Geluk, sê iemand anderdag vir my, is soos ’n reënboog. As jy dit probeer vang, bly dit jou ontwyk. Hoe meer jy daarop fokus om gelukkig te wees, hoe minder kry jy dit reg.
Die Prediker het dit eeue gelede al op ’n ongelooflike manier vir ons verwoord. Hy skryf hoe hy geluk gejaag het totdat hy uiteindelik al die moontlikhede uitgeput het:
- kennis het dit nie gebring nie: wie kennis versamel, versamel smart (1:18)
- plesier en genot was uiteindelik sinloos (2:2)
- drank het nie die leemte gevul nie (2:3)
- groot ondernemings, rykdom, mooi meisies, mag, noem maar op … dit bevredig nie (2:4-11)
- selfs wysheid was nie die antwoord nie (2:16)
Hoe kry jy dan geluk? Die Prediker sal sê: deur op te hou om naarstiglik daarna te soek, en God toe te laat om jou lewe oor te neem. “Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?” vra hy retories in 2:25.
Dit is die paradoks van die lewe. Jesus stel dit só in Matteus 16:25: Jy moet jouself verloor as jy die lewe wil vind. Want in die weggee van jouself – aan God en aan ander – kry jy op ’n vreemde manier baie meer as wat jy weggee. Ons logika sê dit kan nie so werk nie. Daarom klou ons verbete aan alles wat ons het. Ons leef toehand en selfsugtig, elke man vir homself, en wonder verbaas hoekom ons so vol stres en komplekse en ongelukkigheid deur die lewe gaan.
So, tree uit jouself. Lê daardie besoek af. Maak daardie oproep. Beteken iets vir iemand anders. Dis wat Jesus gedoen het. Dis waar geluk op jou wag.
Views: 52