Ek het dié vraag dikwels vir my katkisante gevra in die persoonlike gesprek voor hulle belydenisaflegging. En ek was telkens verbaas en teleurgesteld om te hoor hoe vaag baie van hulle (maar gelukkig nie almal nie) was oor wat hulle glo. Ek moes behoorlik rem en trek om uiteindelik te hoor dat hulle darem ook iewers in hulle geloofstaal die woord Jesus ken.
My formulering is doelbewus: hulle ken die woord Jesus. Of hulle Hom as Persoon ken, is ’n heel ander kwessie.
Iewers, so vermoed ek, misluk ons om die basiese geloofswaarhede aan die nuwe geslag te kommunikeer. Die jare in die Sondagskool het klaarblyklik op baie kinders geen blywende indruk gelaat nie. Of dalk is dit omdat die kinders nie in hulle ouerhuise sien hoe ’n lewende geloof in Jesus lyk nie.
Dis nie net by ons wat dit so gaan nie. In ’n onlangse studie in Amerika onder jongmense oor wat hulle glo, het die volgende prentjie na vore gekom, wat hulle Moralistiese terapeutiese deïsme noem:
- Daar is ’n god wat die wêreld geskep en georden het en oor mense op aarde waak.
- God wil hê mense moet goed, gaaf en regverdig teenoor mekaar wees, soos wat die Bybel en die meeste wêreldgodsdienste leer.
- Die hoofdoel van die lewe is om gelukkig te wees en goed te voel oor jouself.
- God hoef nie juis betrokke te wees in jou lewe nie, behalwe wanneer God nodig is om ’n probleem op te los.
- Goeie mense gaan hemel toe wanneer hulle te sterwe kom.
Sien, niks oor Jesus nie. Hierdie beskouing het niks in wat dit as Christelik onderskei van ander gelowe nie. Daar is niks van Christus se verlossing in nie. Daar is geen beduidenis dat ons sondaars voor God is nie. Daar is nie sprake daarvan dat ek vir God moet dien nie. Ek, as gereformeerde gelowige, meet dit natuurlik aan die indeling van die belydenisskrifte wat praat van die drie dinge wat ’n mens moet weet as jy in hierdie lewe getroos wil lewe en sterwe (Heidelbergse Kategismus vraag 2): Ek moet weet hoe groot my sonde en ellende is; hoe ek daarvan verlos kan word; en hoe ek God vir dié verlossing dankbaar kan wees.
Dalk is dit presies hier waar die skroef los is in ons moderne samelewing: mense leef nie meer getroos nie, want hulle leef nie in ’n verhouding met die Here Jesus nie.
Interessante skrywe Jaco.Toe ek hierdie lees dink ek toe dadelik terug aan my persoonlike gesprek met die Leraar 44 jaar gelede.Ek was 16 jaar oud en maar onervare met die lewe, en met alles.Hy vra my toe 2 vrae wat ek soos gister onthou.Hoe weet jy,jy is ‘n kind van God?Hoe weet jy,jy is jou ouers se eie kind?Oor die eerste vraag se antwoord was ek natuurlik onseker.Op die tweede vraag het my verstand natuulik die oorhand gekry en ek antwoord,omdat ek soos hulle lyk.Ek dink vandag nog dat ek ‘n goeie antwoord gegee het,maar dit was nie die antwoord wat hy gesoek het nie.Die antwoord was volgens hom dat my ouers vir my meegedeel het dat ek hulle kind is.Hulle kon natuurlik gejok het na my mening,maar dit maar daar gelaat.
Ek dink op ouderdom 16 is ‘n mens ingestel om te leer en jy is nog op skool wat een groot leerproses is en die kategese is ‘n verlengstuk van die leerproses.Ons katkisaie was leerwerk en ons het bybelverse uit ons kop geleer.Daar is niks fout daarmee nie.Ek kan nie onthou dat die basiese geloofswaarhede wel oorgedra is nie.Alles is in ‘n groep gedoen en as groep voorgestel.Ek dink tog elke persoon sal weet wanneer hy gereed is vir belydenisaflegging.Ek persoonlik dink ek was te jonk daarvoor op 16 jarige ouderdom.Dit in kort so stukkie van my geskiedenis.
Sterkte en groetnis.
Hallo Werner
Jou ervaring is een van vele in dié trant. Die kerk het al probeer om die belydenisaflegging minder van ‘n drukgang te maak. Die idee is dat jy die kategese voltooi en ‘n sertifikaat ontvang wat bevestig dat jy dit gedoen het, en dat jy dan, op ‘n stadium wanneer jy daarvoor gereed is, jou by die kerkraad aanmeld (enige kerkraad, dit hoef nie die een te wees waar jy gekatkiseer het nie) en vra om belydenis af te lê.
Ongelukkig is daar baie beperkte welslae met dié stelsel. Die ouers is dikwels nie bereid om die kind selfd die keuse te laat maak nie, of die kind is bang om uit te wees, en dus meld almal as ‘n reël dadelik aan vir belydenis.
Ek dink ons het in die ou dae te veel op kennis gefokus, maar nou het die pendulum weer heeltemal te ver na die ander kant toe geswaai, My indruk is dat dit deesdae meer om lekker gesels en saam kuier gaan …
Maar ek het omtrent tweelf jaar gelede laas ‘n belydenisklas gehad. Ek praat nou van hoe my kinders die kategese beleef het. Hulle het nie gedink dit help hulle veel nie.
Persoonlik dink ek ook 16 is vir die oorgrote meerderheid van kinders te jonk, hoewel daar natuurlik uitsonderings is. Maar talle volwasse lidmate sê vir my (bv in my Bybelskool) dat hulle nog te jonk was toe hulle gekatkiseer het, en eers later oor dié goed begin dink en wonder het. Daarom glo ek daar moet ‘n plek vir volwasse kategese wees, of, soos ek dit noem, Bybelskool.
Dankie vir die gesels!
more jaco, wat sou jy in n sin of drie se, is die bybelse teelpool van MTD, met bybelverse wat dit duidelik ondersteun? maw waaroor gaan die christeike geloof dan?
Hallo Louis
Dankie vir jou vraag. Jy gee eintlik self die antwoord in jou vraag as jy praat van “die christelike geloof”. Dit gaan in die geloof om Jesus Christus; wat Hy vir ons gedoen en geleer het, en om Hom na te volg. Om Paulus aan te haal: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.” (1 Korintiërs 2:2) ‘n Geloofsbeskouing waarin Christus nie sentraal staan nie, is godsdienstig, maar nie Christelik nie. As die tronkbewaarder van Filippi die vraag vra, antwoord Paulus en Silas: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.” (Handelinge 16:31). In MTD is daar niks van Jesus nie. Dis my probleem.