Onmin oor offerande het noodlottige gevolg
EDENVERLOREN. – ’n Tragedie het hom hier afgespeel toe Kain, oudste seun van Adam en Eva, sy broer Abel vermoor het.
Die moord kom aan die einde van ’n lang en bitter stryd tussen die twee broers, wat grootliks die gevolg was van Kain se jaloesie. Dit was van vroeg af reeds duidelik dat hierdie twee broers op ’n botsing afstuur, aangesien Kain dit moeilik kon verwerk dat sy jonger broer ’n beter boer as hy is.
Die vete is op die spits gedryf by verlede week se oesfees, toe beide broers van die opbrengs van hulle boerdery aan die Here geoffer het. Kain, ’n saaiboer, het van sy graan geoffer, terwyl Abel van die vet van een van sy spoglammers gebring het as offer. Kain was glo woedend omdat God Abel se offer aanvaar het, maar nie syne nie. Daar het ’n rusie tussen die twee broers ontstaan, waarop Kain Abel oorweldig en vermoor het.
Onbevestigde berigte lui dat Kain in Nod, oos van Eden, gaan skuil het. ‘n Bedroefde Adam het opgemerk: “Dit is vir my en Eva ’n dubbele slag, want ons het nou albei ons seuns verloor.”
- Lees meer hieroor in Gen. 4: 1-16.
Klinkende oorwinning eindig op vals noot
GILGAL. – Die soet smaak van oorwinning het vandag hier in koning Saul se mond suur geword toe sy groot mentor en geestelike vader, die profeet Samuel, hom die rug toegekeer het.
Harde woorde het geval toe die twee mekaar vroeër vandag ontmoet het ná Saul van ‘n grootse oorwinning oor die Amalekiete teruggekeer het. Dié strafekspedisie was in opdrag van die einste profeet, maar Samuel het hom nou geheel en al van die koning gedistansieer. Die probleem het skynbaar ontstaan omdat Saul die uitdruklike bevel van God verontagsaam het om alles wat in Amalek was – man en vrou, kind en suigeling, bees en skaap, kameel en donkie – sonder genade om die lewe te bring. Op versoek van sy manskappe het Saul egter die beste en mooiste uit die kleinvee en beeste as buit uitgehou. Ook die gehate Amalekitiese koning Agag het hy nie gedood nie, maar as gevangene teruggebring. Kenners het dié beroemde gevangene as ’n redelike groot veer in Saul se politieke hoed bestempel. Samuel het egter vir Agag eiehandig gedood en in stukke gekap, nadat hy aangekondig het dat die Here die koningskap van Saul sal wegneem en aan ’n ander gaan gee.
Ondersteuners van die koningshuis het hulle ontsteltenis uitgespreek oor die “eiegeregtige optrede” van die profeet, soos hulle dit bestempel het. “Saul is ons koning, en sy woord is wet. Buitendien, wat is nou daarmee verkeerd om van die buit uit te hou? Dit is tog elke koning se onvervreembare reg,” het hulle gebrom.
Die profeet was nie vir kommentaar beskikbaar nie, aangesien hy onmiddellik na die voorval na sy tuiste in Rama vertrek het. Een van sy volgelinge het egter opgemerk: “Die strafekspedisie teen Amalek was al baie lank uitstaande. Ons groot leier Moses het dit reeds beveel vóór die besetting van die land. Koning Saul was die eerste leier wat in ’n posisie was om hierdie opdrag suksesvol uit te voer. Juis daarom laat dié ongelukkige nadraai so ’n wrang smaak in die mond.”
- Lees meer hiervan in 1 Sam. 15; sien ook Eks. 17:8-16 en Deut. 25:17-19.
Om oor na te dink
Die sug na eie eer was destyds, soos vandag nog, ’n formidabele versoeking. Nóg die eerste kind wat ooit gelewe het, nóg die eerste koning van Israel was teen hierdie versoeking bestand. In beide gevalle was die gevolge van hulle ydelheid en eersug katastrofies. Kain verloor nie net ’n broer nie, maar word ’n vlugteling. Saul verloor sy koningskap en sy lewe, maar erger nog, hy verloor God self!
Laat ons vandag die woord van die Here ter harte neem wat Hy tot hierdie twee ongelukkige sondaars gerig het: “… die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers” (Gen. 4:7), en: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme” (1 Sam. 15:22).
Kom ons lewe dan in nederige gehoorsaamheid voor Hom!