Geloofsgewoontes is nie ’n doel op sigself nie. Dit gaan daaroor dat dit jou moet help om God beter te leer ken – nie meer oor Hom te weet nie, maar meer intiem met Hom te leef.
Hoe gebeur dit?
Die eerste stap is om ’n manier te vind om nader aan God te voel. Hoe dit kan gebeur, sal natuurlik van mens tot mens wissel, maar stilte is onontbeerlik, glo ek. Die psalms het heelwat hieroor te sê. Soos ’n refrein klink dit op: “Wag op die Here.” Psalm 130 en 131 is hiervan by uitstek goeie voorbeelde. Wag op Hom totdat jy sy teenwoordigheid kan aanvoel.
Natuurlik, soos in alles, is daar ’n voorwaarde, soos die advertensies altyd sê: “T’s en C’s apply.” Die Here Jesus praat daarvan in Johannes 14:21 waar Hy sê: “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” Dit lyk my ’n mens kan beswaarlik verwag om die teenwoordigheid van die Here te beleef as jy nie gehoorsaam voor Hom leef en sy opdragte ernstig neem nie.
Maar terug by die stilte – hoe wag ’n mens op die Here? Ek noem dinge wat my help:
- Kies ’n tyd van die dag wanneer jy weet jy nie gesteur sal word nie.
- Kry ’n plek in jou huis of tuin of êrens waar jy alleen kan wees. Verkieslik moet dit altyd dieselfde plek wees, sodat jy dit met God se teenwoordigheid kan vereenselwig. Dit sal jou help om beter te fokus.
- Sit regop, oë toe, met jou handpalms na bo op jou knieë, of (en ek vind dit werk beter vir my) kniel.
- Kry ’n prentjie in jou gedagtes wat jy met die Here se teenwoordigheid assosieer, soos die troonsaal van die hemel met God op die troon, of ’n prent van Jesus, of die kruis, of die oop graf … enige prent wat jy met God se lewende teenwoordigheid vereenselwig.
- Fokus op dié prent terwyl jy wag. As jou gedagtes begin dwaal, dwing jouself om weer op die prent te fokus.
Die geheim is dat jy nie in beheer van die stilte sal wees nie, maar dat jy jouself sal oorgee daaraan, sodat God jou kan aanraak. Dan, en eers dan, sal jy gereed wees om God se stem te hoor.