Die skrywer

Kinderdae
Ek is die 3e van 5 kinders (3 seuns en 2 dogters) van Kobus en Mary. My pa is ’n emeritus-predikant van die NG Kerk, die laaste 13 jaar voor sy emeritering Sendingsekretaris van die Wes-Kaapse sinode. In daardie jare het die predikante nog beroepe gekry; dus het ek as kind baie getrek. Ek is op 23 November 1957 in Bedford in die Oos-Kaap gebore, het in die Strand begin skoolgaan, en daarna het ons verhuis na Rietvlei, ’n Transkeise sendingstasie naby Kokstad. Toe het ons na George getrek, waar ek in die Hoërskool Outeniqua gematrikuleer het in 1975.

Naskoolse opleiding
Ek het aan die US gestudeer van 1976 tot 1982 en die volgende grade en diplomas verwerf: BA (Admissie), BA (Hons) in Grieks, BTh, MTh in Nuwe Testament, en Lisensiaat in Teologie.
Ek het na my studies vir 2 jaar in die SAW as dienspligkapelaan gewerk, eers by die Kaapse Korps in Faure en daarna in De Brug buite Bloemfontein. Ek moet erken dat dit nie die beste twee jaar van my lewe was nie.

Bediening
Ek is in Februarie 1985 in die NG Gemeente Monument in Bloemfontein georden.
Ek was van September 1991 tot November 2018 in die NG Gemeente Toringkerk in die Paarl.
Vanaf April 2019 is ek predikant in die NG Gemeente Petrusburg.

Sedert ek begin skryf het, besef ek al meer dat skryf deel van my bediening is. Ek is geroep om verkondiger van die Woord te wees, en dit doen ek van die kansel, in my gemeentewerk, én deur my skryfwerk.

Huwelik & Gesin
Ek is in 1978 getroud met Elmien (gebore Van der Merwe), ’n musiekonderwyseres en orrelis. Sy kom van die Koue Bokkeveld en is ’n broerskind van Boerneef. Ons het drie dogters: Matildie Thom Wium (dosent in musiekwetenskap aan die UV), Maryke van der Walt (Wiskunde-dosent in die VSA) en Elmientjie (aktuariële modelleerder in Australië). Hulle aard gelukkig na hulle ma en is al drie musikaal.

Persoonlik
As ek myself moet beskryf, sou ek sê ek is ’n gesinsmens. Ek hou nie daarvan om weg van die huis en my mense te wees nie. Ek het ’n passie vir die Bybel, en ek skryf veral om mense te help om die Bybel beter kan verstaan.

Skryfwerk
My skryfwerk het begin nadat ek ’n boek van Adriaan Snyman, Die Arkbouer, gelees het. Ek het besef dat ek met my teologiese opleiding ’n groot voorsprong het as dit by die skryf van Bybelse romans kom. My eerste poging was ’n roman oor Abraham se lewe, getiteld Die Vreemdeling. Ek het dit in 1993 voltooi, maar nadat dit deur twee uitgewers afgekeur is, het ek die manuskrip op die rak gebêre en iets anders probeer.
Só is Die Bybelkoerant gebore, ’n Bybelse dagboek waarin ek die Bybelse geskiedenis in koerantvorm oorgeskryf het. Dit is deur Human & Rousseau aanvaar en in April 1996 uitgegee. Daarna het ’n opvolg verskyn, Die Tweede Bybelkoerant (1997). Die Bybelkoerant is intussen in Engels vertaal met die titel The Bible Herald (1998). In 2006 is die twee bande in een boek heruitgegee as Die Groot Bybelkoerant.
Intussen het ek Die Vreemdeling ingeskryf vir CUM en Afrikaans Stereo se skrywerskompetisie (slegs ongepubliseerde manuskripte is vir dié kompetisie oorweeg). Die manuskrip het die eerste prys in die kategorie “Beste Debuutwerk” verower, en is in Maart 1996 gepubliseer deur CUM, net ’n paar weke voordat Die Bybelkoerant verskyn het.

