Sit, staan, kniel?

Toe ek nog ’n student was, was daar eenkeer ’n vraag in ’n wyksbyeenkoms wat ons ouderling redelik laat kopkrap het. Hoekom die vraag in Ou Nederlands was, weet ek nie, maar dit het daaroor gegaan of “de houding waarin men bad” belangrik is. Dit het natuurlik niks met water en seep te make soos die ouderling gedink het nie. Dit gaan oor die posisie wat jy inneem wanneer jy bid. Behoort dit enigsins ’n rol te speel wanneer jy bid? Is dit belangrik? Dit was die vraag.

Ek kan nie meer onthou wat ons daaroor gesê het nie. Maar die vraag is vandag meer as ooit relevant. Hoe bid jy? Watter houding neem jy in wanneer jy bid? Staan jy op jou knieë soos die geslagte van weleer? Sit jy in ’n gemakstoel? By die kombuistafel? Op jou bed? Of lê jy dalk op jou rug?

In die ou dae het die mans nog tydens die gebed in die erediens opgestaan. Ons doen dit nie meer nie; genadiglik, voel ek soms, want in my hoërskooldae was daar ’n dominee wat maklik tien minute lank gebid het. Later moes ek net gekonsentreer om nie om te val nie, want as ’n mens so lank met toe oë staan, lol jou balans nogal.

Een van die redes hoekom ek tydens huisbesoek opgehou het om op my knieë te gaan as ek bid, is omdat ’n seuntjie op ’n keer terwyl ek gekniel het, op my rug gespring het en gedink het hy gaan nou perd ry. Nou sit ek liewer, hoewel ek dit nog soms beleef dat mense op hulle knieë wil gaan as ek sê ek wil ’n gebed doen.

Om terug te kom na die vraag oor jou houding as jy bid: Is dit belangrik?

Dalk is ’n ander vraag belangrik vóór jy hierdie een kan beantwoord: Wat bid jy? Want ek kom in my eie gebede agter dat dit ’n groot rol speel in hoe ek God beleef wanneer ek bid. As my gebed net is om dankie te sê en verder bestaan uit ’n lysie met versoeke, pla dit my nie dat ek in ’n stoel te sit en bid nie. Maar wanneer ek fokus op God, op sy grootheid en majesteit en almag en heiligheid en teenwoordigheid, is dit asof die Gees my uit my stoel dwing tot op my knieë. ’n Mens kan nie ewe gemaklik bly sit wanneer jy God aanbid nie. Dis wat Moses ook ontdek het toe hy by die brandende doringbos uitgekom het: die plek waarop hy gestaan het, was heilige grond (Eksodus 3:5). Daarom moes hy sy skoene uittrek as teken van respek.

Jesus het gekniel toe Hy met sy Vader geworstel het in Getsemane (Markus 14:35); ek vermoed dit was sy standaard gebedshouding. Dit is ook die houding wanneer die vier en twintig ouderlinge God aanbid in Openbaring (vgl 4:10 en 11:16). Behoort ons nie ook nie?

Daar is natuurlik geleenthede waar dit nie prakties is om te kniel nie. As jy op ’n siekbed lê, of sommer met die Here praat agter jou stuurwiel, of as jy die seën vra voordat julle eet. Maar wanneer jy in jou binnekamer is en voor die hoë God verskyn om Hom te aanbid en te loof, lyk dit my, pas ’n gemakstoel-houding nie. Dan pas ’n houding van nederigheid en ootmoed. God is immers die Gans Andere, om Karl Barth se woorde te gebruik.

Ek wonder of die gemakliker houding waarin ons deesdae met die Here praat, nie ook iets sê van minder respek en ’n oormaat van familiariteit in ons omgang met God nie? Of is dit dalk omdat nederige aanbidding nie meer deel uitmaak van ons gebede nie?

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word!




