1 Pet 1:1,2 en 19

Losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is (vers 19). Dink ’n oomblik daaraan: losgekoop deur die bloed van Christus!

As julle die lewe van vandag vergelyk met hoe dit was toe julle nog jonk was, is een van die grootste veranderinge, dink ek, die plek wat die kerk in die samelewing speel. In die laaste paar jaar het ons samelewing geweldig gesekulariseer. Die kerk speel al minder en minder ’n rol in die openbare lewe.

Nouja, ons leef in ’n multikulturele en multigodsdienstige samelewing, waar daar plek vir almal moet wees. So ek kan nog die sekularisasie van die openbare lewe aanvaar. Maar die tragedie is dat dit nie net in die openbare lewe die geval is dat die kerk nie meer ’n groot rol speel nie. Ook in indiwidue se lewe speel die kerk al minder en minder ’n rol – ook in ons eie lidmate se lewens. Miskien is dit juis omdat die kerk nie in lidmate se lewens belangrik is nie, dat die kerk ook in die samelewing al minder ’n plek het. Mense woon bv al hoe minder eredienste by, want hulle gaan inkopies doen, of fiets ry, of bly sommer net by die huis.

Daar kan seker verskillende redes wees waarom die kerk al meer en meer uitgeskuif word in die samelewing. Maar ek dink een van die belangrikste redes lê daarin dat ons, die lidmate van die kerk, nie verstaan wie ons is nie.

Broer en suster, ons is nie sommer net nog mense wat ook toevallig op aarde is nie; ons is nie sommer net mense wat toevallig aan die kerk van die Here Jesus behoort nie; ons is tussen al die ander mense van hierdie wêreld deur God uitgekies om aan Hom te behoort! Ons is spesiaal! Ons is die Koning van hierdie wêreld se kinders! Ons is prinse en prinsesse.

As ons dít reg verstaan, as ons dit eers mooi gesnap het, sal ons mos ’n heel ander houding inslaan. Toe ek nog op Stellenbosch was, het die studente iemand wat so rondsluip in die koshuis en maar net altyd in die agtergrond bly, nooit eintlik na vore kom of ’n bydrae lewer nie, ’n suurstofdief genoem. Ek is bevrees, dís wat baie van ons in hierdie wêreld geword het: suurstofdiewe. Want in plaas daarvan dat ons soos koningskinders in hierdie wêreld lewe en ons stem laat hoor, sluip ons so dikwels met ’n houding rond dat elke dingetjie waarop ons as Christene aanspraak maak, eintlik ’n groot guns is wat die wêreld ons moet gee. Ons neem só almal om ons in ag, dat ons op die ou end geen eie standpunt mag hê nie, want ons kan dalk aanstoot gee!

Petrus sê vir ons: ons hoef nie suurstofdiewe te wees nie. Ons is immers kinders van die Allerhoogste God, deur Homself uitgekies om Syne te wees! Hy het ons met sy eie Seun se bloed losgekoop uit die sondebande, losgekoop uit hierdie wêreld met sy goddelose waardes. Dis wat ons netnou in die nagmaal opnuut gaan vier.

Petrus het dit nie altyd verstaan nie. Hy was ook eens op ’n tyd ’n suurstofdief. Onthou u nog hoe hy daardie nag van Jesus se verhoor drie maal heftig ontken het dat hy Jesus ken? Te bang om sy mond oop te maak! Maar toe die Heilige Gees op hom beslag gelê het, skroom hy nie om voor ’n skare mense in Jerusalem op te staan vir wat hy glo nie.

Miskien is dit ons probleem: dat ons nie die Heilige Gees die kans gee om ons af te sonder om aan God gehoorsaam te wees nie? Want dít is presies wat Hy in ons lewens wil doen! Hoor wat sê ons teksvers (1:2): “Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.” En in 2:9 sê hy dit weer ’n keer: “Julle is die uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”

Die Heilige Gees het gekom sodat ons dít kan word wat God wil dat ons moet wees: sy kinders, koningskinders, wat met koppe omhoog in hierdie wêreld lewe. Nie suurstofdiewe nie, maar koningskinders! Kom ons loop dan regop in hierdie wêreld, kom ons lééf dan vir Christus en sy kerk elke dag. Kom ons laat die Heilige Gees toe om ons só te beheer dat ons ons roeping as God se eiendomsvolk kan vervul! Dan sal ons hierdie wêreld, dan sal ons Suid-Afrika uit die kloue van die duiwel terug kan wen vir onse God!

Amen.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.