Markus Aurelius hou van sy werk, want dit gee hom ’n gevoel van mag. Sy hele lewe lank moes hy maak soos ander aan hom voorskryf. Eers het sy pa hom met ’n sambok geleer om te maak soos hy sê. Hy wou nie luister nie, totdat sy pa hom eendag byna doodgeslaan het met ’n gaffel. Hy sal daardie dag nooit vergeet nie, al word hy ook ’n honderd jaar oud, en hy was maar net tien toe dit gebeur het.

Die oorsaak van alles was eintlik ’n simpel ding, as hy nou daaraan terugdink. Sy pa wou hê hy moes die visafval uit die skuit spoel, en hy was nie lus nie. Hy wou ook soos die ander kinders ’n bietjie gaan speel. Hy was moeg van die hele dag op die see. Sy pa het hom altyd vir al die slegte werkies op die skuit gebruik, en hy het uitgesien na ’n bietjie tyd op sy eie. Maar toe hulle op die strand kom en hy uit die skuit spring, het sy pa gesê hy kan nie gaan nie, hy moet die skuit was. Dit was ’n groot werk en ’n stink een daarby, en hy het geweet hy sou nie voor donker klaar wees nie. Toe sê hy vir sy pa hy is nie lus nie.

’n Mens het nie vir sy pa nee gesê nie. Hy het dit goed geweet, maar daardie dag was hy te moeg en te lus vir speel om om te gee. Het hy maar liewer die skuit gewas! Want toe hy hom weer kom kry, staan sy pa langs hom op die strand, gaffel in die hand. Hy kon sommer in sy oë sien hier is nou gróót moeilikheid. “As ek vir jou sê jy doen iets, dan doen jy dit, mannetjie!” het sy pa geskreeu. Sy pa se asem was vrot in sy gesig – snaaks hoe hy dit óók so goed onthou – en toe het sy pa hom met die gaffel se steel getakel: oor sy kop, sy rug, sy bors, sy bene, sy arms, net waar hy ’n hou kon inkry. Hy het eers probeer keer, maar sy arms was later lam van die houe. Hy het geval, en sy pa het hom begin skop. Toe het alles gelukkig swart geword voor hom.

Toe hy bykom, was hy by die huis. Sy ma het hom vertel dat sy oom sy lewe gered het. Hy het sy pa gekeer, anders het hy hom beslis doodgeskop. Partykeer is hy spyt dat sy oom ingegryp het, want as hy dood was, sou hy nie so swaar gehad het daarna nie. Alles aan hom was stukkend en het kloppend gepyn. Maar diep binne-in het daar ’n woede gesmeul; ’n woede wat daarna dikwels uitgebars het. Dan het hy dit op die ander kinders uitgehaal, en toe hy groter en sterker geword het, op sy pa. Dit was ’n dag van soete wraak toe hy die vark geslaan het tot hy in sy bloed bly lê het.

Maar dit het nie die woede in hom laat bedaar nie. Dit het telkens weer opgevlam, sodat sy vrou en kinders baie goed weet hoe hard sy vuiste is.

Partykeer wonder hy hoe dit werk, want daardie dag toe sy pa hom byna doodgeslaan het, het hy besluit dat hy nooit ooit só sal optree teenoor sy eie kinders as hy eendag getroud is nie. Maar hier is hy, self ’n pa van drie, en in seldsame oomblikke van algehele eerlikheid moet hy dit aan homself erken: Hy is net soos sy pa was, hard, onverbiddelik, afknouerig.

Wat hom besiel het om soldaat te word, weet hy ook nie. Dalk was dit net ’n manier om weg te kom van sy pa se tirannie, want al het hy die ou man behoorlik opgefoeter, het dit nie die rolle by die skuit omgeruil nie. Toe word hy soldaat, en verruil die een tiran vir ’n ander. Sy offisier was ’n bullebak wat geglo het dat sy troepe op hulle plek gehou moet word. En as jy nie sy opdragte onmiddellik en presies uitgevoer het nie, het sy knuppel die praatwerk gedoen.

