hare was. Dis maar net hoe my hare werk. Maar party oggende, as ek lui is, staan ek voor die spieël en wonder of ek nie maar kan oorslaan nie. My hare is tog nie vuil na ’n enkele dag nie. Maar as ek dit nie was nie, lyk dit teen die middag oes. Soms wen my lui gene, en dan is ek teen die middag spyt.

Daar is party goed wat ’n mens maar net moet doen sonder om eers ’n besluit daaroor te neem, anders is jy in die moeilikheid. Soos ek altyd vir my vrou sê: As jy dit nie doen nie, gaan jy dit nie doen nie. Soos om te gaan stap vir oefening. As jy eers dink of dit vandag vir jou gaan werk, het jy klaar ’n probleem, want daar is altyd ’n honderd en tien redes hoekom jy nié kan gaan stap nie. Jy is te moeg van die harde dag se werk. Dit lyk of dit dalk gaan reën. Die wind is darem baie lastig. Dis te warm. Daar is te veel wat nog gedoen moet word voor die dag om is … As jy jou weer kom kry, is nog ’n maand verby sonder dat jy oefening gekry het.

Stiltetyd hou en kerk toe gaan is ook sulke goed wat te maklik uitgeskuif kan word in ons oorvol programme. As jy die Sondagoggend wakker word en dan eers besluit of jy die dag kerk toe sal gaan, het jy klaar verloor. Daarom is dit beter om nie eers daaroor te dink nie, want daar sal genoeg goeie redes wees hoekom vandag se erediens nie vir jou gaan werk nie. En dis net ’n paar Sondae se afstel, dan dink jy nie eers meer regtig daaroor nie en is die erediens nie eintlik meer deel van jou Sondag nie. Soos iemand anderdag vir my sê: Hy gaan nie eintlik kerk toe nie. Hy weet nie hoekom nie, daar is nie regtig ’n rede nie, maar hy kom nie in die kerk nie.

So byt op jou tande en druk deur. As jy dit nie doen nie, gaan jy dit nie doen nie. ’n Slegte gewoonte vestig homself baie vinnig.




Wie moet jy glo?

Een van die teksverse wat die laaste tyd baie gewild is, is Jeremia 29:11: “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” Mense neem dié vers as ’n belofte van God vir hulleself, of gee dit vir iemand vir wie hulle goeie wense wil stuur.

Dit is inderdaad ’n mooi teksvers. Maar soos alles in die Bybel moet ’n mens versigtig wees om ’n vers uit konteks te haal en dit dan as die evangelie te herhaal.

So, die agtergrond van dié vers: Die Jode is deur koning Nebukadnesar in ballingskap na Babel weggevoer, en die mense was verpletter. In dié tyd verkondig die profeet Jeremia dat Nebukadnesar ’n instrument in God se hand is omdat die Jode aan Hom ongehoorsaam is. Hy sê hulle moet dit so aanvaar en vrede maak met hulle nuwe omstandighede. Selfaangestelde (vals) profete het hom egter heftig geopponeer en in die Naam van die Here geprofeteer dat die ballingskap van korte duur sal wees. Net twee jaar, dan sal die juk van Babel verbreek wees en die koning terugkeer na Jerusalem en die tempelskatte teruggebring word en alles sal weer honkie dorie wees. Aldus Gananja en sy trawante.

Dis in reaksie op dié vals gerusstellings dat die Here hierdie wonderlike belofte by monde van Jeremia gee. Hy weet wat Hy doen, verseker Hy hulle. Hy sál met Babel afreken, maar eers oor 70 jaar. Die ballingskap is deel van sy plan met hulle, want Hy beplan nie hulle ondergang nie. Maar hulle is nie gereed vir die toekoms wat die Here in gedagte het nie, want hulle is ver van Hom af. Hulle droom hulle eie drome en teer op valse hoop. Hulle leen hulle ore uit aan mense wat sê wat hulle graag wil hoor.

Dit laat my dink aan ons eie dag. Paulus het dit al voorspel in 2 Timoteus 4:3: “… want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.” Predikers wat mense na die mond praat, wat ophou om te preek oor sonde en vergifnis (dit laat mense net sleg voel oor hulleself) en net verkondig dat ons mekaar moet liefhê. Van die eerste vier gebooie wat handel oor liefde vir God en ’n heilige lewe voor Hom, van vlug van die sonde en bekering van verkeerde dade hoor jy min by hulle. Dit pas immers nie in in die goedvoel-godsdiens van ons dag nie. Die Tien Gebooie word vervang met ’n nuwe gebod: “You must be nice to people.” En bewaar jou siel as jy jou rug styfmaak teen dié nice godsdiens. Jeremia is verguis en in die tronk gegooi omdat hy dinge gepredik het wat mense ongemaklik gemaak het oor hulleself.

Interessant dat ’n mens net Jeremia 29:11 hoor, en nie die volgende verse óók nie, want die Here se belofte gaan verder: “Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.” (Jeremia 29:12-13) Dít is God se droom vir sy mense, die goeie toekoms wat Hy vir hulle beplan: ’n tyd waarin mense weer na sy wil sal vra en nie hulle eiesinnige drome droom of luister na die vals stemme wat hulle streel nie.

O, dat dié goeie tyd tog gou sal aanbreek!