AVANIS. – Die farao het vandag hier op ’n nuuskonferensie ’n sewejaarplan genaamd GVE (Graan vir Egipte) bekend gestel. Die doel van die GVE is om genoeg graan op te gaar, sodat niemand in geval van ’n langdurige droogte broodsgebrek sal ly nie. By dieselfde geleentheid het hy aangekondig dat hy ’n buitengewone pos geskep het om te verseker dat die inwerkingstelling van sy plan vlot verloop. Die man wat hierdie pos sal beklee, is Safenat-Paneag, ’n jong Hebreër van dertig jaar oud. Hy sal in rang net onder die farao staan, en dus tweede in bevel in die land wees.
In ’n plegtige seremonie het die farao sy seëlring afgehaal en dit aan Safenat-Paneag se vinger gesteek. Hy het ’n spesiale linnekleed aan hom oorhandig en ’n goue ketting om sy nek gehang. Hy het ook die tweede beste wa in Egipte as rytuig ontvang. Die farao het daarna vir Safenat-Paneag geluk en sterkte toegewens en ’n beroep op al sy onderdane gedoen om hulle volle samewerking aan hom te gee. Hy het onder meer gesê: “Ek bly die farao, maar ronder sy toestemming mag niemand in Egipte ’n vinger verroer of ’n voet versit nie.”
Farao het die GVE-plan gekry nadat hy in ’n droom deur die gode gewaarsku is dat daar sewe jare van oorvloed wag, wat onmiddellik daarna opgevolg sal word deur sewe jaar van ongekende droogte. Die man wat die droom vir hom uitgelê het, was Safenat-Paneag, wat nou bevorder is tot eerste minister.
- Lees hiervan in Gen. 41:37-57.
VAN TRONK TOT TROON!
AVANIS. – Die man wat vandag die besondere eer te beurt geval het om deur die farao in die nuwe pos as hoof van GVE aangestel te word (sien berig elders in hierdie uitgawe), was tot enkele ure gelede nog ’n gevangene in die koninklike tronk.
Dié rare verhaal het hom vandag stuk-stuk ontvou in ’n openhartige onderhoud wat Safenat-Paneag aan Die Bybelkoerant toegestaan het. Hy het in die land Kanaän grootgeword, maar is op sewentien as slaaf na Egipte gebring. Hoe hy in slawerny verval het, wou hy nie vertel nie. Hier het hy in die huishouding van Potifar, die hoof van die koninklike wag, beland. Hy het vinnig opgang gemaak en was later in beheer van Potifar se hele huishouding. Na ’n baie ongelukkige voorval – weer eens wou hy nie verdere besonderhede verstrek nie – is hy in die tronk gegooi. Daar het hy gou die vertroue van die owerhede gewen en is hy as hoofgevangene aangestel. En sedert gister, toe hy na die farao ontbied is om die droom uit te lê, is hy ’n vry man.
Oor sy buitengewone vermoë om drome uit te lê, is hy beskeie. “Dis nie ek wat die drome verklaar nie. Ek is maar net ’n instrument in die hand van Jahwe, die God van my vaders. Dit is immers Hy wat die toekoms aan ons geliefde farao bekend gemaak het deur middel van die droom. Ek is net bly dat ek in ’n posisie was om te kon help.”
- Lees hiervan in Gen. 41:1-32.
Daar wag harde werk, maan hoof van GVE
AVANIS. – Op dieselfde nuuskonferensie waarop die farao die Graan vir Egipte-projek (GVE) aangekondig het, het die man op wie se skouers die GVE rus, Safenat-Paneag, ’n ernstige waarskuwing tot al die Egiptenaars gerig dat dit ’n uiterste spanpoging sal verg om die plan te laat slaag. Hy het bekend gemaak dat hy beamptes in al die provinsies gaan aanstel wat al die surplusgraan in die volgende sewe jaar van oorvloed gaan insamel. Hy het ook planne bekend gemaak vir die bou van graanskure in elke stad in die land, sodat daar genoeg bergplek kan wees.
- Lees hiervan in Gen. 41:33-36.
Om oor na te dink
Dit is maklik om in ’n oomblik van glorie voor die versoeking te swig om die kollig op jouself te probeer hou. Josef was werklik “die man van die oomblik” toe hy uit die tronk gehaal is om die farao se droom uit te lê. En tog weier hy om die roem vir homself te neem. “Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u” (Gen. 41:16), was sy verontwaardigde antwoord aan die farao toe dié te kenne gee dat dit Josef se eie vermoë is.
Dit is ware grootheid: om die lig van jouself af weg te draai na Hom wat sy lewe vir ons gegee het. Om, soos Johannes die Doper, te sê: “Hy moet meer word en ek minder’”(Joh. 3:30). Dit is ook ons roeping as sy gestuurdes, sy getuies in hierdie wêreld.
Lewe jy jou roeping as getuie van Christus Jesus uit, soos Josef wat nie huiwer om selfs as gevangene God te verheerlik nie?
Laat ons bid vir oop oë, sodat ons die geleenthede om oor die groot dade van God te kan getuig, sal raak sien. En laat ons bid vir die moed en beskeidenheid om dan dié geleenthede só te benut dat God verheerlik mag word.