Dit was harde jare, daar aan die begin. Maar toe het sy groot kans gekom. Hy was al tien jaar lank soldaat toe hy uiteindelik bevordering gekry het. Hy het ’n onderoffisier in Herodes se lyfwag geword. Vir die eerste keer in sy lewe is hy nie net ’n ondergeskikte nie. Nou kan hy ánder mense beveel, en bewaar hulle siel as hulle nie spring as hy die woord sê nie.

Van die begin van die jaar af is dit sy taak om na die koning se gevangenes om te sien. Dit is die lekkerste van alles, want die gevangenes móét op hulle plek gesit word. Hulle is tog die skuim van die aarde. Hulle het om ’n rede in die tronk beland – hoekom iemand in die tronk is, maak vir hom nie in die minste saak nie – en daarom het hulle alle regte verbeur. Partykeer as die woede in hom oorkook, loop hy sommer van sel tot sel en ontlaai sy wrokkigheid op die bandiete. Hy het al ’n keer of wat te hard geslaan, of te veel, maar hy kan nie help as iemand nie die houe kan vat nie. En dan is dit in elk geval een minder om op te pas.

Die nuutste klomp gevangenes is vir hom ’n raaisel. Hulle is nie die gewone soort tronkvoëls nie; nie harde, ruwe mense wat terug vloek as hy op hulle skree nie. Hulle is ordentlike mense. Nasareners. Sy pa het ook op sy oudag ’n Nasarener geword en – so het sy ma in elk geval gesê – sy hele lewe het verander. Hy het opgehou vloek en skel; hy het haar nooit weer geslaan nie; hy was hoflik teenoor almal. Skynheilige vark! Seker maar die ouderdom wat die oubaas se kop aangetas het. ’n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie. Dit het die lewe hom geleer. Daarom is hy baie wantrouig teenoor die Nasareners. Herodes het opdrag gegee dat hulle nie saggies behandel moet word nie, en daarom loop hy gereeld ’n paar van hulle by. As hy een klap dat sy kop ruk en die bloed begin loop, sien hy sy pa voor hom, en dan haal hy ekstra uit, net om sy pa terug te kry.

Miskien is dit tyd om die leier van die klomp Nasareners in die tronk ’n les of twee te leer. Hy kyk na die knuppel wat teen die muur hang, en staan ’n rukkie besluiteloos. Nee, dis te maklik. Hy sal sy kaal hande gebruik, dat hy kan voel hoe die houe tref. Dis meer bevredigend.

Die leier is alleen in ’n sel opgesluit, nie saam met sy vriende nie. Hy het so besluit. Uit ondervinding weet hy dis swaarder om alleen in die donker sel te sit, sonder geselskap. Toe hy by hom kom, sien hy die man staan op sy knieë. Natuurlik weer besig om te bid. Die woede kook sommer oor en hy spoeg in die man se gesig. “Jy! Staan op as ek inkom!”

Die man staan onmiddellik op en kyk hom in die oë. Die kettings aan die boeie om sy hande en voete klingel soos hy beweeg. Hoe kry die man dit reg om te maak presies soos hy beveel sonder om kruiperig te wees? Daar is iets in die man se oë, iets wat hy nie kan peil nie. Dis ’n sagtheid, ’n deernis. Dit lyk kompleet of die man vir hóm jammer is!

Hy sal hom wys wie die bejammerenswaardige een van hulle twee is! Met al sy mag haal hy uit en slaan die man vol op die neus. Hy grom tevrede as hy hoor hoe sy neus breek en sien hoe die bloed onmiddellik begin uitstroom.

Die jammerte wyk nie uit die man se oë nie, al traan hulle van die pyn. Hy spoeg ’n gebreekte tand uit. “Hoekom het jy my geslaan?” vra hy sag.

“Hier vra ék die vrae, nie jy nie.” Weer swaai sy vuis en tref die man in die maag, sodat hy dubbel gevou en winduit voor hom staan. Markus lig sy knie. Dis ’n voltreffer, tussen die man se oë, en hy steier dronkerig agteruit sodat sy kop die klippe van die selmuur met ’n dowwe slag tref. Die man sak stadig teen die muur af.

