Paulus neem afskeid van Timoteus

uit “God se storie”

Lukas en Timoteus bly tot laat dié middag by Paulus. Hulle praat nie baie nie; alles wat gesê moes word, is reeds gesê. Toe dit tyd word dat hulle moet gaan, sê Paulus: “Ek wil hê julle moet vir oulaas saam met my bid.” 

Sonder om vir hulle te wag, gaan staan hy op sy knieë. Toe Lukas en Timoteus langs hom kniel, bid hy: “Here Jesus, ek dank U dat ek aan U kan behoort; dat U my voorgekeer het op die pad na Damaskus; dat U my gekies het om ’n werktuig vir U te wees. Ek dank U dat U my werk geseën het, sodat ek vandag baie geestelike kinders het wat U liefhet en U dien.

“Ek wil nou vir hulle bid, o God, dat U deur die werking van u Gees aan hulle al die wysheid en die insig sal skenk, sodat hulle tot volle kennis sal kom van wat u wil is. Ek bid dat hulle tot u eer sal leef deur net te doen wat U verlang. Ek bid dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke, en sal toeneem in die kennis van God. Ek bid dat U aan hulle al die krag sal gee om in alle omstandighede met geduld te volhard.

“Ek dank U, ons hemelse Vader, dat U ons geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat U vir die gelowiges weggebêre het in die ryk van die lig. Dankie dat U ons uit die mag van die duisternis weggeruk het en ons onder die heerskappy gestel het van u Seun. Dankie, Here Jesus, dat ons die verlossing deur U verkry het, en die vergewing van sondes.

“Hou u kerk vas, Here Jesus! Hou hulle staande teen die aanslae van die Bose, en seën hulle wat in u kerk werksaam is. Ek bid veral vir hierdie twee broers van my, wat my tot aan die einde in my beproewing bygestaan het. U weet hoeveel hulle liefde vir my beteken. Ek dank U dat U hulle vir my geleen het, en nou wil ek hulle aan U teruggee, met die gebed dat hulle nog lank vrugbaar sal wees in u wingerd. Seën die pennevrug van my liewe broer Lukas. En seën die dienswerk van my kind Timoteus. Maak hom sterk in u diens, Here, dat hy steeds ’n ywerige en kosbare werktuig vir U mag wees.”

Paulus se hande bewe toe hy hulle op Lukas en Timoteus se kop sit, en hy moet eers sy keel skoonmaak voordat hy verder kan gaan, maar sy stem is sterk toe hy sê: “Die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by julle twee!”

Timoteus ruk soos hy huil, maar hy dwing die woorde uit: “Here Jesus, dankie dat U broer Paulus vir ons gegee het. Dankie dat U hom so vrugbaar in u diens gebruik het. Dankie dat hy my pa in die geloof kan wees, en dat ek so baie by hom kon geleer het. Maak my soos hy, Here! Gee my die geloofsmoed en liefde om soos hy te stry vir u saak, elke dag van my lewe. En wees met hom, vannag, en môreoggend, as hy alleen sal wees. Help hom dat sy geloof nie sal wankel nie, en dat hy tot aan die einde met vreugde sal leef, sodat hy ook in sy sterwe vir U sal verheerlik. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen.”

“Amen!” sê Paulus en Lukas tegelyk.

Toe is dit tyd om te groet. Paulus omhels eers vir Lukas en toe vir Timoteus. “Dankie, baie, baie dankie vir jou gebed, my kind. Elke woord het in my hart gaan lê, en vannag, as ek alleen is, sal ek dit weer bid saam met jou. Maar moenie oor my huil nie, Timoteus. Wees saam met my bly, want môre stap ek oor na die hemelsale, waar ons Heer en Koning vir my wag. Ek is nie bang nie, want die Here hou my vas, soos jy nou vir my gebid het.”

Dis weer stil in die sel toe die deur toeklap. Paulus is kalm en tevrede. Die Here het hom versterk.




Farao vier sy geboortedag met ’n groot onthaal

Van ons Ou Testament redaksie

AVANIS. – Die farao het gister sy verjaarsdag luisterryk gevier toe hy al sy amptenare op ’n reusebanket onthaal het. Kos en drank was daar in oorvloed, en die danseresse het met hulle skoonheid en grasie die gaste van al hul sorge laat vergeet.

