Aswoensdag is vanjaar op 6 Maart. Dit is die begin van Lydenstyd, en vir baie Christene ook die begin van ’n vastyd wat normaalweg vir die duur van die Lydenstyd volgehou word. Dit is ’n tydperk van ses en veertig dae. Vir veertig dae vas ons (soos Jesus in die woestyn), maar op die ses Sondae in Lydenstyd nie, want Sondae vier ons dit dat Jesus die dood oorwin het, en vas ons nie.
Die profeet Joël (Joël 2:12-13) skryf die volgende oor vas:
Maar nou sê die Here:
Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur!
Skeur julle harte, nie julle klere nie.
Kom terug na die Here julle God toe:
Hy is genadig en barmhartig;
Hy is lankmoedig en vol liefde.
As ek Joël reg verstaan, gaan dit in vas nie bloot oor uiterlike simboliese handelinge nie. Om te vas beteken baie meer as om maar net vir ’n tyd lank iets te los, soos kos, sjokolade, alkohol, TV, rekenaarspeletjies, of wat ook al. As jou vas nét daaruit bestaan, mors jy jou tyd. Om jou te onthou van iets in die vastyd is net ’n middel tot ’n doel. Die doelbewuste ontbering van iets wat vir jou lekker is, soos kos, moet jou voortdurend herinner aan wat Jesus ter wille van jou verlossing ontbeer het: Hy het sy lewe afgelê, sodat jy kan lewe.
Vas gaan oor iets wat in jou moet gebeur. Dit behels ’n hertoewyding aan die Here. “Skeur julle harte,” sê Joël. Dit gaan daaroor dat jy jou fokus weer fyn op die Here instel, jou ore moet skoon kry van die geraas en die geharwar van die daaglikse lewe, sodat jy meer ontvanklik raak vir God en sy Woord en die influistering van die Gees. Dit gaan oor ’n doelbewuste toegespitsheid op God, op sy teenwoordigheid in jou lewe en wêreld. Dit gaan oor ’n nuwe vasberadenheid om agter Jesus aan te loop en vir Hom te leef en ’n verskil te maak in die wêreld.
Dit is hiermee wat vas ons help: om beter en bewustelik op God gerig te lewe. Dit sal gebeur as jy byvoorbeeld die tyd wat jy sou gebruik het om kos te maak en te eet, gebruik om stil te word voor die Here en sy wil vir jou lewe te soek. Of as jy elke keer wat jy nié ’n sjokolade eet nie, ’n paar ooblikke stil word en die Here dank vir sy genade. Dit sal gebeur as jy in die vastyd ophou dink aan jouself en jou eie vermaak en plesier, en doelbewus dink aan die Here Jesus, en aan ander.
Vas is dus ’n stroping van jouself. Dit beteken jy is minder op jouself ingestel, sodat God meer kan wees (Johannes 3:30). Stroping én groei. Hoe meer Hy in jou lewe word, hoe meer vreugde groei daar in jou hart, en entoesiasme vir God en sy koninkryk.
Ek sien uit na hierdie jaar se Lydenstyd!