Hy vee die bloed met sy kleed se soom van sy gesig af. “Wat is jou naam?”

“Markus Aurelius, jou ergste nagmerrie,” grynslag hy. Dit is teen sy beginsels om ’n gesprek met ’n gevangene te voer, maar sy nuuskierigheid is tog geprikkel. “Hoekom wil jy weet?”

“Ek wil vir jou bid, want Jesus kan jou help.”

Markus bars uit van die lag. “Vir mý help? Dis ’n grap! Dis jý wat hulp nodig het, ou maat, nie ek nie.”

“Nee, dis jy. Hierdie sel, hierdie boeie – dis maar net my liggaam wat ’n gevangene is, maar ekself is vry. Maar jy is nie vry nie, al loop jy sonder boeie rond en al kan jy min of meer doen soos jy lus kry. Jy is ’n gevangene; ’n gevangene van jouself, van jou woede, van jou sondeskuld. Jy probeer daarvan wegkom en daarvan vergeet, maar dit bind jou vas, dag vir dag.” Hy lig sy arms op. “Jy is die een wat geboei is deur boeie baie erger as hierdie, want hulle sit nie om jou arms en bene nie. Hulle sit om jou siel. Dis dié dat ek vir jou wil bid.”

Weer daardie liefde en deernis in die oë. Dit gaan hom nog van sy kop af maak. Hy sal dit uit hom uitfoeter! Hierdie keer tref sy vuis die man teen die kant van die kop, en hy sak bewusteloos op die selvloer neer. So ja, dit sal hom leer om astrant met hom te praat.

Hy sluit die seldeur agter hom en stap uit na buite, na die warmte van die son en die vars lug. Hy, ’n gevangene! Van al die sothede wat hy al in sy lewe gehoor het, span dit die kroon. Sy kneukels pyn dof van die houe wat hy die man toegedien het, en hy grinnik tevrede. Dié man sal nog leer wie is vry en wie is in boeie. Hierdie vuiste van hom sal die jammerte uit daardie twee oë moker totdat die man om genade begin smeek.

Die hele dag is hy uit sy humeur, en almal om hom moet dit ontgeld. Sy vrou en kinders ook. Hy is nie lus vir nonsens nie. Maar toe hy sy oë toemaak om te slaap, bly die slaap hom ontwyk. Hy sien die hele tyd die man voor hom, waardig ten spyte van die boeie, en die oë vol deernis bly by hom spook, sodat hy die volgende oggend moeg en gefrustreerd opstaan en tronk toe loop sonder om ’n woord met sy vrou te praat. Hy sal nie rus voordat hy die man ingebreek het nie.

Dit lyk of die man vir hom gewag het, want toe hy die seldeur oopmaak, groet hy vriendelik. “Goeiemôre, Markus Aurelius. Ek het goeie nuus vir jou! Jesus het vannag aan my verskyn, toe praat ek met Hom oor jou. En weet jy wat sê Hy vir my? Hy sê vir my Hy het jou lief.”

Markus het hom voorgeneem hy gaan nie weer met die man praat nie, want dit krap hom net om, maar voor hy homself kan keer, grom hy: “Niemand het my lief nie, want ek is ’n woeste en wrede man. Mense is bang vir my en bly uit my pad uit. Hulle het my nie lief nie. En as jy weet wat goed is vir jou, sal jy dit in gedagte hou voordat jy weer ’n klomp snert kwytraak.”

Hy weet nie wat met hom aangaan nie. Hy slaan nie die man se oë toe, soos hy van plan was om te doen nie. Hy draai net daar om en stap terug na sy kantoor. Hy skree op sy bewaarders en klap ’n paar van hulle deur die gesig, maar dit help niks. Die man se woorde bly klink in sy ore. “Hy sê vir my Hy het jou lief.”

Toe hy hom weer kom kry, staan hy in die sel. “Wie is dié Jesus van wie jy praat, wat my kamtig liefhet?” vra hy bars.