Gebed, geloof en vernuwing

Timothy Keller skryf in sy boek “Prayer” iets wat my diep getref het. Hy sê ons gebede word gevorm deur die beeld wat ons van God het. Eers as ’n mens God ken, kan jy regtig sinvol bid. En dan sê hy dit wat ons van God weet, word gevorm deur die Bybel, want die Bybel is die middel waardeur God Homself aan ons bekend maak.

As ons ons nie verdiep in God se Woord nie, bly ons gebede vlak en beperk, en ook uit voeling met die werklikheid, skryf hy. Want – en dit was vir my ontstellend – dit kan dan gebeur dat jy nie met die ware God besig is in jou gebede nie, maar met hoe jy wens God en die lewe was. As jy in jou denke oor God nie in die Bybel ingebed is en daardeur gevorm word nie, is jou hart geneig om ’n God te skep wat jou pas, maar wat nie bestaan nie. Keller gaan voort met die opmerking dat mense van Westerse kulture ’n God wil hê wat liefdevol en vergewend is, maar nie heilig, verhewe en bonatuurlik nie. Navorsing oor die geestelike lewens van jong volwassenes in Westerse lande het bevind dat hulle gebede daarom dikwels sonder ’n sondebesef en berou is, en dat die vreugde van ’n wete dat hulle vergewe is ook ontbreek. Sonder gebed wat met die God van die Bybel besig is, praat ons net met onsself.

Tot sover Timothy Keller. Dit het my laat nadink oor die vraag hoe ons geloof gevorm word. Keller is baie beslis daaroor: deur die Bybel. Sonder die Bybel is ons geloof sonder inhoud en is dit wensdenkery, sê hy. Die digter van Psalm 1 is dit met hom roerend eens: Dit gaan goed met die mens wat in die Woord van die Here sy vreugde vind en dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is en waarvan die blare nie verwelk nie … Dis ook wat die Heidelbergse Kategismus ons oor geloof leer: dit bestaan uit kennis en vertroue wat veranker is in die Bybel. Vraag 21 sê:

’n Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue, wat die Heilige Gees deur die Evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie maar ook aan my uit louter genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid, geskenk het.

Geloof is deurdrenk met die Woord van God. Gaan tel gerus die Bybel van ’n geestelik volwasse gelowige op. Jy sal merk dat dit ’n geleesde Bybel is. Dikwels is die blaaie verrimpel en aan die loskom van baie gebruik, en die buiteblad verslete. Dan weet jy waaruit die persoon se geloofsdiepte gevoed word. G’n wonder nie dat die Gereformeerde vaders die slagspreuk gehad het van Sola Scriptura, die Bybel alleen, want dít is die bron waaruit ons leef.

Die bekende prediker Charles Spurgeon het gesê jy kan maar oplet na iemand wie se Bybel uitmekaar val. So ’n persoon se se lewe val nie uitmekaar nie.

Ja, ons geloof word ook gevoed deur ons kontak met ander gelowiges, deur ons goeie werke en uitreik na ander. Daarsonder, skryf Jakobus, is ons geloof dood (Jakobus 2:14 e.v.). Maar dit begin nie daar nie, en kan nie net daaruit groei nie. Dit begin in ons binnekamer, waar ons die Woord eet soos ’n Esegiël van ouds (Esegiël 3) sodat dit deel van ons kan word; waar ons die Woord in ons hart bêre, soos Psalm 119:11 (1953-vertaling) sê.

O, dat ons almal mense van die Woord sal wees!




Psalm 16:8 ‘n Biddende gemeente

Ons gemeente-visie is: Deur God se genade ’n biddende gemeente wat mekaar in liefde dien en uitreik na die wêreld. Wat my by die vraag bring: Leef ons werklik nog biddend? Leef jý in biddende afhanklikheid van God? Wat beteken dit? Hoe lyk dit as iemand, as ’n gemeente in biddende afhanklikheid leef? Hoe doen ’n mens dit?

Psalm 16 kan ons met dié vraag help. Kom ons lees nou Psalm 16.

Daar is natuurlik twee goed wat nodig is as jy in biddende afhanklikheid van God wil leef: Jy moet verstaan dat God só naby jou is dat jy met Hom kan praat, enige tyd van die dag of die nag, en jy moet besef dat jy op jou eie dit nie gaan maak nie; dat jy God nodig het.

