Jaco Thom

Kinderdae
Ek is die 3e van 5 kinders (3 seuns en 2 dogters) van Kobus en Mary. My pa is ’n emeritus-predikant van die NG Kerk, die laaste 13 jaar voor sy emeritering Sendingsekretaris van die Wes-Kaapse sinode. In daardie jare het die predikante nog beroepe gekry; dus het ek as kind baie getrek. Ek is op 23 November 1957 in Bedford in die Oos-Kaap gebore, het in die Strand begin skoolgaan, en daarna het ons verhuis na Rietvlei, ’n Transkeise sendingstasie naby Kokstad. Toe het ons na George getrek, waar ek in die Hoërskool Outeniqua gematrikuleer het in 1975.

Naskoolse opleiding
Ek het aan die US gestudeer van 1976 tot 1982 en die volgende grade en diplomas verwerf: BA (Admissie), BA (Hons) in Grieks, BTh, MTh in Nuwe Testament, en Lisensiaat in Teologie.
Ek het na my studies vir 2 jaar in die SAW as dienspligkapelaan gewerk, eers by die Kaapse Korps in Faure en daarna in De Brug buite Bloemfontein. Ek moet erken dat dit nie die beste twee jaar van my lewe was nie.

Bediening
Ek is in Februarie 1985 in die NG Gemeente Monument in Bloemfontein georden.
Ek het in September 1991 na die NG Gemeente Toringkerk gekom. In November 2018 het ek uit Toringkerk se diens getree. Ek is vanaf 1 April 2019 by die NG Gemeente Petrusburg.
Sedert ek begin skryf het, besef ek al meer dat skryf deel van my bediening is. Ek is geroep om verkondiger van die Woord te wees, en dit doen ek van die kansel, in my gemeentewerk, én deur my skryfwerk.

Huwelik & Gesin
Ek is in 1978 getroud met Elmien (gebore Van der Merwe), ’n musiekonderwyseres en orrelis. Sy kom van die Koue Bokkeveld en is ’n broerskind van Boerneef. Ons het drie dogters: Matildie Thom Wium (dosent in musiekwetenskap aan die UV), Maryke van der Walt (Wiskunde-dosent in die VSA) en Elmien van Tonder (aktuariële modelleerder in Australië). Hulle aard gelukkig na hulle ma en is al drie baie musikaal. Ek het ook in 2018 die trotse oupa geword van twee dierbare kleindogters: Elmientjie Wium en Lisa van der Walt.

Persoonlik
As ek myself moet beskryf, sou ek sê ek is ’n gesinsmens. Ek hou nie daarvan om weg van die huis en my mense te wees nie. Ek het ’n passie vir die Bybel, en ek skryf veral om mense te help om die Bybel beter kan verstaan.

Skryfwerk
My skryfwerk het begin nadat ek ’n boek van Adriaan Snyman, Die Arkbouer, gelees het. Ek het besef dat ek met my teologiese opleiding ’n groot voorsprong het as dit by die skryf van Bybelse romans kom. My eerste poging was ’n roman oor Abraham se lewe, getiteld Die Vreemdeling. Ek het dit in 1993 voltooi, maar nadat dit deur twee uitgewers afgekeur is, het ek die manuskrip op die rak gebêre en iets anders probeer.
Só is Die Bybelkoerant gebore, ’n Bybelse dagboek waarin ek die Bybelse geskiedenis in koerantvorm oorgeskryf het. Dit is deur Human & Rousseau aanvaar en in April 1996 uitgegee. Daarna het ’n opvolg verskyn, Die Tweede Bybelkoerant (1997). Die Bybelkoerant is intussen in Engels vertaal met die titel The Bible Herald (1998). In 2006 is die twee bande in een boek heruitgegee as Die Groot Bybelkoerant.
Intussen het ek Die Vreemdeling ingeskryf vir CUM en Afrikaans Stereo se skrywerskompetisie (slegs ongepubliseerde manuskripte is vir dié kompetisie oorweeg). Die manuskrip het die eerste prys in die kategorie “Beste Debuutwerk” verower, en is in Maart 1996 gepubliseer deur CUM, net ’n paar weke voordat Die Bybelkoerant verskyn het.

Toekennings (uit die tyd toe ek nog vir CUM geskryf het; Carpe Diem skryf nie boeke in vir kompetisies nie)
1995     CUM Afrikaans Stereo prys vir beste debuutroman vir “Die Vreemdeling”
2000     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (eerste plek) vir “Die Hemelbodes”
2002     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (tweede plek) vir “Die Bybelroman”
2002     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (derde plek) vir “Die Goewerneur”
2003     FAK-toekenning vir besondere kultuurprestasie, vir besondere joernalistieke bydrae tot Afrikaanse skryfwerk, Bybelse romans en Godsdienstige lektuur
2003     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (tweede plek) vir “Die Skrifgeleerde”
2004     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Huwelik en Gesin” (tweede plek) vir “Saam voor God”
2004     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (tweede plek) vir “Die Bybelroman 2”
2005     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (eerste plek) vir “Paulus”
2005     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (tweede plek) vir “Die Nuwe Bybelroman”

Volg my

Kry kennisgewings