Adam en Eva se toekoms in Paradys onseker
Van ons Ou Testament redaksie
EDEN. – ’n Ramp het vanoggend dié idilliese tuin getref toe Adam en Eva direk teen God se uitdruklike opdrag in geëet het van die vrugte van die boom van alle kennis.
’n Geskokte stilte hang al die hele dag oor die tuin, en die vraag wat op almal se lippe is, is wat nou van Eden gaan word. ’n Kenner het daarop gewys dat God hierdie tuin spesiaal vir Adam en Eva aangelê het. Daar bestaan egter twyfel of God sal toelaat dat hulle ná hierdie daad van verraad nog in die tuin sal kan agterbly. Pessimiste verwag selfs ’n summiere teregstelling as God van die misdaad te hore kom, aangesien Hy van die begin af gewaarsku het dat die dood wag op dié een wat van die vrugte eet.
Ondertussen kon Adam en Eva nog nie vir kommentaar opgespoor word nie. Hulle skuil vermoedelik iewers tussen die bome uit vrees vir God se besoek later vandag.
- Lees meer hieroor in Gen. 3:1-8.
Nuwe God vir Israel?
SINAIBERG. – Die Israelitiese hoofpriester, Aäron, het wenkbroue laat lig toe hy vandeesweek hier die volk opgeroep het om mildelik goud by te dra vir die maak van ’n standbeeld van ’n goue kalf.
Die oproep volg op ’n eis van die volk vroeër dat hy vir hulle ’n god moet maak, aangesien hulle leier, Moses, al meer as vyf weke gelede teen Sinaiberg uitgeklim het om hulle God te ontmoet, en sedertdien nog nie weer gesien is nie. Die vermoede bestaan dat hy in ’n ongeluk op die berg omgekom het.
Aäron het beskuldigings dat hy die volk verlei om ’n afgod te aanbid, heftig ontken. “Ek wil nie ’n nuwe god invoer nie; ek wil slegs die volk tegemoetkom deur vir hulle ’n tasbare, sigbare beeld te gee wat hulle met God in verband kan bring. Die beeld stel ons God, Jahwe, se rydier voor – God bly steeds die Onsigbare, maar nou weet ons minstens waar Hy is as ons wil aanbid. Ek het juis ’n fees tot sy eer afgekondig vir môre.”
Nie al die Israeliete is egter opgewonde oor Aäron se plan nie. “Dit is vir my onbegryplik dat die volk, met Aäron aan die spits, hulle rug kan draai op Jahwe, ná alles wat Hy vir ons gedoen het om ons uit Egipte te red en by die Rietsee te bevry,” het ’n bewoë Kaleb, een van die lojale ondersteuners van Moses, kopskuddend opgemerk. “Sonder God se leiding is ons verlore. As ons mense nie baie gou tot hulle sinne kom nie, gaan hier ’n groot ramp kom, dié kan jy weet.”
Kenners waarsku ook dat Aäron met vuur speel. Hulle wys daarop dat hy met hierdie toegewing die eerste tree gegee het na afgodsdiens.
- Lees hiervan in Eks. 32:1-5.
Leuen kos egpaar hul lewe
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – ’n Bekende egpaar van die stad, Ananias en Saffira, het gister hier tragies gesterwe by ’n byeenkoms van die nuwe sekte wat hulleself “Volgelinge van Jesus Christus” noem.
Geskokte lede van die sekte vertel dat die egpaar ten aanskoue van almal by een van hulle samekomste dood is; eers Ananias, en omtrent drie uur later ook sy vrou Saffira. Die oorsaak van hulle dood is nie bekend nie. “Hulle het net eenvoudig in mekaar gesak en op die plek gesterf,” het ’n hartseer vriendin gesê.
Die leier van die sekte, Simon Petrus, het egter kort ná die voorval ’n verklaring uitgereik waarin hy hulle dood as “’n vingerwysing van God” bestempel het. Volgens hom het hulle saamgesweer om vir die gemeente te lieg oor die verkoopprys van ’n stuk grond. “In der waarheid het hulle egter vir God gelieg, en dít mag nie onder gelowiges nie.”
- Lees hiervan in Hand. 5:1-11.
Om oor na te dink
Sonde is en bly ’n raaisel – ’n raaisel dat enige iemand dit selfs kan oorweeg om ’n wonderlike, liefdevolle God te ignoreer en sy eie kop te volg.
En tog gebeur dit keer op keer, nie net in Eden en aan die voet van Sinaiberg en in die boesem van die eerste gemeente nie, maar vandag nog, in ons eie lewe! Nie een van ons kan immers die verdoemende uitspraak van die Bybel ontkom nie: “Almal het gesondig en is ver van God af “ (Rom. 3:23).
Laat ons dus nie té gou ons koppe meewarig skud oor die sonde van andere nie. Laat ons liewer vandag ’n oomblik stil word en sonde sien vir wat dit is: onverstaanbare opstand teenoor dié God wat sy alles vir ons oor het én gegee het. Sal ons dan daarmee voortgaan?