Van ons Ou Testament redaksie
EDEN. – Die jong egpaar Adam en Eva, oor wie se huwelik ons vroeër berig het, het begin met ’n bestekopname van die hele Tuin van Eden. Hulle beoog om met dié opname ’n duidelike beeld te kry van presies hoe die tuin, wat hulle tuiste is, lyk. Hulle wil veral kyk of daar knelpunte is wat hulle aandag nodig het, en ook die moontlikhede wat in die tuin opgesluit lê, ontdek. Dit sluit nie net die vrugtebome en ander eetbare plante in nie. Die ontginning van die minerale rykdom van die tuin vorm ook deel van hulle toekomsdrome. “Daar is die wonderlikste goud by Gawila, om maar net een voorbeeld te noem,” het Adam gesê.
Adam het in ’n onderhoud met Bybelkoerant dit duidelik gestel dat Eden nie net hulle woning is nie, maar ook hulle verantwoordelikheid. “God het ons met ’n doel hier geplaas. Ons moet die tuin oppas en dit bewerk en toesien dat plant en dier versorg is.” Op ’n vraag het hy gesê die Tuin van Eden behoort nie aan hom en Eva nie. “Dit is God se plek. Hy het dit gemaak, en ons taak is om te kyk dat dit bly soos Hy dit gemaak het: ’n paradys vir almal en alles wat hier woon.”
Oor sy toekomsplanne het hy ’n vonkel in die oog. “Deel van God se opdrag aan ons is dat ons vrugbaar moet wees en vermeerder, en ek en Eva neem dié opdrag net so ernstig op soos ons ons verantwoordelikheid teenoor die tuin opneem. Ek hoop om binnekort te kan aankondig dat daar ’n nuweling op pad is. Maar op hierdie stadium kan ek nog niks spesifieks noem nie.”
- Jy kan hiervan lees in Genesis 1:26-30 en Genesis 2:8-16.
Nuwe lied bekendgestel
Van ons Nuwe Testament redaksie
KOLOSSE. – Die klein gemeentetjie van volgelinge van Jesus, of “Mense van die Weg” soos hulle hulleself noem, het gister vir die eerste keer ’n splinternuwe lied by hulle weeklikse byeenkoms gesing. Die lied se titel is “Die Seun is die beeld van God,” en volgens Epafras, ‘n stigterslid van die gemeente, het die lied nie op eie bodem ontstaan nie, maar het hulle dit by hulle geestelike vader, die apostel Paulus, gekry. Hy het die lied in ’n brief wat hy aan die gemeente geskryf het, aangehaal, en dit het die gemeente só aangegryp dat hulle ’n melodie daarvoor gemaak het sodat hulle as gemeente dit gereeld kan sing.
“Die lied bestaan uit twee dele,” verduidelik Epafras. Die eerste deel besing Jesus as Skepper, en die tweede deel besing Hom as Herskepper. “Hoekom die lied ons so aanspreek, is omdat Jesus daarin geloof word as die Een deur wie God die ganse skepping met Homself versoen,” verduidelik Epafras. “Dit sluit nie net ons, die mense, in nie. Die hemel weet, ons het versoening met mekaar in hierdie wêreld nodig, en daarvoor het Jesus gekom. Maar die aarde is stukkend. Die sonde het dit gebreek. Dinge werk nie soos dit moet nie. Ons het erosie en droogtes en siektes en noem maar op. Hiervoor het Jesus óók gekom. Hy is die Hoof van die hele skepping. En ons, sy volgelinge, moet sy versoeningswerk op aarde voortsit in ons lewe saam met ander, én in die manier waarop ons die skepping benut.”
- Jy kan hierdie besondere lied lees in Kolossense 1:15-20.
Om oor na te dink
’n Aspek van ons verantwoordelikheid as gelowiges wat te lank nie goed verstaan is nie, is God se opdrag om die aarde op te pas en te versorg. Ons moet oor sy skepping heers (Gen 1:28). Dit is, om die waarheid te sê, deel van die heel eerste opdrag wat God die mens gegee het. Dat ons dit eintlik nooit goed gehoor het nie, skrei ten hemele en spreek boekdele oor hoe diep die sonde ons verwond het. Ons het ons oorspronklike fokus en opdrag vergeet. Ons gryp wat ons kan uit Moeder Aarde, tot sy nie meer het om te gee nie.
Ons het die skepping misbruik vir eie gewin, en soos dit met alle opdragte van God gaan, is daar ’n boete ingebou. Die skepping gaan tot niet, en ons ly saam. Aardverwarming met die gepaardgaande klimaatsverandering, en massiewe besoedeling van ons waterbronne en oseane ontwrig die ekosisteem sodanig dat ekoloë met reg baie bekommerd is oor die toekoms van die aarde en die lot van ons kinders en kleinkinders.
Ek glo dit is tyd om met baie groter verantwoordelikheid groen te begin leef. Nie net ter wille van die toekoms van ons aardse woonplek nie, maar veral omdat dit ons roeping as God se mense is.