Die Hebreërskrywer maak baie daarvan dat ons geloof nie op sien gebaseer is nie (Heb 11:1). Hy sê as jy iets kan sien, het jy nie geloof nodig nie.

Dís natuurlik presies hier waar die moderne skeptici die pad byster raak. Hulle meen dat jy nie iets kan glo wat jy nie kan bewys nie. Hulle maak hulle eie verstand uiteindelik die regter in die saak oor God. God kan natuurlik nie gesien word nie, en nie bewys word met wetenskaplike navorsing nie. Dus is die gevolgtrekking logies: God bestaan nie. Die feit dat hulle nie antwoorde het oor die vraag na waar die skepping vandaan kom, of waar lewe vandaan kom nie, pla hulle skynbaar nie. Die ongelooflike wonder van die skepping met sy delikate balans skreeu dit elke dag dawerend uit dat God daar is. Die Bybel praat dikwels daarvan. Gaan lees gerus Psalm 19, Jesaja 40, Job 38-41 … En tog sal agnostici en ateïste hulle skouers optrek en sê dit oortuig hulle geensins om te glo nie. Húlle sien God nie in die natuur nie.

Daar is ook ander vorme van moderne nadenke oor dié saak wat ongelukkig nie meer verlossend is nie. Die sg. Nuwe Hervormers (ek gee toe dis moeilik om hulle almal netjies onder een sambreel bymekaar te hou, want hulle standpunte is soms baie uiteenlopend) aanvaar wel dat God daar is, maar het talle vrae oor die Persoon van Jesus. Hulle probleem is dat daar geen wetenskaplike ruimte is vir Jesus se maagdelike geboorte of sy opstanding uit die dood nie. Vir hulle was Hy bloot ’n besondere, begenadigde profeet, en dis al. Hy was seun van God soos ons almal kinders van God is, en nie Seun van God in ’n unieke, vreemde manier soos wat ons bely nie. Hy was nie God self soos Joh. 1 onomwonde sê nie. Snaaks dat mense wat tweeduisend jaar ná Jesus geleef het, beter weet as mense wat Hom self geken het, persoonlik die opgestane Jesus in lewende lywe ontmoet het, en getuies was van sy hemelvaart.

Die Nuwe Hervormers bepleit ’n soort geloof waarin ons aanvaar dat Jesus wel vir ons ’n weg na God toe wys met sy verkondiging, maar dat die weg wat ons as Christene bely, slegs een van die legitieme weë na God toe is, naas talle ander weë, soos dié waarop bv. die Moslems loop. Ons almal sal uiteindelik by dieselfde God uitkom, al roep ons Hom tans op verskillende name aan en al lees ons verskillende handleidings, soos die Bybel en die Koran en so aan.

’n Mens moet baie onkundig en ondenkend wees as jy nie self ook al op ’n stadium (of selfs meermale) oor dié goed gewonder het nie. Prof. WIllie Jonker het op ’n keer gesê iemand wat nog nooit oor God getwyfel het nie, het net nog nooit regtig oor Hom gedink nie. Want alles is nié glashelder as dit by geloof kom nie. Ek het ook talle vrae. Ek wonder soms of ek my nie maar alles self wysmaak en glo omdat dit die veilige uitweg is nie. Ek wonder veral oor dié dinge as ek lank en ernstig bid oor iets wat vir my baie belangrik is, en dan voel dit vir my my gebede hang in die lug. Het God dit ooit gehoor? Steur Hy Hom regtig aan my gekerm? Of nog erger: Is daar ’n God?

Maar geloof is nie net ’n intellektuele spel nie.

Ek dink dis baie moeilik om te glo as jy géén ervaring ooit van God het nie. As jy die Here Jesus nog nooit werklik ontmoet het en daarom weet dat Hy leef nie. As jy nog nooit die Bybel gelees het en skielik net die gewaarwording het dat die Gees nou by jou is en besig is om met jou spesifiek te praat nie. As jy nie daagliks ondervind hoe die Bybel jou lewe rig en verryk omdat God daardeur aan die woord kom nie. As jy nog nie met ander gelowiges saam was en beleef het hoe julle saamwees méér is as net julle, want God is self teenwoordig. As jy nog nie in jou stukkendheid oor jou sonde voor Jesus se kruis geween het, en daarvan opgestaan het en weet: jy is vergewe! nie.

As ek twyfel, bring dié soort ervarings van God se lewende teenwoordigheid my weer tot rus. Hoe kan ek selfs net wónder of God regtig is, as ek dan self al beleef het hoe Hy my lewe aangeraak het?

God is baie groter as wat ek en jy ooit kan vermoed. Ons kan Hom nie kleinkry nie. As ons kon, sou Hy mos nie God gewees het nie! En daarom móét ek ook in my denke oor God ruimte maak vir die misterie van sy grootheid, sy andersheid, sy heiligheid. En moet ek Hom vertrou omdat ek glo Hy weet wat Hy doen, selfs al maak dit vir my gladnie sin nie.

Ek glo, Here! Kom my ongeloof te hulp.

image_pdfimage_print

Views: 111

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.