RAMP OP RAMP TREF RYKE

Van ons Ou Testament redaksie

US. – ’n Reeks rampe en fratsongelukke het die bekende boer Job in een enkele dag totaal geruïneer. Hy het feitlik net sy huis en sy gesondheid oor.

In ’n dag van ongelooflike teenspoed het ’n bende mans uit Skeba sy werksmense op die land aangeval en gedood; die weerlig het sy kleinvee en hulle wagters doodgeslaan; drie groepe Galdeërs het al sy kamele geroof; en om alles te vererger, het ’n stormwind die huis waarin sy tien kinders partytjie gehou het, op hulle ingewaai. Almal is dood.

Die stomme man is gebroke oor sy kinders, maar tog het hy alles gelate aanvaar. Aan Bybelkoerant het hy gesê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”

Een van sy vriende Elifas van Teman het egter ná ’n besoek aan Job gesê dit klink miskien hard, maar al die rampe wat sy vriend so op een dag tref, kan nie toevallig wees nie. “Ek is seker God wil deur dié ellende met hom praat en wys op iets wat verkeerd is in sy lewe,” het hy gesê.

 

Rabbi genees bedelaar wat blind gebore is

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Blindheid kan meer as een ding beteken. Dit is die blywende indruk nadat die rabbi Jesus seun van Josef ’n bedelaar wat blind gebore is, genees het.

Jesus was van die tempel af op pad huis toe toe hy die blinde bedelaar sien. Hy het ’n bietjie klei met spoeg aangemaak en dit aan die man se oë gesmeer. Daarna het hy hom beveel om hom in die Siloambad te gaan was. Tot almal se verbasing kon hy sien toe hy terugkom!

Toe die Fariseërs hiervan hoor, was hulle baie ontsteld omdat die genesing op ’n Sabbatdag plaasgevind het. Hulle wou ook nie glo dat die man werklik eers blind was nie. Hulle het selfs sy ouers laat roep om sy storie te bevestig.

Die man was vol lof vir sy weldoener. Toe hy deur die tempelowerhede onder kruisverhoor geneem is oor die voorval, het hy geweier om Jesus af te kraak. “As hierdie man nie van God was nie, sou hy nie my oë kon genees nie,” het hy gesê. Dit het die owerhede so kwaad gemaak dat hulle hom summier uitgeban het.

Die man wou nie veel verder oor die hele aangeleentheid sê nie. Tog het die optrede van die godsdiensleiers hom verslae gemaak. “Dit lyk my hulle is eerder die blindes. Hoe anders kan jy verklaar dat hulle die wonder wat met my gebeur het, veroordeel?” het hy opgemerk.

Jesus kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.

 


Wie se skuld is dit?

Dit is ’n óú versoeking om die oorsaak vir ’n ramp of ellende te gaan soek in die lewe van die een wat getref is. Dis wat Job se vriend Elifas dadelik sê: “Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? Waar is regverdiges ooit uitgewis?” (Job 4:7). En dit is ook die reaksie van Jesus se dissipels as hulle die blinde bedelaar sien: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” (Joh. 9:2).

Daar is vandag ook mense wat glo dat dit nie met jou sleg kan gaan solank jy naby die Here leef nie. Wanneer teenspoed jou dus tref, is dit omdat jy een of ander bewuste of onbewuste sonde in jou lewe het waarvan jy ontslae moet raak.

Job weier deurgaans om hierdie alte maklike “oplossing” vir sy ellende te aanvaar. En die skrywer van die boek Job wil juis dít vir ons duidelik laat verstaan: daar is meer faktore op die spel as net ons, ons sonde, en God. Op een of ander manier is die duiwel ook werksaam wanneer die ellende oor ons toesak.

Jesus wys ook die simplistiese oplossing van sy dissipels beslis af. En Hy help ons om met ’n ander perspektief na die saak te kyk: hoedat God in ons lyding teenwoordig is en ons daardeur wil dra, sodat Hy op die ou end in ons verheerlik kan word!

Daarom kan Jakobus in 1:2-4 ons selfs oproep om bly te wees oor die beproewings, want dit bring jou op die ou end, deur jou worsteling heen, nader aan God en tot volle geestelike rypheid, omdat jy in jou swaarkry ontdek dat God jou nie los nie, soos Paulus in Rom. 8:38,39 dit uitjubel: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Hoewel die ellendes wat oor ons pad kom, nie buite God se beskikking gebeur nie, is dit nie God wat dit oor ons bring nie. Dit wil die boek Job ons laat verstaan. En wanneer die teenspoed dan wel kom, kan ons geborge wees in die sekerheid: God sal ons nie los sodat ons alleen en weerloos daarteen staan nie.




