JERUSALEM. – ’n Bekende geleerde in die stad, prof. Astro Noom, het kongresgangers hier laat regop sit met sy stelling dat die ganse heelal omtrent 15 duisend miljoen jaar gelede uit ’n ontsaglike ontploffing van energie ontstaan het. Dié sg. “oerknal” is volgens hom die oorsprong van alles wat ons vandag kan waarneem en as “die heelal” beskryf. Prof. Noom het gepraat op ’n kongres oor die oorsprong van die aarde wat vandeesweek hier gehou word.
Teoloë is erg verdeeld oor prof. Noom se teorie. “Die Bybel leer tog uitdruklik dat die aarde in ses dae gemaak is, en daarom klink stellings soos dié vir my na heiligskennis,” het ’n duidelik-ontstelde grysaard opgemerk. Maar daar was ook teoloë wat gesê het prof. Noom se teorie maak sin. Die Bybel praat daarvan dat lig die heel eerste ding is wat God gemaak het, en dit pas goed in by die gedagte dat alles met ’n ontploffing van lig-energie begin het.
Waaroor teoloë wel saamstem, is dat daar iewers op ’n stadium ’n begin van alles was. En vóór die begin was daar selfs nie tyd of ruimte of lig of donker of koue of warmte nie. Daar was net niks. Een kongresganger het opgemerk: “My kop staan stil as ek daaroor dink.”
- Lees meer hieroor in Genesis 1.
Om oor na te dink
Jy begin vandag met ’n nuwe Bybelreis. Miskien is dit daarom goed om weer ’n slag stil te word met die wonderlike troos dat God die God is van nuwe beginne. Hy kan iets nuuts begin waar alles vir ons verlore of hopeloos lyk. Miskien is jou moed laag. Miskien lê daar uitdagings voor wat vir jou te groot voel om te hanteer. Onthou dan: God kan wondere doen! Hy het aan die begin uit niks ’n heel nuwe wêreld gemaak. Hy kan ook deur sy wondermag in jóú lewe iets nuuts begin. Hy kan in sy wondergenade vir jou deure laat oopgaan waarvan jy nooit eens kon droom nie! Dit het Dawid laat uitroep: “U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is” (Psalm 16:11). Hy kan vir jou vreugde en vrede bring wat alle verstand te bowe gaan. Vandag kan vir jou die begin wees van ’n nuwe lewe – ’n lewe waarin God telkens op ’n nuwe wyse werk. Glo dit! Leef daaruit! Van vandag af!