Toekennings (uit die tyd toe ek nog vir CUM geskryf het; Carpe Diem skryf nie boeke in vir kompetisies nie)
1995     CUM Afrikaans Stereo prys vir beste debuutroman vir “Die Vreemdeling”
2000     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (eerste plek) vir “Die Hemelbodes”
2002     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (tweede plek) vir “Die Bybelroman”
2002     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (derde plek) vir “Die Goewerneur”
2003     FAK-toekenning vir besondere kultuurprestasie, vir besondere joernalistieke bydrae tot Afrikaanse skryfwerk, Bybelse romans en Godsdienstige lektuur
2003     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (tweede plek) vir “Die Skrifgeleerde”
2004     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Huwelik en Gesin” (tweede plek) vir “Saam voor God”
2004     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (tweede plek) vir “Die Bybelroman 2”
2005     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (eerste plek) vir “Paulus”
2005     CBSA-toekenning vir Beste Publikasie in die kategorie “Fiksie” (tweede plek) vir “Die Nuwe Bybelroman”

Lys van boeke:

    1. Die Vreemdeling (CUM, 1996; heruitgeee 2011) – ’n roman oor die lewe van Abraham
    2. Die Bybelkoerant (Human & Rousseau, 1996) – ’n Bybeldagboek in koerantvorm
    3. Die Tweede Bybelkoerant (Human & Rousseau, 1997) – ’n opvolg op die Bybelkoerant
    4. The Bible Herald (Human & Rousseau, 1998) – Engelse vertaling van Die Bybelkoerant
    5. Fyn luister na God (Carpe Diem, 1998) – ’n Bybeldagboekie oor die lewe van Samuel
    6. Jy is nou op gewyde grond (Bybelkor, 1998) – ’n Bybelstudiegids vir groepe oor Eksodus
    7. Die Dromer (CUM, 1998) – ’n roman oor die lewe van Josef
    8. Voor ons gaan slaap (Human & Rousseau, 1998) – ’n saamlees-praat-beplan-bidboek vir egpare, wat ek en my vrou Elmien saam geskryf het
    9. Batseba (Carpe Diem, 1999) – ’n roman oor die verhouding tussen Batseba en koning Dawid
    10. Die hemelbodes (CUM, 1999, heruitgegee 2009) – ’n roman oor die engele van skepping tot wederkoms.
    11. Jy kan God vertrou (Bybelkor, 1999) – ’n Bybelstudiegids vir groepe oor Rut en Ester
    12. Briewe aan Maryna (CUM, 2000) – ’n raadgeeboek vir tieners en ouers
    13. Net genoeg wysheid vir vandag (Carpe Diem, 2000) – ’n Bybeldagboek oor Spreuke en Salomo se lewe
    14. Mans uit die Bybel (Carpe Diem, 2000) – ’n oordenkingsboek vir mans oor karakters in die Bybel
    15. Noem my Mara (in die tydskrif Finesse in 2000) – ’n vervolgverhaal oor Naomi en Rut
    16. Dawid (CUM, 2000) – ’n roman oor die lewe van Dawid
    17. Die Goewerneur (CUM, 2001) – ’n roman oor die lewe van Nehemia.
    18. Die Here is altyd by jou (Bybelkor, 2001) – ’n Bybelstudiegids vir groepe oor die verhaal van Josef
    19. Die Bybelroman (Carpe Diem, 2001) – die Bybelverhaal oorvertel in romanvorm
    20. Deur alles is God aan die werk (Bybelkor, 2001) – ’n Bybelstudiegids vir groepe oor die lewe van Dawid
    21. Ontdek God se plan vir jou lewe (CUM, 2002) – ’n Bybelstudiegids vir groepe oor vrouekarakters in die Bybel
    22. Skaduvroue van die Bybel (Carpe Diem, 2002) – sketse oor vroue wat die pad byster geraak het
    23. Die Skrifgeleerde (CUM, 2002) – ’n roman oor die lewe en werk van Esra
    24. Die toekoms in (CUM, 2002) – ’n boekie vir tieners oor die Tien Gebooie
    25. Kies kos iets (Lux Verbi/ BM 2002) – ’n gids vir kleingroepbyeenkomste