Farao sit Israeliete op hulle plek

MEMPHIS. – Met briljante staatsmanskap het farao Merneptah vandeesweek die opstand in die Israelitiese gemeenskap in die kiem gesmoor. Die Israeliete het onder die dekmantel van godsdiens op vakansie aangedring.

Die voorbokke in die opstand is twee broers, Moses en Aäron. Hulle het in die naam van hulle god die vryheid geëis om ’n godsdienstige fees drie dagreise ver die woestyn in te gaan vier, wel wetende dat die koninklike bouprogram dit nie kan bekostig nie.

Die farao se antwoord was ’n duidelike nee. Hy het hulle daarvan beskuldig dat hulle lui is en net ’n verskoning soek om hulle mense van die werk af weg te hou. As strafmaatreël het die farao sy slawedrywers beveel om die verskaffing van strooi aan die Israeliete te staak. Hulle moet dus nou self die strooi vind om bakstene te maak. Die kwota bakstene wat hulle op ’n dag moet lewer, bly egter onveranderd.

In ’n perskonferensie het die farao dit duidelik gestel dat hy hom nie sal laat rondstoot deur die god van die Hebreërs nie. Hy het onder luide gelag gesê: “Ek het nie die naam van hulle god in die Boek van die Engele gevind nie. Hoekom moet ek dan na hom luister? Ek is nie bang vir ’n god van slawe nie!”

Intussen lyk dit asof die farao se taktiek om die opstand te onderdruk deur verdeeldheid onder die slawe te saai, reeds begin vrugte afwerp. Die Israelitiese opsigters het gister by hom kom kla oor die wegneem van die strooikwota, maar hy het hulle die rug toegekeer. Toe hulle uit die paleis kom, was daar ’n hewige rusie tussen hulle en Moses en Aäron. Die opsigters het hulle daarvan beskuldig dat hulle net moeilikheid gebring het. Hulle het die twee broers selfs in die naam van hulle god vervloek.

Nóg Moses en Aäron, nóg die opsigters wou ons te woord staan. Dit lyk asof die arbeidsonrus op ’n end is.

 

Reusebeeld van Nebukadnesar sal luisterryk onthul word

BABEL. – Die koninklike perssekretaris het vandag die reëlings bekend gemaak vir die onthulling van die goue standbeeld van koning Nebukadnesar.

Dié dertig meter hoë standbeeld is pas voltooi en word tans in die Duradal hier naby opgerig. Dit sal volgende week ingewy word.

Die koning het opdrag gegee dat al sy amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, en al die hoofamptenare van die provinsie, hierdie luisterryke geleentheid moet bywoon. Wanneer die koninklike orkes ’n fanfare aanhef, sal hulle almal voor die beeld buig en dit aanbid.

Om gehoorsaamheid aan hierdie opdrag te verseker, word ’n groot brandoond ook op die terrein opgerig. Wie nie op die teken van die orkes buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in die brandende oond gegooi word.

Koning Nebukadnesar het ook al sy onderdane genooi om die verrigtinge by te woon. Hy het gesê hy wil hierdeur aan sy onderdane die geleentheid bied om aan hom die nodige eer te bring.

Die koning het die gedagte aan die reusebeeld gekry toe hy onlangs ’n visioen gehad het waarin hy ’n reusagtige beeld gesien het. Volgens droomverklaarders was die beeld ’n voorstelling van sy grootheid as koning. Die beeld wat hy nou laat oprig, wil uitdrukking gee aan sy glorie en roem as die magtigste koning ter aarde.

  • Lees meer hiervan in Dan. 3.

 


Een wat sterker is

Die Bybel vertel vir ons die verhaal van God se besig wees met hierdie wêreld en met die mense van sy wêreld. Dit vertel ook van Satan se pogings om God se wêreld te skaak en vir homself in te palm.

Wat dié verhaal so ’n heerlike leeservaring maak, is die fyn humor waarmee dit vertel word. Die Bybelskrywers word nooit moeg daarvoor om die komiese sy van Satan se “staatsgreeppogings” teen die almag van God uit te beeld nie.

