Van ons Ou Testament redaksie
SOAR. – ’n Man het hier beweer dat sy vrou in ’n soutpilaar verander het toe hulle uit Sodom gevlug het net voor die verwoestende ramp die stad getref het.
Lot, ’n broerskind van die bekende donkiehandelaar Abraham van Hebron, is glo die aand voor die ramp deur twee onbekende mans ingelig oor die dreigende gevaar. Die mans het hom en sy gesin beveel om so vinnig moontlik pad te gee. Hulle moes vlug sonder om om te kyk, want, het die mans gesê, God gaan die stad straf oor sy sonde.
’n Entjie van die stad af het sy vrou glo omgedraai omdat sy van die kosbaarhede wat hulle in die huis moes agterlaat, wou gaan haal. Dit was toe dat sy in ’n soutpilaar verander het. Slegs Lot en sy twee dogters het die ramp oorleef.
- Lees hiervan in Gen. 19.
NABOT GESTENIG
JISREËL. – Die boeregemeenskap hier is met skok vervul oor die dood van een van die gesiene boere van dié vrugbare vlakte. Nabot, die eienaar van ’n spogfamilieplaas net langs die koning se somerpaleis, is met klippe doodgegooi nadat hy skuldig bevind is aan Godslastering. Hy het ook die koning gevloek, het die plaaslike hof bevind.
Hardnekkige gerugte doen egter die ronde dat sy dood ’n goed beplande set van koningin Isebel is om die grond van Nabot in die hande te kry. Dit is ’n algemeen bekende feit dat koning Agab lankal sy oog op die wingerd het, aangesien dit aan sy paleisgronde grens. Hy het juis verlede week ’n aanbod vir die grond aan Nabot gemaak, maar Nabot het geweier. Die koning was volgens gerugte baie teleurgesteld omdat hy nie daarin kon slaag om die grond te bekom nie.
Koning Agab het net na Nabot se dood op die grond beslag gelê.
- Lees hiervan in 1 Kon. 21:1-16.
Generaal gesond; Elisa se kneg siek
SAMARIA. – Die wonderbaarlike genesing van genl. Naäman waaroor ons verlede week berig het, het ’n tragiese nadraai gehad toe Elisa se kneg, Gehasi, melaats geword het.
Sover vasgestel kan word, het Gehasi melaats geword kort nadat genl. Naäman vertrek het. Blykbaar wou die profeet geen vergoeding van die generaal aanvaar omdat hy hom gesond gemaak het nie. Gehasi het toe sonder sy meester se medewete ’n betaling van 68 kg silwer en twee stelle klere van Naäman gevra en dit in sy kamer versteek. Die profeet het dit uitgevind en aangekondig dat Gehasi as straf self melaats sal word.
Hy het Gehasi uit sy diens ontslaan.
- Lees hiervan in 2 Kon. 5:15-27.
Mededeelsaamheid kenmerk gemeente
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – Ou inwoners van die stad praat met groot lof van die nuwe gemeente van Jesus. “Dit is verbasend dat hierdie mense alles vir mekaar oorhet, en dit terwyl die meeste van hulle mekaar maar onlangs eers leer ken het,” het een teenoor ons opgemerk.
Toe Bybelkoerant ondersoek ingestel het, kon ons nie anders as om dit ook op te merk nie. Niemand hou sy goed net vir homself nie. Party lede van die gemeente verkoop selfs hulle eiendom om uit die opbrengs ander lede te kan ondersteun.
- Lees Hand. 4:32-37.
Om oor na te dink
Dit is nie nodig om die verwoestende gevolge van materialisme (vir jouself én ander) uit te spel nie; uit hierdie paar gedeeltes is dit duidelik genoeg. As jou besittings jou god word, is daar min vryheid oor om agter die Here Jesus aan te loop. Die ywer na meer maak jou blind vir die nood van ander, want jy leef net vir jouself en jou goed. Wanneer jy ontdek dat alles wat jy het, in elk geval aan God behoort, dat dit net aan jou geleen is om met vreugde te geniet, gaan jou hart oop vir ander, en word dit moontlik om ander lief te hê.
Is jou aardse besittings jou hoogste goed?
Views: 149