Op U verlaat ek my,
genadige Heer;
die vrede wat U bring,
is al wat ek begeer.

Ek het U nodig, Here,
daagliks, talle kere!
Neem U my hand, o Heiland,
ek kom na U.

Dis die woorde die eerste vers en refrein van die lied “I need Thee every hour” wat ek in Afrikaans vertaal het.

Ek het dit destyds vertaal met die gedagte dat ek die Here nodig het in my swaar en seer, en dit is natuurlik waar. En ek kan daarvan getuig hoe Hy my regop hou te midde van woeste aanslae en teleurstellings, soos Paulus geskryf het in 2 Kor. 4:9: “… ons word … op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie,” want, skryf hy in vers 7, “die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

Vanoggend in my stiltetyd maak die Here my bewus van ’n aspek van my lewe waaraan ek sal moet werk, en skielik kry die gebed van die lied wat ek hierbo aangehaal het, vir my nuwe betekenis. Ek het die Here daagliks nodig, nie net om my te help om my terugslae en teleurstellings te bowe te kom nie; ek het die Here nodig om my te help om te stry teen die ou natuur in my, om my te help om oorwinnings in sy Naam te behaal. Ek het die Here daagliks nodig!

Toe onthou ek ’n ander vers van dieselfde lied:

Op U verlaat ek my,
bly U tog naby my;
versoekings neem die wyk
as U steeds by my bly.

Ek het die woorde destyds vertaal, maar nie regtig besef hoe waar dit is nie. En nou wonder ek sommer hoeveel ander gelowiges dink nie ook so nie? Dat ons die Here nodig het as dit sleg gaan, maar dat ons nie eintlik erns maak wat verkeerd is in ons lewe en die Here se hulp daarvoor vra nie? Dat ons onsself nie ondersoek in die lig van die Skrif nie? Dat ons nie regtig hard werk aan aspekte van onsself wat óók onder beheer van die Gees moet kom nie? ’n Los tong, gierigheid, afguns, liefdeloosheid, vyandskap, verdeeldheid, kliekvorming, bevooroordeeldheid, kru taal … Kyk gerus hoe Paulus hieroor skryf in Gal. 5:13-21!

Gelukkig vertel Paulus ons ook hoe God ons hiermee help. Hy skryf in Gal. 5:22-23 wat gebeur as die Gees van God beheer oorneem in my lewe. En in Efes. 6:10-18 vertel hy van die wapenrusting wat God voorsien om ons te help:

Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.
Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.
Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

Ek het U nodig, Here! Daagliks, talle kere!

image_pdfimage_print

Views: 656

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.