Iemand vra ’n tyd gelede vir my of ek nie iets sal skryf oor dankbaarheid nie.
Dis nie ’n maklike taak as iets baie slegs met jou gebeur het nie, soos dat jy jou werk verloor, of jy in ’n egskeiding beland, of jy finansieel ondergaan, of jy kry slegte nuus oor jou gesondheid. Jy voel seergemaak en ontredderd en ontsteld. En jy wonder in jou agterkop hoe op aarde God kan toelaat dat dit met jou gebeur. Hoe kan ’n mens dankbaar wees wanneer die mat onder jou uitgeruk word? Wanneer jy voel jy word veronreg?
Ons het natuurlik talle voorbeelde in die Bybel van mense wat in presies so ’n situasie was, en dit tog reggekry het om dankbaar en lewensbly te wees en die Here te prys. Ek dink nou sommer aan Job, wat in Job 1:21 gesê het: “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” Of Habakkuk (Hab. 3:18) wat gesê het, in ’n tyd toe letterlik alles verkeerd geloop het: “… nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” Of Paulus en Silas wat in die tronk lofliedere sing, nadat hulle onskuldig daar beland het en flenters geslaan is (Hand 16:25).
Voorbeelde van die teendeel is daar ongelukkig óók in die Bybel, soos koning Joram van Israel wat in 2 Konings 6:33 teenoor Elisa opgemerk het: “Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!”
As ek die ding so bekyk, is dit vir my duidelik dat dankbaarheid nie noodwendig voortspruit uit goeie dinge wat jou oorkom nie; inteendeel. As ons net dankbaar is of kan wees wanneer dit met ons goed gaan, sal daar min dankbaarheid in hierdie lewe wees. Ons lewe immers in ’n gebroke, stukkende wêreld waarin dinge nié noodwendig reg loop nie, waar onreg botvier en Satan sy houe links en regs inkry. Nogtans, skryf Paulus in 1 Tess 5:18, moet ons dankbaar bly: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
Paulus skryf ook in Fil. 4:4: “Wees altyd bly in die Here!” En dan voeg hy by, so al asof hy kan hoor hoe ons mor en vra of hy weet waarvan hy praat: “Ek herhaal: Wees bly!” As ons hom daaroor sou kon uitvra, sou hy aan ons kon verduidelik: “Ja, ek weet goed waarvan ek praat; ek sit in die tronk terwyl ek dit skryf! Daarom sê ek dit twee keer: Wees bly.”
Dankbaarheid kom nie vanself nie. ’n Mens moet diep gaan delf om dit in jouself te vind. Jy het baie genade nodig om verby jou pyn en seer en frustrasie en vernedering en verwerping te kyk, en wéér te kyk. Maar kyk tog, al is jy nie lus nie. Kyk diep. Jy sal God daar ontdek, ín jou seer, ín jou ontreddering. Want dis wat Hy doen: Hy los ’n mens nooit. Hy het mos self in Matt. 10:29 (BDV) gesê: “Word twee mossies nie vir ’n assarion verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie.” Waar die tekkie die teer slaan, daar is God! Ook in jou diepste nood is Hy by!
As jy diep genoeg kyk, sal jy ontdek dat wat jou oorgekom het, iewers in God se Raad netjies ingewerk is. Hy kan jou pyn en ellende ten goede laat meewerk. Hy kan uit jou nood iets goeds laat kom op ’n manier wat jy nooit verwag het nie. Want Hy is in beheer. Hy, nie Satan nie. Dis mos wat ons sing in Lied 573:1 en 3:
Ruwe storme breek in woede,
alles om my heen is nag;
tog hou God my in sy hoede:
Hy hou oor my heil die wag.
Kan ek soms sy hulp nie sien nie,
of sy liefde ooit verdien nie,
sal sy Gees my altyd lei:
Hy staan my in alles by.
Wat my tref in dood of lewe;
watter teenspoed op my wag,
Jesus sal my nooit begewe –
is ek swak, by Hom is krag.
Niks wat ek op aarde ly nie
kan my van sy liefde skei nie:
hoogte, diepte, vreugde, rou –
niks ontruk my aan Gods trou!
En dan is daar mos die ongelooflike getuienis in Klaagliedere 3, veral verse 18-26. In skerp kontras met koning Joram, na wie ek hierbo verwys het, sê die digter in vers 24: “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”
Dít is waaruit dankbaarheid vloei; myne ook!
Views: 62