Valentynsdag

Ek verstaan Valentynsdag is vernoem na ’n priester uit die derde eeu, ene Valentinius, wat die keiser se dekreet dat jongmense nie getrou mag word nie, verontagsaam het. Die jongmanne moes eerder in die keiser se leër dien as om te trou, was glo die rede. Die stomme Valentinius het met sy lewe geboet omdat hy voortgegaan het om jong paartjies te trou. Daarom is die dag waarop die liefde gevier word, na hom vernoem.

As ek die storie so bekyk, lyk dit mos vir my Valentynsdag se oorsprong lê by die viering van liefde wat tot die huwelik lei. Vandag nog vier huweliksmaats, verloofdes en verliefdes die liefde op Valentynsdag. Ongelukkig het die moderne kultuur sodanig verword dat liefde en die huwelik nie noodwendig meer iets met mekaar te doen het nie. Daar is selfs teoloë wat dit bepleit dat ons ruimer oor seksuele verhoudings moet dink en nie moet vassteek by die idee dat ’n liefdesband noodwendig in ’n huwelik uitgeleef moet word nie. Daar is ook ander legitieme gestaltes van liefdesverhoudings waarby die seksuele ingesluit is, sê hulle. Saamwoonverhoudings is een daarvan. Dit het so algemeen geword dat die stigma daaromheen lankal weg is, en die kerk moet bykom, is die redenasie.

Ek weet daar is situasies wat só ’n saamwoonverhouding, kom ek sê maar, regverdig. Ek het ’n lidmaat gehad wat die weduwee van ’n Italianer was. Laat in haar lewe het sy weer ’n liefde gekry, maar hy was arm, en hulle kon nie trou nie, want dan sou sy haar Italiaanse pensioen verbeur. Toe woon hulle saam. Ek het simpatie met hulle gehad, hoewel ek ander keuses as sy sou maak. Sy wou nie eers hê dat ek hulle stilletjies trou sonder om die huwelik by Binnelandse Sake te registreer nie. Sy was net te bang dit stel haar pensioen in gevaar.

’n Mens sou baie ander verskonings ook kon uitdink om ware liefde en die huwelik van mekaar los te maak, maar, om Jesus se woorde in Matteus 19:8 aan te haal, “van die begin af was dit nie so nie.” God het vir ons die gawe van die liefde, die seksuele liefde, gegee om binne die veilige ruimte van die huwelik te geniet. Lees gerus Jesus se standpunt oor die huwelik in Matteus 19:1-9.

So vandag is dit Valentynsdag, en ons as gelowiges vier dit ook. Ons vier dit wel anders as die wêreld.Dis ook reg so. Ons lewe tog volgens ander norme as die kultuur van ons dag. Ons vier die liefde wat onlosmaaklik deel is van huweliksliefde. Getroudes vier die dag met verrukking en dankbaarheid omdat hulle geseën is met ’n huweliksmaat wat langs hulle staan. Verloofdes vier dit terwyl hulle uitsien na die dag wanneer hulle kan trou en hulle liefde oorgaan na ’n nuwe fase. En verliefdes vier dit met hoop, dat die kiem van ware liefde uit hulle verhouding sal ontwikkel.

Ek dink dit is tyd dat ons as gelowiges ware liefde terugsit waar dit hoort: binne die huwelik. En dat ons alles in die stryd werp om ons en ander se huwelike in stand te hou. Dit is nie net die ware Valentyns-idee nie. Dit is hoe God dit van die begin af bedoel het.

Gelukkige Valentynsdag! Geniet die lewe met die man of vrou wat jy liefhet, soos die Prediker ons in Prediker 9:9 aanraai. God gun dit vir jou.




SEUN VERMIS; DALK PROOI VAN ROOFDIER

Van ons Ou Testament redaksie

HEBRON. – ’n Sewentienjarige seun, Josef seun van Jakob, het vandeesweek vermis geraak toe hy na sy broers se welstand gaan verneem het waar hulle hulle pa se kleinvee oppas. Die broers het sy bloedbevlekte klere in die veld gekry en dit na hulle pa gestuur, klaarblyklik te ontsteld oor hulle broer om self die hartseer tyding aan hulle pa oor te dra. ’n Slaaf het gister met die kleed hier aangekom.

Jakob is ontroosbaar en wou ons nie te woord staan nie. Die aanskoue van die klere was glo vir hom besonder traumaties, aangesien hy die klere nog spesiaal vir sy seun se sewentiende verjaarsdag laat maak het. Dit is algemeen bekend dat Jakob ’n baie sagte plekkie vir Josef gehad het. Hy was die oudste seun van Jakob se lieflingsvrou, Ragel, wat hom enkele jare gelede ontval het met die geboorte van haar tweede seun, Benjamin.

Josef is verlede week hiervandaan na Sigem toe om sy broers te soek. Die laaste persoon wat hom lewend gesien het, was ’n boer van Sigem, wat vir hom vertel het dat sy broers met die vee na Dotan getrek het. Hy het egter nooit in Dotan aangekom nie.

