Daar stap vanoggend ’n duifie ewe kordaat oor die pad toe ek in die straat opgery kom, en dit laat my gedagtes dwaal. Hoe lank gaan dié duif leef voordat hy die prooi van ’n motor word? Of dalk van ’n rondloperkat, of ’n valk? Toe ek naderkom, vlieg hy op en verdwyn met ’n paar sierlike vlerkklappe uit my gesigsveld. Wonderlik-mooi.
Ek vind normaalweg nie juis goeie aanklank by ’n astro-fisikus soos Carl Sagan nie, omdat Sagan uitgaan van die standpunt dat daar geen God is nie, en dat die heelal soos ons dit ken, min of meer op eie stoom ontstaan en ontwikkel het tot die uiters komplekse en delikaat gebalanseerde kosmos waarin ons leef.
Daar ís egter ’n ding wat ek by iemand soos Sagan leer, en dit is dat die mens nie moet dink hy is die een en al van die skepping nie. Dis ’n siening wat van die vroegste tye al bestaan het. Daarom is daar vir baie lank geglo dat die aarde die middelpunt van die heelal is, en dat die son om die aarde draai. Daar is ook vir baie lank geglo dat die mens die kroon van die skepping is, en dat die aarde gemaak is sodat die mens ’n byplek kan hê.
Dié siening is natuurlik nie ongegrond nie. Die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 wil dit suggereer. Genesis 1 se verhaal loop op tot die klimaks waar die mens geskep word, en Genesis 2 vertel die skeppingsverhaal weer so dat die aarde as ’t ware om die mens se behoeftes gebou is. Daar is dus baie goeie redes waarom ons glo ons is nie soos die diere nie; dat ons anders is. Ons is immers na die beeld van God gemaak. In ons het Hy die asem van die lewe geblaas.
Wat ons egter nie mooi raakgesien het nie, is dat God nie nét vir ons gemaak het nie, en dat die skepping nie nét om ons gaan nie. Ja, ons hét ’n baie besondere plek in God se mooi wêreld, maar ons het nie dié plek verniet nie. Ons het dié plek sodat ons bewaarders van God se goeie skepping kan wees.
Dis op dié punt dat iemand soos Sagan ons kan help om ons te stroop van ons idee dat ons alte belangrik is, asof nét ons tel. Die res van die geskape werklikheid tel ook. Lees weer Genesis 1, en jy sal sien dat God trots is op sy skepping. Die res van die Bybel herinner ons ook daaraan, soms op onverwagte plekke. Een van dié plekke is die boek Jona. Die boek Jona sluit met hierdie treffende vraag van God af (4:10,11): “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?” En in Matteus 10:29 herinner Jesus ons daaraan dat God ook oor die mossies begaan is: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.” ’n Mens kan ook beswaarlik die verhaal van Noag (Genesis 5 en verder) lees sonder om God se omgee vir sy hele skepping raak te sien.
As God dan só oor sy skepping voel, durf ons ongeërg wees oor die praktyke wat God se skepping so verniel? Ons is tog hier om dit op te pas?
Views: 52