So ‘n jaar of vyf gelede was ‘n baie gewilde item op die Christelike winkelrakke allerlei artikels met die letters WWJD daarop aangebring: armband, hangertjies, gordels, T-hemde, pette, Bybelsakke… Ek lees anderdag die grappie van die man wat in die Christelike boekwinkel is en vir die assistent vra waarvoor staan die letters WWJD op die pette wat hulle verkoop. Sy sê toe dit is om jou te help om te weet wat die regte ding is om te doen in ‘n bepaalde situasie, want dit staan vir “What Would Jesus Do”. Waarop die man antwoord: “Jesus sou nie R129,95 vir daardie pet gevra het nie.”
Inderdaad. Wat sou Jesus gedoen het? Hoe kan ‘n mens weet? Dis natuurlik wonderlik om jou lewe te wil laat lei deur die voorbeeld van Jesus, maar om te weet wat Hy in ‘n bepaalde situasie sou gedoen het, is nie so eenvoudig nie, en een van die redes daarvoor is dat ons Hom nie so goed ken soos ons behoort of dink nie. Ons lees nie genoeg oor Hom nie; ons fokus nie genoeg op Hom nie; ons praat nie genoeg met Hom nie; ons luister nie genoeg na Hom nie. Kortom, voordat jy ‘n intuïtiewe aanvoeling kan kry oor wat Jesus sou gedoen het as Hy in jou skoene was, moet jy ‘n baie diep, innige verhouding met Hom hê.
Een van my kleingroepleiers het opgemerk, toe ons praat oor wat dit beteken om navolgers van Jesus te wees, dat ons dan baie meer van die Evangelies moet maak. Dit is immers dáár wat ons van Hom lees, Hom ontmoet in sy woorde en dade en passies, sy omgee en sy verontwaardiging oor dinge wat verkeerd is in die kerk, sy gefokusdheid op sy Vader se wil vir sy lewe.
Ek dink ons moderne mense sukkel met hierdie een, want daar is so baie ander eise en aansprake op ons tyd en aandag wat van verskillende oorde op ons afkom, dat die tyd dikwels ontbreek om aan ‘n dieper verhouding met die Here Jesus te werk. Dit is nie maar genoeg om te bid: “Jesus, wees U die Koning in my lewe, Amen,” en daar gaan jy nie. Dit gaan om ‘n daaglikse verdieping in God se Woord, in besonder die Evangelies waar ons Jesus se woorde en dade kan volg en Hom so beter kan leer ken.
Ek het besluit om elke dag, as deel van my stiltetyd, ook ‘n gedeelte uit een van die Evangelies te lees om my te help om Jesus beter te leer ken. Vanoggend lees ek in Johannes 2:1-11 hoe Jesus ‘n bruidegom uit sy penarie gehelp het deur nog wyn te maak. Wie van ons sou kon dink dÃs wat Jesus sou doen?
Wys jou net. Ons ken Hom nooit só goed dat Hy ons nie kan verras nie. En dalk, as ons Hom al beter leer ken, neem Hy ons óók op hierdie verrassende paaie van blydskap en die lewe vier.
DÃs waaroor dit gaan: dat ons Hom beter en beter sal leer ken. Dán eers kan ons die vraag van WWJD regtig begin antwoord en begin leef.
Dankie vir die skrywe Jaco.Hierdie eerste wonderwerk van Jesus het my nog altyd aangegryp.Soos ek verstaan was wyn in daardie tyd ‘n kulturele bewys van gulhartigheid teenoor die gaste en enige tekort daaraan was swak maniere en ‘n belediging vir die genooides.Jesus tree dan op om die paartjie se verleentheid te bedek.Die beste wyn is toe vir laaste gehou.Kan dit wees volgens hierdie wonderwerk dat Jesus ook die beste vir ons tot laaste hou, of sal dit ‘n vorm van allegorie wees?Ek sal graag jou mening wil weet.
Groetnis Werner
Hallo Werner
Jou opmerking oor die wyn is soos ek dit ook verstaan. Daarom was hierdie ‘n baie ernstige verleentheid, om nie te sê nie ‘n skande op die bruidegom se naam. Jesus gryp in en verander dit in ‘n fees.
Ek dink nie so daaroor dat Jesus vir ons ook die beste tot laaste hou nie. Ek verstaan dit eerder so dat wanneer die Here betrokke raak, meer en beter dinge voortvloei as wat ons in ons swakheid ooit kan vermag. En dan sekerlik ook dat wat vir ons ‘n gemors lyk, in sy wondermag tog beredder kan word en selfs beter kan word as wat ons ooit kan vermoed.
Dit alles gesê wil ek nie voorgee dat ek nou die finale woord gespreek het nie. Sekerlik lê daar meer betekenis in God se dade as wat ons vermoed. En in ‘n bepaalde situasie is jou vertolking waarskynlik in die kol.
Vriendelike groete
Jaco
Dankie Jaco.Ek waardeer.