Intussen het ons verneem dat die boere in die omgewing van Dotan ’n ekspedisie gereël het om die roofdier, vermoedelik ’n leeu, vankant te maak. “As hy een kind kon vang, sal hy dit weer doen, en dit kan ons nie toelaat nie. Hy moet dood,” het hulle gesê.

 

Haman opgehang aan sy eie galg

Politieke verslaggewer

SUSAN. – Die wraakplanne van die eerste minister, Haman seun van Hammedata die Agagiet, het gister lelik geboemerang toe hy op bevel van koning Ahasveros opgehang is aan die drie en twintig meter hoë galg wat hy vir sy aartsvyand, ’n Jood genaamd Mordegai, laat bou het.

In ’n persverklaring wat ná die teregstelling uitgereik is, het Garbona, een van die koning se paleisbeamptes, onthul dat Haman ’n aanslag op koningin Ester se lewe gemaak het tydens ’n banket wat sy gister ter ere van die koning in haar paleis gehou het. Die koning het daarop beveel dat hy opgehang moet word.

Dié teregstelling bring ’n mate van verligting vir die Joodse bevolking van die stad, aangesien dit bekend is dat Haman die meesterbrein is agter die koninklike proklamasie waarvolgens die ganse Joodse bevolking van die ryk op die 13de Adar uitgewis moet word. Na berig word, was Haman woedend omdat Mordegai hom nie die nodige eer bewys het ná sy onlangse bevordering tot eerste minister nie, en het hy besluit om hom met hierdie massamoord op Mordegai te wreek. Vir Mordegai self het hy die reusegalg by sy huis laat bou.

Daar heers nou onsekerheid oor wat presies met die Jode gaan gebeur, aangesien die koninklike proklamasie dat hulle gedood moet word, volgens wet nie herroep mag word nie.

 


 

Om oor na te dink

Wraaksug is een van die vernietigendste menslike emosies, want waar daar ’n wrok gekoester word, is daar geen wenners nie. Dit vernietig jou goeie oordeel en lei nie net tot die ondergang van die een wat gehaat word nie; dit lei dikwels ook tot die ondergang van die een wat die wrok koester. Die verhaal van Haman se dood onderstreep dit beter as wat enige woorde kan sê. Maar ook in die tragiese verhaal van Josef en sy broers tree daar nie wenners uit die stryd nie. Dat wraak nie soet is nie, ontdek die broers weldra wanneer hulle hul ontroosbare vader sien. Geen wonder nie dat die Bybel hom baie sterk uitlaat hieroor. In Rom. 12:19 lees ons: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.” En in Spr. 20:22: “Moenie sê: ‘Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is’ nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help.”

Natuurlik sal min van ons tot sulke uiterstes gaan soos Josef se broers, of Haman. Daar ís immers subtieler, “beskaafder” maniere om jouself te laat geld, soos ’n skinderstorie of ’n kwetsende woord. Of dalk kan jy die ander persoon behoorlik op sy plek sit deur hom doodeenvoudig net te ignoreer. Die uiteinde is egter nie minder vernietigend – vir jouself óf jou teenstander – nie, want dit is die werk van die duiwel, sê Jak. 3:15.

Wie hom deur die Gees van God laat lei, se lewe lyk geheel anders: vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg (Jak. 3:17). Die vrug wat die Gees in ons lewe werk, is immers liefde (Gal. 5:22).

Mag Gods Gees ons tog minsaam maak!




Gebore uit die maagd Maria

Die maagdelike geboorte van die Here Jesus het deur die eeue heen al vir baie mense ’n ernstige geloofskrisis geword. Eeue lank het die kerk geworstel met hierdie vraagstuk om duidelikheid te kry oor wat ons presies daaronder moet verstaan. Tot vandag toe staan ’n mens verbaas oor gewone mense en selfs teoloë wat kans sien om baie ánder dinge te aanvaar, maar probleme het met hierdie saak. En dit is tog eienaardig. As mense wil twyfel, is daar baie groter dinge waaroor ’n mens sou kon twyfel as oor die maagdelike geboorte van Jesus. Dink maar aan die aanspraak van Christus dat sy offer aan die kruis genoeg was vir die sonde van die hele wêreld, soos sy naam “Jesus” al vir ons leer, of meer nog, as iemand dan wil twyfel, waarom twyfel hy nie oor die bestaan van God nie? Maar as jy in God glo, dan is dit tog nie so moeilik om in die maagdelike geboorte van Jesus te glo nie!

Terloops, die blote feit dat daar in Bybelse tye baie ander belangrike persone was wat ook, so is geglo, maagdelike geboortes gehad het, maak nie ons belydenis oor Jesus se geboorte absurd nie. Buite die Bybelse geloof het daar ook stukkies van die waarheid gelê, al was dit verkeerd verstaan. So het ons konsep van die lewe ná die dood (die hemel oftewel die paradys) van die Perse af gekom. Dit beteken nie ons is nou verkeerd as ons, soos die Perse van destyds, glo daar is ’n hemel nie. Bybelse geloof en -belydenisse het nie in ’n vakuum ontstaan nie.

