Heb 1:1-3
Die uitnemende grootheid van die Seun van God
1 In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.
Die Hebreërboek, soos min ander boeke in die Bybel, is ’n boek wat ’n mens sommer dadelik aanspreek, omdat sy boodskap gerig is aan mense wat met presies dieselfde probleem worstel as ons: Hoe bly jou geloof gesond?
Dié boek is geskryf aan mense wat moeg geword het om te bly glo, en nou skryf hy om hulle aan te spoor om moed te hou, te volhard – want ook in die vroeë kerk was die probleem al daar dat mense geestelik moeg en afgestomp geword het en selfs gevaar geloop het om heeltemal afvallig te word.
Dis aangrypend om te sien hoe hy hulle bemoedig. Hy begin hierdie homilie (lang preek-brief) nie deur sy lesers te verwyt of met hulle te raas oor hulle laksheid en koudheid nie. Nee. Die wonderlike evangelieboodskap werk nie so nie. Dit begin nooit by die mens en sy foute nie – dit begin altyd weer by God. En daarom, wanneer die skrywer van die Hebreër-brief vir ons wil bemoedig en aanspoor, begin hy nie by ons traagheid en louheid nie – maar begin hy by God, begin hy deur vir ons te sê: God het ons nie vergeet nie! Hy het met ons kom praat! Begin hy met die wonderlike evangelie-boodskap dat God sy Seun na hierdie wêreld, na ons, na jou en my, gestuur het. Die Bybel begin nie by ons sondigheid, ons traagheid nie, maar by God se liefde, God se genade wat Hy so duidelik aan ons bewys het toe Hy sy Seun, Jesus Christus, na ons gestuur het. Daarom begin hierdie brief: God het met ons gepraat (1:1-3).
Miskien moet ons dit maar weer ’n keer hoor vandag: God se genade is baie groter as die sonde en die duiwel. Daarom het Christus aan die kruis oor Satan en sonde getriomfeer – en daarom kan Hy ook elke dag in ons lewens die traagheid en laksheid oorwin.
Dit is wat skrywer in hierdie brief aan ons wil sê. Daarom begin hy deur ons te herinner aan die Here Jesus, wat na die wêreld gekom het, wat die reiniging van sondes bewerkstellig het aan die kruis, en nou aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel sit as Oorwinnaar. En reg deur die brief herinner hy ons telkens daaraan dat ons ons oë op die Here Jesus moet hou, dan sal ons van Hom die krag ontvang om op die geestelike pad staande te bly.
Die skrywer wil vir ons sê: Dis omdat mense in eie krag probeer om as Christene te lewe, dat hulle moeg raak en uitsak, dat hulle verflou op die geloofspad. Ek kry dit dikwels as ek met mense oor hulle swak kerklike meelewing en ongelowigheid praat. Dan reageer hulle daarop deur te sê: Nee, maar ek sal nou weer kerk toe kom. En dan duur hierdie goeie voornemens gewoonlik nie langer as ’n Sondag of twee nie, dan gaan dit maar weer soos altyd.
Dit laat my nou dink aan ’n verhaaltjie van Paul White in “Oerwouddokter se fabels”. Daarin vertel hy van twee apies wat met ’n kokosneut in die oerwoud gespeel het. Toe val die neut in ’n moeras vol dryfsand. Een van die apies het ingespring om die neut uit te haal, maar toe kan hyself nie uit nie en begin sink. Sy maatjie kom toe met die briljante idee dat hy homself aan sy wangbaarde uit die moeras moet oplig. Die apie het dit nie gemaak nie, siestog.
Dis presies wat baie van ons probeer: om in eie krag die regte pad te loop. Daarom sê die skrywer van Hebreërs vir ons: Moenie self probeer, in eie krag, om vir die Here te lewe nie. Jy sal dit nie regkry nie. Jy het Iemand Anders se hulp nodig. Jy het Jesus nodig. En Hy wil jou help! Daarom het Hy na hierdie wêreld gekom, nie net om ons uit die moeras van die sonde uit te lig nie, maar ook om ons elke dag op die regte pad te hou, sodat ons nie aanmekaar weer in die moeras beland nie.
Daarom sê die skrywer op talle plekke in die brief vir ons: Hou op om so hard te probeer om sélf as Christene te lewe. Gee God die kans. Lewe in sy krag, gee jouself elke dag opnuut aan Hom oor, laat Hy jou vashou – dan sal jy staande bly.
In Heb 12:1-3 sê hy dit veral treffend:
Hebrews 12:1–3 (AFRIKAAN)
Die oog moet op Jesus gevestig wees.
12 Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
Dít is die geheim van ’n veerkragtige geloofslewe, ’n lewe van oorwinning, ’n lewe waarin ’n mens groei in die geloof en nie geestelik moeg word en uitsak nie: Kyk elke oomblik van elke dag op na Jesus! Moenie só verstrik raak in jou eie pogings, in jou eie stryd teen die sonde, dat jy vergeet dat Jesus jou daar kan en wil uittrek nie. Moenie só met jouself besig raak, dat jy jou oë van die Here Jesus afneem nie. Hou die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
Amen.
Goeie preek Jaco.Vandat ek kan onthou word daar gepraat van die skrywer van die boek Hebreers.Net vir interessantheid,wil ek graag weet of daar ‘n moontlikheid bestaan wie die boek dalk geskryf het,indien enige?
Groetnis.
Hallo Werner
Onsgelukkig weet ons nie wie die skrywer was nie. Hy was ‘n uitstaande meester van Grieks (wat ongelukkig nie van die ander skrywers van die NT gesê kan word nie) en hy gebruik kunsprosa. Volgens keneers is die Hebreërbrief een van die beste geskrifte uit die eerste eeu nC.
Die beste wat ons kan sê, is dat dit iemand was wat goed vertroud was met Paulus se teologie en leer. Vermoedelik was hy een van Paulus se medewerkers, en daar word o.a. gewonder of dit nie dalk Apollos was nie. Ons lees o.a. van hom in Hand 18:24-28, en Paulus skryf ook van hom in 1 Korintiërs (op verskeie plekke in die brief) en Tisus 3:13. Maar ons weet nie met sekerheid nie; dis maar net ‘n raaiskoot.
Baie interessant.Dankie Jaco.