Die Hebreërskrywer draai nie doekies om nie. Hy sê in taal wat nie misverstaan kan word nie, dat afvalligheid en ongeloof, waarby ons verlede maand stilgestaan het, gevaarlik is, dodelik gevaarlik. Hy sê vir ons: Ongeloof, om terug te draai, is onherroeplik. Kom ons lees dit saam:
Lees Heb 6:4-8; 10:26-31, 38-39 en 12:16,17
As ’n mens hierdie gedeeltes so lees, sien jy die dodelike erns en krasse veroordeling waarmee Hebreërs praat oor ongeloof en afval. Hy sê dit kan gebeur in ’n mens se lewe, ’n mens wat gedeel het in die genade en die gemeenskap en seëninge van die volk van God, dat hy of sy moedswillig sondig, en dan word dit vir so iemand te laat vir berou, dit word onmoontlik vir diesulkes om hulle weer te bekeer, dan bly daar geen offer vir die sonde meer oor nie.
Broer en suster, hierdie gedeeltes is seker van die moeilikste gedeeltes in die Bybel om te verstaan. Selfs ’n man soos Martin Luther sê oor hierdie verse dat dit vir hom ’n moeilike knoop is wat oënskynlik in stryd is met die evangelie.
Die vraag wat asof spontaan by ’n mens opkom, is: Wanneer gebeur dit met ’n mens? Wanneer steek mense hierdie grens oor, waarna omkeer onmoontlik is? Wie tel daaronder? Wat is hierdie sonde wat so ernstig is en onherroeplik is dat daarna geen omkeer meer moontlik is nie?
In die kerkgeskiedenis het hierdie gedeeltes dan ook al aanleiding gegee tot baie geskrifte en menings. Dit het tot baie verwarring en misverstand aanleiding gegee. So het die kerkvader Tertullianus bv. gesê dit beteken dat as ’n Christen gedoop is en daarna sondig, di sonde nie vergewe word nie – asof Christene nie sondig nie! Die Pastor van Hermas, ’n bekende vroeë geskrif uit die gemeente in Rome, het op sy beurt gesê: Nee, ’n gedoopte mag een maal sondig, dit sal vergeef word, maar nie weer nie.
Maar natuurlik sondig ons almal maar weer. En so het die sogenaamde biegpraktyke dan ook in Rome ontstaan, waardeur ’n mens jou boek skoon kan hou, waardeur verdere sondes jou darem ook vergewe kan word!
Maar – gelukkig – het hierdie sienings die bedoeling van die Hebreërboek heeltemal misverstaan. Dit gaan nie hier om “een” sonde, of om “twee”, of enkele sondes, of dit of dat nie. Dit gaan ook nie om groot of klein sondes nie, dit gaan glad nie om spesifieke sondes wat dan ernstiger en meer onvergeeflik sou wees as ander nie. Die doel van die Hebreërboek is dan juis om gelowiges te troos en te sê dat hulle ’n Hoëpriester het wat medelye het met hulle swakhede, wat verstaan en vergeef en voortdurend bly intree by die Vader op grond van sy eenmalige offer.
Nee, dit gaan in hierdie gedeeltes om iets anders, naamlik om die een, basiese sonde, die sonde van afval, ontrou, wegdwaal, wegraak, agter raak, terugdraai, om nie langer te wil deel in die seëninge van die Godsvolk nie, nie langer geassosieer te wil wees met Christus en sy gemeente nie. Dit gaan, met ander woorde, om die totale lewe van ’n mens, ’n mens se hele lewenstyl, as blyk van jou losheid, jou vervreemding, van Christus af. Daarom beklemtoon hy dit: Dit gaan om die sonde van jou rug te draai op Christus (6:6; 10:29).
’n Mens moet ook nie vra wanneer ’n mens hierdie punt bereik waar omdraai nie meer moontlik is nie. Die skrywer vra dit self ook nie. Hy is nie daarin geïnteresseerd nie. Buitendien kan die vraag ook nie beantwoord word nie. Dit het ook geen sin om van iemand wat nog leef te vra of hy of sy die punt al oorgesteek het nie. Solank iemand leef, moet ons aanvaar dat die genade hom of haar nog kan verander.
Die punt in hierdie verse is doodgewoon dat die ervaring ons leer dat sommige mense klaarblyklik veragter in die genade, wegdwaal, ’n lewenstyl aanleer waarin vir Christus geen plek is nie en dat hulle later immuun raak, net nie meer geraak of geroer kan word nie, en ook so sterf – om te val in die hande van die lewende God.
Solank iemand dus vrees dat dit met hom of haar die geval mag wees, omdat hulle hul wil bekeer, is dit die duidelikste bewys dat hulle nog nie daardie grens oorgesteek het nie, nog nie immuun is nie, nog nie uitgeval het uit die stoet van God se volk op pad deur die woestyn nie.
Die belangrikste vraag is egter: Hoekom skryf die Hebreërboek dan hiervan, so dikwels en so kras? Die antwoord is dat dit ’n ernstige waarskuwing aan gelowiges is dat ons moet toesien dat dit nie met ons of iemand in ons midde moet gebeur nie. Dit is ’n dodelik ernstige waarskuwing dat ons nie moet speel met die genade, nie met vuur moet speel nie.
Wie dink dat daar nog tyd is, en daarom bly uitstel, wie in die klein dingetjies ontrou raak aan Christus, omdat hy of sy dink dis tog nie so belangrik nie, loop op die rand van ’n afgrond. En geleidelik, sonder dat ’n mens dit goed besef, mag jy besig wees om af te gly, weg te raak, op ’n pad met ’n onherroeplike einde, los van die gemeenskap van die gelowiges en los van Christus self. Dit is nie bedoel om ons moedeloos te maak, of vreesagtig of wanhopig nie, inteendeel.
Dit is wél ’n oproep, ’n appèl tot ’n nuwe geloof en ’n nuwe gehoorsaamheid en ’n nuwe sorg vir mekaar, vir almal onder ons wat begin moedeloos raak en ingee.
Amen.
Views: 13