    26. Die Bybelroman II (Carpe Diem, 2003) – die verhaal van die Nuwe Testamentiese kerk
    27. Die Here is ons toekoms (Bybelkor, 2004) – ’n Bybelstudiegids vir groepe oor die boek Daniël
    28. Saam voor God (CUM, 2004) – Oordenkings vir egpare
    29. Die nuwe Bybelroman (Carpe Diem, 2004; herdruk in 2006 en 2008) – ’n samestelling van die twee Bybelromans
    30. Paulus (CUM, 2004) – ’n roman oor die lewe van Paulus
    31. Elke oomblik tel (Carpe Diem 2005) – ’n Bybeldagboek vir tieners, gegrond op die Bybelroman
    32. Jesus (Carpe Diem, 2005) – ’n roman oor die lewe van Jesus
    33. Naomi-Batseba (Lux Verbi, 2005) – 2 novelles
    34. God se Bybeldagboek vir seuns / dogters (Carpe Diem, 2006)
    35. Dankbaar wanneer die lewe druk – heruitgawe van Fyn luister na God, as geskenkboekie (Carpe Diem, 2006)
    36. Soos ’n engel van die lig (Carpe Diem, 2006)
    37. Die Groot Bybelkoerant (Human & Rousseau, 2006) – samevoeging en bywerking van Bybelkoerant I en II
    38. Lea (Carpe Diem, 2007) – ’n roman oor Jakob se eerste vrou
    39. Hartklop (Carpe Diem, 2007) – ’n Bybeldagboek vir egpare
    40. Die Bybelroman vir kinders (Carpe Diem, 2008) – op patroon van Die Bybelroman, maar nuutgeskryf vir kinders
    41. Die Bybelroman vir tieners (Carpe Diem, 2008) – verkorte weergawe van Die Bybelroman
    42. Dagstukke vir kinders, deur kinders (Carpe Diem, 2008) – ’n heruitgawe van “God se Bybeldagboek vir seuns/dogters”
    43. Maria (Carpe Diem, 2009) – ’n roman oor Jesus se ma
    44. As jy die Here wil volg (Bybelmedia, 2009) – kleingroep-handleiding oor die lewe van Abraham
    45. Agente van die Gees (Bybelmedia, 2010) – kleingroep-handleiding oor die boek Handelinge
    46. Eva (Carpe Diem, 2010) – ’n roman oor die eerste vrou in die Bybel
    47. Keuses wat jou iets kos (Bybelmedia, 2010) – kleingroep-handleiding oor die boek Rut
    48. Die liefde van Christus dring my (Bybelmedia, 2011) – kleingroep-handleiding oor die lewe van Paulus
    49. God se storie (Carpe Diem, 2011) – bywerking en heruitgawe van Die Bybelroman
    50. In sy voetspore (Carpe Diem, 2011) – ’n omnibus van vier boeke: Eva, Lea, Naomi en Batseba
    51. Soos ’n brullende leeu (Carpe Diem, 2011) – ’n roman oor die eindtyd
    52. Jy is deel van God se plan ((Bybelkor, 2012) – Bybelstudie oor vroue (heruitgawe)
    53. In die skadu van ’n engel (Carpe Diem, 2012) – ’n roman oor die engele se betrokkenheid by mense
    54. As Jesus in jou lewe instap (Bybelkor, 2013) – kleingroep-handleiding oor ontmoetings met Jesus in die Johannes-Evangelie
    55. Die Antichris (Carpe Diem, 2014) – ’n roman oor die eindtyd (opvolg van Soos ’n engel van die lig en Soos ’n brullende leeu)
    56. Prente van die Koninkryk (Bybelmedia, 2014) – kleingroep-handeling oor gelykenisse van Jesus
    57. Yeshua (Carpe Diem, 2014) – heruitgawe van my boek Jesus
    58. 1 Korintiërs – Om in die wêreld kerk te wees (Bybelmedia, 2015) – ’n 23-weke-Bybelstudie vir groepe en individue
    59. Tien Gebooie – Méér as net reëls (Bybelmedia, 2015) – Bybelstudie oor die Tien Gebooie
    60. Bloedband / Bond of Blood (Carpe Diem, 2015) – ’n eietydse roman oor die Verlore Seun
    61. Praat Here! Ek luister (Carpe Diem, 2016) – ’n boek oor Psalms
    62. 52 mooiste Bybelstories (Carpe Diem, 2017) – ’n inkleurboek-Kinderbybel
    63. God se storie, mý storie (Carpe Diem, 2017) – ’n dagboek en joernaal
    64. Die verhaal van Dawid (Carpe Diem, 2018) – ’n roman oor die lewe van koning Dawid
Volg my

Kry kennisgewings