1. God is naby ons

’n Mens en ’n gemeente wat biddend wil leef, moet dit goed verstaan. God is nie doer ver in die hemel, onbetrokke en onbereikbaar vir ons gewone sterflinge nie. Jy kan immers nie bid en met die Here praat as Hy afwesig is nie. Dit is hoe Dawid in hierdie psalm oor God dink: hy is baie bewus van die Here se teenwoordigheid, van sy lewende, beskermende en leidende teenwoordigheid in sy lewe. In vers 7 sê hy: … selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.” En in vers 8 gaan hy voort: “Ek het die Here altyd by my …”

Maar dít is mos die evangelie! Ons gaan Donderdag Hemelvaart vier, en dít is presies waarvan Christus ons verseker in sy laaste woorde in Matt 28:20, net voor Hy hemel toe is: “Onthou, Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Hy is by ons om ons te leer, om ons die pad te wys, die koers aan te dui, rigting te gee, soos Dawid in vs 11 sê: “U leer my hoe om te lewe.”

2. Ons het God nodig

Hoe het die Here Jesus in die Bergrede gesê? “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.” Want eers as jy verstaan dat jy nie op jou eie gaan regkom nie, kan jy jou hande in gebed na God uitsteek. Ons het God nodig, dat Hý sal sorg en voorsien en uitkoms gee. Dis waaroor Dawid dit in hierdie psalm het. Sommer in die eerste vers verklaar hy dat hy skuiling by God soek. En in vers 5 sê hy: “Here, U is my lewe, U sorg vir my.” Vers 10 sê: “U gee my nie oor aan die dood nie.”

God maak dat ons veilig is, Hy hou ons vas wanneer ons siek is, wanneer ons finansies druk, wanneer daar spanning in die huwelik is, as ek nie meer raad weet met my opstandige kind nie, as dinge by die werk of die skool net nie wil uitwerk nie, dan is Hy daar om te sorg, te beskerm – ook dan kan ons weet: Die lewende Here is by my! Ook vir die sorge van elke dag, vir kos en klere en huis en werk, ook hiervoor sorg die Here, soos Hy vir die digter gesorg het in sy nood.

Die Here Jesus leef en is elke dag met ons. Daarom kan ons biddend leef; in voortdurende gesprek met God bly, ons nood, ons drome, ons bekommernis, ons vreugdes, met Hom deel.

3. Hoe kry ons dit reg?

Dis nou die teorie. Julle sal goed weet dat dit in die regte lewe nie so eenvoudig is nie. Dat ons sukkel om afhanklik van God te leef, want die lewe gaan aan, en ons moet ook, en dikwels voel God baie ver weg.

Wat was Dawid se geheim? Kom ons kyk weer na ons teks: “Ek het die Here altyd by my,” sê Dawid in vers 8. Die ou vertaling druk dit beter uit wat hy hier wil sê: “Ek stel die Here altyddeur voor my …” Die BDV vertaal dit só: “Ek hou die Here altyd voor oë …” Met ander woorde, die feit dat Dawid bewus is van die sorgende en leidende teenwoordigheid van die lewende God het nie sommer vanself gekom nie, dit het gekom deur ’n doelbewuste inspanning: Ek stel die Here altyd voor my. Ek dink altyd aan Hom, ek roep Hom altyd voor my geestesoog, ek fokus op Hom, ek “rig my gedagtes op die dinge daarbo” (Kol 3:2).

Eers as ’n mens jou doelbewus toelê daarop om die Woord van die Here te lees en te oordink, om gedurig aan die Here te dink as ’n lewende Here, ’n lewende werklikheid in jou lewe, eers as ’n mens die Here gedurig voor jou stel, eers dán sal jy iets begin beleef van sy kragtige teenwoordigheid in jou lewe. Dan sal jy begin ervaar hoe Hy sorg, hoe Hy uithelp in nood, voorsien as jy nie verder weet nie, gesond maak as die dokter hande in die lug gooi, herstel in jou huis bring as jy al moed opgegee het vir jou huwelik, vrede in jou verhoudinge by die werk as jy nie langer raad het met die moeilike kollega nie, vrede in jou hart oor die toekoms as almal rondom jou sê dis klaarpraat met ons in die nuwe Suid-Afrika.