Die hoogtepunt van die onthaal was weer eens die openbare verhoor van die farao se persoonlike gevangenes. Vanjaar is daar twee baie prominente gevangenes voor die farao gebring: die hoofkelner en die hoofsjef van die paleis, wat al geruime tyd in die koninklike tronk aangehou is. Die sjef is ter dood veroordeel: hy moet aan ’n paal hang totdat die voëls sy bene kaal gevreet het. In ’n grootmoedige gebaar wat ’n dawerende applous uitgelok het, het die farao die hoofkelner begenadig en weer in sy pos aangestel. Hy het onmiddellik sy werk hervat en vir die res van die banket die farao bedien.

Die Bybelkoerant het na afloop van die fees ’n kort onderhoud met die gelukkige kelner gevoer. Hy het gesê hy is nie eintlik verbaas oor die uitslag nie. Hy het drie dae tevore ’n droom gehad waarin die gode hom verseker het dat hy in sy amp herstel sal word. Hy sê hy voel nogal sleg oor die sjef, want hulle het lank ’n sel gedeel en goeie vriende geword. Oor sy tyd in die tronk wou hy nie veel uitwei nie. “Dis ’n verskriklike plek daardie. Bid net dat jy nooit daar kom nie.”

 

Dawid steeds voortvlugtig; ontwyk koning Saul net-net

GORESA. – Dawid seun van Isai, sy ouers en sy hele familie asook talle meelopers het gister inderhaas hiervandaan na die Maonwoestyn gevlug. Dit volg op berigte dat die Siffiete sy skuilplek aan koning Saul verklap het.

Dit is al die hoeveelste wegkruipplek waaruit Saul vir Dawid gejaag het. Dawid het, nadat hy in onguns by die koning geraak het, eers in Gat gaan skuil, toe in die Adullam-grot, en daarvandaan na Mispe in Moab. Hy is kort daarna na die Geretbos in Juda. Daarvandaan het hy na Keïla getrek nadat hy die stad uit die mag van die Filistyne bevry het, maar ook daar het Saul hom uitgejaag, en hy het na bergskuilings in die Sifwoestyn gevlug. Later het hy hom hier in Goresa kom vestig.

Ons korrespondent in die koninklike leër berig intussen dat die soldate vir Dawid die bynaam “Vlakhaas” gegee het omdat hy elke keer uit ’n nuwe gat moet vlug. Een van die soldate het skertsend opgemerk: “Hy is so bang vir ons koning, as hy net die naam Saul hoor, hardloop hy al!”

 

VERRAAIER ONTSNAP

Van ons Nuwe Testament redaksie

DAMASKUS. – Saul van Tarsus het laasnag spoorloos verdwyn, ten spyte van uitgebreide maatreëls deur die Joodse gemeenskap hier om hom te vang sodra hy die stad probeer verlaat.

Saul, ’n Joodse rabbi, het enkele dae gelede uit Jerusalem na Damaskus gekom met aanbevelingsbriewe van die hoëpriester. Sy oogmerk was om aanhangers van “Die Weg” in hegtenis te neem en na Jerusalem te neem vir ’n verhoor voor die Joodse Raad.

Saul het hom met sy aankoms hier egter nie, soos verwag is, by die sinagoge aangemeld nie. Onbevestigde berigte lui dat hy by ene Judas van Reguitstraat tuis was. Hy is glo ook by byeenkomste van die sekte opgemerk. Voorts het hy die Jode woedend gemaak toe hy in die sinagoges die dwaalleer van die sekte, naamlik dat Jesus van Nasaret die Seun van God is, verdedig het. Dit het hulle laat besluit om hom te vermoor, maar nou het hy ontsnap.

“Die Weg” is ’n sekte wat onlangs in Jerusalem gestig is. Saul se veldtog in Jerusalem teen die sekte was só geslaag dat talle Jerusalem uit vrees vir hulle lewe verlaat het. Party van hulle het hulle in Damaskus kom vestig; gevolglik het die sekte nou ook hier die stad posgevat.

