‘n Vriend sê anderdag moderne mense kan nie meer subtiliteit hanteer nie. Daarom, onder andere, is die seks- en geweldtonele in flieks al meer eksplisiet. Daarom is die musiek by rock shows al harder. Daarom moet die dominees al meer truuks uithaal om mense se aandag te behou.

Ek lees dat die woord om dit te beskryf, anhedonie is. Hedonie is die vermoë om iets te geniet. Anhedonie is die toestand waarin jy niks meer geniet nie, want niks stimuleer meer jou voos-gebombardeerde brein om iets as genotvol te ervaar nie. Dis iets wat veral jongmense vandag tref, omdat hulle oorgestimuleer is en word deur die tegnologiese era. Ons word eenvoudig oorlaai deur impulse, en dit stomp ons af. Daarom die baie beskrywende reaksie van jongmense op feitlik alles: “whatever”.

Die hartseer is dat dié afstomping ons almal in ‘n mindere of meerdere mate raak. Dis dalk hoekom mense sukkel om die Bybel te hanteer. Hulle is afgestomp. Hulle het die Bybel al so baie keer hanteer; hulle het dieselfde gedeeltes al soveel keer gelees; niks is meer nuut of verrassend nie. Die feit dat dit God se Woord is, dat Hy aan die woord kom deur die woorde van die Bybel, is nie meer ontsagwekkend nie. Dit raak hulle nie. Been there, done that.

Wat maak jy om dit te keer? Hoe kan jy ook, soos die Jode in Nehemia se tyd (lees gerus Nehemia 8), só deur die aanhoor van die Woord geraak word dat jy bewoë word? Kan dit nog?

Dalk is deel van die oplossing om nie net die Woord te lees nie, maar tyd te maak om dit te oordink. Dis wat die man van Psalm 1 gedoen het. Ons moet tyd maak om daaroor te peins, te vra wat God wil sê deur die Woord. Watter boodskap, en watter opdrag gee Hy my, wat moet ek maak met die gedeelte wat ek gelees het?

Ons, wat oorgestimuleer is, moet vandag harder werk om aangeraak te word, diep getref te word deur die Bybel. Ons het dit tog al gehoor. Dis die ou-ou tyding. Wat nuuts kan daar tog nog wees wat ek nie al ‘n honderd keer of meer gehoor het nie? Maar moenie die werk van God deur sy Gees onderskat nie. Dis immers sý Woord, wat weer lewend word wanneer ons dit lees. Mits ons bereid is om fyn te luister.

image_pdfimage_print

Views: 61

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.