Van ons godsdiensverslaggewer
JERUSALEM. – Die verkeer in die stad is gisteroggend op die pinksterfees tot stilstand gedwing toe duisende mense in die straat voor die vergaderplek van die dissipels van Jesus van Nasaret saamgedrom het. Al die dissipels was besig om God te prys oor die gawe van die Heilige Gees wat hulle dié oggend ontvang het.

Die skare was verdeeld oor wat presies die dissipels se vreemde optrede kon beteken, en party het selfs gespot dat die klomp dronk is. Toe die leier van die groep, Simon bar Jona, ook bekend as Petrus, egter op ’n kis klim en die skare toespreek, het ’n doodse stilte oor die mense toegesak. Dit was dadelik duidelik dat hy ’n boodskap het om oor te dra.

In ’n kragtige boodskap het hy getuig dat Jesus van Nasaret, wat enkele weke tevore gekruisig is, die beloofde Messias van God is. Hy is na sy kruisiging deur God uit die dood opgewek. Tien dae gelede het hy na die hemel opgevaar om sy plek aan die regterhand van God in te neem. Hy het belowe om die Heilige Gees in sy plek te stuur om by die dissipels te bly. Dit is wat inderdaad gebeur het: die Heilige Gees is uitgestort op al sy dissipels. Daarom, en nie omdat hulle dronk is nie, dat hulle so anders optree. Petrus het sy preek met hierdie woorde afgesluit: “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Die skare was diep getref deur sy boodskap en wou weet wat hulle moet doen. Petrus het geantwoord: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en sal julle die Heilige Gees as gawe ontvang.” Talle mense het gereageer, en omtrent drie duisend het hulle laat doop. Hulle is onmiddellik in die dissipelkring opgeneem, en het die res van die dag daar gebly om meer van Jesus te leer en om God te prys.

Vir hierdie drie duisend sal pinksterfees nooit weer bloot ’n oesfees wees nie. Hulle lewe is immers op dié dag verander.

Om oor na te dink

Die uitstorting van die Heilige Gees bly ’n wonder waaroor gelowiges alleen maar in diepe ootmoed voor God kan buig. Daardeur het God self immers by sy kerk en in sy kinders kom woon.
Pinksterfees is daarom minstens net so ’n belangrike fees as Goeie Vrydag. Sonder die verligting en die oorredingswerk van die Gees van God sou niemand Jesus se woorde en sterwe ter harte geneem het nie, en sou ons almal verlore wees. “Niemand kan sê: ‘Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees,” skryf Paulus in 1 Kor. 12:3.
Laat tog die Gees van God toe om ook vandag met sy heerlike werk in en deur jou lewe voort te gaan!

image_pdfimage_print

Views: 15

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.