Van ons Ou Testament redaksie
GERAR. – Daar was gister ongekende vreugde in die laer van die skatryk donkiehandelaar Abraham seun van Tera toe sy vrou Sara geboorte geskenk het aan ’n fris babaseuntjie.
Wat die geboorte so merkwaardig maak, is dat Sara al ’n vrou van 90 jaar oud is, en Abraham al 100! Die vroedvrou wat Sara tydens die geboorte bygestaan het (vanweë professionele redes mag ons ongelukkig nie haar naam bekend maak nie), het gesê dat alles baie goed afgeloop het. “As jy Sara se ouderdom in ag neem, en in gedagte hou dat dit boonop haar eerste baba is, het die geboorte eintlik verstommend goed verloop,” het die verligte vroudvrou aan Bybelkoerant vertel.
Kenners is dit eens dat daar gister mediese geskiedenis gemaak is. Een dokter wat om kommentaar genader is, het net sy kop geskud en gesê hy het in sy ganse lewe nog nie van so iets gehoor nie. “Ek kan my nie voorstel dat dit ooit weer sal gebeur dat so ’n ou vrou ’n baba kan hê nie. Dis net eenvoudig ongehoord.”
Ondertussen is die laer in rep en roer soos daar voorbereidings getref word vir die feesvierings oor ’n week, wanneer die nuwe aankomeling van die gesin besny gaan word. Volgens Abraham is dit die gebruik by hulle dat elke seuntjie op die agtste dag besny word as teken dat hy aan die lewende God behoort.
Die kêreltjie oor wie al die opgewondenheid gaan, se naam is heel gepas Isak, wat “lag” beteken.
- Lees meer hieroor in Gen. 21:1-7.
GENIET DIE LEWE, SÊ KONING
JERUSALEM. – Die koning het in ’n diepsinnige werk wat vandeesmaand hier gepubliseer is, sy onderdane opgeroep om die lewe te geniet.
In die boek, wat hy onder die skuilnaam “Die Prediker” uitgee, skryf hy dat ’n mens op twee maniere na die wêreld kan kyk: jy kan daarna kyk as die begin en die einde van jou bestaan, en dan kom jy onvermydelik tot die slotsom dat alles tot niks kom nie en ’n gejaag na wind is. Of jy kan raak sien dat God betrokke is in ons wêreld, dat elke dag ’n gawe uit sy hand is. Dán word jou lewe ’n genot, en elke dag ’n avontuur.
Ons beveel die boek van harte aan. Lees dit gerus!
- Lees veral Pred. 2:17-26 en 5:17-19.
Vyf brode en twee visse gee kos vir duisende
Van ons Nuwe Testament redaksie
BETSAIDA. – Die jong rabbi Jesus van Nasaret het gisteraand hier in die distrik groot opgewondenheid veroorsaak toe hy vir ’n skare mense (net die mans alleen was al omtrent vyf duisend) só baie kos gegee het dat daar, toe almal meer as genoeg gehad het, twaalf mandjies vol kos oorgebly het.
Dit was teen druktyd nog nie presies duidelik waar hy kos vir al die mense gekry het nie. Dit is algemeen bekend dat Jesus en sy dissipels dit nie breed het nie, en die kos sou ’n klein fortuin gekos het as hulle dit moes aankoop. Sy dissipels beweer dat Jesus vyf garsbrode en twee vissies by ’n seuntjie gekry het, en dat hy dít eenvoudig begin breek en vir die mense uitgedeel het. “Dit was ongelooflik. Die brood en die vis het net al meer en meer geword! Hoe meer hy dit verdeel het, hoe meer was daar, totdat almal gekry het. Dis ’n wonderwerk,” het Simon, die leier van die dissipels, opgemerk. Dit lyk asof die skare hiermee saamstem, want hulle praat onder mekaar dat hy die Profeet is wat volgens ou voorspellings na die wêreld sou kom. Daar is selfs sprake dat hulle hom koning wil maak.
Een van die Skrifgeleerdes met wie ons gepraat het, is egter baie beslis dat die “wonderwerk” een groot wolhaarstorie is. Net God kan immers wonders doen, het hy met nadruk gesê. Sy verklaring is dat die mense almal kos by hulle gehad het, maar net te skaam was om dit uit te haal. Toe Jesus die brood en vis te voorskyn bring, het dit die ander die vrymoedigheid gegee om ook hulle kos te begin eet. Vandaar al die kos. Hy kon egter nie aan ons verklaar hoekom die oorskiet in die mandjies nét uit garsbrood en vis bestaan het nie.
- Lees hiervan o.a. in Joh. 6:1-15.
Om oor na te dink
As ’n mens deur die Bybel blaai, verstom dit jou telkens hoeveel uitsprake daarin gemaak word wat dit duidelik maak dat God wil hê dat ons dit moet geniet op hierdie aarde. Een van die bekendste gedeeltes in dié verband is natuurlik Fil. 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” God wil nie ’n pretbederwer wees nie; inteendeel, Hy gun ons ’n gelukkige, vreugdevolle lewe. Prediker 2:24 sê dat dit een van God se gawes aan ons is: “Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is.” G’n wonder nie dat Jesus vir die skare ’n impromptu-feesmaal verskaf.
Abraham en Sara het iets hiervan gesnap toe hulle hulle seun Isak genoem het: God het die lag in hulle lewe teruggebring.
Wees jy ook hierdie dag bly! God gun dit vir jou.