Van ons Ou Testament redaksie
ARARAT. – Dit was ’n blye dag vir Noag en sy gesin toe hulle vandag, na ’n verblyf van ’n jaar en tien dae in ’n reuseskip, die eerste keer weer hulle voete op droë grond kon neersit. Saam met hulle het talle diere wat ook in die skip, of “ark” soos hulle hom noem, die watervloed ontvlug het, vandag ’n nuwe tuiste op droë grond gesoek.
Volgens Noag het God hom al etlike jare gelede oor die vloedramp ingelig met die opdrag dat hy die skip moes bou om aan die vloed te ontsnap. Hoewel hy die mense gewaarsku het, het almal vir hom gelag omdat hy ’n skip op droë grond gebou het. Toe die reëns begin val, was dit net hy en sy huis wat voorbereid was. “Dit was verskriklik. Ek het nooit geweet daar is so baie water nie. Dit het net geval en geval, veertig dae lank onophoudelik! Al die mense het verdrink. Daar het nie een oorgebly nie,” het hy kopskuddend gesê terwyl hy oor die wye oop ruimtes beduie het. Op die vraag waarom juis hy deur God gekies is om die vloed te ontkom, het hy net sy skouers opgehaal. “Dis net genade. Wat kan ek meer sê?”
- Lees hiervan in Gen. 6-8.
Vissers verruil visnette vir togas
Van ons Nuwe Tesament redaksie
KAPERNAUM. – Twee pare broers het vandag hier die vissersberoep vaarwel toegeroep en hulle by die onortokokse jong rabbi Jesus van Nasaret aangesluit. Hulle beoog om voltyds studente van dié rabbi te word.
Rabbi Jesus het eers onlangs sy eie leerskool in Kapernaum gestig, nadat hy vroeër as timmerman aan die hoof van ’n familiesaak in Nasaret gestaan het. Die broers Simon en Andreas die seuns van Johannes is oorspronklik van Betsaida, maar hulle werk al geruime tyd as vissers in Kapernaum. Die ander broers, Jakobus en Johannes die seuns van Sebedeus, het in Kapernaum grootgeword en het in hulle pa se skoene gevolg. Sebedeus is ’n bekende in die vissersbedryf.
Dit is nie bekend waar rabbi Jesus sy opleiding ontvang het nie. Hy was, sover vasgestel kan word, nie ’n student van een van die bekende rabbi’s in Jerusalem nie. Vermoedelik is dit die rede waarom hy nie sy dissipels gekies het uit die room van die sinagoge-skole nie. Die vier manne wat hy sopas as dissipels aanvaar het, sou waarskynlik by geen ander rabbiskool ingekom het nie. “Ek ken die vier jongmanne goed,” het ‘n lid van die plaaslike sinagoge wat verkies om anoniem te bly, gesê, en bygevoeg: “Hulle is beslis nie rabbi-materiaal nie. Ek sou hulle nooit gekies het nie. Maar dalk weet rabbi Jesus iets wat ek nie weet nie?”
Op ’n vraag van Bybelkoerant oor waarom hulle dié drastiese loopbaanskuif gemaak het, het Simon net sy skouers opgetrek. “Ek het ja gesê toe rabbi Jesus my gevra het om hom te volg, want dit het gevoel na die regte ding om te doen.” Sy broer Andreas het bygevoeg: “Dit is duidelik dat hy ’n man van God is. Jy hoef net twee woorde uit sy mond te hoor om dit te weet. Hierdie is die geleentheid van ’n leeftyd.”
Die mense van Jesus se tuisdorp Nasaret sal nie met Andreas saamstem nie. Hulle het Jesus onlangs uit hulle dorp weggejaag nadat hy in die sinagoge daar gepreek het. Hulle het hom as arrogant en aanmatigend bestempel. Rabbi Jesus was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
- Jy kan hiervan lees in Matt. 4:18-22.
Om oor na te dink
Dit bly verstommend dat God gewone mense kies om sy werktuie te wees. Gewone mense – nie supermense nie. Mense soos jy en ek. Die enigste vereiste wat Hy stel, is dat ons Hom moet liefhê, en dat ons, soos die Bybel van Noag getuig, “naby God leef” (Gen. 6:9). Dít het Noag onderskei van sy tydgenote. Dit was ook Jesus se groot toetsvraag aan Petrus in Joh. 21:15): “Simon seun van Johannes, het jy My waarlik lief?”
Meer as dit vra God nie. Net maar dat ons naby Hom sal lewe en Hom sal volg. Dan kan, nee, dan sál Hy ook vir jou en my gebruik. En vir die toerusting vir ons taak, daarvoor kan ons Hom vertrou. Jesus belowe dit. “Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”
As God mense kies, kyk Hy anders as ons. Daarom begenadig Hy vir Noag (Gen. 6:8). Daarom sien Hy kans vir eenvoudige vissermanne om sy eerste dissipels te wees. Daarom sien Hy kans vir ons, net soos ons is. Dat dit so is, is net genade.
Maar weet ook dit vandag: as God jou kies om aan Hom te behoort, as Hy jou kies om diensbaar in sy koninkryk te wees, dan vat Hy jou wel net soos jy is, maar Hy los jou nie soos jy is nie. Hy is nie tevrede met stellings soos: “Ek is nou maar eenmaal so gemaak en so laat staan” nie. Nee, as Hy met ons besig raak, verander Hy ons sodat ons hoe langer hoe meer aan sy doel beantwoord, sodat ons hoe langer hoe meer word wat ons moet wees: beelddraers van God.
Sal ons Hom dan nie vandag loof omdat Hy ook vir óns wil gebruik in sy diens nie? En sal ons dan nie, soos Noag en die eerste dissipels, met vreugde die verantwoordelikheid wat dit inhou, op ons neem nie?
Mag Hy tog vandag met ons besig wees!