Dan sal jy ook ervaar hoe Hy lei, hoe Hy duidelikheid bring in keuses wat jy moet maak, hoe Hy woorde gee om te sê as jy vir Hom moet getuig en nie kan nie, as jy uitreik na ander; hoe Hy die pad vir jou aanwys as jy nie verder weet nie.

Om in biddende afhanklikheid te leef, kan nie in drie maklike stappe reggekry word nie. Dis ’n leefwyse, ’n geloofsingesteldheid, waaraan ek en jy elke dag moet werk. Ps 16 leer vir ons: dit gebeur in ’n ontmoeting met die lewende Here elke dag, en na die mate dat jy op Hom fokus.

Mag dit van jou en my, en van die gemeente waar wees!

Amen.




Gebed vir Lydenstyd

Here Jesus

In hierdie dae word ons weer in verbystering stil voor u liefde: dat U gekom het na die wêreld toe om te sterf. Ons is verbysterd daaroor, Here, want dis nie soos ons is nie. Dankie dat U nie soos ons is nie, Here. Dankie dat U Uself gegee het tot in die dood. Dankie dat U ons Verlosser geword het.
Ons aanbid U, Here Jesus, Koning van die kerk en van ons lewens. Wil U tog in hierdie dae opnuut Uself aan ons verbind; wil U ons asseblief deur u Heilige Gees verander dat ons soos U kan word, U kan navolg, onsself kan aflê. Word U tog meer in ons, Here Jesus, sodat dit nie meer ons sal wees wat lewe nie, maar U in ons!
O Seun van God wat gekom het om u lewe vir ons af te lê, hoor ons gebed!

Skenk ons die visie, o Vader, om soos U na die wêreld te kyk. Om nie die wêreld te sien as ’n probleem nie, maar as mense wat u liefde en u genade nodig het, mense wat iewers langs die pad die spoor byster geraak het, sodat U in Christus Jesus hulle weer kom soek het. Vergewe ons dat ons net dié liefhet wat vir ons liefhet, dat ons net vir hulle bid wat naby ons staan, dat ons tevrede is om met ons eie klein kringetjie gelowiges voort te gaan.
O Vader wat nie behae het in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom bekeer en kan lewe, hoor ons gebed!

En nou, o Gees van God, bid ons dat U in ons sal werk, sodat Christus in ons lewens verheerlik sal word. Verander ons, dat ons hoe langer hoe meer soos Jesus sal word. Bly met ons besig, o Gees, totdat die dag kom waarop elke knie voor Christus sal buig en elke tong sal bely: Jesus is Here!

Dit vra ons alles met die gebed dat U verheerlik sal word in ons.
Amen.




Safenat-Paneag verwelkom sy vader in Egipte

GOSEN. – Die hoof van die GVE het gister hier aangekom om sy vader, Jakob seun van Isak, in Egipte te verwelkom. Dit was ’n aandoenlike oomblik toe die twee mekaar na ’n skeiding van meer as twintig jaar weer gesien het. Hulle het mekaar omhels en lank so gestaan en huil. Daarna het die waardige ou man, wat reeds honderd en dertig jaar oud is, kopskuddend vir sy seun gesê: “Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!”

