Ek lees ‘n tyd gelede in die koerant Dana Snyman se rubriek “Die kiem van geweld is ook in my“. Hy probeer verstaan hoekom hy ‘n streep in hom het wat gewelddadig wil reageer op dinge wat verkeerd is in die wêreld, en voer dit onder andere terug na die manier waarop hy grootgemaak is en die gewelddadigheid van die samelewing. Hy skryf: “Ek word aangedryf deur iets in my wat ek nie altyd mooi verstaan nie.”

Ek vind in myself dieselfde neigings. Ek sê en dink en doen ook soms (dikwels!) dinge wat ek nie wil nie. En, soos Dana skryf, hét ons agtergrond en omgewing veel daarmee te doen. Maar nie alles nie. Want ander mense, uit ander omgewings, het dieselfde gewaarwordings oor hulleself. Ek dink nou byvoorbeeld aan koning Dawid wat in Psalm 51 met die sonde en sondigheid in hom worstel, en dan erken dat hy so gebore is (51:7). Of die wroegings van Paulus in Romeine 7 oor presies hierdie kwessie. In vers 15 sê hy: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.”

Die kiem van geweld is ook in hom, sluit Dana sy rubriek af, en ek wil antwoord: Ons is almal so. Die kerk noem dit die erfsonde. Ons is so gebore. Ons het dit van Adam en Eva geërf, dié dwarsheid in ons. Dis deels waarvan ons verlos moet word: hierdie erfsmet. Daarom sluit Paulus in Romeine 7:24-25 sy wroegings hieroor af met dié woorde: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”

Liberale teoloë maak vandag veel daarvan dat die leer oor die erfsonde nie uit die Bybel kom nie. Augustinus sou dit glo uitgedink het. Ons is nie van nature sondig nie, sê hulle. Dis net die kerk en predikante wat dit sê sodat mense sal aanhou kerk toe kom en só die kerk-industrie aan die gang hou. Eintlik is daar nie iets soos sonde en sondeskuld en sondestraf nie, sê hulle. Vergeet van die hel en die ewige verdoemenis. Dis óók uitgedink, deur die naïewe mense van die ou tyd. Vandag weet ons van beter. Jesus se kruisdood was nie ‘n offer om ons sondeskuld te betaal nie. Watter sondeskuld? Dit was maar net die tragiese einde van ‘n profeet wat deur sy eie mense misverstaan en verwerp is, soos baie profete voor hom.

Ek dink nie dié soort nonsens van die liberale teoloë gaan Dana help met die kiem van geweld in hom nie. Dana het hulp nodig. Ons het almal hulp nodig. Ons het Christus nodig om ons te verlos van onsself, soos ons in die ou Gesang 238 (nou Vonkk 56) gesing het: “Verbreek in my voordurend, Heer, die neiging tot die sonde …”

image_pdfimage_print

Views: 0

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.