Laat ek maar eerlik wees: my verstaan van wat geloof is, het die laaste paar jaar ingrypende veranderinge ondergaan. Ek sou seker kon sê verdieping, maar dalk is dit effe verwaand, asof ek nou eintlik weet wat gaan vir wat as dit by geloofskwessies kom.
Wat is nou anders?
Ek dink die groot verandering het gekom by my definisie van ’n ware geloof. In my jongdae het ek gedink ’n ware geloof is om seker te weet dat Jesus jou persoonlike Verlosser is; om te glo en te bely dat sy bloed ook jóú skuld weggewas het.
Dit is natuurlik nie verkeerd nie. Maar dis onvolledig om só oor geloof te praat. Want geloof het ook ’n ander kant, ’n doen-kant. Daarsonder weet ek werklik nie of dit meer geloof is nie. Jakobus sê in Jak 2:26 ’n liggaam wat nie asemhaal nie, is dood, en so ook is geloof wat nie in werke sigbaar word nie, ’n dooie geloof. Natuurlik het ek dit altyd geweet en gesê ook, en gepreek, maar ek het altyd gedink die werke-deel is so half en half ekstra; ’n bonus. Ek het dit nie mooi deurgedink en verstaan dat werke ’n integrale deel van geloof is nie.
Ek was daarin ’n goeie seun van die kerk, want dis hoe die kerk ons oor die jare geleer het. Daarin was ons ’n tipiese ortodokse kerk – ons het baie gemaak van die regte leer, die suiwer verkondiging, die korrekte verstaan van die Skrifte. Ons het gedink solank dít reg is, is alles reg. En ons was hopeloos verkeerd. Want kennis alleen kan jou nie in die regte verhouding met God bring nie. Geloof vra navolging; om nie net te praat soos Jesus nie, maar te leef soos Hy.
Ek is dankbaar en opgewonde oor die nuwe verstaan van geloof. Oral om my sien ek mense wat dit ook verstaan, en leef. En gaandeweg lyk die kerk anders. Kry die kerk ’n vriendelike gesig, ’n helpende hand, word dit ’n tuiste.
Ek dink Jesus glimlag oor dié verandering.