Hemelse Vader
Die jaar se asem is bykans op; 2018 is amper verby. Teen die spoed van een dag op ’n slag het 2018 voor ons oë verbygesnel.
Ons dank U, Here, dat U op soveel verskillende maniere gedurende die afgelope jaar in ons midde teenwoordig was:
- Toe dit donker was, het U u hemelse lig laat skyn.
- Toe slegte nuus in die omgewing was, het Jesus se Goeie Nuus opgedaag.
- Toe geweld en chaos gedreig het om oor te neem, het u vrede getriomfeer.
- Toe moed en hoop weggesyfer het in die sand, het die hoop wat U bring, in ’n paar harte bly brand.
Op wonderlike maniere het U u vingerafdrukke op ons lewens agtergelaat in 2018:
- Toe ons gepleit het, het U op u eie maniere ons gebede verhoor.
- Toe ons brood by die hemel gaan bedel het, was Christus ons nogmaals genadig en het Hy van voor af met ons begin.
- Toe ons dors was, was Lewende Water altyd in die nabyheid.
O Here, U was en is steeds net een gebed ver.
En nou wink 2019. Ons weet nie wat alles vir ons voorlê nie, maar ons weet U sal in die nuwe jaar met ons wees. Daarom dat ons 2019 kan omhels. Ons is nie alleen nie. Ons is nie soos mense sonder hoop nie. Alles behalwe. Ons is u duurgekoopte eiendom. Tree vir tree loop ons saam met U, wat die Pad en die Eindbestemming is. In u Naam durf ons reuse aan en loop ons deur groen weivelde.
Dankie dat U ons hoop is!
Amen.
(nav ’n skrywe van Stephan Joubert)
Views: 894