 

FILISTYNSE MAGTE IN DIE SPOOKLAAGTE VERPLETTER

JERUSALEM. – Met briljante krygsvernuf het koning Dawid die militêre oorheersing van die Filistyne in die Kanaänitiese vlaktes finaal verbreek. Die Filistyne het die afgelope drie eeue die oorhand op militêre gebied gehad met hulle beter krygstuig en strydwaens, sodat die Israeliete baie swaar geleef het, veral in die vrugbare vlaktes waar hulle geen teenvoeter vir die strydwaens gehad het nie. Net in die onbegaanbare bergland kon hulle hul man staan. Die Israeliete het gehoop dat koning Saul hulle van dié oorheersing kon bevry, maar hy kon nooit werklik die Filistyne se houvas breek nie. Nou het koning Dawid egter die onmoontlike reggekry. Die slag van Spooklaagte was waarskynlik die laaste geveg teen die Filistyne.

 

Minister in sop na minagting van dekreet

BABEL. – Die aangewese eerste minister van die Ryk van Mediërs en Perse, Beltsasar, is gisteraand laat in ’n leeukuil gegooi omdat hy koning Darius se bidverbod verbreek het.

Die bidverbod is onlangs met ’n koninklike dekreet ingestel op aanbeveling van die ander twee ministers en die goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs van die ryk. Daarvolgens moet enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir die koning, in ’n leeukuil gegooi word. Daarby is die dekreet as ’n wet van die Mediërs en Perse uitgevaardig en derhalwe onherroeplik. Beltsasar, beter bekend as Daniël onder sy volksgenote, het egter die dekreet verontagsaam. Hy is ’n toegewyde Jood en het soos tevore drie maal elke dag tot sy God, die God van die hemel, gebid. Hy is op heter daad betrap waar hy gebid het en voor die koning gedaag.

Dié verwikkeling het as ’n groot skok vir die koning gekom. Dit is bekend dat koning Darius groot vertroue in Beltsasar gehad het. Toe hy aan bewind gekom het, het hy hom aangestel as een van sy drie ministers aan wie die honderd en twintig goewerneurs-generaal van die ryk verantwoordelik was. Beltsasar het egter deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning besluit het om hom oor die hele koninkryk aan te stel.

Allerhande vrae het intussen ontstaan oor die afdwingbaarheid van ’n wet van Mediërs en Perse. Dit is duidelik dat dié wet as ’n strik misbruik is in ’n fyn uitgewerkte set van Beltsasar se vyande om van hom ontslae te raak. Koning Darius het die vonnis so lank moontlik uitgestel, maar het uiteindelik geen ander keuse gehad nie as om Beltsasar in die leeukuil te laat gooi. So is die ryk van een van sy knapste burgers beroof, en dit teen die koning se sin in.

  • Lees alles hieroor in Dan. 6.

 


Die voorreg van aanbidding

Ek onthou uit my kinderdae ’n dominee wat elke Sondag iewers in sy kanselgebed die Here gedank het “vir die voorreg van aanbidding”. Vir my as jong seun het dié mooiklinkende woorde nie veel beteken nie. Vandag weet ek van beter. Gebed ís ’n onuitspreeklike groot voorreg. Sonder gebed sou ons geloof versmoor. G’n wonder nie dat gebed die asemhaling van die siel genoem word. Daniël het dít goed begryp. Die hele boek Daniël is trouens een groot getuienis van sy en sy drie vriende se volhardende ywer om God, en Hom alleen, te aanbid. Vir hierdie voorreg het hy geen kompromieë toegelaat nie, selfs al sou dit sy lewe kos. Dit sien ons ook in die lewe van Jakob, wat nie sommer halsoorkop op ’n wa klim om sy lankverlore seun te gaan ontmoet nie. Nee, voordat hy vertrek, bring hy eers ’n offer om só vir God te raadpleeg. En Dawid, teen hierdie tyd ’n gesoute en uitgeslape militaris wat behoort te weet hoe om te veg, pak ook nie ’n enkele geveg aan voordat hy God geraadpleeg het nie. Aanbidding is inderdaad ’n voorreg. Het jy al in verwondering voor God daaroor gejuig?




Gebed by Psalm 123

Soewereine God op u troon in die hemel,
kyk na ons met u genadige oë
soos ons na U kyk in nederigheid en liefde,
en vul ons siele met u vrede
deur Jesus Christus ons Here.

vertaal uit The Archbishops’ Council of the Church of England