 


Om oor na te dink

Hoekom gaan dit soms met jou sleg? Daar is mense wat sal sê: dit is omdat jy nie naby genoeg aan die Here lewe nie. Die Here wil tog vir ons net die beste gee.

Maar dan moes dit mos met Josef ook net goed gegaan het! Hy het immers ’n onbesproke rekord in Egipte gehad. En tog beland hy in “hierdie gat”, soos hy die tronk noem (Gen. 40:15), al was die Here by hom. So lees ons in Gen. 39:21: “Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind …”

Ook van Dawid lees ons dat hy telkens weer “bang voor Saul (moes) wegvlug” (1 Sam. 23:26). Dit was ook Paulus se ondervinding ná sy bekering. En van hulle albei getuig die Bybel ondubbelsinnig dat hulle naby die Here geleef het.

As alles in jou lewe nie verloop soos jy dit graag wil hê nie, beteken dit nie dat God jou vergeet het of dat daar sonde in jou lewe is wat jy eers moet aflê voordat dit beter kan gaan nie. Dikwels (meestal) is daar nie ‘n eenvoudige verklaring vir jou swaarkry nie, behalwe dat dit deel is van die gebroke werklikheid waarin ons leef. En natuurlik, dat Satan sy bes doen om God se kinders seer te maak. Die regte vraag in lyding is nie: “Hoekom gebeur dit met my?” nie. Die regte vraag is: “Hoe gaan ek hierdeur kom?” Dáárop is daar ‘n antwoord. God belowe dat Hy jou nie in jou swaarkry sal los nie. Dit was immers Jesus se laaste woorde voor sy hemelvaart: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.... En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”




Evangelis het nou sy oog op Europa

Kerksakeredaksie
TROAS. – Die bekende sendeling en evangelis Paulus van Tarsus het gistermiddag op ’n nuuskonferensie hier aangekondig dat hy voornemens is om hom voortaan in sy sendingwerk op Europa toe te spits.

Paulus het gesê sy plan was eintlik om ’n sendingreis deur Asië te onderneem. “Ons was oorgehaal om eers Misië en dan Bitinië te besoek, maar die Heilige Gees het anders besluit. Ek het baie duidelike leiding van die Gees gekry om dit nie in hierdie stadium te doen nie, en ons was verplig om op die grens van Misië om te draai,” het Paulus gesê.

Volgens Paulus het hy ’n baie sterk roeping ontvang om die evangelie in Masedonië te gaan verkondig. Hoewel dit nie heeltemal sy beplanning is nie, sien hy nou baie daarna uit om die boodskap van Jesus Christus in Griekeland te verkondig. “Ek wil veral baie graag met die wysgere in Atene gesels,” het hy gesê. “En dan, eendag, hoop ek om ook nog by Rome uit te kom met die goeie nuus, mits God dit natuurlik in sy wysheid so beskik.”

Paulus word op sy sendinguitreiking vergesel deur twee medewerkers, Silas en Timoteus. ‘n Jarelange vriend, die geneesheer Lukas, het hom ook onlangs by hulle aangesluit. Hulle beoog om hulle eerste uitreiking op Europese bodem in die stad Filippi te doen.

  • Lees hoedat die Heilige Gees Paulus na Europa gelei het in Hand. 16:6-15.

Om oor na te dink

Sonder die wedergeboorte en die oortuigingswerk van die Heilige Gees in ons harte sou ons nooit Christus se verlossingswerk aanvaar en geglo het nie. En sonder sy leiding sou ons, koersloos en blind, vergeefs die pad agter die Here Jesus aan gesoek het. Hy het immers gekom om ons in die hele waarheid te lei, soos die Here beloof het in Joh. 16:13

In die woestyn het die Gees van God deur ’n wolkkolom die volk gelei. Sedert Pinkster woon Hy in elke gelowige. Ons liggame is nou die tabernakel van die Heilige Gees (1 Kor. 6:19,20).

Paulus het uitgevind dat die Gees soms anders lei as wat ons beplan. En daarmee moet elke gelowige deeglik rekening hou. Dit sal eers werklik Pinkster in jou lewe word as jy jou fyn instel, nie net om Hom te hoor nie, maar veral om Hom te gehoorsaam.