Ek moet erken dat die owerheid nie hoog op my gebedslysie is nie. Ek voel nie juis goed daaroor nie, want ek weet maar te goed dat die owerheid juis ons gebede baie, baie nodig het.
Ek gebruik as deel van my stiltetyd die daaglikse gebedsprogram van die Church of England. Ek kan dit werklik aanbeveel. Dis Skriflesings en gebede vir elke dag van die jaar, met ’n hele paar psalms elke dag. Onder andere is daar dan ’n geleentheid aan die einde waarin jy kan bid
- vir die dag en sy take
- vir die wêreld en sy behoeftes, en
- vir die kerk en haar lewe
Soos ek sê, baie sinvol. Jy kan gerus daarna gaan kyk op hulle webwerf.
Een van die dinge wat my ‘n tyd terug getref het toe ek die voorgeskrewe psalms lees (dit was o.a. Psalm 21) is hoe anders ek dié psalm lees as wat die Israeliete dit gelees het, en, vermoed ek, die lede van die Church of England (wat ’n koningshuis het) dit lees. As ek lees hoe die psalmdigter van die koning praat, is daar by my dadelik afstand en ’n ander verstaan van die gebed. Vir die digter gaan dit oor sy koning en die regering in sy land (en ek skat dis hoe ’n Britse burger dit vandag steeds sal lees), maar vir my is daar geen so ’n konneksie nie. Ons hét immers nie ’n koning wat oor ons regeer nie.
Maar toe ek ’n rukkie daaroor nadink, het ek besef dat dit nie nodig is dat ek diskonnekteer van die psalm nie. Ons het wel nie ’n koning nie, maar ons regering het dieselfde wysheid en leiding nodig as wat die konings van Israel nodig gehad het, en hulle het ook dieselfde taak: om regverdig te regeer en om te sien na al die landsburgers, veral ook na die armes en die weerloses.
Ek het dadelik vir die regering in al sy gestaltes gebid; iets wat ek te min doen.
Die gebedsprogram het met hierdie gebed afgesluit (wat ek vertaal het):
Almagtige Vader,
dit is u wil dat alle dinge herstel sal word
in u geliefde Seun, die Koning van almal:
regeer die harte en gedagtes van hulle in gesagsposisies,
en bring die familie van die volkere,
verdeeld en verskeurd deur die verwoesting van sonde,
om onderworpe te wees aan sy regverdige en sagte heerskappy;
Hy wat leef en met U regeer
in die eenheid van die Heilige Gees,
een God, nou en vir ewig.
Views: 34
So waar … laat ons in vrede saam leef.