Wanneer Moses voor die farao staan, koggel dié duiwelshandlanger hom uit. Hy wat die groot en deurlugtige farao is, het immers nog nooit eens van die God van die Hebreërs gehoor nie. Aan so ’n onbekende god hoef jy jou tog nie te steur nie? Met slim taktiek wys hy dat die beleid “verdeel en heers” glad nie so nuut is soos wat ons soms dink nie. Maar as Moses ontsteld oor die verloop van sake God in sy gebed verwyt, stel God hom gou gerus: “Ek is die Here!” (Eks. 6:1). Die farao dink maar net hy is in beheer. In werklikheid speel hy netjies in God se hand.

Met net sulke fyn humor word die verhaal van Nebukadnesar se beeld vertel. Dit begin waar almal beveel word om hom te aanbid. Maar aan die einde is hý die een wat hom neerbuig en vir God aanbid! “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe …” sê hy in Dan. 3:28.

Hierdie wêreld in die kloue van Satan? Nog nooit! Gód is in beheer!




Hebreërs spel gevaar, sê farao

MEMPHIS. – Die farao het gister die ganse Egiptiese volk opgeroep om te help om die snelle aanwas onder die Israelitiese bevolking te stuit. Hy het gesê die Hebreërs se getalle neem sodanig toe dat dit ’n ernstige bedreiging vir die stabiliteit in die land kan word. Daarom beveel hy die hele volk om elke pasgebore Israelitiese seuntjie in die Nyl te gooi. Die dogtertjies mag egter bly lewe.

Die dekreet het ’n vloedgolf van verontwaardiging en selfs protes in humanitêre kringe tot gevolg gehad. Farao Sethos het hulle verseker dat dit die laaste uitweg is. “As ons nie baie gou dié aanwas hokslaan nie, sit ons binne ’n paar jaar met ’n nasionale ramp van ongekende omvang,” het hy gesê in antwoord op besware. Hy het statistieke aangehaal wat daarop dui dat die Hebreërs alreeds ’n getalsoorwig teenoor die Egiptenare het. Alleen is hulle nie veel werd nie, het hy gesê, maar as hulle hulle in geval van oorlog by die vyand skaar, is daar probleme.

Die farao het verduidelik dat hy reeds twee ander metodes probeer het om hulle getalle te beperk, maar dat beide dié maatreëls misluk het. Sy eerste plan was om die hele volk met dwangarbeid te onderdruk. Toe dit alleen nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het hy die Israelitiese vroedvroue versoek om die seuntjies by geboorte dood te maak, maar hulle het nie hulle samewerking gegee nie. Dus het hy nou geen ander keuse nie as om dié drastiese maatreël in te stel.

Ons het verneem dat die Israelitiese leiers ’n dringende versoek tot die farao gerig het om hulle te woord te staan, maar volgens ’n paleiswoordvoerder is sy program tans te vol om hulle in te pas.

 

MENSESLAGTING IN NOB

GIBEA. – Vyf en tagtig priesters met hulle vrouens, kinders en al – dit is al die inwoners van die priesterdorpie Nob – is gister op bevel van koning Saul met die swaard uitgewis. Die teregstelling volg op beweringe deur Doëg die Edomiet dat die priesters van Nob teen die koning saamgesweer het deur die voortvlugtige Dawid seun van Isai te help ontsnap.

Die oorledenes behoort almal tot die familie van die priesterhoof Agimelek, seun van Agitub. Die enigste oorlewende is Agimelek se seun Abjatar, wat daarin geslaag het om te ontvlug. Ons het verneem dat hy hom intussen by Dawid aangesluit het.

In die summiere verhoor hier het Agimelek getuig dat hulle in goeie trou gehandel het toe hulle Dawid ontvang het, aangesien hulle onbewus daarvan was dat hy vir die koning gevlug het. Saul wou egter nie hulle storie glo nie, en het sy amptenare beveel om almal te dood. Niemand, selfs nie sy lojaalste amptenare, wou ’n hand teen die priesters oplig nie. Uiteindelik het Doëg toe man-alleen al die inwoners van Nob gedood.

Dié jongste vergryp van koning Saul laat die vraag ontstaan of hy nog geskik is om die volk te lei. Al meer mense is bekommerd daaroor dat sy obsessie oor Dawid besig is om sy gesonde oordeel aan te tas.

 

GEBOORTES

Ben Kehat. Amram die Leviet en Jogebed het die pragtigste seuntjie en boetie vir Aäron en Mirjam van die Here ontvang. Dank aan die God van ons vaders, en aan die vroedvroue Sifra en Pua.

 


Is die duiwel is los? Nog nooit!

