Predikante skryf as agtervoegsel tot hulle naam die letters VDM. Dit staan vir Verbi Divini Minister: Bedienaar van die Goddelike Woord. Want dit is die predikant se primêre taak: om die Woord van God te bring in elke situasie waarin mense hulle bevind: eerstens natuurlik in die erediens, maar ook langs ’n siekbed of sterfbed, by ’n vergadering, in die kraamsaal …

Daar is baie ander (goeie) dinge waarmee predikante hulle kan besig hou: reëlings vir die basaar, programme vir barmhartigheid, opheffingswerk aan haweloses, finansiële of administratiewe beplanning vir die gemeente, ens. Maar niks hiervan mag die primêre taak, Bedienaar van die Woord, verdring nie. Ek onthou hoe ek as jong predikant op ’n dag teenoor my pa (ook ’n predikant) gekla het dat ek nie in die week tyd kry vir my voorbereiding vir die erediens nie, en dan sit ek die hele naweek daarmee. Sy wyse antwoord was of ek dink die erediens is belangrik, want as ek so dink, moet ek in my beplanning tyd daarvoor inruim.

Dit was goeie en tydige raad. Niks, maar niks, mag ’n predikant se voorbereidingstyd vir die erediens van Sondag in die wiele ry nie. Daarom die grappie dat VDM eintlik staan vir “Voor Donderdagmiddag”. Want teen Donderdagmiddag behoort jou preek klaar te wees.

Die bekende teoloog Walter Brueggemann sê in dié verband dat preekmaak ’n proses is waarin ’n mens baie verbeelding moet hê, en jy het nie daardie soort energie as jy moeg of oorwerk is nie. Daarom pleit hy dat predikante hulle nie sal oorlaai met ’n klomp goed wat hulle kragte só gaan tap dat daar min energie vir verbeelding oorbly nie. Want dan hoor jy dit Sondag op die kansel.

Maar ’n predikant se werk as VDM begin en eindig natuurlik nie by preekmaak nie. Preekmaak is deel van ’n veel groter fokus wat ’n predikant behoort te hê op die Woord van God. Ons roeping is om ons te verdiep in die Woord, soos Psalm 1 sê: ons vreugde te vind in die Woord van God. Wee die gemeente wie se lidmate meer weet van die Bybel as hulle predikant! Of waar die lidmate Sondag ná Sondag gefrustreerd huis toe keer omdat die Bybel nie regtig aan die orde gekom het nie.

Ek skryf VDM met diepe dankbaarheid, maar ook met groot huiwering en ontsag agter my naam. Wat ’n onuitspreeklike voorreg om te mag sê: “So spreek die Here!” En watter groot verantwoordelikheid om op dié manier deur God gebruik te word. Mag ek nooit ophou om ’n student van die Woord te wees nie!

image_pdfimage_print

Views: 3

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.