Hoeveel keer het ek nie al die versugting gehad dat God ’n wonderwerk moet doen soos in Bybelse tye nie! Dat Hy moet ingryp, dinge moet omkeer, verandering bring, sy mag moet toon op ’n onmisverstaanbare manier. In Bybelse tye was dit mos anders. Toe het God die Rietsee oopgekloof, water uit die rots laat vloei, manna gegee, genesings laat plaasvind …

Vanoggend lees ek Psalm 77, van Asaf. Asaf was ’n tydgenoot van koning Dawid. Hy het geleef in ’n tyd toe Israel sy hoogbloei beleef het, toe God vrede na alle kante toe vir sy volk gegee het. Maar in sy persoonlike lewe was daar klaarblyklik dinge verkeerd, want die psalm is ’n noodroep, ’n klag na God, dat Hy sal ingryp. “Ek roep na God om hulp, want Hy sal my hoor.” Só begin hy. Maar die realiteit van sy nood laat sy sekerheid gou wegkalwer, want in vers 4 sug hy: “Ek dink aan God en ek sug, en dink na en ek is verslae.” En later, in vers 9: “Geld sy beloftes dan glad nie meer nie?” Iewers, so voel hy, hoor God dalk nie. Of reageer Hy nie. Dis dan dat sy gedagtes terugdwaal na die verre verlede, na die wonderdade van vroeër (vers 12).

Toe ek dit lees, dag ek eers, wat dan van die wonderdade in sy eie tyd? Van Dawid wat Goliat verslaan het? Was dit nie ’n wonderwerk nie? Van die rus na alle kante toe vir Israel, in ’n tyd toe oorlog konings se stokperdjie was. Was dit nie ook ’n wonderwerk nie? Maar toe dink ek: in die Bybelse tye het mense nie altyd God se dade so helder raakgesien en as wonderwerke herken soos dit uit die Bybelse vertelling mag lyk nie. Asaf het daarmee gesukkel, en dit voel selfs vir hom of God afwesig is uit sy lewe.

Dit lyk my ons versugting na wonderwerke is ’n verkeerde een, want wonderwerke gebeur nog. As ’n mens terugkyk op jou lewe, is daar immers bakens op jou lewenspad wat vertel van God se beskikking en sorg. Wonderwerke gebeur nog, maar, soos Asaf, sien ons dit nie altyd raak nie, of is ons geheue baie kort. Daarom, so dink ek in elk geval, moet ons nie soseer bid vir wonderwerke nie, want dit ís daar. Ons moet eerder bid vir geloofsoë, sodat ons die wonderwerke in ons eie tyd en lewens kan sien en dit kan waardeer, en God daarvoor kan prys.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.