Ons dink meestal, as dit Kersfees word, aan Jesus en sy geboorte; dat die Seun van God sy hemelse heerlikheid prysgegee het om mens te word en onder ons te kom woon. En dit is ook reg so. Dit is die wonder van Kersfees.
Die laaste ruk dwing ’n ander perspektief op Kersfees hom aan my op. Kersfees gaan nie net oor Jesus se geboorte nie. Dit gaan ook oor God die Vader se liefde; ’n Vader wat sy Seun die wêreld instuur, maar nie los nie. Die Seun kom aarde toe omdat Hy weet sy Vader sal Hom dra.
In die Evangelies lees ons op meer plekke van die besondere band wat die Vader met Jesus het. By Jesus se doop, en later op die berg van verheerliking, hoor ons dit onmisverstaanbaar (Matt 3:17 en 17:5): “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Die Vader se liefde vir die wêreld het nie sy liefde vir sy Seun verwater nie. Die band tussen Pa en Kind was so sterk soos altyd. Daarom was dit ook, heel gepas, met sy Pa wat Jesus in sy sterwensoomblikke gepraat het (Luk 23:46): “Vader, in u hande gee ek my gees oor.”
Omdat die Seun ’n Pa gehad het wat Hom onvoorwaarlik liefhet en daar was vir Hom, kon Jesus sy taak met sukses verrig; het Hy geweet sy Pa is daar vir Hom, selfs in sy bitterste lyding.
Ek wonder hoe anders die wêreld sou gelyk het as ons aardse pa’s soos ons hemelse Pa was. As ons kinders geweet het ons het hulle onvoorwaarlik lief. As ons dáár was vir ons kinders. Hoe anders ons kinders se huwelike sou gelyk het. Hoe anders ons kinders se geloofsverbintenis aan God sou gelyk het. Dis nie toevallig nie dat baie mense wat God die rug toekeer, uit huise kom waar hulle ’n gebrek aan vaderliefde en vaderaandag gekry het. As jou aarde pa afwesig is in jou lewe, sukkel jy om jou hemelse Pa te vertrou.
Kersfees gaan nie net oor Jesus nie. Dit gaan ook oor ’n hemelse Vader wat sy Kind die wêreld instuur en steeds daar is vir Hom. Soos ek en jy in die jaar wat voorlê, vir ons kinders moet wees.