Een van die eeue oue geloofsgewoontes is die sogenaamde Daaglikse Ondersoek (“Daily Examen”). Dit is ’n geestelike oefening waarin jy biddend terugkyk na die dag wat verby is, sodat jy van God se teenwoordigheid in jou lewe bewus kan word en sy leiding vir jou lewe kan onderskei. Dit is meer ’n ingesteldheid as wat dit ’n metode is; ’n tyd wat jy opsy sit om dankbaar na te dink oor waar en hoe God in jou daaglikse lewe teenwoordig is.
Daar is vyf stappe, en dit neem gewoonlik tussen 15 en 20 minute per dag. Die meeste mense doen dit saans voor hulle gaan slaap, maar party mense doen dit twee maal per dag; oor die middag-uur en saans. Die stappe is:
- Word stil in God se teenwoordigheid en vra sy lig. Dis ’n gebed dat jy na jou dag kan kyk deur God se oë, nie bloot jou eie nie.
- Sê dankie. Die dag wat jy pas gelewe het, is ’n gawe van God. Dank Hom daarvoor.
- Herbesoek jou dag. Gaan onder leiding van die Gees terug op jou spore van die afgelope dag en evalueer die gebeure en jou optrede sorgvuldig.
- Wees eerlik oor die tekortkominge in jouself en in jou lewe, en praat openhartig met God daaroor. Jy steek dit nie vir jouself óf vir God weg nie.
- Kyk vorentoe na die dag wat kom. Vra God se hulp waar jy dit nodig sal hê.