Maar dan is daar ook baie mense wat meen dat dit nou nie juis nodig is om te glo in die maagdelike geboorte van Jesus nie – terwyl die kerk deur die eeue geoordeel het dat dit een van die kardinale leerstukke van die Bybel is, en daarom dit in die 12 Artikels opgeneem het, sodat ons dit elke Sondag bely: “Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria”. Hierdie mense sê dit is net twee Bybelskrywers (Matteus en Lukas) wat die maagdelike geboorte hoegenaamd noem, en daarom is dit nie so ’n belangrike saak nie. Dit is immers tog nie onmoontlik vir God om ons ook sónder die maagdelike geboorte van Jesus te verlos nie.

Dit is natuurlik waar. God sou ons ook kon red deur ’n Messias wat ’n geboorte gehad het net soos enige ander mens, soos jy en ek. Maar hier leer die Bybel ons dat God besluit het om dit nié so te doen nie. Hy het besluit om met sy wonderwerking aan ons verlossing reeds met die geboorte van die Messias te begin.

Hoekom? Hoekom was die maagdelike geboorte nodig? Ek lig sommer drie sake uit:

  1. Ek dink dit was eerstens omdat God ons iets van Homself hierdeur wou leer. Hier sien ons dat God, en God alleen, die inisiatief neem by ons verlossing. Dat daar ’n Verlosser gebore is, dat daar so iemand soos Jesus was, is nie aan mense te danke nie. Jesus Christus is nie ’n plan wat mense gemaak of uitgedink het nie. Hy kom van God af. Daarom word die werk van die Heilige Gees in die hele maagdelike geboorte beklemtoon, in Matt. 1:222-23, en ook in die Twaalf Artikels, want waar die Gees werk, daar is God besig om op ’n besondere wyse in te gryp in hierdie wêreld. Dit is wat die maagdelike geboorte vir ons onderstreep: God gryp in in ons wêreld, Hy is in beheer! Die maagdelike geboorte verkondig aan ons dat God leef en self aktief besig is om sy plan vir hierdie wêreld uit te voer.
  2. Maar meer nog. God besluit – op eie inisiatief – om iets te doen aan hierdie wêreld wat verlore gaan. Hy doen dit self, en, baie belangrik: Hy doen dit vrywillig! Ons gewone mense het nie ’n keuse gehad by ons geboorte nie. Toe ons ons kom kry, was ons maar hier, neergesit op die aarde. Maar met Jesus was dit anders. Hy het ’n keuse gehad. En nogtans het Hy, uit eie vrye wil, besluit dat dit die moeite werd is om gebore te word in hierdie wêreld van ons.
    Dit vertel natuurlik vir ons hoe geweldig lief God ons het, soos Joh 3:16 sê. Dit vertel vir ons hoe kosbaar ons vir God is. Maar verder: As Christus dit die moeite werd geag het om aarde toe te kom, mens te word, soos jy en ek te word, dan moet ons mos met nuwe oë na hierdie lewe en na ons eie menswees kyk! Dan is dit mos die moeite werd om te lewe, dan moet ons mos ophou tob oor hoe swaar en bitter en sleg dit is. Want die lewe was vir Christus goed genoeg!
  3. Maar ons sien nog iets hier in die maagdelike geboorte. Ons leer nie net vir God daardeur beter ken en verstaan nie, ons sien ook wat geloof werklik is. Ons leer wat dit is wat die lewende en werkende God van ons vra en verwag.
    In die lewens van Josef en Maria sien ons dat die kern van geloof nie bestaan in die uitdink en uitvoer van groot planne en idees nie, maar daarin dat jy gelowig God se wil aanvaar, al kos dit jou iets. Geloof is om jou te skik na God se wil, en daarin jou vreugde te vind, soos Josef gedoen het. Geloof beteken dat jy tot beskikking van die Here sal wees, dat Hy jou kan gebruik, soos Maria. Geloof is om ja te sê vir God se plan, om amen te sê op dit wat Hy sê oor jou lewe, en wil doen in jou lewe. Geloof is om God ’n vrye hand in jou lewe te gee.

Kersfees vertel vir ons dat God met hierdie wêreld besig is; dat Hy ons liefhet; dat ons vir Hom kosbaar is. Kersfees jubel dit uit dat hierdie wêreld – en ons – baie, baie spesiaal vir God is. Daarom het Hy na ons toe gekom, een van ons geword. En dit is hoekom ons in die Kerstyd verwonderd is, bly is, liedere sing, mekaar herinner aan Christus se koms.
Maar – en dit mag ons nie mis in ons voorbereiding op Kersfees nie – Kersfees is ’n fees vir gelowiges. Dit begin met gelowiges wat ja gesê het op God se aanspraak op hulle lewe, en dit kry vandag nog net regtig betekenis as ons opnuut weer ja sê op God se aanspraak op ons lewe.
So word Kersfees die fees van God se koms na ons toe, én ’n toewydingsfees waarin ons ons opnuut aan Hom oorgee.