Kersfees en geskenke is min of meer sinoniem, om nie te praat van die oom met die verspotte rooi pak en wit baard nie. Daar was anderdag ’n storie in die koerant oor ’n gemeente in die VSA wat die polisie ontbied het omdat daar mense was wat vir die kinders vertel het dat Kersvader nie regtig is nie. Hulle was kwaad omdat dié mense Kersfees vir hulle kinders bederf het. Nogal ’n kerk wat só opgetree het.
Ek lees vanoggend in die koerant dat Suid-Afrikaners nogal hoë verwagtings het as dit kom by Kersgeskenke. Glad nie lekkergoed nie, o nee. Juweliersware, geld, klere en parfuum is die geskenkies wat mense wil hê. Hoe dan anders? Suid-Afrikaners bestee dan gemiddeld R1500 op Kersgeskenke. ’n Mens kan nogal baie lekkergoed daarvoor koop!
Toe ek ’n kind was, was daar ’n reël in ons huis dat ons ’n verjaardaggeskenk ter waarde van twee rand kon kies, en ’n Kersgeskenk ter waarde van vyftig sent. Ek weet geld kon in daardie dae baie meer koop as vandag, maar vyftig sent was selfs destyds ook nie te veel nie. En dit was ’n kwart van ’n verjaardagpresent. Ek dink nie juweliersware of klere of parfuum sou op my inkopielys kon kom teen vyftig sent nie.
Ek onthou ook dat ons ’n sokkie by die kaggel moes ophang waarin die geskenk vir ons geplaas is – deur ons ouers, natuurlik. Ons het g’n stuk in Kersvader geglo nie. Hy was glad nie in die prentjie in ons huis nie, hoewel ons natuurlik van hom geweet het. Maar jy kan jouself indink hoe ’n groot geskenk in ’n sokkie kon pas. Beslis nie ’n fiets of ’n Playstation of ’n nuwe motor nie.
Dit was my eerste kennismaking met Kersgeskenke. Want, so is ek geleer, Kersfees gaan nie oor die geskenke nie. Dit gaan om die Here Jesus wat gebore is. Dít is waar die klem moet val: op Jesus.
Ek wéét daar is baie wat nie met my sal saamstem nie; wat glo dat die Kerstyd ’n tyd van gee is, en daarom nie omgee hoeveel hulle op Kersgeskenke bestee nie, solank dit net die kinderharte verbly. Maar ek wonder hoe sulke ouers en grootouers dit regkry om hulle kinders te leer dat dit nie eintlik oor die geskenke gaan nie. Dit help nie jy sê dit gaan oor Jesus, maar alles wat jy doen, vertel dat dit eintlik oor die geskenke gaan nie. “Put your money where your mouth is,” sê hulle mos. So sit dan jou geld op Jesus.
As jou kind ’n fiets of ’n nuwe tennisraket nodig het, gee dit vir hom of haar vóór Kersfees, of aan die begin van die nuwe jaar. En hou jou Kersgeskenke klein, sodat dit die harte verbly sonder om die fokus van Jesus weg te trek.
Dis in elk geval hoe ek oor Kersgeskenke dink.
Views: 155