’n Mens skrik eintlik as jy sien tot watter uiterstes die duiwel sal gaan om God se groot plan met hierdie wêreld te fnuik. Dit is duidelik dat hy hom nie steur aan enige reëls nie. Vir hom het ’n mens se lewe – of dit nou ’n priester, ’n vrou of ’n pasgebore babatjie is, maak nie verskil nie – geen betekenis nie.

Wat amper nog meer ontstellend is, is die feit dat hy daarmee wegkom. ’n Mens vra jouself die vraag af: hoekom laat God dit toe? Gee Hy dan nie om dat onskuldige mense gedood word nie?

God gee om, meer as wat ons ooit kan verstaan. In Ps. 116:15 staan dit immers uitdruklik: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” En tog laat Hy toe dat sy kinders ly en selfs sterwe. Hoekom, weet ons nie.

Wat ons wel weet, is dat die duiwel nie die laaste woord inkry nie; dat hy nooit, al probeer hy hóé hard, sal wen nie. Daarom haas die verteller van die Eksodusverhaal hom om vir ons van die geboorte van Moses te vertel. Want hy wil vir ons sê: God is nie onkant betrap deur die gebeure nie. Hy het ’n plan waarby Hy farao se eie dogter betrek.

Natuurlik sou dit nog jare duur voordat Moses oud genoeg was vir God se plan. Maar hy wat glo, is bereid om op God te wag.




Versoekings

Dis mos iets waaraan ons almal blootgestel is: versoekings. As die duiwel kans gesien het om Jesus te versoek (Matteus 4:1-11) moet ons weet ons gaan ook deurloop. Dis nou as jy dit nog nie talle kere aan jou eie bas gevoel het nie. Die ding is net, die versoekings is nie altyd so maklik herkenbaar nie. Dikwels is dit so subtiel dat jy dit glad nie herken as ’n versoeking nie. Want Satan kom nie altyd na ons in die gedaante van ’n brullende leeu nie (vgl. 1 Petrus 5:8), want dan was dit makliker om die gevaar te sien. Soms verskyn hy subtiel, soos ’n engel van die lig, skryf Paulus in 2 Korintiërs 11:14, en kan jy jou selfs verbeel hy is jou vriend wat jou belange op die hart dra.

Dis wat hy met Jesus gedoen het in die woestyn. Jesus is honger ná veertig dae se vas, en Satan kom ewe besorg na Hom en stel voor dat Hy vir Hom brood uit die klippe moet maak. “Jy kan nie so honger aangaan nie, man. Jy het jou kragte nodig. Jou liggaam het kos nodig. Jy het nou lank genoeg jouself gepynig; dink vir ’n slaggie aan jouself ook!” Só fluister Satan in Jesus se oor. En: “Jy moet jou nie so bekommer oor dinge soos seerkry nie, wat. God sal jou bewaar. Dit staan dan as ’n belofte in die Bybel.”

Satan gebruik ook die Bybel

Ja, die duiwel ken ook die Bybel, en gebruik dit baie subtiel om ons van God af weg te kry en met onsself te laat besig hou. Want solank ons met onsself besig is, is ons vir God en sy wêreld niks werd nie. Dít was sy strategie met Jesus – laat Jesus op Homself fokus: sý honger, sý beskerming, sý aansien onder mense. Solank Hy daarmee besig is, is Hy skadeloos.

Satan doen dit vandag nog met ons. Hy gebruik selfs die Bybel, soos hy dit teenoor Jesus gebruik het. Hy fluister in ons oor, en gaandeweg word die Bybel ’n beloftekissie vol teksverse wat vertel hoe God vir ons sorg en bewaar, wat God vir ons kan en wil beteken. En die hele tyd bly ons met onsself besig, vra ons wat die Bybel ons bied om ons te troos en te bemoedig en te versterk.

Darrell Guder skryf hieroor: “It is possible to hear the gospel primarily in terms of what God’s grace does for me, or for you. It is possible to take the Bible seriously, persuaded that it is primarily about one’s personal salvation. It is possible to preach the Bible in such a way that the needs of persons are met but the formation of the whole community for its witness in the world is not emphasized.”

Jy kan Bybel lees sonder om ooit by die vraag uit te kom: “Wat verwag God van my?”, omdat jy te besig is met die vraag: “Wat kan ek van God verwag?”

Dít, dink ek, is vir ons as gelowiges ’n wesenlike versoeking. Want dan dink ons in ons Christenskap oor die hemel en geloofsekerheid (wat natuurlik belangrik is), maar ons kom nie by die belangriker vraag uit nie, naamlik: Hoe volg ek Jesus na in die wêreld? Dalk is dit ’n vraag wat ek en jy behoort te oordink?