Waar kruip rabbi Jesus se volgelinge weg?

Van ons Godsdiensverslaggewer
JERUSALEM. – Die vraag wat op almal in die stad se lippe is, veral noudat die pinksterfees op hande is, is wat van rabbi Jesus se dissipels geword het.

Nadat hulle rabbi sowat ses weke gelede gekruisig is, het sy dissipels na Galilea teruggekeer, maar nie voordat hulle ’n groot konsternasie veroorsaak met bewerings dat hulle rabbi uit die dood opgestaan het nie. Die Joodse Raad het egter destyds, ná ’n noukeurige ondersoek, ’n verklaring uitgereik dat die dissipels hulle meester se liggaam stilletjies uit die graf verwyder het. Daar was immers allerlei bewerings dat Jesus voorspel het dat hy uit die dood sou opstaan. Die soldate wat die graf in opdrag van goewerneur Pilatus moes bewaak, het die Raad se verklaring beaam. Die volgelinge van Jesus het dit egter heftig ontken en volgehou dat hulle rabbi leef. Hulle kon egter nie tasbare bewyse aan Die Bybelkoerant verskaf om dié wilde bewering te staaf nie.

In ’n onlangse verwikkeling is van die dissipels weer in die stad opgemerk. Hulle het glo Donderdag op die Olyfberg saamgetrek om finaal van hulle rabbi afskeid te neem. Daar word beweer dat Jesus by dié geleentheid ten aanskoue van sy volgelinge lewendig in die hemel opgeneem is.

Die Bybelkoerant soek egter intussen tevergeefs na die volgelinge. Dit is bekend dat hulle baie gereelde feesgangers is, en daar is allerweë verwag dat hulle die pinksterfees ook sal bywoon. Hoewel hulle Donderdag op die Olyfberg opgemerk is, is hulle sedertdien skoonveld. ’n Inwoner van die stad wat annoniem wil bly, het aan Die Bybelkoerant bevestig dat hulle steeds in die stad is. Hulle is glo besig met ’n gebedswaak. Die bron weet nie hoe lank dié gebedswaak sal duur nie, en wou ook nie bekend maak presies waar dit gehou word nie. “Die mense is baie lugtig vir die Joodse Raad en verkies om uit die oog te bly,” het hy gesê.

Om oor na te dink

Op daardie heel eerste Pinkstersondag is die kerk gebore (Handelinge 2:37-42). Dit vier ons tot vandag toe nog elke jaar met pinksterfees. Dat dié grootse gebeurtenis, wat die geskiedenis van die ganse mensdom verander het, nie sommer uit die bloute plaasgevind het nie, maar voorafgegaan is deur die volhardende gebed van die eerste volgelinge, moet ons nie uit die oog verloor nie.

God kon natuurlik sy Gees gestuur het sonder dat die dissipels gebid het, maar Hy doen dit nie. Want hulle gebede het nie net daarom gegaan dat hulle daarmee God voortdurend herinner het aan sy belofte nie. Dit het ook – verál – gegaan daaroor dat die volhardende gebede die dissipels voorberei het vir die koms van die Gees. Dit het hulle ontvanklik gemaak vir God se werk in hulle lewe.

Ons lees op talle plekke dat Jesus iewers na ’n stil plek gegaan het om te bid, soms selfs die hele nag deur. Dit het Hy gedoen voordat Hy sy eerste dissipels gekies het (Lukas 6:12-16), en ook voordat Hy Homself oorgegee het om gekruisig te word (Lukas 22:39-42).

Hy het dit ook vóór sy dood dikwels beveel (Lukas 11:9): “Bid, en vir julle sal gegee word.” Kyk gerus ook na Lukas 18:1 en 21:36.

Dáárom Jesus se opdrag by sy hemelvaart dat sy volgelinge moes “bly wag op die gawe wat die Vader belowe het” (Handelinge 1:4). Daarom ook die herhaalde opdrag elders in die Bybel: “Bid gedurig” (1 Tessalonisense 5:17). “Volhard in gebed” (Kolossense 4:2 en Efesiërs 6:18). Kyk ook wat skryf Jakobus oor gebed in Jakobus 5:13-18.

Dalk bid ek en jy te min? Dalk is dit die rede hoekom ons nie altyd gereed is om God se seëninge te ontvang nie?

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar