’n Mens kan hierdie uitspraak van Jesus na twee kante toe verstaan.
Die een kant is natuurlik die geloof-kant. Die punt wat Jesus dan maak, is dat dit nie ons groot geloof is wat die ding doen nie, maar God, vir Wie niks onmoontlik is nie. Die fokus moet dus nie op my en my (gebrek aan) geloof wees nie, maar op God en sy almag. Ek vind dit nogal erg vertroostend.
Daar is ook ’n ander kant van dié woorde van Jesus. Ons moet raaksien dat Hy hier (Luk. 17:1-10) praat met sy dissipels oor die plig om te vergewe, tot sewe keer op ’n dag (vers 4). As ek sien hoe sukkel mense soms om te vergewe, is dit nie vreemd dat die dissipels vir meer geloof vra nie. Dis asof hulle sê hulle sukkel met dié een, maar as hulle net meer geloof gehad het, was dit ’n ander saak. Dis dán dat die Here van die moerbeiboom praat wat sal vlieg. Dit lyk my Hy wil vir die dissipels (en vir ons) sê hulle het die kat aan die stert beet. Hulle wag vir een of ander soort wonderwerk van Bo wat hulle in staat moet stel om ander te kan vergewe, maar ’n mens het nie meer geloof nodig om ander te vergewe nie. Hy vra immers nie van ons om moerbeibome in die see te gaan plant nie. Hy vra van ons om mekaar te vergewe, en daarvoor het jy maar net gehoorsaamheid nodig. Vergifnis gaan nie om geloof nie. Dit gaan om gehoorsaamheid. Jesus sê: moenie sit en wag dat iets bo-natuurliks, iets wonderliks met jou gebeur sodat jy in vrede met ander kan leef nie. Rol jou moue op en begin net.
Daarom vertel Hy (vers 7-10) die gelykenis van die slaaf wat die hele dag hard gewerk het in die lande. Dan, as sy taak buite klaar is en hy inkom huis toe, moet hy nog die ete ook voorberei. Dit vra nie groot geloof om dit te kan doen nie, sê Jesus. Dit vra maar net gewilligheid. Dis deel van sy werk as slaaf.
Net so, sê Jesus, is vergifnis deel van kind-van-God-wees. Ons moenie vir ’n wonderwerk van Bo wag voordat ons na mekaar uitreik nie. Ons moet dit doodeenvoudig net doen, want dis hoe die Here Jesus ons voorgeleef het. Hy het tog eerste na ons uitgereik en ons vergewe. As ons nou só teenoor mekaar leef, doen ons niks besonders nie. Dis deel van Christen-wees, en klaar.
’n Groot deel van ons navolging van Jesus is nie soseer ’n saak van groot geloof nie. Dis doodeenvoudig ’n saak van gehoorsaamheid en gewilligheid. Daarom moet ons ons nie verknies omdat ons nie geloofsreuse soos Abraham of Elia of Andrew Murray of Billy Graham is nie. Ek en jy kan ook.
Lukas 17:1-10
17 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. 2So ’n mens kan eerder met ’n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ’n struikelblok word. 3Wees dus self op julle hoede.
“As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 4Selfs as hy sewe maal op ’n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”
5Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.”
6Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.
7“Sê nou een van julle het ’n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? 8Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’9’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? 10So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”
Views: 8