Efes 5:18-20

Dis ’n merkwaardige woord wat Paulus hier aan die gemeente skryf: Laat die Gees julle vervul … Dis tog immers aan gelowiges wat hy hier skrywe, soos 1:1 uitdruklik sê: Aan almal … wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. Is dit dan nie so dat ons wat aan God behoort en in Jesus Christus glo, reeds die Heilige Gees as gawe ontvang het nie, en dat Hy reeds in ons woon nie? Dit kan dus nie beteken dat hierdie gedeelte ons oproep om die Heilige Gees te vra om in ons harte te kom woon nie. Dit was tog sý oortuigingswerk in ons wat ons denke so verander het dat ons die Here Jesus as Verlosser aangeneem het. Die Bybel sê immers dat niemand kan sê dat Jesus die Christus is, as die Heilige Gees dit nie vir hom gegee het om te sê nie. Hy woon reeds daar, sedert ons tot geloof gekom het. Met Pinksterdag is die Heilige Gees eens en vir altyd uitgestort, en Hy woon nou in die kerk en in die harte van almal wat glo.

Iemand wat aan Christus behoort, hét reeds die Heilige Gees ontvang. Dit sê die HK vr 53 (oor wat ons glo van die Heilige Gees) ook baie duidelik: Die Heilige Gees is ook aan my gegee, sodat Hy my deur ’n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, my troos en ewig by my bly. En tog sê die Bybel in ons teksvers: Laat die Gees julle vervul. Want hoewel die Heilige Gees in elke gelowige woon en werk, beteken dit nie dat alle gelowiges outomaties ook met die Gees vervul is nie. Baie gelowiges se lewens is van so ’n aard dat die sondige natuur, hulle eie ek, in werklikheid nog die botoon in hulle lewens voer.

Maar wat sou hierdie opdrag dan beteken: Laat die Gees julle vervul? Beteken dit dat daar ná ons bekering nog ’n verdere stap is waarna ons moet strewe, wat ons moet soek, nl die vervulling met die Heilige Gees, of die Second Blessing, die sg Doop met die Heilige Gees? Dit kan ook nie wees nie, want as ’n mens na die oorspronklike Grieks kyk waarin hierdie gedeelte geskryf is, dan praat die Bybel hier nie van iets wat net een maal met jou moet gebeur, en dan is dit klaar nie, maar iets wat voortdurend moet gebeur, aanhoudend, aanmekaar moet gebeur, ’n proses is. ’n Mens sal hierdie vers ook kan vertaal: Laat die Gees julle altyd weer vervul.

Wat die Bybel hier van ons vra, is dat ons ons gedurig tot beskikking van die Heilige Gees moet stel, dat ons ons gedurig daarop moet instel dat die Heilige Gees die beheer oor ons lewens kan oorneem, dat Hy ons lewens kan lei – dat die Gees ons só moet vul dat ons as mense van die lig sal lewe (vs 8), dat ons vol sal wees van die dinge van die Here, dat ons gedurig daaroor sal dink en praat, bewus sal wees van sy leiding in ons lewens.

Uit die gedeelte wat ons saam gelees het, is dit dadelik duidelik. Om met die Gees vervul te wees, beteken ’n lewe wat in alles ingestel is op God en sy wil. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is … (vs 10). Wees baie versigtig hoe julle lewe (vs 15). …probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen (vs 17).

Jy sien, om toe te laat dat die Gees ons vervul, beteken om jou in te stel op die leiding van God in jou lewe; om die Heilige Gees, wat reeds in jou woon, toe te laat om jou lewe te lei en te rig op God en sy wil vir jou lewe. Want dit is tog wat Hy kom doen het in die kerk en in ons lewens: Om die wil van God aan ons duidelik te maak, om ons te help om God beter te leer ken, om die rykdom van ons erfenis in Jesus Christus beter te begryp, soos Paulus so aangrypend bid in 1:17,18. Só word God se plan om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus (1:10) ook in óns lewens uitgewerk.

Laat ek ’n beeld gebruik om dit te verduidelik. Toe die FM-radio’s net ingekom het – en die meeste van u sal dit seker beter as ek onthou – het die radio’s nie op die stasie gebly nie. ’n Mens moes kort-kort weer die radio op die stasie instel. Toe kom daar ’n nuwe ontwikkeling wat hulle AFC genoem het: automatic frequency control. Dié stelsel het die radio outomaties op die stasie gehou. Nouja, ons kom nie uit met AFC in ons geestelike lewe ingebou nie. Ons kan maklik uit voeling raak met wat God sê en wat Hy wil. En dít wil die Gees in ons doen: ons skerp ingestel hou op God se leiding, sodat ons vir Hom kan bly lewe as mense van die Lig.

Hierdie werk het die Heilige Gees natuurlik reeds in ons begin. Daarom is ons tog kinders van God, omdat Hy ons op God gerig het en ons iets gesnap het van die ongelooflike wonder van sy liefde. Maar hierdie werk wil die Gees elke dag in ons lewens voortsit. Dit is nie iets wat een keer gebeur en dan is jy finaal vervul met die Heilige Gees nie. Dit is iets waarop jy jou daagliks weer doelbewus moet instel. Die werk van die Gees in ons lewens is ’n proses wat jou lewe lank duur, waarmee jy ook nooit klaar is nie.

En kyk net wat gebeur met ’n mens as die Gees jou vervul (vs 19,20):

  • So ’n mens se lewe word ’n lied, hy begin sing! … sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. ’n Mens wat met die Gees vervul is, is ’n bly mens, ’n bruisende mens, ’n borrelende mens, vol blydskap en vreugde oor die wonder van aan God te kan behoort.
  • Maar hy is ook nog veel meer: ’n Mens wat deur die Gees vervul is, is ook ’n dankbare mens, iemand wat God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus … dank, omdat hy deur die werk van die Heilige Gees geleer het om God se liefde in Christus Jesus in sy eie lewe en in die wêreld raak te sien en te verstaan. Hoe beter ons God se liefde vir ons verstaan, hoe groter sal die entoesiasme en dankbaarheid in ons lewens wees. En hoe ’n behoefte het ons nie daaraan nie!

Die Woord roep ons vandag op om daagliks onsself tot die Gees se beskikking te stel, sodat Hy ons lewens só kan vul, dat ons met ’n lied op ons lippe en met dankbaarheid in ons hart elke dag die seëninge van God kan belewe.

Laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 178

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.