“Hy is my Here, die Here van die hele wêreld. Hy is deur God gestuur om ons te kom red. Daarvoor het Hy met sy lewe betaal, want Hy het ons sondeskuld op hom gevat en die straf van God vir ons, in ons plek, betaal. Nou kyk God na ons, en Hy sien nie ’n man vol sonde nie; Hy sien ’n verloste mens, skoon en vry van die sonde. Hy sien ’n kind van Hom!”

“Dis die grootste spul onsin wat ek nog ooit gehoor het. Niemand sal bereid wees om mý skuld op hom te neem en in my plek daarvoor te betaal nie. Niemand nie. Daarvoor is ek ’n te groot sondaar.”

“Dis ongelooflik, nè. Maar dis waar! God het die wêreld so lief dat Hy sy enigste Seun, Jesus, gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan word. Jy ook, Markus Aurelius. God het jou ook lief, al verstaan jy dit nie. Hy wil hê jy moet in Hom glo, en in sy Seun, Jesus van Nasaret, wat Hy gestuur het om jou vry te koop van jou skuld. Hy het mý vrygekoop. Hierdie boeie kan maar net my liggaam vasketting, maar my siel is vry, want Jesus het my vrygemaak. Hy wil jou ook vrymaak.”

Markus gaan sit verbysterd op die selvloer en luister. Niemand het nog ooit só met hom gepraat nie, so asof hy belangrik is, asof hy vir hom omgee nie. En op ’n manier verstaan hy wat die man vir hom sê, wéét hy van die skuld wat hom vasketting, van die gewig van die sondelas wat hom platdruk, gevange hou. Wat hy ook kan aanvoel, is dat hierdie man die waarheid praat. Hy kan die vrede in die man se gemoed aanvoel. Dit hang soos ’n wolk om hom, sodat jy dit dadelik ervaar as jy by die sel instap. Is dit nie presies wat hy van die begin af aangevoel het, wat hom van die begin af omtrent hierdie man opgeval het nie?

Die trane begin oor sy wange loop. Daar is tóg iemand wat hom liefhet, al is hy ’n skurk. En die man hier langs hom het hom ook lief, al het hy van die begin af sy lewe hel gemaak. Hy skud sy kop.

“Dit kan nie wees nie. Dit kan nie wees nie,” snik hy oor en oor.

“Kyk na my, Markus!” sê die man.

Markus kyk op, in daardie helderblou oë, en sien dit is waar. “Wat moet ek doen, Meneer? Wat kan ek doen om ook soos jy te word?”

“Glo jy dan dat Jesus die Verlosser is, die Messias, die Een wat van God gekom het om jou ook te red?”

Markus knik net deur sy trane.

“Vat dan jou sondeskuld na die Here Jesus toe, en vra dat Hy dit sal wegvat, dat Hy jou Verlosser sal word. Dan sal Hy jou lewe skoon maak, en nuut maak, sodat jy vry kan wees van die dinge wat jou so vasdruk.”

Markus kom op sy knieë en bid vir die eerste keer in sy lewe: “Here Jesus, ek is ’n skurk en ’n bullebak. Red my, asseblief!”

Dis of daar ’n swaar vrag van sy skouers afrol. Hy voel hoe die las van sy gemoed afgehaal word, hoe daar vrede in sy hart kom. Verwonderd kyk hy op, in die man voor hom se vriendelike gesig.

“Ek weet nie eers wat u naam is nie, Meneer.”

“Ek is Jakobus seun van Sebedeus.”

***

Elionaeus, die hoëpriester, glimlag ingenome en lig sy beker na Herodes. Hy is op uitnodiging van die koning by ’n groot banket in die koninklike paleis in Jerusalem om Herodes se tweede jaar as koning te vier. Elionaeus is heimlik baie in sy skik, want Herodes is besig om ’n groot kopseer vir hom op te los sonder dat hy of die Joodse Raad ’n vinger hoef te verroer. Sedert die inhegtenisnemings begin het, is daar ’n hele uittog van Nasareners uit die stad; ’n uittog soos laas gesien is toe die jong Fariseër Saul van Tarsus onder hulle ingeklim het. Daar was nou vir jou ’n man met potensiaal! Dis werklik jammer hy het langs die pad koue voete gekry, anders was hy seker teen dié tyd een van die voorste geleerdes in die stad en het hy rabban Gamaliël opgevolg.

Herodes buig oor na sy kant toe en sê: “Ek het gedink ’n geskenk aan my lojale onderdane sal baie gepas wees op ’n dag soos dié, of hoe dink jy, my liewe Elionaeus?”

“Watter soort geskenk het u in gedagte gehad, U Majesteit? Dalk ’n nuwe toevoeging tot die tempel?”

“Ek kan beswaarlik verbeter op my oupa se bouwerk. Nee, ek het iets beters in gedagte; ’n plan wat ek by my suster Herodias gekry het. Kan jy raai wat dit is?”

Elionaeus kan maar net te goed raai. Iemand se kop gaan rol, letterlik. Die onthoofding van die woestynprediker Johannes die Doper op aandrang van Herodias is nog redelik vars in sy geheue, al het dit meer as ’n dekade tevore gebeur. Sy maag trek op ’n knop, want met hierdie familie weet jy nooit. Wie se kop sal dit hierdie keer wees? Maar hy sluk sy ongemak weg en glimlag vir die koning. Hy wil nie die man se pret bederf nie en antwoord: “Nee, U Majesteit, daar het u my. Wat is die geskenk wat u in gedagte het?”

“Ek sal jou ’n leidraad gee: ’n feesmaal, ’n jongmeisie wat pragtig dans, en ’n beloning daarvoor, selfs al is dit die helfte van die koninkryk. Kan jy nou raai?”

“A, u praat nou van Johannes die Doper wat onthoof is!”

“Reg geraai,” lag Herodes in sy skik. “Nou ja, ons het hier ’n feesmaal, en ek het ’n baie lastige gevangene van wie ek, en ek glo jy ook, ontslae wil raak. Hoe sal jy daarvan hou as ek vir jou as ’n geskenk die kop van Jakobus seun van Sebedeus in ’n skottel laat kom, net soos my suster destyds gevra het?”

Elionaeus sluk die naarheid wat in sy keel begin opstoot, vinnig weg. Hy hou nie van die man se wreedaardige maniere nie, maar dis hoogs effektief, dit moet hy hom toegee. Met dié teregstelling sal hy beslis die guns van baie Jode wen. En dit pas die Joodse Raad soos ’n handskoen. “Wat kan ek sê, U Majesteit? U is ’n genie. Wie anders sou só ’n briljante geskenk kon uitdink?”

Herodes wink Blastus, sy persoonlike sekretaris, nader en fluister iets in sy oor. Dié knik en maak hom vinnig uit die voete. Dan draai Herodes na Elionaeus en knipoog vir hom, terwyl hy sy vinger oor sy keel trek en sy tong met groot gebaar by sy mond laat uithang.

’n Halfuur later kom die sekretaris weer die banketsaal binne met ’n silwer skottel in sy hande. En op die skottel staan nie net een kop nie, maar twee; een met ’n welige baard, die ander gladgeskeer.

“En dit?” bulder Herodes. “Van wanneer af het die man twee koppe?”

Blastus sit die skottel met die grusame inhoud voor die koning neer. Hy grynslag terwyl hy verduidelik: “Dié een met die baard is die kop van Jakobus, soos u versoek het, U Majesteit. En hierdie gladgeskeerde gesig het behoort aan die man wat hom moes bewaak, Markus Aurelius. Hy het geweier om Jakobus se kop af te kap, want hy het gesê die man se getuienis het hom oortuig dat Jesus die Messias is. Hy het besluit om ook een van hulle te word.” Die sekretaris haal sy skouers op. “Wat moes ek doen? Ek het toe maar sy kop ook vir u gebring. Ek hoop nie u is ontevrede nie.”

“Blastus, jou ou doring!”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.